Met hierdie artikel gaan ons die Dispensasie van Menslike Owerheid van nader bestudeer. Die sewe dispensasies wat ons in die Skrifte vind is soos volg: Dispensasie van Onskuld ; Die Dispensasie van Gewete; die Dispensasie van Menslike Owerheid (waaroor hierdie studie handel); die Dispensasie van Belofte; Die Dispensasie van die Wet; Die Dispensasie van Genade/Kerk; en laastens die Dispensasie van die Koninkryk. Indien die leser nog nie die drie vorige artikels, naamlik die “Die Dispensasies ‘n Skriftuurlike perspektief”, asook “Die Dispensasie van Onskuld” en die “Dispensasie van Menslike Gewete” gelees het nie, word hy sterk aangeraai om dit te doen. Die Dispensasie van Onskuld het tot ‘n einde gekom toe die mens teen God gerebelleer het, en toe God vir die beswil van die mens, hulle uit die tuin van Eden gesit het. (anders sou die mens van die boom van die lewe eet en vir altyd in sy gevalle toestand bly voortleef.) Die Dispensasie van menslike Gewete het tot ‘n einde gekom toe die Here die wêreld a.g.v. die mens se toenemende goddeloosheid en meegaande geweld met die wêreldwye vloed oorspoel het.
Indien mens elke dispensasie sorgvuldig bestudeer, dan word dit duidelik dat elke dispensasie met God se seën begin, wat deur verdere voortgesette Goddelike openbaring gevolg word. Boonop vind ons dat elke dispensasie met ‘n Godgegewe toets vergesel word, wat deur die mensdom se mislukking gevolg word en wat tot God se oordeel aanleiding gee. (Hierdie patroon van gebeure vind ons deur die verloop van die hele mensdom se geskiedenis, wat al die dispensasies van die mens se geskiedenis op aarde insluit.)
Met die bestudering van die dispensasies merk ons ook dat die eerste drie dispensasies, wat ook die Dispensasie van Menslike Owerheid insluit, hoofsaaklik oor die nasies handel, omrede Israel, as volk, asook die Kerk, die twee ander entiteite wat ons in die Skrifte vind, toe nog nie bestaan het nie. Dus merk ons drie verskillende groepe van mense in die Bybel, naamlik die Nasies, die volk Israel, en later die Kerk, wat op Pinkstersondag amptelik haar bestaan gehad het. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasie “Die Sewe Dispensasies” sorgvuldig te bestudeer, wat aan die leser die raamwerk waarin die mens se geskiedenis op aarde afspeel sal verskaf.) Die hieropvolgende dispensasies wat ons na afloop van die Dispensasie van Menslike Owerheid aantref, naamlik die Dispensasie van Belofte, asook die Dispensasie van die Wet, handel hoofsaaklik oor die volk Israel, en nie oor die nasies of die kerk wat eers op pinksterdag haar ontstaan gehad het nie. Na afloop van Christus se kruisiging, kom die Dispensasie van die Wet tot ‘n einde, en op Pinksterdag begin die Kerk amptelik, en hierdie dispensasie staan dus as die Dispensasie van die Kerk bekend, wat uit Jode, sowel as heidene wat in een liggaam saamgevoeg bestaan, en wat ‘n hele ander entiteit is as wat die nasies, asook Israel as volk is. Tydens die Dispensasie van die Kerk bou Christus Sy kerk (wat nie uit ‘n gebou bestaan nie, maar uit elke wedergebore gelowige vanuit alle volke en nasies wat die Evangelie verstaan en geglo het.) Die wegraping sluit die Dispensasie van die Kerk af, en word deur die Verdrukking gevolg, waartydens God, Satan se houvas op die wêreld verbreek, en Sy koninkryk na afloop van Sy wederkoms op aarde oprig. Hierdie dispensasie staan as die Dispensasie van die Koninkryk bekend. Die Verdrukking is dus ‘n tydperk waartydens God Sy oordeel op aarde uitstort, en die titelakte van die wêreld, wat Satan tydens die sondeval bekom het, terugneem.
Algemene kenmerke van die Dispensasie van Menslike Owerheid:
Gen.8:18 “Toe gaan Noag uit en sy seuns en sy vrou en die vroue van sy seuns saam met hom. 19 Al die diere, alles wat kruip, en al die voëls, alles wat op die aarde beweeg, volgens hulle soorte, het uit die ark uitgegaan. 20 En Noag het vir die HERE ‘n altaar gebou en van al die rein diere en al die rein voëls geneem en brandoffers op die altaar gebring.”
Gen.11:32 1 “En die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde. 2 En toe hulle wegtrek na die ooste, vind hulle ‘n laagte in die land Sínear; en daar het hulle gaan woon. 3 Daarop sê hulle vir mekaar: Kom laat ons stene vorm en dit goed brand. Hulle gebruik toe die bakstene vir bousteen en die lymgrond vir klei. 4 En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie. 5 Toe daal die HERE neer om die stad en die toring te besien waaraan die mensekinders gebou het. 6 En die HERE sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie. 7 Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie. 8 So het die HERE hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi; en hulle het opgehou om die stad te bou. 9 Daarom het hulle dit Babel genoem, want daar het die HERE die taal van die hele aarde verwar, en daarvandaan het die HERE hulle oor die hele aarde verstrooi.”
Opmerking:
- Die tydperk waarin die Dispensasie van Menslike Owerheid in plaasvind:
Die Dispensasie van Menslike Owerheid strek vanaf die vloed tot en met die gebeure toe God die mense se tale by die toring van Babel verwar het.
- Na afloop van die vloed het slegs agt mense die Dispensasie van Menslike Owerheid binnegegaan, naamlik Noag en sy vrou en drie seuns met hulle drie vrouens:
Gen.8:15 “En God het met Noag gespreek en gesê: 16 Gaan uit die ark, jy en jou vrou en jou seuns en die vroue van jou seuns saam met jou.”
Gen.9:18 “En die seuns van Noag wat uit die ark uitgegaan het, was Sem en Gam en Jafet. En Gam was die vader van Kanaän. 19 Hierdie drie was die seuns van Noag; en met hulle begin die uitbreiding van al die aardbewoners.”
Na afloop van die vloed is alle mense, behalwe agt, gedood en uit hierdie agt mense het alle volke, nasies en tale wat ons nou sien ontstaan.
Daar is baie teoloë wat die vloed, soos wat dit in die Skrifte opgeteken vind, ontken of weg redeneer. Maar die apostel Petrus, onder inspirasie van die Heilige Gees, het egter die vloed verhaal as ‘n werklike geskiedkundige feit erken, en so behoort alle getroue gelowiges.
1Pet.3:18 “Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring — Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; 19 in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, 20 wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is;”
Enige teoloog of prediker wat die letterlike gebeure soos in Gen.1-11 ontken, plaas hulle menslike opinies op ‘n hoër vlak as die woord van God en pleeg dus sonde. Onthou, ons moet poog om was te stel wat God in Sy woord aan ons wil oordra en ons moet nie ons opinies daarin wil inlees nie!
- Noag was ‘n geregverdigde man wie sy toegerekende geregtigheid op grond van slegs sy geloof ontvang het:
Gen.6:9 “Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel.
Die vers net voor vers 9 verklaar onomwonde dat Noag genade in God se oë gevind het.
Gen.6:8 Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE.”
Noag was deur God geregverdig verklaar, nie omrede hy sondeloos was nie, maar omrede hy geloof in God gehad het. Heb.11:7 bevestig hierdie feit, naamlik:
Heb.11:7 “Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.”
Die enigste wyse waarop ‘n persoon deur God geregverdig verklaar word, is op grond van daardie persoon se geloof en niks anders nie.
Voortsetting van progressiewe openbaring, met die bekendmaking van nuwe openbarings inligting aan die mens gegee:
- Saai en oestyd, koue en hitte, somer en winter en dag en nag sal nie ophou nie:
Gen.8:22 “Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.”
Solank as wat die wêreld bestaan sal hierdie natuurlike prosesse voortduur, en daarom sal ons ook tye van droogte en tye van oorvloedige reën beleef.
- Diere kon vir die eerste keer as voedsel aangewend word:
Gen.9:2-3 “2 Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel: alles wat op die aarde beweeg, en al die visse van die see. Hulle is in julle hand oorgegee. 3 Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle.”
Iets wat baie mense nie weet nie, is die feit dat voor die wêreldwye vloed, die mens nie diere as voedsel mag geëet het nie. Boonop sou die diereryk nou die mens vrees, iets wat nie voor die vloed die geval was nie, omrede die mens tot op daardie stadium nie enige dier geëet het nie. Maar noudat omstandighede na afloop van die vloed verander het, het God die vrees van die mens in die diereryk geplaas, wat die kanse van hulle voortgesette oorlewing sou vergroot. Boonop sal sekulêre antropoloë wat beweer dat ons voorvaders oorspronklik jagters was, en dus hoofsaaklik vleis geëet het, verbaas wees om uit te vind dat die mens oorspronklik slegs plant kosse geëet het. Toe God oorspronklik die mens geskape het, het Hy dit duidelik gestel dat hulle slegs plante as voedsel sou eet, naamlik:
Gen.1:27 “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. 28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. 29 Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees.”
Dit is egter nie nou verkeerd om vleis te eet nie, want God het verklaar dat die mens nou vleis mag eet, en boonop is daar niks so lekker as ‘n stuk vlies of biltong nie. Dit is om hierdie rede waarom dit so belangrik is om die Skrifte, in lig van die korrekte dispensasionele progressiewe goddelike openbaring (konteks), te bestudeer voordat ons enigiets as bindend op onsself wil toepas. Dit is egter belangrik om te onthou dat God die eet van diere wat nie uitgebloei is nie verbied het en daardie verbod geld nog steeds.
Gen.9:4 “Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie.”
- God sou nooit weer die wêreld d.m.v. ‘n wêreldwye vloed vernietig nie:
Gen.9:11 “En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie. 12 En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte: 13 my boog gee Ek in die wolke; dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en die aarde. 14 As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke, 15 dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer ‘n vloed word om alle vlees te verdelg nie. 16 As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is. 17 En God het vir Noag gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek opgerig het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.“
Indien die vloed soos in Genesis beskryf, slegs ‘n plaaslike oorstroming was, soos wat baie teoloë beweer, dan het God Homself deur die gee van die bogenoemde verbod weerspreek, omrede ons weet dat daar jaarliks reg oor die aarde plaaslike oorstromings is wat mense se lewens opeis. (en boonop sou God Sy verbond met die mens alreeds duisende kere verbreek het!) Daar is baie teoloë wat die teorie van ‘n plaaslike vloed in die Skrifte inlees, omrede hulle nie die feite soos in die teksgedeelte gevind glo nie. Dit is egter ongeloof, en is egter ‘n geval dat die teoloë nie God se woord werklik glo nie, en daarom vind hulle dit gerieflik om hulle eie idees in die Bybel in te lees en dit weer so aan ander te verkondig. Die vloed was ‘n wêreldwye vloed, net soos wat die Skrifte verklaar! (Vir wetenskaplike inligting vanuit die Bybelse oogpunt, word die leser aangeraai om Creation Ministries International en soortgelyke instansies, waarvan daar ‘n hele paar is, te besoek en wetenskaplike opinies aangaande hierdie onderwerp in meer diepte te bekom.)
Die mens se verantwoordelikheid:
- Noag en sy seuns word deur God geseën en beveel om vrugbaar te wees en die wêreld te bevolk:
Gen.9:1 “En God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.
Gen.9:7 Maar julle, wees vrugbaar en vermeerder; wemel op die aarde en vermeerder daarop.”
Die feit dat God ook na afloop van die wêreldwye vloed die mens aansê om vrugbaar te wees, en die wêreld te vul, dien as voorbeeld van ‘n beginsel wat transdispensasioneel van aard is. Ons moet onthou, dat wanneer daar van een dispensasie na ‘n ander een oorgegaan word, daar sekere beginsels is wat heeltemal wegval en ander wat na die volgende dispensasie oorgedra word. Ons het byvoorbeeld gesien hoe die menslike gewete die bepalende beginsel tydens die Dispensasie van Menslike Gewete was, maar net omdat daar ‘n dispensasionele verandering vanaf die Dispensasie van Menslike Gewete na die Dispensasie van Menslike Owerheid plaasgevind het, beteken dit nie dat die menslike gewete nie ook in die ander daaropvolgende dispensasies van toepassing bly nie. Dit is egter wel ook so dat daar ook sekere beginsels weggeval het, naamlik die feit dat die mens nie meer tot ‘n vegetariese dieet beperk is nie maar dat hy ook nou vleis kon eet.
- Die institusie van Menslike Owerheid word ingestel deurdat die mens waar geregverdig die doodstraf moet toedien:
Gen.9:6 “ Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.”
In die vorige Dispensasie van Menslike Gewete, het ons gesien hoe God die mens met ‘n gewete geskape het. Die doel hiervan was dat die menslike gewete goddeloosheid moes beperk. Daarbenewens is die Heilige Gees ook aktief besig om die mens se goddeloosheid in te perk. Met die instelling van menslike owerheid, stel God ‘n verdere hulpmiddel daar om die goddeloosheid van die mens te beperk. Net soos wat die mens tydens die Dispensasie van Onskuld, asook die Dispensasie van Menslike Gewete, in sy getrouheid aan God gefaal het, noop dit God om die instelling van Menslike Owerheid in te stel. Toe Kain, Abel vermoor het, het God ‘n merk op Kain geplaas wat sou verseker dat ander mense hom nie vir sy misdaad sou dood nie. Die rede hiervoor was dat God nog nie deur voortgesette openbarings inligting die reg aan die mens gegee om die doodstraf vir moord op te lê nie. Maar met die instelling van die Dispensasie van Menslike Owerheid, word die mens beveel om moordenaars te dood. Vir ‘n bevel om die doodstraf op te lê, impliseer dat daar ‘n menslike owerheid moet bestaan, wat die beskuldigde persoon moet verhoor, en waar hy skuldig bevind word, moet die doodstraf opgelê word. Die beginsel van doodstraf vir moord, net soos wat dit met die menslike gewete die geval is, is trans-dispensasioneel van aard en geld dus vir alle daaropvolgende dispensasies. Waar die owerheid nie die doodstraf toepas nie, beteken dat daardie owerheid teen God se opdrag in rebellie is. Dit is ook nogal opmerklik dat moordenaars wat nie gedood word nie, en later vrygelaat word, gereeld weer tot moord oorgaan. In hierdie opsig word die onskuldige gemeenskap verkeerdelik aan bloedvergieting blootgestel, net omrede die mens besluit om eerder sy eie wette op te stel en God se woord te verontagsaam. Waar ‘n veroordeelde moordenaar bevry word, en weer moord pleeg, dan is die bloed van daardie vermoorde persoon op die hande van die owerhede wat daardie moordenaar losgelaat het. Met God se instelling van die doodstraf, word die instelling van menslike owerheid die heersende beginsel wat tydens die Dispensasie van Menslike Owerheid heers, alhoewel die beginsel van die doodstraf ‘n blywende (trans-dispensasionele) beginsel bly.
Die mens misluk weer:
- Noag se seuns was vrugbaar en het vermeerder, maar hulle het egter nie die aarde gevul soos wat God beveel het nie:
Gen.11:1 “En die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde. 2 En toe hulle wegtrek na die ooste, vind hulle ‘n laagte in die land Sínear; en daar het hulle gaan woon. 3 Daarop sê hulle vir mekaar: Kom laat ons stene vorm en dit goed brand. Hulle gebruik toe die bakstene vir bousteen en die lymgrond vir klei. 4 En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.”
In plaas daarvan om te doen wat die Here hulle beveel het, besluit die mensdom om eerder vir hulle ‘n stad met ‘n toring te bou, sodat hulle nie oor die aarde verspreid sal raak nie. Hierdie besluit van hulle is in stryd met God se opdrag om die aarde te vul en is dus ‘n blatante vorm van rebellie teen God. In plaas daarvan dat die mensdom God se naam verheerlik, kies hulle eerder om ‘n naam vir hulleself te maak, wat niks anders as ‘n vorm van selfverheerliking is nie. Dit is presies dieselfde sonde wat tot Satan se val aanleiding gegee het. Dit verduidelik ook hulle begeerte om vir hulleself ‘n toring te bou wat tot in die hemele sou strek. Net soos wat Satan homself wou verhoog het, het die mens dieselfde sonde begaan. Die toring van Babel was heel waarskynlik ‘n reuse ziggoerat. Interessant genoeg, argeoloë het in verskeie plekke reg oor die wêreld ruïnes gevind waar daar eens ziggoerats, of piramidale, trapvormige tempeltorings, gestaan het. Onder hulle is die verwoeste Etemenanki-tempel, wat binne die mure van Babilon geleë was. Ons moet dus nie verbaas wees om uit te vind dat die ziggoerat van Babilon, sowel as die godsdiens wat daar beoefen is, as die bloudruk gedien het waaruit al die ander geheimsinnige, en indrukwekkende, piramides van Mexiko en baie ander plekke in die wêreld ontstaan het nie. Die Griekse historikus, Herodotus, wat omstreeks 484vC tot 425vC gelewe het, het gerapporteer het dat hy in Babilon die ruïnes van ‘n toring gevind het wat hy geglo het die toring van Babel was.
Die Dispensasie van Menslike Owerheid eindig ook met God se oordeel:
- God weet dat daar geen perke aan die goddeloosheid van die mens sal wees nie, indien hulle toegelaat word om sonder Hom onder een wêreldregering te verenig:
Gen.11:6 “En die HERE sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! (globalisering) En dit is net die begin van hulle (goddelose) onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie. (sover dit Goddelose en rebelse dade aanbetref)
Onthou, die mensdom as geheel het teen God gerebelleer, deurdat hulle op een plek vergader het om daar vir hulle ‘n toring op te rig. Dit is ook opmerklik, dat aan die toppunt van meeste ziggoerats, daar ‘n tempel is waarvan afgodediens verrig was. Dit is ook vanuit die gebeure rondom die toring van Babel, waaruit die Babiloniese misteriegodsdienste hulle oorsprong gehad het. Die Toring van Babel, wat onder die leierskap van Nimrod gebou was, was ook die eerste keer waar georganiseerde afgodediens op grootskaal plaasgevind het. Die gebeure by die Toring van Babel, was ook die eerste keer waar Satan die mensdom beïnvloed het in ‘n poging om ‘n globale een man wêreldregering, onder bewind van Nimrod (wat ‘n tipe van die Antichris is), op die been te bring. Nimrod kan dus as die vader van globalisering beskou word, en God gaan in die nabygeleë toekoms die Antichris toelaat om wel so ‘n wêreldregering op die been te bring, voordat Hy dit na afloop van die Groot Verdrukking met Sy wederkoms tot niet sal maak.
- God oordeel die mensdom deur hulle tale te verwar:
Gen.11:7 Kom, laat Ons (Die Drie-enige God) neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie. 8 So het die HERE hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi; en hulle het opgehou om die stad te bou. 9 Daarom het hulle dit Babel genoem, want daar het die HERE die taal van die hele aarde verwar, en daarvandaan het die HERE hulle oor die hele aarde verstrooi.”
Dit is basies onmoontlik om enige in diepte kommunikasie te handhaaf indien die partye teenwoordig nie mekaar verstaan nie. Die kanse is altyd groot dat die groep mense wat ‘n spesifieke taal praat verkieslik iemand vanuit hulle eie geledere as leier wil aanstel. By die gebeure by die toring van Babel was dit dan die geval met Nimrod se leierskap. Die verskillende taalgroepe het ook toe van mekaar wegbeweeg en hulle eie gemeenskappe gevorm. Onthou, hulle kon geensins mekaar se tale praat nie en daar was ook nie tyd genoeg om die verskillende tale aan te leer nie. Dan praat ek nie eens van ‘n bouprojek wat vereis dat mense mekaar moet verstaan, en as groep moet saamwerk om ‘n suksesvol af te handel nie. Soos wat die verskillende groepe van mekaar af wegbeweeg, en oor die wêreld versprei het, het baie van hulle die kennis van die bou van die toring van Babel met hulle saamgeneem. Hierdie feit verduidelik ook die verbasende ooreenkomste wat ziggoerats reg oor die wêreld toon. Die mense wat daardie ziggoerats gebou het, moes die toring van Babel as model gebruik het. Alhoewel daar verskille is, is daar egter genoegsame ooreenkomste om hierdie afleiding te regverdig.
- Die ontstaan van volke, nasies en die begin van nasionalisme:
Gen.11:8 “So het die HERE hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi; en hulle het opgehou om die stad te bou. 9 Daarom het hulle dit Babel genoem, want daar het die HERE die taal van die hele aarde verwar, en daarvandaan het die HERE hulle oor die hele aarde verstrooi.”
Soos wat die groepe volgens taalverband uitmekaar gedryf het, het nasionalisme ontstaan wat tot die verskillende volke en nasies aanleiding gegee het. God het dit so bewerkstellig met die doel dat daar teenwigte vir die skep van ‘n een wêreld diktatorskap sou wees. Waar een nasie ‘n wêreldwye ryk wou bewerkstellig, was daar altyd ander nasies wat dit teengestaan het, anders sou die Duiwel alreeds sy Antichris as wêreldleier oor ‘n een wêreld diktatorskap opgestel het. Individuele diktatorskappe is altyd gevaarlik, maar God het dit tot ‘n groot mate ingeperk omrede hy altyd nasies sal oprig wat die diktator sou teenstaan. Dink maar byvoorbeeld aan Adolf Hitler, en hoe die wêreld onder sy bewind sou wees, indien hy die tweede wêreldoorlog sou wen. God het egter sy planne in die wiele gery, deur om ander nasies op te rig om teen hom op te tree. In hierdie opsig is magsbalans uiters belangrik, en vir magsbalans om te bestaan moet daar meer as net een onafhanklike nasie in die wêreld bestaan. Dieselfde beginsel sien ons nou met die Weste se reaksie op Rusland se inval in die Oekraïne. Was dit nie vir die onsekerheid oor hoe die Weste sou reageer indien China, Taiwan sou aanval nie, sou Taiwan al lankal deel van China gewees het. Soos alreeds gemeld, gaan die Here in die nabye toekoms wel toelaat dat die mensdom ‘n een wêreld regering, onder die diktatorskap van die Antichris oprig, wat tot ongekende smarte en lewensverlies aanleiding gaan gee. A.g.v. die verwarring van die tale het daar verskillende nasies ontstaan. Die ontstaan van onafhanklike state is ‘n seën vir die mens, juis omrede dit ‘n een wêreld diktatorskap teenstaan, en daarom vind ons dat die mensdom tans in hulle rebellie teen God, met onafhanklike state wil wegdoen en ‘n een wêreld regering op die been wil bring. Dit gaan net tot God se oordeel aanleiding gee.
Ter afsluiting:
Die Dispensasie van menslike Owerheid het aangebreek toe Noag te ark na afloop van die wêreldwye vloed verlaat het. Met die aanbreek van die Dispensasie van Menslike Owerheid het God die mens d.m.v. ‘n verdere beginsel getoets en waarvoor die mensdom aan Hom verantwoordelikheid sou moes doen. Voor die vloed het geen mens die reg gehad om ‘n ander mens se lewe te neem nie. Selfs is niemand toegelaat om Kain vir die moord op sy broer te dood nie. (Gen.4:10-24) Alhoewel die beginsel van morele verantwoordelikheid nog steeds geldig gebly het, en dus transdispensasioneel van aard is, het God voort gegaan, en verdere bevoegdhede aan die mensdom as groep gedelegeer en sodoende die instansie van menslike owerheid ingestel. Met die instelling van menslike owerheid, het God dus die korporatiewe verhouding van mens teenoor sy medemens in die vorm van menslike regering daargestel. (Om dus onderdanig aan die instansie van menslike owerheid te wees is om God se wil vir die mens te eerbiedig.) Christus het hierdie beginsel mooi beklemtoon toe Hy die volgende stelling in Mat.22:21 gemaak het, naamlik:
Mat.22:19 “Geveinsdes, waarom versoek julle My? Wys My die belastingmunt. En hulle het vir Hom ‘n penning gebring. 20 En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit? 21 Hulle antwoord Hom: Die keiser s’n. Daarop sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, (God verwag van die mens om goewermentele gesag te eerbiedig, maar slegs waar dit nie met Sy geopenbaarde wil in lyn is.) en aan God wat God toekom.” (Waar ‘n persoon die menslike goewerment wat oor hom aangestel is eerbiedig, dan eer hy God en doen Sy wil. Waar ‘n menslike goewerment iets in stryd met God se wil vereis, dan moet die gelowige die bevel verontagsaam en die saak in God se hande los. Al beteken dit vervolging van die regering se kant af.)
Die doel van menslike owerheid is dus om goddeloosheid te bestry en daarom is dit ‘n regering se plig om moordenaars te dood. Baie van ons probleme ontstaan wanneer moordenaars weer op parool vrygelaat word, net om weer moord te pleeg. Die doodstraf is deur God ingestel, en wanneer goewermente hierdie mandaat verontagsaam tree hulle in stryd met God se geopenbaarde wil op. Paulus het ook na hierdie feit verwys toe hy die volgende stelling gemaak het, naamlik:
Rom.13:1 “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, 2 sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang. 3 Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; 4 want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard (‘n swaard was ‘n wapen vir doodmaak en dus het die regering die reg om moordenaars te dood) nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.”
In die vorige dispensasies het ons gesien hoe God d.m.v die Heilige Gees, die mens se gewete, wat morele verantwoordelikheid insluit, goddeloosheid ingeperk het en hoe die mens toenemend misluk en goddeloosheid slegs toegeneem het. Nou gaan Hy verder en plaas ‘n verdere inperking op goddeloosheid in die vorm van menslike owerheid daarby. Ons sien dus dat die mensdom ook tydens die Dispensasie van Menslike Owerheid (by die toring van Babel) misluk, wat tot God se oordeel in die vorm van die verwarring van menslike tale aanleiding gee en word nou deur die Dispensasie van Belofte gevolg. Onthou, alhoewel die Dispensasie van Menslike Owerheid na afloop van die gebeure by die toring van Babel tot ‘n einde gekom het, duur die instansie van menslike owerheid voort en sal na afloop van Christus se wederkoms aarde toe tot ‘n einde kom.
Dit blyk ook dus duidelik dat daar alreeds vier instansies is wat God vir die mensdom as geheel ingestel het, en wat deel van die bloubokke vir ‘n stabiele samelewing vir die mensdom vorm. Waar hierdie institusies wel suksesvol in enige samelewing aangeval, en verander word, gee dit tot verdere goddeloosheid aanleiding wat tot gevolg het dat daardie samelewing ryp vir God se oordeel is. Eerstens, het God die huwelik tussen een man en een vrou daar gestel. (Gen.2:22-24; Ef.5:22-25,33) Tweedens is die huwelik die fondasie waaruit ‘n familie/gesin voortspruit. (Gen.4:1; Ef.6:1-3) Derdens het God ook die instansie van Menslike Owerheid daar gestel om goddeloosheid in te perk (Gen.9:1-7 Rom.13:1-5) . Vierdens het God met die verwarring van die mensdom se tale by die toring van Babel, en die meegaande verspreiding van die mens oor die aarde, die verskillende nasies tot stand gebring en daarom is Nasionalisme deel van God se wil vir die mensdom.(Gen.11:1-9; Openb.13) Ons sal in die hieropvolgende dispensasies die ontstaan van twee verdere entiteite, naamlik Israel as volk, en heelwat later die ontstaan van ‘n heel nuwe entiteit, naamlik die Kerk wat ook as die liggaam van Christus bekendstaan, bestudeer.
Waar die mensdom die verskillende instellings wat God daargestel volgens Sy wil inrig, en navolg, gee dit tot stabiliteit en ongekende seëning aanleiding. Waar die mensdom die verskillende instellings wat God daargestel het, volgens menslike begeertes inrig, en in sekere gevalle selfs wil verander, gee dit tot toenemende boosheid aanleiding wat uiteindelik op God se oordeel van die wêreld sal uitloop. Ons lewe vandag in ‘n tydperk waar God se woord met menslike humanistiese stelsels vervang word en hierdie tendens gaan nog tot ongekende smarte aanleiding gee.
Tot die volende keer. Seën Groete!
Vic