Die Nuwe Apostoliese Reformasie: ‘n Skriftuurlike Perspektief

Die kontemporêre kerklike landskap word toenemend gekenmerk deur bewegings wat, onder die dekmantel van ortodokse Christelike terminologie, besig is met ‘n sistematiese herdefiniëring van fundamentele Bybelse waarhede. Binne hierdie ideologiese strominge manifesteer die Nuwe Apostoliese Reformasie (NAR) as een van die mees deurdringende en misleidende kragte wat die gesag van die Skrif, die unieke natuur van Christus en die eskatologiese toekomsverwagting van die gelowige stelselmatig erodeer. In sy brief aan die Galasiërs bied die apostel Paulus die deurslaggewende maatstaf vir die beoordeling van sodanige afwykings wanneer hy in Galasiërs 1:8 verklaar:
“Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!”
Hierdie onverbiddelike vermaning bepaal die korrekte Bybelse postuur vir die Kerk: ‘n onwrikbare weerstand teen enige poging om die finaal oorgelewerde apostoliese leer te korrupteer of deur buite-Bybelse openbarings en menslike gesagstrukture aan te vul. Dit is baie duidelik dat onder andere Heinz Winckler, sy vrou Aletté, Joahandre Potgieter en “profeet” Leon Du Preez baie sterk deur hierdie beweging beïnvloed is.

Die Dwaling van die Herstelde Ampte en die Genoegsaamheid van die Skrif

Die fundamentele ekklesiologiese dwaling van die Nuwe Apostoliese Reformasie (NAR) sentreer rondom die bewering dat God die ampte van apostel en profeet in die moderne era herstel het met ‘n gesag wat gelykstaande is aan, of selfs groter is as, dié van die eerste eeu. Hierdie lering, wat voorstel dat die kerk nie effektief kan funksioneer sonder die leiding van “nuwe apostels” en hul direkte, bindende openbarings nie, is in direkte konflik met die letterlike interpretasie van die Skrif. Die Bybel leer dat hierdie ampte uniek aan die vestigingsfase van die Kerk behoort het. Die apostel Paulus stel dit onomwonde in Efésiërs 2:20: “gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is.” Die metafoor van ‘n gebou impliseer noodwendig dat ‘n fondament slegs een keer gelê word; om te beweer dat nuwe apostels vandag nodig is, suggereer dat die fondament onvoltooid is of herhaaldelik gelê moet word, wat teologies onhoudbaar is.

Die historiese doel van hierdie fundamentele ampte en die gepaardgaande tekens was spesifiek om die nuwe openbaring van God te bevestig totdat die geskrewe Woord voltooi was. Hebreërs 2:3-4 werp lig op hierdie bevestigingsrol: “hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het, terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedelinge van die Heilige Gees volgens sy wil?”
Hierdie tydelike gawes was in werking totdat “die volmaakte”—die volledige kanon van die Skrif—gekom het. Paulus bevestig in 1 Korinthiërs 13:8-10 dat hierdie gedeeltelike openbaringsmetodes sou ophou by die koms van die volmaakte: “Die liefde vergaan nimmermeer; maar of dit profesieë is—hulle sal tot niet gaan; of dit tale is—hulle sal ophou; of dit kennis is—dit sal tot niet gaan. Want ons ken gedeeltelik en ons profeteer gedeeltelik. Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat gedeeltelik is, tot niet gaan.” (lees gerus die artikel ” Is die Gawe van Profesie nof in werking vandag?

Gevolglik ondermyn die NAR se klem op subjektiewe “aflaaie” (downloads), visioene en profetiese mandate die genoegsaamheid en finaliteit van die Skrif (Sola Scriptura). Die beweging moedig gelowiges aan om leringe te aanvaar op grond van die boodskapper se status as “apostel” eerder as ooreenstemming met die Bybel. Judas 1:3 vermaan die gelowiges egter om te stry vir die afgehandelde geloof: “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.”
Die Griekse grammatika van die frase “eenmaal oorgelewer” dui op ‘n afgehandelde handeling wat nie herhaal word nie. Wanneer wonderwerke en tekens vandag gebruik word as hermeneutiese sleutels om nuwe leringe te valideer, word die waarskuwings van Deuteronomium 13 en Matthéüs 7 geïgnoreer, wat leer dat wonderwerke alleen nie ‘n boodskap kan bekragtig wat met God se Woord bots nie.

Christologiese Dwalinge en die Kenosis-kettery

‘n Uiters gevaarlike aspek van die NAR is die verlagende siening van Jesus Christus se godheid tydens Sy aardse bediening, dikwels bekend as die Kenosis-dwaling. Prominente leiers binne die beweging leer dat Jesus Sy goddelikheid “afgelê” het toe Hy mens geword het en dat Hy wonderwerke slegs gedoen het as ‘n mens in die regte verhouding met God, bemagtig deur die Heilige Gees. Die doel van hierdie lering is om te suggereer dat moderne gelowiges dieselfde of selfs groter wonderwerke kan doen, aangesien Jesus bloot die “prototipe” vir ‘n bonatuurlike mens was. Dit is ‘n direkte aanval op die Hipostatiese Unie, die leer dat Jesus ten volle God en ten volle mens was. Johannes 1:14 getuig van Sy onveranderlike natuur:
“En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.”
Deur Jesus se godheid op aarde te ontken of te verminder, open die NAR die deur vir die kettery dat mense “klein godjies” kan word. Dit lei tot die lering van die “Manifest Sons of God,” waarvolgens ‘n elite groep gelowiges in die laaste dae onsterflikheid en volmaaktheid sal bereik voor die wederkoms. Dit bots lynreg met Romeine 8:23 wat stel dat ons verlossing van die liggaam eers by die opstanding plaasvind.

Soteriologiese Onderskeid: Vrye Genade teenoor Geestelike Prestasie

Op die gebied van verlossingsleer skep die NAR verwarring deur regverdiging (fase een van verlossing) en heiligmaking (fase twee van verlossing) te vermeng. Terwyl die Bybel leer dat die ewige lewe ‘n gratis gawe is wat ontvang word deur geloof alleen, koppel die NAR dikwels geestelike status aan bonatuurlike manifestasies en die ontvangs van ‘n “salwing” deur handoplegging. Romeine 4:5 stel die Vrye Genade-posisie onomwonde: “maar aan hom wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”
Die NAR se klem op heerskappy en bonatuurlike krag as bewyse van ware geloof neig na ‘n vorm van werke-geregtigheid.

Dit is noodsaaklik om te verstaan dat dissipelskap en gehoorsaamheid belangrik is vir die verkryging van genadeloon by die Regterstoel van Christus, maar dat dit geen bydrae lewer tot die behoud van verlossing nie. Die NAR leer egter dikwels verkeerdelik dat gelowiges “groter werke” as Jesus moet doen in terme van kwaliteit en krag, gebaseer op ‘n verdraaiing van Johannes 14:12. Hierdie fokus op “manifestasies” verskuif die fokus weg van die volbragte werk van Christus na die subjektiewe ervaring en prestasie van die mens. Dit lei tot geestelike elitisme waar leierskap gevalideer word deur (beweerde) wonderwerke eerder as karakter en leerstellige suiwerheid, en laat lidmate dikwels met skuldgevoelens wanneer die beloofde oorwinning nie realiseer nie.

Die Konflik tussen Subjektiewe “Deurbrake” en Objektiewe Regverdigmaking

In die bediening van Joahandre Potgieter en soortgelyke NAR-figure is daar ‘n herhalende klem op die nodigheid van “geestelike deurbrake,” die verbreking van “generasievloeke” en bevryding van territoriale geeste. Hierdie lering impliseer foutiewelik dat die gelowige se posisie in Christus nie voldoende is nie. Paulus leer egter in Romeine 5:1 dat ons regverdigmaking ‘n voltooide, geregtelike feit is:
“Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus.”
Die Griekse werkwoordvorm (dikaiōthentes) is ‘n Aoristus-deelwoord wat dui op ‘n eenmalige, afgehandelde handeling in die verlede (fase een, wedergeboorte afgehandel), waarvan die geregtelike status as ‘n onveranderlike realiteit in die hede voortduur Ewige sekuriteit van die gelowige). As ‘n gelowige glo dat hy nog onder ‘n “generasievloek” verkeer, ontken hy die krag van Romeine 8:1:
“Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”

Die “Ander Evangelie” van Ervaring en Tekens

In die leringe van Potgieter word dikwels beklemtoon dat die Evangelie sonder die demonstrasie van bonatuurlike tekens en wonders kwansuis “kragteloos” is. Hierdie “Krag-evangelisasie” (Power Evangelism) skep ‘n onbybelse fokus op subjektiewe manifestasies. Paulus spreek hierdie presiese neiging aan in Galasiërs 3:2-3:
“Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?”
Vir Paulus is die “krag” van die Evangelie nie geleë in sigbare tekens nie, maar in die boodskap van die kruis.

Die Soevereine Krag van die Inwonende Gees en Geestelike Oorlogvoering

Dit is noodsaaklik om te beklemtoon dat die ware gelowige nie in vrees vir die bose hoef te leef nie. Efésiërs 1:13-14 bevestig dat ons verseël is met die Heilige Gees:
“In wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle saligheid, gehoor het, in wie julle, nadat julle geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”
Daarom besit elke gelowige, deur die krag van die Gees, reeds die outoriteit om die bose te weerstaan, soos 1 Johannes 4:4 bevestig:
“Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.”
Die NAR-praktyk om territoriale geeste te “bind” is onbybels. Die Bybelse opdrag is om God te gehoorsaam en die duiwel te weerstaan (Jakobus 4:7). Judas 1:8 waarsku teen diegene wat “heerlikhede belaster.”

Die Gerealiseerde Eskatologie teenoor Dispensasionele Waarheid

Individue soos Joahandre Potgieter en Heinz Winckler vertoon opvallende ooreenkomste met die leerstellings van die NAR. Trouens, die leringe wat hulle verkondig, funksioneer uitsluitlik binne die leerstellige raamwerk van die Nuwe Apostoliese Reformasie (NAR). Hulle steun op ‘n “gerealiseerde eskatologie,” wat impliseer dat die Koninkryk van God reeds in sy volle krag en politieke dimensie deur die Kerk gemanifesteer moet word. In die huidige bedeling van genade is die Koninkryk van God egter nog ‘n toekomstige, letterlike en aardse verwagting en nie ‘n huidige geestelike realiteit in die harte van mense nie. Alhoewel Kolossense 1:13 meld dat God ons “verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde,” verwys dit na ons juridiese verplasing onder die gesag van Christus en ons status as burgers en erfgename van die komende ryk. Hierdie ryk sal eers na die Verdrukking en Israel se nasionale bekering fisies op aarde gevestig word, aangesien die Duisendjarige Ryk, volgens Openbaring 20:4 en 6, eers ná die Tweede Koms ‘n aanvang neem. Lees gerus die artikel “Die Onse Vader van nader bekyk”

Handelinge 1:6-7 werp belangrike lig op hierdie saak toe die dissipels gevra het:
“Die wat dan bymekaargekom het, vra Hom en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer opstel? En Hy sê vir hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie.”
Met hierdie antwoord ontken Christus geensins die toekomstige koms van ‘n fisiese, aardse koninkryk nie; Hy herlei bloot die fokus na die krag van die Heilige Gees vir getuienislewering gedurende die huidige bedeling. Dit bevestig dat die Kerk se mandaat nie die politieke oorname van wêreldstelsels behels nie, maar gefokus is op die verkondiging van die evangelie aan alle mense. Hierdie opdrag word duidelik uiteengesit in Markus 16:15-16:
“En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.”

Die huidige roeping van die gelowige is dus die uitbou van die liggaam van Christus deur dissipelskap en evangelisasie, soos bevestig in Matthéüs 28:19-20:
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”

Die Profetiese Tydlyn volgens Daniël en Openbaring

Die boeke Daniël en Openbaring weerlê die “Kingdom Now”-teologie onomwonde. In Daniël 2:34-35 lees ons van ‘n klip wat losraak “sonder toedoen van mensehande” en die beeld vernietig. Dit beteken die Koninkryk word nie deur menslike pogings (die Kerk) gevestig nie, maar deur God se direkte, kataklismiese ingryping.
“U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ‘n klip losgeraak het, wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngetrap het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngetrap, en dit het geword soos kaf op ‘n dorsvloer in die somer; en die wind het dit weggevoer, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ‘n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.”

Gevolgtrekking en Bybelse Waarskuwing

Die korrekte Bybelse reaksie op die Nuwe Apostoliese Reformasie is nugter onderskeiding en ‘n onwrikbare terugkeer na die Skrif alleen. Ons moet alle aansprake op nuwe openbaring verwerp, aangesien die kanon gesluit is. Die NAR mag nie aanspraak maak op apostoliese gesag wat gelykstaande is aan die skrywers van die Nuwe Testament nie. Paulus se waarskuwing in 2 Korinthiërs bly relevant vir hierdie situasie:
“Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korinthiërs 11:3-4).
Verder identifiseer hy die bron van sulke misleiding duidelik:
“Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig” (2 Korinthiërs 11:13-14).
Leerstellige suiwerheid, nie skouspel of emosie nie, is die maatstaf van waarheid. Elke lering moet getoets word aan die hand van 2 Timótheüs 2:15 om seker te maak dat die Woord van die waarheid reg gesny word.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.