Heerskappy in die Duisendjarige Vrederyk

Die Realiteit van Heerskappy in die Duisendjarige Vrederyk

Die belofte dat gelowiges saam met Christus sal regeer, is nie bloot metaforiese taal nie, maar ‘n letterlike voorspelling van die toekomstige staatsbestel van die wêreld. Wanneer Jesus Christus terugkeer na die aarde tydens die Wederkoms (aan die einde van die Groot Verdrukking), vestig Hy Sy koninkryk vir ‘n duisend jaar. In hierdie tydperk sal die aarde bewoon word deur twee groepe mense: die verheerlikte gelowiges (die Kerk wat reeds opgestaan het en verheerlikte liggame het) en die “natuurlike” mense (die oorlewendes van die Verdrukking wat die Koninkryk as sterflike mense binnegaan). Dit is oor hierdie herstelde aarde en sy bevolking wat die getroue gelowiges aangestel sal word as mede-regeerders.

Die Verband tussen Huidige Getrouheid en Toekomstige Gesag

Die krone wat ons by die Regterstoel van Christus ontvang, is nie net ornamente vir vertoon nie; dit verteenwoordig die graad van gesag en verantwoordelikheid wat aan ons toevertrou sal word. Jesus maak hierdie beginsel baie duidelik in die gelykenis van die ponde in Lukas 19. In hierdie gelykenis verteenwoordig die edelman vir Jesus wat na die hemel gaan om ‘n koninkryk te ontvang en dan terug te keer. Hy gee aan sy diensknegte elkeen ‘n pond (‘n geldstuk wat elke persoon se individuele lewe verteenwoordig) met die opdrag om daarmee handel te dryf. Die manier waarop die diensknegte hierdie taak hanteer, bepaal direk hul posisie in die koninkryk. Jesus sê in Lukas 19:16-19:“En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede. En die tweede het gekom en gesê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien. En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede.”

Hierdie gedeelte ontsluit ‘n geweldige waarheid: ons huidige lewe is ‘n opleidingsfase of ‘n “internskap” vir die ewigheid. Die gelowige wat nou getrou is in sy dissipelskap, heiligmaking en diens, kwalifiseer vir groter administratiewe verantwoordelikheid. “Gesag oor tien stede” impliseer werklike burgerlike bestuur, regspraak en leierskap. Die ontroue dienskneg verloor nie sy burgerskap nie, maar hy verloor sy gesag en beloning. Die mate waarin ons nou die “kruis dra”, bepaal die mate waarin ons dan die “kroon sal dra”.

Die Aard van ons Regering: Regters en Administrateurs

Die rol van die verheerlikte Kerk sal wees om Jesus Christus se geregtigheid en wetgewing op aarde toe te pas. Aangesien daar nog sterflike mense met ‘n sonde-natuur op aarde sal wees (alhoewel die duiwel gebind is), sal daar steeds behoefte wees aan leiding, regspraak en orde. Paulus bestraf die Korintiërs vir hul onvermoë om klein geskille onder mekaar op te los deur hulle te herinner aan hul toekomstige, verhewe posisie. Hy skryf in 1 Korintiërs 6:2-3: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer dan alledaagse dinge?”

Hierdie teks dui daarop dat ons funksie sal insluit om as regters op te tree (“die wêreld oordeel”) en selfs gesag oor gevalle engele uit te oefen. Die Kerk sal as die “kabinet” of die uitvoerende raad van die Koning van die konings funksioneer om te verseker dat Sy wil op aarde geskied soos in die hemel. Ons sal die kultuur, onderwys, kuns en ekonomie van die Duisendjarige Ryk volgens Goddelike standaarde bestuur.

Priesterlike Funksies en Onderrig

Benewens die politieke en regterlike aspekte, is daar ook ‘n geestelike dimensie aan ons heerskappy. Johannes skryf in Openbaring dat Christus ons gemaak het tot “konings en priesters”. In die Ou Testament was hierdie twee ampte streng geskei, maar in die Vrederyk word hulle verenig in die lewe van die gelowige, net soos hulle perfek verenig is in Christus (volgens die orde van Melgisédék). Openbaring 20:6 bevestig: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.” (Die Leser word aangeraai om die illustrasie “ Die Opstandings” sorgvuldig te bestudeer)

As priesters sal ons die middelaars wees wat die kennis van God aan die nasies oordra. Die aarde sal “vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9), en ons sal die instrumente wees wat hierdie kennis fasiliteer. Ons sal die nasies leer oor aanbidding, heiligheid en die karakter van God.

Die “Ysterstaf”-Regering

Daar is ‘n ernstige aspek aan hierdie heerskappy. Die Vrederyk is nie ‘n demokrasie nie; dit is ‘n teokratiese monargie. Jesus regeer met ‘n “ysterstaf”, wat dui op streng, onbuigsame geregtigheid waar onmiddellik afgereken word met opstand of sonde. Aan die oorwinnaars (die getroue dissipels) word ‘n aandeel in hierdie gesag gegee. In Openbaring 2:26-27 sê Jesus: “En aan hom wat oorwin (fase een, naamlik wedergeboorte afgehandel. 1Joh.5:5.)en my werke tot die einde toe bewaar (Fase twee, naamlik heiligmaking/dissipelskap wat toewyding vereis), sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het.”

Dit beteken dat die getroue gelowige die mag sal hê om Goddelike geregtigheid onmiddellik toe te pas. Daar sal geen langgerekte hofsake of korrupsie wees nie. Geregtigheid sal vinnig en effektief geskied, wat sal lei tot ware wêreldvrede.

Samevatting: Die Ewige Perspektief

Om saam met Christus te regeer is die hoogste eer wat ‘n skepsel kan beërwe. Dit is die vervulling van die mens se oorspronklike mandaat in Genesis om oor die aarde te heers, maar nou in ‘n verheerlikte staat onder die Opperheerskappy van Christus. Dit is egter belangrik om te besef dat hierdie posisie van invloed en nabyheid aan die Koning nie outomaties aan elke geredde persoon gegee word nie. 2 Timótheüs 2:12 waarsku en bemoedig gelyktydig: “As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.”

Die “verloëning” hier is nie die verlies van redding nie, maar die verlies van die voorreg om te regeer. Iemand wat gered is maar sy lewe in wêreldsgesindheid gemors het, sal wel in die koninkryk wees, maar nie as ‘n regeerder nie. Hy mag dalk ‘n onderdaan wees sonder gesag of glorie. Daarom moet die vooruitsig van die Koninkryk ons motiveer om vandag heilig te lewe, getrou te dien en ons talente te belê in dinge wat ewige waarde het.

Seën Groete.

Vic

Deel met ander asb.