Vraag: Kan jy asseblief vir my verduidelik hoekom God Ananias en Saffira gedood het toe hulle van die geld vir die verkoop van hulle eiendom vir hulleself teruggehou het. Die teksgedeelte waarna ek verwys is Hand.5:1-10. In watter opsig het hulle vir die Heilige Gees gelieg?
Antwoord: Ek glo daar is baie mense wat met dieselfde vraag worstel. Wanneer ons die skrifte bestudeer is dit belangrik om altyd die konteks waarin die spesifieke teksgedeelte in voorkom te bepaal. Die gebeure wat in Hand.5:1-10 plaasgevind het, het vroeg tydens die Kerk Dispensasie plaasgevind en het dus direkte toepassing op die kerk.
Om die korrekte konteks te bepaal is dit ook van uiterste belang om die gebeure net voor Ananias en Saffira se optrede ook in rekening te bring. Die leser word aangeraai om self Handelinge hoofstukke drie tot vier te lees. Ek gaan slegs ‘n kort opsomming hier weergee. Kort na afloop van die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag, wat die amptelike ontstaan van die Kerk tot gevolg gehad het, het Petrus en Johannes na die tempel gegaan en daar gepreek. Die hoofman van die tempel en die priesters het op hulle afgekom waar hulle die Here Jesus Christus se opstanding vanuit die dood preek, en hulle gearresteer en voor die Joodse Raad gebring. Hulle is gevra, “Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen?” (Hand.4:4-7) Petrus, vervul met die Heilige Gees, het toe aan hulle verduidelik dat die Here Jesus Christus die steen is wat deur hulle die Joodse Leierskap verag is, wat die hoeksteen van die kerk geword het. Boonop het hulle verklaar dat die saligheid in niemand anders as die Here Jesus Christus te vinde is nie, en dat daar geen ander naam onder die hemel is waardeur die mensdom gered kan word nie.” (Hand.4:11-12)
Nadat die raad hulle gedreig het is hulle vrygelaat, en het na die gelowiges gegaan en aan hulle alles wat die owerpriesters en ouderlinge van die volk gesê het vertel. Die gelowiges het toe die Here geprys en Hom gevra om hulle met die Heilige Gees te vul sodat hulle Sy woord met vrymoedigheid sou spreek. Daarna vind ons die volgende stelling, naamlik:
Hand.4:34 “Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê. 35 En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het. 36 En Joses wie se bynaam onder die apostels Bárnabas was — wat, as dit vertaal word, beteken seun van vertroosting — ‘n Leviet, van geboorte uit Ciprus, 37 het ‘n stuk grond gehad en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê.”
Ananias en sy vrou, wie beide gelowiges was, het gesien wat Bárnabas gedoen het en het ook die gemeente se reaksie daarop gesien, naamlik:
Hand.5:1 “Maar ‘n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra ‘n eiendom verkoop, 2 en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en ‘n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê. 3 Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? 4 As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. 5 En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ‘n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het. 6 Daarna het die jongmanne opgestaan en hom toegedraai en uitgedra en begrawe. 7 En ná verloop van omtrent drie uur kom sy vrou in sonder om te weet wat voorgeval het. 8 En Petrus het haar aangespreek: Sê vir my of julle die grond vir soveel verkoop het? En sy sê: Ja, vir soveel. 9 En Petrus sê vir haar: Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek? Kyk, die voete van die wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra. 10 Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe.”
Net vir interessantheid, baie predikers wat die dwaalleerstelling van die Sosiale Evangelie verkondig gebruik hierdie teksgedeelte om hulle dwaalleer te regverdig. Die leser word aangeraai om ook die artikel “Verkondig die Bybel Christelike Kommunisme” te lees.
Daar is hoofsaaklik twee wyses waarop ‘n ongelowige persoon teen die Heilige Gees kan sondig:
1. ‘n Ongelowige persoon laster teen die Heilige Gees wanneer hy die Here Jesus Christus verwerp, deurdat hy die wonderwerke wat Christus tydens Sy eerste koms in hulle teenwoordigheid verrig het aan die werking van satan toereken. (Matt. 12:14–32) Hierdie sonde kan nie nou meer gepleeg word nie, omrede die Here Jesus Christus nie meer fisies op aarde teenwoordig is nie. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Laster teen die Heilige Gees” vir meer besonderhede te lees).
2. ‘n Ongelowige sondig teen die Heilige Gees wanneer daardie persoon tydens Christus se fisiese afwesigheid die Here Jesus Christus as Verlosser verwerp.
Hand.7:51 “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle.”
Hierdie sonde kan deur ‘n persoon wat tydens die Kerk Dispensasie leef gepleeg word , maar dit word hom vergewe die oomblik wanneer hy van sy ongeloof bekeer en die evangelie glo.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Daar is hoofsaaklik drie wyses waarop ‘n gelowige persoon teen die Heilige Gees kan sondig:
1. ‘n Gelowige kan die Heilige Gees bedroef deurdat hy sonde van enige aard pleeg, ongeag die graad van die rebellie.
Ef.4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.
Die oomblik wanneer ‘n gelowige sonde plaag wandel hy nie meer deur die Gees nie, maar volgens die vlees, wat daartoe aanleiding sal gee dat die gelowige in sy geestelike lewe (fase twee van sy verlossing, naamlik heiligmaking) sal misluk. Wanneer ‘n gelowige die Heilige Gees bedroef, dan verloor hy die vulling van die Heilige Gees, en wandel dan nie meer in die Gees nie maar eerder in die vlees. Dit is slegs die Heilige Gees wat ons die vermoë gee om oor die vlees te heers.
Gal.5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;”
Wanneer ‘n gelowige die Heilige Gees bedroef, dan verloor hy die instaatstellende krag van die Heilige Gees wat daartoe sal aanleiding gee dat sy sonde natuur oor hom sal heers. Die gelowige ontvang outomaties (en slegs eenmalig) die Heilige Gees die oomblik wanneer hy die evangelie glo, en bly vir ewig deur die Heilige Gees verseël wat die gelowige se ewige sekuriteit waarborg. (lees weer Ef.4:30 hierbo.) Die gelowige kan dus nooit weer die inwoning van die Heilige Gees verloor nie, maar hy kan die vulling van die Heilige Gees verloor. Om hierdie rede word die gelowige aangesê om met die Gees vervul te word, naamlik:
Ef.5:18 “Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.”
Om met die Heilige Gees vervuld te wees beteken om deur die Heilige Gees beheer te word. ‘n Persoon wat deur die Gees wandel sal altyd die wil van God doen waarvoor hy met genadeloon beloon sal word. Om hierdie rede word gelowiges aangesê om met die Gees vervul te word, maar hulle word nooit aangesê om met die Heilige Gees gedoop te word nie. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Doop met die Heilige Gees vs Vulling met die Heilige Gees” te lees.)
2. Die gelowige kan die Gees blus. Om die Gees te blus is ‘n aktiewe, meer intensiewe weerstand t.o.v. God se wil en so ‘n persoon verontagsaam/weerstaan doelbewus God se wil in sy lewe.
1Thess.5:19 “Blus die Gees nie uit nie.”
‘n Persoon wat doelbewus in die vlees wandel lewe buite God se wil, is onder beheer van sy sonde natuur en onderdruk moedswillig die Heilige Gees se krag in sy lewe. Die gelowige wat die Gees blus verbeur ook die Heilige Gees se mentorskap in sy lewe wat gewoonlik ook in dwaalleerstelling uitdrukking vind.
3. ‘n Gelowige kan vir die Heilige Gees lieg. ‘n Gelowige wat ‘n goeie daad met ‘n verkeerde/valse motief doen pleeg die sonde van lieg vir die Heilige Gees. Enige goeie daad wat dus met die verkeerde/valse motivering gedoen word is verkeerd. Om geld vir God se werk te gee word oor die algemeen as goed beskou. Maar hier kom ons by die crux van die saak en waar Ananias en sy vrou gestruikel het. Indien ‘n gelowige egter as gevolg van druk, goedkeuring-wellus (om deur mense gesien en geprys te word) of enige ander valse motivering geld vir die Here se werk gee, of enige ander goeie daad verrig, dan pleeg daardie gelowige die sonde om vir die Heilige Gees te lieg.
2Kor.9:7 Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.
Ef.2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”
Die leser word ook aangeraai om die artikel “ Wedergeboorte en die rede vir goeie werke” te lees.
Tit.3:8 “Dit is ‘n betroubare woord, en ek wil hê dat jy hierdie dinge beslis bevestig, sodat die wat in God glo, sorg kan dra om goeie werke voor te staan; dít is wat goed en nuttig is vir die mense. (nie sy eie ego of die begeerte om deur mense geprys te word nie.) God verwag van gelowiges om goeie werke te doen, maar daardie werke moet egter met die regte motiewe gedoen word anders word daardie goeie werke sonde.
Tit.2:7 “Betoon jou in alles ‘n voorbeeld van goeie werke, met onvervalstheid in die leer(korrekte leerstellings), waardigheid, opregtheid.”
‘n Persoon moet so veel gee, of doen, soos wat die Here dit op sy hart lê en nie volgens enige dwang of met verkeerde motiewe nie. Ja, die Here verwag dat ons geld gee, maar die motief waarmee ons die geld gee speel ‘n baie belangrike rol. Indien ons dit doen om gesien te word, of om die gemeente te beheer, dan pleeg ons sonde en lieg vir die Heilige Gees. Goeie werke wat met ‘n verkeerde motief verrig word, word altyd sondige werke.
Ananias en Saffira het gesien hoedat Barnabas wie eiendom gehad het, en dit verkoop en die al die geld voor die apostels neergelê het. Barnabas se motief was reg, omrede hy dit nie gedoen het om deur mense gesien en geprys te word nie. Daarenteen wou Ananias en Saffira goed voor die mense lyk, en het hulle eiendom verkoop, en van die geld vir hulleself teruggehou en het die res aan die kerk geskenk. Hulle het egter voorgegee dat hulle die volle koopsom geskenk het, iets wat hulle nie gedoen het nie. Die Here was nie kwaad omrede hulle van die geld teruggehou het nie, dit was immers hulle eiendom en hulle kon daarmee doen wat hulle wou. Petrus het hierdie feit onder inspirasie van die Heilige Gees duidelik gemaak, naamlik:
Hand.5:4 “As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie?”
Dit was nie noodwendig verkeerd om van die geld vir homself agter te hou nie, dit was egter verkeerd omrede hulle die gemeente wou mislei om te dink dat hulle die volle verkoopsprys aan die gemeente geskenk het. In hierdie opsig het satan Ananias se hart gevul (hom dus beheer) sodat hy met die verkeerde motiewe (in hierdie geval goedkeuring-wellus)’n goeie daad verrig het. Onthou, die ware Kerk/gemeente is die tempel van die Heilige Gees. Om vir die gemeente te lieg is om vir die Heilige Gees te lieg. Die kerk bestaan nie uit ‘n gebou nie, dit bestaan uit alle wedergebore gelowiges.
Let op die stelling: “Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou?” Onthou, volgens die skrifte moet ‘n gelowige met die Gees vervul wees, wat beteken dat die Heilige Gees die gelowige beheer. In Ananias en Saffira se geval het hulle toegelaat dat satan hulle harte met sy begeertes vul en hulle sodoende beheer. Hulle was nie deur satan beset nie (want ‘n gelowige kan nie deur die duiwel beset word nie), maar hulle het aan sy versoekinge toegegee en sodoende het hy hulle gebruik om sy wil te doen. Hulle motief was dus verkeerd en boonop het hulle gelieg deurdat hulle voorgegee het dat hulle die hele koopsom geskenk het. (Iets wat hulle in werklikheid nie gedoen het nie). Onthou, God kyk na die hart van die mens en neem daar al ons begeertes en motiewe waar. Ananias en Saffira was dus onder die invloed van sataniese geïnspireerde denke.
Ter Afsluiting: Indien ons eerlik is dan sal almal van ons moet erken dat ons onsself al op die een of ander wyse aan hierdie sonde skuldig gemaak het. Maak geen fout nie, Ananias en Saffira was gelowiges en hulle sit nou in die hemel, omrede hulle die gawe van die ewige lewe kosteloos deur die glo van die evangelie ontvang het. Maar hoekom het die Here hulle met die fisiese dood gestraf en nie ook al die ander mense wat dieselfde sonde gepleeg het nie? Volgens my beskeie opinie val hierdie hele vraagstuk onder die reël van eerste vermelding. God wou aan die Kerk demonstreer dat Hy die sonde van lieg vir die Heilige Gees in ‘n baie ernstige lig beskou, so ernstig dat dit die doodstraf verdien. Hy wou hierdie feit aan die begin van die Kerk Dispensasie duidelik stel sodat ons kan weet hoe ernstig die spesifieke sonde is. Indien God elke persoon wat hierdie spesifieke sonde gepleeg het onmiddellik met fisiese dood sou straf, dan sou daar bitter min Christene oor gewees het. In Sy genade gee Hy ons geleentheid om van die sonde te bekeer, dit te bely en onmiddellik sy vergifnis te ontvang.
1Joh.1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
Ons moet altyd onthou dat God die beoordelaar van die hart is, en indien ons goeie werke met ‘n verkeerde gesindheid doen, dan sal ons nie daarvoor genadeloon ontvang nie, maar ons goeie daad word in werklikheid ‘n bose daad. Ons motiewe is van uiterste belang in die uitleef van die Christelike lewe. Ons moenie soos die Fariseërs wees wat hulle goeie werke verrig het om deur die mense gesien en geprys te word nie.
Matt.6:1 “Pas op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie. 2 Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie ‘n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. 3 Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, (of enige goeie werk verrig)laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, 4 sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.”
Onthou, dis ‘n belofte van God wat jy jou eie moet maak. Ek hoop my antwoord antwoord jou vraag.
Seën groete!
Vic