Die sondenatuur

Die Sondenatuur, ‘n skriftuurlike perspektief

Baie gelowiges begryp nie mooi die konsep van die mens se sondenatuur nie, en die feit dat die sondenatuur ook in baie gevalle die motiverende agent agter die doen van “goeie werke” is. God sal nie goeie werke waarvan die ou sonde natuur die bron van is met genadeloon beloon nie. Dit sal eerder tydens die Regterstoel Oordeel van Christus as hout, hooi en stoppels verbrand word. (1Kor.3:10-15) Slegs goeie werke wat op grond van God se genade, deur geloof, in en deur die krag van die Heilige Gees verrig is sal genadeloon verdien. Soos wat ons in die artikel “Die sonde van lieg vir die Heilige Gees” gemerk het, is nie alle werke wat as “goeie werke” voorkom noodwendig by God aanvaarbaar nie. Inteendeel, baie van hierdie “goeie werke” het in werklikheid die sondenatuur van die mens as bron, wat beteken dat God daardie goeie werk sal verwerp.

Die sondenatuur verwys na die gevalle aard (ook bekend as die Adamiese aard) van die mens wat Adam tydens die sondeval bekom het, en wat hy deur voortplanting aan al sy nasate oorgedra het. (die Here Jesus Christus is die enigste uitsondering omrede Josef nie Sy vader was nie) Ons almal word dus met ‘n sondenatuur gebore en hierdie sondenatuur sal in ons teenwoordig wees solank as wat ons nog in hierdie gevalle liggame teenwoordig is. Eers na afloop van fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking (eerste opstanding), sal ons ontslae van die sondenatuur wees. Terme soos die “oue mens” (Ef.4:22), “die sonde” (Rom.7:7) en “die vlees” (Rom.8:3-4; Gal.5:16) word in die skrifte aangewend om die konsep van die mens se sondenatuur te beskryf. Die sondenatuur is dus ‘n integrale deel van elke mens op aarde. (met slegs een uitsondering, naamlik die Here Jesus Christus.)

Ons sondenatuur vorm die middelpunt en grondslag van ons rebellie/sonde teenoor God. Die sondenatuur bestaan uit twee fasette wat in geheel die sondenatuur van die mens vorm.

1. Die sondenatuur bestaan die uit ‘n area van swakheid, wat as die bron/grondslag van ons versoekinge dien, en waardeur ons versoek word om persoonlike sondes te pleeg. (Heb.12:1) Ons almal beskik oor ‘n spesifieke swak punt (of punte) wat ons veral vatbaar vir spesifieke versoekinge maak. Ons areas van swakheid vind gewoonlik in die begeerlikhede van die vlees en wetteloosheid, soos byvoorbeeld owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, uitdrukking. (Ef.2:3; Gal.5:16)

2. Die Sondenatuur bestaan ook uit ‘n area van menslike goedheid uit, wat ook as ons sterk punte beskryf kan word. Ons sterk punte genereer dus die welluspatroon van menslike/humanistiese goedheid (Jes.64:6; Heb.6:1), wat gewoonlik in selfgeregtigheid, werkheiligheid en wettisisme uitdrukking vind. (Rom.7:7)

‘n Persoon wat byvoorbeeld goeie werke verrig met die doel dat God hom moet verlos (of om homself gered te hou) tree vanuit sy sondenatuur op, en pleeg sonde omrede hy in werklikheid sy gebrek aan geloof demonstreer, deurdat hy nie werklik glo dat ‘n persoon alleenlik op grond van God se genade deur geloof, sonder die doen van enige goeie werke, gered word of gered bly nie.

In hierdie opsig motiveer die persoon se sondenatuur hom om wetties op te tree, maar in werklikheid tree hierdie persoon a.g.v. wettisisme in stryd met God se woord op wat die volgende verklaar, naamlik:.
Rom.3:28 “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.
John 5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.
Joh.3:18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”

So ‘n persoon tree vanuit sy sondenatuur op en tree dus buite God se wil op.
Gal.5:4 “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.”
Indien ‘n persoon in enige opsig vanuit sy sondenatuur optree, dan tree daardie persoon binne die raamwerk van satan se plan vir die mensdom op al doen hy “goeie werke”. Dink mooi oor hierdie feit na. Bestudeer asseblief die aangehegde illustrasie genaamd “Die Sondenatuur” Ananias en Saffira dien as goeie voorbeeld van persone wat “goeie dade” vanuit hulle sondenatuur verrig het en wat vir daardie optredes gestraf is. Lees gerus weer die artikel genaamd “Die sonde van lieg vir die Heilige Gees”.

Die oomblik wanneer ‘n persoon die evangelie glo, dan word daardie persoon deur God as geregverdig verklaar, omrede die persoon die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid ontvang het. (Hand.13:39; Rom.3:24,28;4:5). Tydens wedergeboorte skenk God aan die mens die ‘n nuwe lewe, naamlik die ewige lewe wat nooit tot ‘n einde kan kom nie. (Tit.3:5) Wedergeboorte (Joh.3:3,7) het as gevolg die ontvangs van ‘n nuwe sondelose natuur, of te wel ‘n nuwe goddelike natuur, (2Pet.1:4), en boonop ontvang die persoon die Heilige Gees en sy liggaam word nou die tempel van die Heilige Gees (1Kor.6:19), en die Here Jesus Christus is ook nou sy nuwe lewe. (Kol.1:27; 3:4). Al hierdie dinge is gepas vir ‘n nuwe skepsel (2Kor.5:17) wat ook nou ‘n nuwe bestemming (die hemel) en erfnis (in die hemel) het. (1Pet.1:3-5). Al hierdie wonderlike dinge ontvang die gelowige die oomblik wanneer hy die evangelie van God se genade, sonder die doen van enige werke, glo (Rom.1:16-17: Ef.1:3). God verwag nou dat die wedergebore persoon in ‘n nuwe lewe (Rom.6:4), en in die “nuwigheid van die Gees” moet wandel (Rom.7:6).

Die Heilige Gees werk uitsluitlik deur die nuwe goddelike/sondelose (2Pet1:4) natuur en nie deur die ou gevalle natuur nie. Dit is in hierdie nuwe sondelose natuur waarin God “in julle werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae.” (Filip.2:13) Boonop is slegs dade wat in geloof deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees verrig word by God aanvaarbaar. (en sal met genadeloon beloon word.) Goeie werke, wat as grondslag ons sondenatuur het, het geen ewigheidswaarde nie en dit verheerlik ook nie die Here Jesus Christus nie. Ons goeie werke verheerlik God slegs indien daardie werke vanuit die nuwe natuur, deur geloof, in die krag van die Heilige Gees bewerkstellig word.

In onsself (of ons eie vermoëns) is dit onmoontlik om die Here Jesus Christus te verheerlik, en hierdie feit sluit ons fisiese, asook verstandelike vermoëns en talente in, omrede ons in onsself altyd kort van God se standaarde sal val. Dit is die Heilige Gees wat in en deur ons God verheerlik. Die opdrag “Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1Kor.6:20) kan slegs uitgevoer word indien ons in die Gees wandel. Om in die Gees te wandel beteken dat ons met die Gees gevul (dus deur Hom beheer) moet wees, en dit vereis dat ons alreeds korrekte Bybelse leerstellings moes ingeneem het. Indien ons aan bogenoemde voorwaardes voldoen dan wandel ons in die Gees.

Gal.5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;”
Slegs ‘n persoon wat met die Gees vervul is kan verklaar dat hy deur die Gees wandel. Dit is die Heilige Gees wat in en deur ons die Here Jesus Christus verheerlik. Let op die volgende stelling wat die Here Jesus Christus net voor Sy kruisiging en verheerliking gemaak het, naamlik:
Joh.16:14 “Hy (die Heilige Gees) sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, (Bybelse leerstellings) en aan julle verkondig.”
Na afloop van die Here Jesus Christus se verheerliking, het die Heilige Gees aarde toe gekom met die doel om die Here Jesus Christus te verheerlik. Om hierdie rede is dit van uiterste belang, dat ons korrekte Bybelse leerstellings inneem, metaboliseer (oordink), en deur geloof en in die krag van die Heilige Gees in ons lewens toepas.

Nog ‘n feit wat ons mooi moet verstaan is dat wanneer ‘n persoon die evangelie glo, dan word daardie persoon met die Heilige Gees verseël, wat beteken dat die Heilige Gees hom nooit weer sal verlaat nie. (1Kor.1:22; Ef.1:13; 4:30). Tydens wedergeboorte is die persoon ook met die Gees gevul, (wat beteken dat die Heilige Gees hom beheer), maar die oomblik wanneer die gelowige sondig, dan verloor hy die vulling van die Gees, maar nie die die verseëling van die Gees nie. Om die vulling van die Heilige Gees te herwin, moet die gelowige sy sonde aan God bely wat sal verseker dat hy die vulling met die Gees weer herwin.
I Joh.1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
Gevul met die Heilige Gees verkeer die gelowige weer in ‘n posisie om die Here te kan verheerlik.

Ons sondenatuur is slegs die bron van versoeking en ons vrye wil is die oorsaak van sonde. Ons sondenatuur kan ons net versoek om sonde te pleeg, maar die oomblik wanneer ons kies om aan die versoeking toe te gee, dan pleeg ons sonde en val in vleeslikheid in. Solank as wat ons in ‘n toestand van vleeslikheid verkeer kan ons nie Christelike lewe korrek uitleef en die Here verheerlik nie. Maar ons kan egter ook slegs met sukses oor die sondenatuur seëvier solank as wat ons in die Gees wandel. (dus met Hom gevul en deur Hom beheer word).

Solank as wat gelowiges nog in hierdie liggame voortleef, sal die sondenatuur, sowel as die Heilige Gees, in ons teenwoordig wees en albei sal streef om ons te beheer. Solank as wat die Heilige Gees die gelowige beheer, verkeer daardie persoon in ‘n geestelike toestand. Wanneer die sondenatuur ons beheer dan is ons vleeslik. Die gemeente in Korinthe was vleeslik, en daarom het Paulus die volgende stelling aan hulle gerig, naamlik:
1Kor.3:1 “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. 2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, 3 omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?”
Die oomblik wanneer ons kies om aan die sondenatuur toe te gee, dan sondig ons, en wanneer ons sondig dan wen die sondenatuur die konflik. ‘n Gelowige wat sonde pleeg verloor nie die gawe van die ewige lewe, of sy verhouding met sy Hemelse Vader nie, maar hy verloor gemeenskap met Hom. Om hierdie rede is dit belangrik dan ons, ons sondes aan God bely en in die Gees wandel. Indien ons in ‘n toestand van voortgesette vleeslikheid voortleef dan stel ons onsself aan God se tugtiging bloot. (Die leser word aangeraai om die artikel “Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe” sorgvuldig deur te lees.)

Ter afsluiting: Ons moet nooit die krag van die sondenatuur onderskat of ligtelik opneem nie. Dit is ook belangrik om te besef dat ons vanuit die sondenatuur “goeie dade” kan verrig, maar daardie werke is nie vir God aanvaarbaar nie. Die sondenatuur is geneig om ons na die een van die twee uiterste posisies te lei, naamlik in die rigting van wetteloosheid of wettisisme toe. Baie van die “goeie werke” wat ons vandag in die belydende Christendom waarneem het as bron die sondenatuur van die mens en is nie vir God aanvaarbaar nie. Voorstanders van Heerskappy Verlossing, waarvan John MacArthur ‘n voorstaander is, is geneig om wetties te wees en om werkheiligheid voor te staan. Daarenteen is die aanhangers van die Voorspoed Evangelie, en die Woord Geloof beweging, waaronder Joyce Meyer ‘n voorstander is, weer geneig om wetteloos op te tree deurdat hulle in hulle wellus vir geld mense moedswillig deur dwaalleer mislei. Net omrede ‘n persoon ‘n oënskynlike “christelike daad” pleeg beteken geensins dat daardie persoon God dien nie. Baie van hierdie Christelike “goeie werke” het as bron die persoon se sondenatuur en hulle doen in werklikheid satan se wil onder die vaandel van “christelike goeie werke”. Om hierdie rede is dit van uiterste belang om kennis van ons sondenatuur te dra, en om seker te maak dat ons aan korrekte Bybelse leerstellings blootgestel word en dit inneem. Onthou die Here se stelling:
Joh.16:14 “Hy(die Heilige Gees)sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, (Bybelse leerstellings) en aan julle verkondig.”
By God is slegs korrekte leerstellings aanvaarbaar. Sonder korrekte Bybelse leerstellings sal mens nie werklik die Christelike lewe kan uitleef nie. Dit is my bede dat hierdie artikel meer lig op die onderwerp van die mens se sondenatuur sal werp.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.