Voorspoed Evangelie

Die Voorspoed Evangelie, ‘n Skriftuurlike Perspektief

Die Voorspoed Evangelie is dwaalleer en dit speel soos ‘n vloedgolf oor die belydende Christendom wat ernstige geestelike implikasies vir die aanhangers daarvan inhou. Rykdom en welvaart beklee basies die apeks van hulle teologiese sisteem en Christus is maar slegs ‘n middel tot die doel. Hulle fokus val op lidmaattal, nie op leerstellige suiwerheid nie, en daarom bemark hierdie mense hulself met soveel passie. Hulle lok mense met beloftes van genesing wat nooit werklik plaasvind nie. Verder lok hulle mense met beloftes van rykdom en dít is hoekom die skares na hul konferensies stroom.

Die Voorspoedsevangelie vereenselwig seën met materiële rykdom en gesondheid. Die Skrif wys egter daarop dat ware seën eerder in die gawe van die ewige lewe, die vergifnis van ons sondes en die meegaande vrede met God te vinde is.
Ef.1:Genade vir julle en vrede van God, onse Vader, en die Here Jesus Christus! 3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,”
Voorstanders van die Voorspoedsevangelie fokus op tydelike, materiële voorspoed. Geestelike seëninge daarenteen, is ewig van aard en van veel groter belang. In hierdie opsig bevorder die voorstanders van die Voorspoed Evangelie ‘n charismatiese, egosentriese en narsistiese vorm van godsdiensbeoefening. Ware geloof beteken nie dat ons God vir persoonlike gewin moet manipuleer nie. Die essensie van ware geloof is om op God te vertrou, ongeag die omstandighede waarin ons onsself mag bevind.

Onthou, die waarde, meriete en krag van ons geloof lê nie in ons geloof self of in ons eie woorde/uitsprake nie. Die krag en meriete van ons geloof is uitsluitlik in die Voorwerp van ons geloof, naamlik die Drie-Enige-God te vinde. Volgens die Voorspoedsevangelie is geloof ‘n aktiewe, byna magiese krag wat aangewend kan word om uitkomste te beheer/manipuleer in plaas daarvan om ons vertroue volkome in God en Sy wil vir ons te plaas. Die fokus van hierdie leerstelling is positiewe denke en die opvatting dat geloof die gelowige die vermoë gee om sy eie toekoms deur middel van sy woorde te manifesteer. Dit is niks anders as ‘n vorm van okkultisme nie. Hulle kwoteer gereeld Spreuke 18:21, wat die indruk skep dat ons die krag in ons woorde het om enige iets tot stand te bring of om dinge daarmee te skep (gewoonlik rykdom en gesondheid).
Spr.18:21 “Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.”
Met ander woorde, hierdie interpretasie is ‘n doelbewuste verdraaiing van die teks. Die teksgedeelte beklemtoon eintlik die aansienlike invloed/impak wat ons woorde op ander het. Die teks verklaar geensins dat ons woorde enigsins skeppingskrag bevat nie. Die spesifieke teksgedeelte vorm deel van ‘n breër konteks (Spr. 18:13-24) wat die belangrikheid van wyse en bedagsame spraak beklemtoon, en waarsku teen die gevare van roekelose en kwetsende woorde.

Slegs God kan met Sy woorde iets uit niks uit skep, en voorstaners van die Voorspoed Evangelie neem hierdie attribuut van God en pas dit op hulleself toe. In hierdie opsig verhef hulle hulself tot God se vlak. Hulle hou dus ‘n wanvoorstelling van geloof aan hulle gehore voor. Ware geloof steun op wat God alreeds binne die raamwerk van Sy wil gedoen het, en wat Hy nog gaan en kan doen. Ons moenie ons geloof in ons geloof of ons woorde plaas nie maar slegs in God alleenlik. Terme soos “Ek spreek voorspoed en lewe in Christus naam oor jou uit” is ‘n mooi voorbeelde hiervan. Verklarings soos hierdie maak indirek van God ons slaaf, omrede Hy dan by implikasie gedwing word om alles wat ‘n persoon in Christus se Naam oor ander uitspreek te volbring. Uitsprake soos hierdie ignoreer die noodsaaklikheid van nederigheid en gehoorsaamheid aan God se woord en is niks anders as ‘n vorm van menslike hubris nie.

Voorspoedspredikers haal dikwels Ou-Testamentiese beloftes (bv. Deuteronomium 28) aan wat onder die Mosaïese verbond aan Israel gegee is. Die Kerk leef in die bedeling van Genade, in teenstelling met Israel wat voorheen onder die bedeling van die Mosaïese Wet gestaan het. Kontekstueel was Deuteronomium 28 nasionale, voorwaardelike seëninge wat aan Israel se gehoorsaamheid aan die Wet gekoppel was — dit is nie universele Christelike beloftes nie. Nie een van die apostels was ooit ryk nie. Die hebsug van die proponente van die Voorspoed Evangelie wakker juis die liefde vir geld aan. Hierdie liefde, sê 1 Timótheüs 6:10, is die bron van alle kwaad, en voed hebsug, materialisme en egoïstiese ambisie.
1Tim.6:10 “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. 11 Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.”

Die ware evangelie het as kern die Here Jesus Christus en Sy voltooide werk aan die kruis vir ons.
1Kor.15:3 “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;”
Die evangelie sentreer dus om Christus.
1Kor.2:2 “want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.”
Die Voorspoed Evangelie verskuif die aandag weg van die Here Jesus Christus, en rig dit op die mens en sy begeertes, voorspoed en persoonlike gemak. Dit herdefinieer die evangelie en verander dit van die Evangelie van God se Genade na ‘n evangelie van menslike hebsug. Die Voorspoed Evangelie is dus mens-gesentreerd en nie Christus-gesentreerd nie. Die Here Jesus Christus se naam word net gebruik om die mens se begeertes te bevredig. Indien mens mooi kyk dan is dit opmerklik dat In plaas daarvan om mense na Jesus Christus te wys (Johannes 14:6), plaas charismatiese leiers die klem op hul persoonlike gesag en salwing (anointing). Hulle vergeet dat die Here Jesus Christus die kern van die Bybelse boodskap is, en nie hulself nie.

Die gevolg van hierdie misplaaste fokus is dat daar in baie gevalle ‘n kultus-mentaliteit van blinde lojaliteit geskep word, waar die volgelinge die leier se leerstellings onvoorwaardelik as onfeilbaar aanvaar. A.g.v. hierdie feit versuim hulle ook om enigiets wat aan hulle verkondig word, binne die korrekte dispensasionele konteks teen die Skrif te evalueer en te toets.
Hand.17:11 “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.”
Hulle vergeet dus dat die Here Jesus Christus ons teen valse profete gewaarsku het.
Matt.7:15 “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.”

Proponente van die Voorspoed Evangelie ignoreer of onderbeklemtoon die werklikheid van lyding in die gelowige se lewe en skryf dit in baie gevalle aan ‘n gebrek aan geloof toe. Daarenteen het sowel die Here Jesus Christus, asook Paulus ons gewaarsku dat die gelowige lyding in hierdie lewe sal ervaar.
Joh.16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
2Tim.3:12 En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word. 13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.”

Lyding vorm deel van dissipelskap en dien as God se suiweringsproses; dit dui nie noodwendig op ‘n gebrek aan geloof nie, maar vorm deel van die geestelike groeiproses.
Jak.1:2 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”
In hierdie opsig is Job ‘n baie mooi voorbeeld van ‘n gelowige wat lyding ervaar het.
Jak.5:11 “Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.”
As deel van Paulus se geestelike ontwikkeling, en aangesien God enige vorm van hoogmoed haat, is Paulus ‘n doring in die vlees gegee om hom nederig te hou.
1Kor.12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.”
Mens kan net wonder hoekom God nie ook vir die leiers van die Voorspoed Evangelie ‘n doring in die vlees beskik nie?

Die Voorspoedleer handhaaf ‘n onskriftuurlike en verdraaide opvatting aangaande die gee van geldelike bydraes. Wat die leer van tiendes aanbetref, bring hulle hul volgelinge onregmatiglik weer onder die Ou Verbond (die Wet van Moses). Die Kerk leef tans in die bedeling van Genade, in skerp kontras met Israel wat voorheen onder die bedeling van die Mosaïese Wet gestaan het. Die Kerk is nie Israel nie en word nie deur die Mosaïese Wet beheer nie, maar funksioneer kragtens die beginsels van die Wet van Christus.
Gal.6:2 “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.”
Rom.6:14 “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.”

Tydens die Dispensasie van die Kerk funksioneer die gee van gawes op ‘n heeltemal ander beginsel, naamlik liefde vir God. Die Nuwe Testament bepleit vrywillige bydraes wat uit ‘n blymoedige hart moet voortvloei.
2Kor.9:7 “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief. 8 En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.”
Om finansiële bydraes te lewer, is ‘n daad van aanbidding, en moet nie as ‘n blote finansiële transaksie beskou word soos wat die Voorspoedleer verkondig nie. Dit is belangrik om te onthou dat die Here die beweegredes van die harte ondersoek. Die Voorspoed Evangelie is ‘n gruwel. Dit is niks anders as pure selfverheerliking nie, waar charismatiese leiers hul eie belange, beeld en gesag bo die welsyn van hul volgelinge prioritiseer. Dit weerspreek Jesus se lering dat “wie onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees” (Mattheus 20:26).

Die Voorspoed Evangelie verskuif die klem weg van ‘n ewige verwysingsraamwerk en fokus dit op die mens se tydelike aardse gewin.
Matt.6:19 “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; 20 maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; 21 want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
Hierdie leerstelling ondermyn die leerstelling van die sekerheid van verlossing deur dit aan materiële omstandighede te verbind. ‘n Persoon ontvang die gawe van die ewige lewe die oomblik wanneer daardie persoon die Evangelie glo.
Joh.5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.
1Joh.5:12 Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.13 Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.”

Die leerstelling van die Ewige Sekuriteit van die gelowige is gewortel in God se Woord, en nie aan ‘n persoon se wisselvallige welvaart of gesondheid nie.

Ter Afsluiting: Die Voorspoed Evangelie verdraai God se Woord deur verbondsbepalings te verwar, geloof te herdefinieer, en hoop van die hemel na die aarde te verskuif. In teenstelling hiermee verkondig die Ware Evangelie dat die ewige lewe ‘n genadegawe is, wat slegs deur geloof in Christus alleen ontvang word. Ons sekerheid is gewortel in God se belofte—nie in aardse of materiële voorspoed nie. Die charismatiese narsisme wat in die Woord van Geloof- en charismatiese kringe aangetref word, is ‘n verdraaiing van die evangelie, wat die heerlikheid van God en die nederigheid van die mens beklemtoon. Dit behels ‘n verderflike kombinasie van geestelike hoogmoed, selfverheffing, asook selfverryking. Hul lewenstyle en fokus weerspieël hierdie feit.
2Kor.2:17 “Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.”
Die Skrif getuig dat ware grootheid in ootmoed en diens aan ander gesetel is.
Matt.20:26 “maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. 27 En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; 28 net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.”

Ons beleef ‘n tydperk van ‘n groeiende afval (apostasy) in die kerk waartydens ‘n merkbare en toenemende wegkeer van die fundamentele Bybelse leerstellings en etiese standaarde plaasvind. Hierdie afval manifesteer dikwels as ‘n aanpassing by die wêreld se kultuur – waar die waarheid van die Skrif ter wille van populêre sienings of materiële sukses afgewater word. Die resultaat is ‘n godsdiens wat die mens se eie eer en belewenis beklemtoon, eerder as God se heerlikheid en die oproep tot nederigheid en heiligheid, wat ‘n duidelike teken is dat die einde van die Kerk Dispensasie naby is. Paulus se waarskuwing en opdrag aan Timoteus is dus ‘n gepaste teksgedeelte om hierdie artikel mee af te sluit.
2Tim.4:1”Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: 2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. 5 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.”

Seën Groete!

Vic

Lees gerus hierdie reeks artikels in volgorde. Dit sal jou help om ‘n Bybelse raamwerk vir die geskiedenis van die skepping te verstaan.

Die Dispensasies ‘n Skriftuurlike perspektief
Dispensasie van Onskuld
Die Dispensasie van Menslike Gewete
Die Dispensasie van Menslike Owerheid
Die Dispensasie van Belofte. Deel Een
Die dispensasie van belofte. Deel 2
Die Dispensasie van die Wet. Deel 1
Die Dispensasie van die Wet. Deel 2
Die Dispensasie van die Kerk. Deel een
Die Dispensasie van die Kerk. Deel 2
Belangrike feite aangaande die kerk. Deel 1
Belangrike feite aangaande die kerk. Deel 2
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 1
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 2
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 3
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 4
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 5
Die Dispensasie van die Koninkryk
Die Ewigheid

Die volgende twee artikels kan ook as profetiese aanhangsels gelees word.

Dit is God wat Israel in hulle eie land hervestig.
Israel en die oorlog van Gog en Magog Esegiël 38–39
Die Wegraping. Deel 1
Die Wegraping. Deel 2
Die Wegraping. Deel 3

Deel met ander asb.