Kan 'n gelowige uit genade verval?

Dien Gal.5:4 as bewys dat ‘n gelowige verlore kan gaan?

Dien Galásiërs 5:4 as bewys dat ‘n gelowige die gawe van die ewige lewe kan verbeur en gevolglik verlore kan gaan? In hierdie instansie is die beginsel van logiese konsekwentheid sover dit Bybel uitleg aanbetref van kardinale belang. Indien ons die skrifte korrek verklaar dan kan daar geen weersprekings daarin wees nie. Die Bybel is immers God se Woord, en aangesien dit die waarheid is, kan daar geen teenstrydighede daarin wees nie. Wanneer die Skrif korrek uitgelê word, leer dit nooit dat genade en werke albei voorwaardes vir verlossing is nie. Logiese konsekwentheid vrywaar ons van die fout om wet en genade te vermeng en verhinder dat ons regverdiging (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) met die roeping tot dissipelskap (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking) verwar. (Die leser word aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” te lees.) Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ons die Bybel op ‘n konsekwente, normaal letterlike, grammatiese, historiese en kontekstuele wyse interpreteer. Onthou, dit is God se wil dat ons die Bybel reg verstaan. Met hierdie feite in gedagte kan ons nou na die gegewe teksgedeelte gaan kyk. Ek gaan verse een tot vyf hier aanhaal en dan binne die korrekte konteks bespreek.
Gal.5:1 “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie. 2 Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. 3 En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou. 4 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.

Die brief aan die Galasiërs is gerig aan gelowiges wat reeds die gawe van die ewige lewe, op grond van genade deur geloof in die evangelie, ontvang het en wat, volgens die Here Jesus Christus, nie in die oordeel sal kom om verlore te gaan nie.
Joh.3:18 “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.
Joh.5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het,
het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het
(alreeds)oorgegaan uit die dood in die lewe.
Paulus rig dus sy waarskuwing aan mense wat alreeds wedergebore is. Die skrifte verklaar dat hierdie gelowiges alreeds met die Heilige Gees verseël is die oomblik toe hulle die evangelie verstaan en geglo het.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Hierdie verseëling strek tot die dag van verlossing toe, en omvat sodoende die derde fase van hul verlossing, naamlik die verheerliking (wanneer hulle met hulle sondelose verheerlikte liggame oorklee sal wees).
Ef.4:30 “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.
Dit is mense waarvan die Here belowe het dat Hy nie een sal verloor nie en dat niemand hulle uit Sy hande kan ruk nie.
Joh.6:39 “En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. 40 En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
Joh.10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand (dit sluit die gelowige self ook in) kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. 30 Ek en die Vader is een.”

Die gemeente in Galasië is deur valse leraars binnegesypel wat besnydenis (en dus wetnakoming) as ‘n bykomende vereiste tot geloof wou byvoeg. Die konteks handel dus nie oor ‘n morele struikeling nie, maar eerder oor Wettisisme, oftewel Werkeheiligheid, deurdat hulle die nakoming van die Wet as vereiste vir verlossing stel. Die skrifte stel dit duidelik dat niemand deur die werke van die wet gered sal word nie.
Rom.3:20 “aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.
Rom.3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.
Gal.2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.

Dit is binne die raamwerk van hierdie konteks waarom Paulus die volgende waarskuwing aan die gelowiges in Galasië rig:
Gal.5:2 “Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. 3 En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou (wat niemand behalwe die Here Jesus Christus kan doen nie). 4 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, (werkeheiligheid) is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.
Gelowiges wat regverdiging deur wetsonderhouding najaag, word van Christus afgesny. Dit is ‘n toestand waar ‘n gelowige (‘n reeds verloste persoon) die genade van God, wat sonder verdienste en vrylik deur geloof ontvang is, deur wettisisme prysgee. Die vers waarsku teen ‘n stelsel waarin mense poog om God se guns deur nakoming van reëls en rituele te verdien (werkeheiligheid). Paulus beklemtoon dus dat verlossing slegs op grond van God se genade deur geloof ontvang word. Die frase ‘van genade verval’ beskryf diegene wat poog om deur wetsonderhouding by God geregverdig te word, eerder as om slegs op geloof in Christus te vertrou. Hierdie optrede word beskou as die skeiding van die gelowige se verbondenheid met Christus en ‘n prysgawe van God se genade, wat alleen deur geloof verkry word, en nie deur wetsgerigte inspanning nie. In hierdie opsigte val die gelowige uit genade uit, deurdat hy die weg van genade verlaat en daarna streef om sy eie geregtigheid deur wetnakoming te bewerkstellig. Die waarskuwing in die vers is teen die vermenging van geloof met werke vir verlossing, dog dit is nie in stryd met die leerstelling van die ewige sekerheid van gelowiges in Christus nie.

Die stelling “uit genade verval” verwys nie na die moontlikheid dat hierdie gelowiges die gawe van die ewige lewe verloor het nie. Dit beteken dat hulle die weg van genade versaak het en ‘n wet-georiënteerde pad na geregtigheid ingeslaan het. Die sfeer waarbinne die gelowige veronderstel is om te leef is God se genade deur geloof. Om die weg van genade te verlaat, plaas ‘n gelowige onder ‘n slawejuk van die wet — dog die gawe van die ewige lewe bly onwrikbaar seker. Gal.3:2 bevestig hierdie feit:
Gal.3:2 “Dit alleen wil ek van julle weet: het julle (Galasiese gelowiges) die Gees ontvang (en by implikasie tot en met die dag van verlossing met die Heilige Gees verseël) uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? 3 Is julle so onverstandig? Nadat julle (gelowiges) met die Gees begin het, eindig julle (gelowiges) nou met die vlees?
Anders as wat baie mense beweer, kan ‘n gelowige nie die gawe van die ewige lewe verbeur nie, maar hy kan wel uit die beginsel van genade verval. Om die beginsel van genade te verlaat, sal daartoe lei dat die gelowige sy vryheid, vreugde en genadeloon sal verbeur; hy sal egter nooit verlore kan gaan nie. Dit is immers die Here wat die gelowige gered hou en nie hyself nie. (Joh.10:28-30)

Besnydenis (of enige ander werk soos byvoorbeeld sabbatsonderhouding of doop) uit ‘n wettiese grondslag verrig is nadelig vir jou geestelike lewe. Sodra iemand in wettisisme verval, hou hy op om geestelik te groei. Net deur in geloof in die Gees te wandel, kan ‘n Christen werklik geestelik vrug dra.
Gal.5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;
Rom.8:4 “sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.
Wettisisme bring nie ‘n persoon nader aan God nie, die teendeel is egter waar. Die gelowige het eerder van Christus vervreemgeraak. Hierdie vervreemding dui nie op die verlies van regverdiging (verlossing) nie, want so iets is onmoontlik. (Joh.10:28-30) Die vervreemding is vergelykbaar met die onderbreking van die band (verstoorde verhouding) wat ‘n pa en seun binne familieverband na ‘n groot rusie ervaar. Selfs ‘n gelowige wat die wet (of enige goeie werk) gebruik in ‘n poging om homself gered te hou verbreek sy gemeenskap met Christus. Hierdie feit geld, ongeag hoe goed ‘n persoon se intensies mag wees. Sodanige optrede demonstreer die feit dat die persoon nie werklik glo dat die Here vir al sy sondes (verlede, huidige, asook toekomstige) sondes aan die kruis versoening gedoen het nie. Dit is in wese ‘n subtiele vorm van ongeloof. Wettisisme besoedel ‘n mens se motiewe, en daarmee saam ook die grondslag van sy goeie werke. Die gelowige wat in wettisisme verval, het uit genade geval. Sy val is uit die belewing van genade, en nie uit sy ewige posisie in genade nie. Hierdie subtiele leerstelling van regverdiging deur die Wet word deur talle welmenende predikers verkondig. As gevolg van hierdie feit is die kans om in hierdie opsig uit genade te verval deesdae baie groot.

Moenie ‘n teologiese kategorie-fout begaan deur om die vereistes vir geregtelike vergifnis met die vereistes vir gemeenskaps-vergifnis te verwar nie. Onthou, God is ‘n God van orde, nie van wanorde nie, en Hy wil hê ons moet Sy Woord reg verstaan. Aangesien die Waarheid Homself nie kan weerspreek nie, kan die Bybel nie tegelykertyd genade deur geloof en menslike werke as vereistes vir die ontvangs of behoud van ewige lewe aan die mens voorhou nie.

‘n Persoon ontvang die eens-en-vir-altyd geregtelike vergifnis van God die oomblik wanneer ‘n persoon die evangelie glo. Die grondslag van hierdie feit lê daarin dat al die gelowige se sondes (verlede, huidige en toekomstige) sondes ten volle in die Here Jesus Christus se plaasvervangende dood aan die kruis geoordeel is. Wedergeboorte en regverdiging vind gelyktydig plaas, en is permanent en onherroeplik. Die resultaat is dat die gelowige regverdig voor God verklaar word, wat die Leerstelling van die Ewige Sekuriteit van die gelowige waarborg.
Rom.3:24 “en hulle (gelowiges) word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. 25 Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God 26 om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. 27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof.
Die bestek van God se regverdiging (geregtelike vergifnis) behels dat dit die ewige straf van sonde ten volle dek, naamlik die ewige verdoemenis.
Ef.1:7 “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,
Rom.4:6 Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder werke: 7 Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is. 8 Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie.(sien ook Joh.5:24; Kol.2:13-14; Heb.10:17-18.)
Die geregtigheid van God sluit die moontlikheid uit dat Hy ‘n reeds geregverdigde persoon sal veroordeel. Om iemand wat reeds geregverdig is, te veroordeel, sal Goddelike geregtigheid skend. Om so op te tree, sou die beginsel van ‘ne bis in idem’ (‘n beginsel teen dubbele verhoor/straf) skend.
Rom.8:33 “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. 34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, (vir al ons sondes geoordeel is) ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.

Gemeenskaps-vergifnis behels daarenteen die deurlopende, vaderlike vergifnis waardeur die verstoorde verhouding met God binne familieband herstel word. Op geen enkele stadium is die gelowige (alreeds wedergebore persoon) se saligheid in gedrang nie. Sonde, of dit nou in die vorm van morele vergrype of wettisisme is, versteur die Vader-kind verhouding binne die familieband met God. Sondebelydenis dien as die grondslag vir gemeenskaps-vergifnis en stel die gelowige sodoende in staat om die gemeenskap binne die familieband met sy Hemelse Vader te handhaaf.
1Joh.1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.
Die gevolg van sondebelydenis is herstelde vreugde, intimiteit, antwoord op gebed en bruikbaarheid vir diens — nie dat ‘n mens opnuut regverdig gemaak (wedergebore) word nie. Die deurlopende, vaderlike vergifnis spreek die tydelike gevolge van sonde aan, naamlik goddelike tug, verlies aan vreugde, en belemmerde gebed. Gemeenskaps-vergifnis gaan oor tug en intimiteit, nie oor saligheid nie. Al bely die gelowige (alreeds wedergebore persoon) nie sy sonde nie, bly hy posisioneel vergewe en ewiglik veilig.
2Tim.2:13 “As ons (gelowiges) ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.”
Geregtelike vergifnis vestig die gelowige ewiglik in God se gesin, terwyl gemeenskaps-vergifnis harmonie binne daardie gesin in stand hou.

Ter Afsluiting: Net soos fisiese geboorte nie ongedaan gemaak kan word nie (jy kan nie fisies ‘ontgebore’ word nie), is geestelike geboorte — om uit God gebore te word — ‘n onherroeplike daad. ‘n Gelowige kan as gevolg van wettisisme uit genade verval, maar hy sal nooit uit die ewige lewe (of uit God se hande) wegval nie. Die rede hiervoor is eenvoudig:
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, 14 wat die onderpand (waarborg) is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.
Aangesien dit God is wat die gelowige wederbaar, kan slegs Hy die daad van wedergeboorte ongedaan maak.Hy gee egter die versekering dat Hy dit nooit sal doen nie.
Joh.10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. 30 Ek en die Vader is een.”
Wedergeboorte is permanent en onomkeerbaar, en word deur God se krag verseker.

Gevolglik is die ewige sekerheid nie net logies nie, dit is inderdaad deur God gewaarborg.
Slegs wanneer die gelowige in geloof op God se beloftes vertrou, kan hy in vryheid wandel en die Here daardeur behaag. ‘n Persoon kan homself nie deur sy eie werke red of homself gered hou nie.
Gal.2:20 “Ek is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. 21 Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.”
‘n Gelowige kan ook nie uit genade verval om verlore te gaan nie. Hy kan wel as gevolg van wettisisme uit genade verval en daarmee die gemeenskap binne die familieband met God verbreek, met die gevolg dat hy nie werklik geestelik sal groei nie wat sal veroorsaak dat hy genadeloon sal verbeur. Gal.5:4 leer nie dat ‘n gelowige die gawe van die ewige lewe kan verbeur nie.

Seën groete!

Vic.

Deel met ander asb.