Ek sit nou en luister na Izak Du Plessis se YouTube kanaal genaamd Nuuspod waartydens die bekende sanger Danie Botha die bewering maak dat God aan hom geopenbaar het dat die wegraping op 23 en 24 September hierdie jaar (2025) gaan plaasvind. Ek moet dit net vooraf stel dat ek geensins Danie Botha se motiewe in hierdie artikel in twyfel trek nie, maar ek glo hy maak buite-Bybelse openbarings wat baie van sy volgelinge gaan ontnugter en hulle geloof ‘n ernstige knou gaan gee. As gelowiges verwag God van ons om alles wat aan ons verkondig word met die skrifte te vergelyk, om seker te maak dat wat dit wat aan ons verkondig word wel van Hom afkomstig is. (Hand.17:11) Ons word ook gemaan om die woord van God reg te interpreteer.
2Tim.2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Ek glo dat die skrifte dit duidelik stel dat die gawe van profesie tot ‘n einde gekom het toe die ses-en-sestig boeke van die Bybel op skrif gestel is.
1Kor.13:8 “Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë — hulle sal tot niet gaan; of tale — hulle sal ophou; of kennis — dit sal tot niet gaan. 9 Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. 10 Maar as die volmaakte (die ses-en-sestig boeke van die Bybel)gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.”
Ek raai die leser ten sterkste aan om die artikel “Is die Gawe van Profesie nog in werking vandag?” sorgvuldig deur te lees waar hierdie onderwerp in meer diepte bespreek word. Die Here praat nou met ons deur Sy woord (Die Bybel) en alles wat ons nodig het om te weet het Hy daarin vir ons laat neerskryf, en daarom maak Paulus die volgende stelling, naamlik:
2Tim.3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (sien ook 2Pet.1:3-4) Indien daar nog buite Bybelse openbarings nodig is en wat nie in die Bybel opgeteken is nie, dan sou Paulus nie bostaande stelling kon maak nie. Indien daar inligting is wat nie alreeds in die Bybel opgeteken is nie, dan beteken dit dat ons dit nie nodig het om God se plan vir ons lewens te vervul nie.
Na afloop van Christus se dood en opstanding, en net voor Sy hemelvaart het Sy dissipels Hom die volgende vraag gevra, naamlik:
Hand.1:6 “Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?”
Let op die Here Jesus Christus se antwoord aan Sy dissipels:Hand.1:7 En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie;”
Paulus, wie die Bybelse Leerstelling van die Voorverdrukking Wegraping, wat Jesus in Johannes 14:1-3 vir die eerste keer bekendgemaak het, aan ons verder uiteengesit het (1Thess.4:16-17;1Kor.15:51-53), het ook die volgende stelling aangaande die tydsberekening van die wegraping gemaak, naamlik:
1Thess.5:1 “Maar oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie; 2 want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag.”
Dit is dus ‘n ernstige mistasting om te beweer dat ons vooraf sal weet wanneer die wegraping gaan plaasvind.
Die Skrifte gee aan ons baie tekens wat die Here Jesus Christus se Wederkoms na die aarde om Sy Koninkryk hier op te rig voorafgaan, maar die Voorverdrukking Wegraping het absoluut geen tekens wat dit voorafgaan nie. Die Voorverdrukking Wegraping is ‘n tekenlose gebeurtenis en is slegs op die Kerk (nie Israel nie) betrekking. Die sogenaamde trompette wat Danie Botha gehoor het kom nie van God af nie. Ek sê geensins dat Danie Botha nie die trompette gehoor het nie, maar wat ek wel sê is dat dit wat hy gehoor het nie van God afkomstig is nie. Omrede Danie op buite Bybelse openbarings staatmaak stel dit hom oop om deur satan verly te word. Ongelukkig sal dit ammunisie bied aan diegene wat die Bybelse leerstelling van die Voorverdrukking Wegraping ontken, en hulle in staat stel om mense te oorreed om nie in die Wegraping te glo nie. En dit sal ‘n tragedie wees want die Bybel verkondig die Voorverdrukking Wegraping. Satan sal enige iets doen om hierdie leerstelling in oneer te bring. En daarom dink ek dat satan moontlik agter die trompetgeklank sit wat Danie Botha gehoor het. As ek satan was dan sou ek presies so iets uitdink om die kerk te verly. Die leser word aangeraai om die artikel “Die gevaar wanneer die Bybel nie genoeg is nie” sorgvuldig deur te lees.
Danie Botha maak ook volgens my die fout om die jaarlikse fees-siklus op die Kerk toe te pas, veral die Fees van Trompette. Die Bybel leer dat Israel jaarliks ‘n siklus van sewe feeste moes vier. Die sewe feeste is Pasga, die Fees van die Ongesuurde Brode, Eerste Vrugte, die Fees van Weke, die Fees van Trompette, Versoendag, en die Loofhuttefees. Die eerste vier feeste word in die lente gevier, terwyl die oorblywende drie in die herfs herdenk word. ‘n Algemene siening is dat die feeste ‘n profetiese beeld van die Messias se werk uitbeeld. Die lente-feeste is glo reeds met Christus se eerste koms vervul, terwyl die herfs-feeste in die toekoms, rondom Sy Wederkoms aarde toe, vervul sal word. Tot hiertoe stem ek met so ‘n uitleg saam. My beswaar is teen diegene wat die Fees van Trompette (die vyfde fees) met die Wegraping wat slegs op die Kerk van toepassing is in verband bring. Hulle argument is dat omrede Rosh HaShannah (die Fees van Trompette) elke jaar op die eerste dag van Tishri plaasvind (hierdie dag val gewoonlik volgens ons hedendaagse kalender in September), en trompette in 1 Korintiërs 15:52 met die Wegraping verbind word, die Wegraping noodwendig op daardie dag sal plaasvind.
Hierdie benadering het een wesenlike probleem wat enige datumbepaling onmoontlik maak: Israel se feeste is spesifiek vir Israel ingestel, nie vir die Kerk nie. Die Kerk is nie Israel nie en Israel is ook nie die Kerk nie. (Die Kerk is ‘n unieke entiteit wat eers op Pinksterdag haar ontstaan gehad het en sal tydens die wegraping, voor die aanbreek van die Verdrukking, deur Christus van die aarde verwyder word (Joh.14:1-3; 1Thess.4:16-17;1Kor.15:51-53). Hoewel hul vervulling breër implikasies vir die mensdom se verlossing het, hou die presiese vervulling daarvan uitsluitlik met nasionale Israel verband. Die Wegraping is ‘n nuwe en unieke gebeurtenis wat slegs op die kerk van toepassing is, en kon dus nie in Ou-Testamentiese openbaring soos die feeste van Israel voorspel word nie. Die gebruik van hierdie feeste om ‘n datum vir die Wegraping te probeer bepaal, is dus ‘n ernstige mistasting. Die wegraping kan op enige oomblik plaasvind en is geensins aan enige tekens gekoppel nie. Lees gerus ook die artikel “Het die Kerk die volk Israel, as God se Verbondsvolk, vervang?”, asook “Die Kerk is nie die Messiaanse Koninkryk van Christus nie”
Ter Afsluiting: Ek glo dat Danie Botha ‘n ernstige fout begaan. Ek is bewus daarvan dat hy ‘n populêre figuur is, en ek verwag dat baie mense my sal aanval omdat ek hierdie bewerings teen hom maak. Maar ek moet getrou aan God en Sy woord bly. Dit is geensins my doel om Danie te belaster nie; ek lê bloot my mening in alle nederigheid aan die leser vir oorweging voor. Ons elkeen is persoonlik verantwoordelik vir wat ons glo. Onthou, die wegraping kan vandag plaasvind en is nie aan enige tekens verbonde nie.
Seën Groete.
Vic
Lees gerus hierdie reeks artikels in volgorde. Dit sal jou help om ‘n Bybelse raamwerk vir die geskiedenis van die skepping te verstaan.
Die Dispensasies ‘n Skriftuurlike perspektief
Dispensasie van Onskuld
Die Dispensasie van Menslike Gewete
Die Dispensasie van Menslike Owerheid
Die Dispensasie van Belofte. Deel Een
Die dispensasie van belofte. Deel 2
Die Dispensasie van die Wet. Deel 1
Die Dispensasie van die Wet. Deel 2
Die Dispensasie van die Kerk. Deel een
Die Dispensasie van die Kerk. Deel 2
Belangrike feite aangaande die kerk. Deel 1
Belangrike feite aangaande die kerk. Deel 2
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 1
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 2
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 3
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 4
Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 5
Die Dispensasie van die Koninkryk
Die Ewigheid
Die volgende twee artikels kan ook as profetiese aanhangsels gelees word.
Dit is God wat Israel in hulle eie land hervestig.
Israel en die oorlog van Gog en Magog Esegiël 38–39
Die Wegraping. Deel 1
Die Wegraping. Deel 2
Die Wegraping. Deel 3