Sonde bely

Gaan gelowiges hel toe as hulle vergeet om sonde te bely?

Vraag: Ek het onlangs na pastoor Rooies Straus geluister waarin hy verklaar dat indien ‘n persoon nie sy sonde bely nie daardie persoon hel toe sal gaan. Ek weet van baie mense wat die evangelie geglo het maar wat nie seker was of hulle al hulle sondes bely het nie. Dit geld vir my ook. Hoe sal ek ooit kan seker wees dat ek hemel toe sal gaan. Ek probeer hard om alles reg te doen, en om al my sondes te bely, maar ek is alte bewus van die feit dat ek ‘n sondige mens is wat soms die verkeerde dinge dink en dan later daarvan vergeet. Ek is ‘n gelowige en het die evangelie soos wat jy dit op jou webtuiste geplaas het geglo. As ek reg onthou het hy 1Joh.1:9 gebruik om sy bewering te staaf.
Ek twyfel nou of ek ooit hemel toe sal gaan. Help asseblief.

Antwoord: Wees gerus, indien jy die evangelie geglo het is jy veilig in God se hande en sal nooit verlore kan gaan nie. Ek het hierdie onderwerp in vorige artikels bespreek, maar sal dit kortliks weer hier doen omrede die onderwerp wat jy genoem het so belangrik is. (Lees gerus die artikel “Die Ewige sekuriteit van die gelowige” sorgvuldig deur.) Om jou vraag te beantwoord moet ons die konteks waarin die drie briewe van Johannes geskryf is sorgvuldig bestudeer. Onthou, al die briewe is direk aan die kerk wat tydens die Dispensasie van die Kerk leef gerig. Ons weet ook dat die ware kerk slegs uit alle gelowiges bestaan wat alreeds die evangelie van God se genade geglo het. Johannes het dus aan gelowiges geskryf en daarom vereenselwig hy homself met sy lesers. Indienjy nog nie die artikel “Drie fases van verlossing” word jy sterk aangeraai om dit eerstens te lees.

Jy sal opmerk dat dat Johannes deurentyd die term “ons” gebruik, wat ‘n akkurate aanduiding is dat dit wat die Heilige Gees in die briewe beveel ook op homself van toepassing is. Indien hy ongelowiges aangespreek het dan sou hy homself nie by sy lesers d.m.v. nie die “ons” kon insluit nie. Boonop sou hy nie sy hoorders aangesê het om hulle sondes te bely nie, want sondebelydenis is nie ‘n vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe nie, maar slegs geloof in die evangelie. Nêrens in die Bybel sal jy die opdrag aan ‘n ongelowige vind waar hy aangesê word om eers al sy sondes te bely alvorens hy die gawe van die ewige lewe kan ontvang. Kyk vir jouself. Die enigste vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe is die glo van die evangelie. ‘n Ongelowige word aangesê om die evangelie te glo. (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte wat jou vir ewig deel van God se familie maak.
Hand.16:30aa “En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? 31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word.
Daar word absoluut niks van sondebelydenis gesê nie, want dit is nie ‘n vereiste om die ewige lewe te ontvang nie. Gelowiges word wel aangesê om die sondes wat hulle na afloop van wedergeboorte gepleeg het te bely, maar sondebelydenis word nooit gedoen met die doel om hulle verlossing te verseker of hulle gered te hou nie. Iemand wat so iets beweer verklaar in effek dat die Here Jesus Christus nie vir al die persoon se sondes, (verlede, hede en toekomstige) aan die kruis versoening gedoen het nie en verwerp sodoende die ware evangelie. Dit is niks anders as ‘n vorm van ongeloof nie.

Kom ons gaan kyk wat die Here Jesus Christus persoonlik oor hierdie onderwerp te sê gehad het, naamlik:
Joh.3:18 Hy wat in Hom (die Here Jesus Christus) glo, (daar word niks van sondebelydenis gesê nie. Daar word ook nie gesê dat ‘n persoon sondebelydenis moet doen om die ewige te behou nie) word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie (op ‘n punt in tyd)geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.
1Joh.5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo
(niks word gesê van sondes bely as vereiste om die ewige lewe te ontvang of te behou nie) wat My gestuur het, het (as huidige besitting)die ewige lewe (die ewige lewe nie ‘n tydelike lewe nie) en kom nie in die oordeel nie,maar het (alreeds) oorgegaan uit die dood in die lewe.” (wedergeboorte is dus alreeds afgehandel en die persoon het alreeds oorgegaan uit die dood na die lewe.) Nou vra jouself die vraag af, hoe kan ‘n gelowige wat alreeds die evangelie geglo het; en wat alreeds die gawe van die ewige lewe (sonder verdienste) by God ontvang het; en wat nooit in die oordeel kan kom nie; en wat alreeds uit die dood na die lewe oorgegaan het, in die oordeel kom omrede hy versuim/vergeet het om al sy sondes te bely? Om sonde belydenis aan die agterkant van die evangelie as vereiste vir die ontvangs of behoud van die ewige lewe by te voeg is bedrieglike logika en weerspreek die Here Jesus Christus. Het die Here dan gelieg het toe Hy hierdie beloftes gemaak het? Nee stellig nie! Dit is die mens wat sy eie leerstellings in God se woord inlees en wat verdere vereistes behalwe geloof aan die agterkant van die evangelie bygevoeg het. Hierdie is niks anders as ‘n vorm van moderne fariseïsme nie. Ek raai jou ten sterkste aan om ook die artikel “Bekeer, bekering en die ewige lewe” sorgvuldig deur te lees.

Maar wat verklaar die skrifte?
Rom.4:5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo (ons vind hier niks van sonde belydenis nie)in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof (nie plus sy sondebelydenis nie)tot geregtigheid gereken.”
Enige persoon wat verklaar dat ‘n gelowige wat nie sy sondes na aanvanklike wedergeboorte bely nie, en wat in daardie toestand tot sterwe kom hel toe sal gaan moet eerder sy eie dwaalleer bely en die ware evangelie glo. ‘n Persoon kan nie werk om die ewige lewe te ontvang nie, en hy kan ook nie werk om dit te behou nie, anders sou verlossing nie op grond van God se genade, deur geloof alleenlik bekom kan word nie, maar eerder op die grondslag van menslike verdienste. Enige persoon wat dit doen verwerp in effek God se genade en verkeer self in gevaar om hel toe te gaan. Boonop maak hulle in effek van die Here Jesus Christus ‘n leuenaar omrede dit Hy is wat die volgende belofte gemaak het:
1Joh.6:47 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, (nie glo en al sy sondes bely nie) het (as huidige besitting) die ewige lewe.” (nie ‘n tydelike lewe, wat enige vorm van proeftydperk insluit, waartydens daar kwansuis vasgestel moet word of hy genoegsame menslike, [soos byvoorbeeld die waterdoop] werke verrig het as bewys dat hy die ewige lewe ontvang het nie.) Hoe sal enige eerlike persoon ooit met absolute sekerheid kan verklaar/weet dat hy al sy sonde bely het. Hoe sal enige persoon met absolute sekerheid weet dat hy nou op hierdie spesifieke oomblik presies alles doen wat God van hom verwag nie? Nie een persoon in die wêreld kan volgens my beskeie opinie met opregtheid so ‘n bewering maak nie.

Slegs die Here Jesus Christus het God se wil volkome nagekom, en Christus is die standaard waarteen God die mens meet. Indien ‘n gelowige glo dat hy a.g.v. ‘n sonde, waarvoor hy nie belydenis gedoen het nie, kan verlore gaan dan demonstreer so ‘n persoon ongeloof in die feit dat Christus vir al sy sondes (verlede, hede en toekomstige sondes, wat die versuim om ‘n spesifieke sonde na aanvanklike wedergeboorte te bely, insluit) aan die kruis versoening gedoen het. Dink mooi oor hierdie stelling na! Indirek verklaar so ‘n persoon dat ons menslike werke tog ‘n rol in ons verlossing speel, en dat geloof in die evangelie nie voldoende is om ons van die hel te red nie. Volgens die Bybel is daar nie een persoon wat kan verklaar dat hy sondeloos is nie, en dit sluit die persoon wat na bewering al sy sondes bely het in. Op die een of ander vlak sal ons nooit die onmoontlike hoë standaarde wat die Here Jesus in Sy lewe gehandhaaf het presies kan naboots nie en dit sluit ons motiewe in. Ja, ons moet streef om God se wil vir ons volkome na te kom, maar nie een van ons kry dit in ‘n absolute sin reg nie. Die rede vir hierdie stelling is omrede ons almal nog steeds met die ou sonde natuur opgeskeep sit al is ons alreeds wedergebore.
1Joh.1:8 “As ons sê dat ons geen sonde het nie, (indien ons werklik al ons sondes tot die fynste besonderheid kon bely het, dan behoort ons so ‘n stelling te kon maak, omrede ons op daai spesifieke oomblik sondeloos sou wees, maar volgens die Bybel kan ons nie.) mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.”
Selfs ons beste motiewe is nie in ‘n absolute sin perfek nie, juis omrede ons gevalle wesens met ‘n sonde natuur is. Slegs wanneer fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking, wanneer ons met ons sondelose, opgestane en verheerlikte liggame oorklee sal wees sal ons so ‘n bewering kon maak.

Ja, die Here vereis van ons om ons sonde te bely, maar ons doen dit nie om die ewige lewe te bekom of te behou nie. Ons doen dit sodat ons weer gemeenskap met die Vader binne die raamwerk van God se familie (Vader-Kind verhouding) kan geniet, maar nooit om onsself gered te kry of gered te hou nie, anders sou dit demonstreer dat ons in ‘n werke evangelie glo. Ons motiewe in hierdie opsig speel ‘n uiterste belangrike rol en kan letterlik die verskil tussen die hemel en hel beteken.

1Joh.2:3 “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. 4 Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie. 5 Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. 6 Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.”
Ken? Wanneer ‘n persoon die evangelie verstaan, (wat by implikasie die proposisionele feite aangaande die Here Jesus Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis, en sy opstanding vanuit die dood insluit) verstaan en glo, dan kan dit met regte verklaar word dat daardie persoon die Here ken. Wanneer ‘n gelowige na aanvanklike wedergeboorte die Wet van Christus nakom, en doen wat die Here hom beveel om te doen, dan verdiep daardie persoon se kennis aangaande God en so sal die Here Homself tot ‘n groter mate aan die persoon openbaar. Hierdie hele proses duur ‘n leeftyd voort en vorm deel van die proses van heiligmaking. Heiligmaking is egter voortdurende proses wat voortgesette geloof, tyd en toewyding verg (en wat sondebelydenis insluit) en wat weer in voortgesette dade van geloof (wat goeie werke insluit) uitdrukking behoort te vind. Tot die mate waarin ‘n gelowige tot geestelike volwassenheid opgroei, tot daardie mate ken die persoon die Here Jesus Christus.

Ons almal ken iemand, en iemand ken ons, maar daar is mense wat ons beter ken as ander, en aan wie ons, ons diepste geheime en gevoelens tot ‘n groter mate sal deel. Dieselfde beginsel geld ook vir God. Tot die mate waarop ‘n gelowige die Here Jesus Christus se karakter reflekteer tot daardie mate ken hy Hom. ‘n Persoon kan nie verklaar dat hy die Here Jesus Christus in hierdie opsig ken, indien daardie gelowige bewustelik in sonde leef en nie doen wat die Here hom beveel om te doen nie. Dit is dan ook so dat daar gelowiges is wat God beter as ander ken en aan wie die Here Homself tot ‘n groter mate sal openbaar. Onthou, met wedergeboorte word ons almal as geestelike babas gebore en moet deur middel van die heiligmaking proses tot geestelike volwassenheid ontwikkel. Nêrens in die verloop van hierdie proses verwerp die Here een van Sy kinders wat struikel nie (en dit sluit die feit dat ‘n gelowige versuim of vergeet om ‘n spesifieke sonde te bely in). Dit is godslasterlik om so iets van God te dink!

Dit is van uiterste belang om hierdie feit weer te beklemtoon. Wanneer ons as gelowiges bewus van sonde in ons lewens word, dat moet ons daardie sonde bely en laat staan.
1Joh.1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
Ons bely nie ons sondes (wat ons almal pleeg) om te verseker dat ons hemel toe sal gaan nie. Ons gaan hemel toe omrede ons eenvoudig die evangelie verstaan en geglo het. Die Here Jesus Christus het vir eens en altyd ons sonde probleem aan die kruis uit die weg geruim. Ons bely ons sondes sodat die Vader-kind verhouding binne die raamwerk van God se familie weer herstel word, nie om te verseker dat ons gered bly of weer gered word nie. Hierdie feit kan nie genoegsaam beklemtoon word nie, juis omrede die evangelie van God se genade en menslike siele op die spel is.
1Joh.1:9 “As ons (gelowiges wat alreeds die evangelie op ‘n spesifieke punt in tyd verstaan, en geglo het en wat alreeds die ewige lewe by God ontvang het) ons sondes bely, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking, waar dit van ons verwag word om ons sondes aan God te bely) Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
Hierdie reiniging vind binne die raamwerk van die Vader-kind verhouding, wat alreeds vir ewig deur die glo van die evangelie bewerkstellig (en verseker ) is, plaas.

Alle ongelowiges moet slegs die evangelie glo om gered te word. Wanneer ‘n persoon die evangelie glo dan word daardie persoon outomaties deel van God se familie. Daarenteen word dit van alle gelowiges verwag om hulle sonde, waarvan die Heilige Gees hulle na aanvanklike wedergeboorte bewus maak, te bely as deel van die heiligmaking proses wat ‘n leeftyd voortduur.

Kies die waarheid, nie misleiding nie. Ongelukkig is die belydende Christendom met dwaalleer deurdrenk, en ons moet daarteen waak sodat ons nie deur dwaalleer meegesleur word nie. Ek het ook onlangs gehoor hoe Rooies Straus verklaar dat iemand wat nie sy sonde bely nie hel toe sal gaan. Hierdie soort leëring is ‘n tragedie en gee direk of indirek daartoe aanleiding dat mense hulle eie heil deur sondebelydenis, wat ‘n vorm van menslike werk is, wil uitwerk. Enige persoon wat verklaar dat ‘n gelowige wat nie sy sondes bely nie hel toe sal gaan verkondig dwaalleer en verwerp indirek die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis. Hierdie mense ken en verstaan nie die konsep van die Here Jesus Christus se voltooide versoeningswerk aan die kruis en die meegaande leerstelling van Sy toegerekende geregtigheid nie. Hulle verkondig ‘n ander evangelie, omrede hulle nie glo dat die Here Jesus Christus vir eens en altyd vir al hulle sondes (verlede, hede en toekomstige sondes) aan die kruis versoening gedoen het nie. Hulle voeg sodoende ‘n verdere vereiste, naamlik die belydenis van sonde, by slegs geloof in die evangelie om die gawe van die ewige lewe te ontvang (en/of te behou). Dit is niks anders as ‘n ander evangelie nie. Dit is alle gelowiges se plig om seker te maak dat hulle nie dwaalleer meegesleur word nie. Vergelyk alles binne die korrekte dispensasionele konteks met die Bybel, want ons almal gaan vir ons eie keuses verantwoordelik gehou word.

Ter afsluiting: Dit is alle kinders van God se Godgegewe reg om te weet dat hulle vir altyd in God se teenwoordigheid sal wees en dat Hy hulle nooit sal verwerp nie. En nee, hierdie is nie my opinie nie maar is ‘n belofte wat ons in die heilige skrifte vind, naamlik:
1Joh.5:13 “Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte alreeds afgehandel) sodat julle (nou sonder enige twyfel) kan weet dat julle (gelowiges) die ewige lewe (as huidige en ewige besitting) het en kan glo in die Naam van die Seun van God.” (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking en wat voortgesette geloof in die Seun van God se woord insluit.)

Dit sluit Sy belofte dat Hy nooit een van Sy kinders sal verloor/verwerp nie ook in, naamlik:
1Joh.10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand (insluitende die gelowige self, anders sou Christus nie hierdie stelling kon maak nie) sal hulle uit my hand ruk nie.”
Ek hoop hierdie antwoord stel jou gerus, en in hierdie opsig glo ek dat Rooies Straus ‘n ernstige mistasting begaan deur te verklaar dat ‘n persoon hel toe sal gaan wat nie sy sondes bely nie. Wat die saak nog verder vererger is die feit dat hy ander mense vir die bediening oplei. Al wat ons vir hom kan doen is bid dat die Here hom tot insig sal bring. Wees gerus, indien jy die evangelie geglo het dan het jy die ewige lewe as ewige besitting en sal nooit deur God verwerp word nie, juis omrede jy die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid by God ontvang het.
Rom.3:23 “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. 25 Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God 26 om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof (nie geloof en sondebelydenis nie) in Jesus is. (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) 27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof.”

Lees ook gerus die volgende artikels:
Kan die gelowige se naam uit die Boek van die Lewe verwyder word?
Ons kan nie God vir Sy genade beloon nie
Die Here Jesus Christus se geskenk aan jou!
God se genade word in gelyke maat aan alle mense aangebied
Die mens se sondeskuld verhoed nie God se genade nie
Waarskuwing aan alle belydende Christene aangaande die Evangelie
Wedergeboorte en die rede vir goeie werke
Heiligmaking in drie Fases
Proponente van werkheiligheid se herdefiniëring van geloof

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.