Vraag: Ek hoop jy kan my help. Ek wil net weet wat jou mening oor ‘n lewensafrigter is. In Engels noem mens dit ‘n “Life Coach”. My man meen dat hulle meer skade as goed doen en dat mense dit net doen om geld te maak. Watter antwoord kan ek vir my man gee?
Antwoord: Van die staanspoor af moet ek vir jou sê dat my antwoord moontlik nie baie gewild sal wees nie, maar met die hulp van die Here gaan ek eerlik my mening vanuit die Skrif weergee. Soos met enige vraagstuk, moet ons na die Bybel gaan vir die antwoord. As Christen is die Woord van God my enigste maatstaf, en daarvolgens gaan ek enige leerstelling of optrede ondersoek. (Maak dit ook deel van jou eie geestelike mondering.)
Ek lees nêrens in die Bybel van ‘n bediening wat as “lewensafrigter” beskryf word nie. Ek is van mening dat, indien die Here wou hê dat ons deur sogenaamde lewensafrigters gelei moet word, Hy dit duidelik in Sy Woord sou vermeld het. So ‘n bediening word egter nêrens in die Skrif gevind nie—en die Bybel is tog baie spesifiek oor die ampte en bedieninge in die Kerk.
1 Korintiërs 12:28: “En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale.”
Die Skrif leer ons dat die Heilige Gees aan elke gelowige genadegawes skenk met die oog op wat nuttig is vir die liggaam van Christus (1 Korintiërs 12:7-11). Die amp van lewensafrigter ontbreek in hierdie lys. Dit is ‘n insiggewende feit, veral in die lig daarvan dat die Skrif voldoende is en dat die Woord die lig op ‘n gelowige se pad is.
Psalm 119:105: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.”
Die oplossing vir die Kerk lê nie in die stigting van nuwe, wêreldse ampte nie, maar in ‘n terugkeer na God se Woord, toegewyde Bybelstudie en dissipelskap. Ons moet weer ons Bybels opneem en self lees wat die Here vir ons wil sê. Hiervoor is dit noodsaaklik dat die Bybel op ‘n konsekwente, letterlike, grammaties-historiese wyse geïnterpreteer word. Alles wat ons nodig het, is reeds deur God in die Skrif vir ons opgeteken—en boonop kos dit ons niks.
2 Timótheüs 3:16-17: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Wanneer ons hierdie teksgedeeltes oordink, moet ons onsself afvra: Is die Woord van God dan nie meer voldoende nie? Wat het geword van die leiding van die Heilige Gees? Die Here het reeds die ampte van pastore, leraars en ouderlinge aan die gemeente gegee om in ons geestelike behoeftes te voorsien. Dit is daarom van uiterste belang om eerder die Skrif te gehoorsaam as om te steun op iemand wat hulself in ‘n moderne amp aanstel waarvan die Bybelskrywers nie eens bewus was nie.
Dit blyk dat dit weer ‘n geval is waar die Kerk die wêreld wil naboots, eerder as om as ‘n lig in ‘n donker wêreld te skyn. Baie mense neem sekulêre idees en bring dit die Kerk binne. Hulle is dan dikwels verplig om die Bybel te verdraai of tekste buite konteks aan te haal om hierdie nuwe leerstellings te regverdig. Die Here roep ons egter om ons van die wêreld af te sonder. Dikwels gaan hierdie nuwe neigings oor geld en status; deur hulleself “lewensafrigters” te noem, klink dit meer professioneel en word betaling makliker regverdig.
Die sekulêre wêreld het lewensafrigters, en nou volg sommige in die Kerk daardie voorbeeld—teen vergoeding. Neem die vergoeding weg, en die bediening verdwyn dikwels saam daarmee. Hoewel ek niks het teen mense wat voltyds in die bediening staan en vergoeding ontvang nie, moet die gemeente deur die Gees gelei word om te gee. Werkers moet God se werk uit liefde doen, nie vir eie gewin nie (1 Petrus 5:2).
Ek is bekommerd dat dit in sommige kringe deesdae meer oor geld gaan as oor ‘n heilige lewe. Kyk maar hoe daar op kanale soos TBN handel gedryf word in die Naam van ons Here. As Jesus vandag fisies hier sou wees, sou Hy waarskynlik weer die tafels omgooi.
Johannes 2:16: “En vir die duiweverkopers het Hy gesê: Neem daardie dinge hier weg; moenie die huis van my Vader ’n handelshuis maak nie.”
2 Petrus 2:3: “En uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.”
Ter afsluiting: Ek stem grootliks saam met jou man se kommer. My raad is: Bestudeer die Bybel, en begin gerus by die boek Spreuke. Daar is genoeg wysheid om jou ‘n leeftyd lank te lei—kosteloos. Indien daar vrae ontstaan, nader eerder jou pastoor of Geesvervulde gelowiges wat die Skrif reg sny. Vra die Here in gebed om wysheid (Jakobus 1:5). Maak egter seker dat jou leraar se leerstellings Bybels suiwer is, sodat jy nie mislei word nie. Meet alles aan die Woord.
Handelinge 17:11: “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.”
Ek hoop dat hierdie antwoord vir jou duidelikheid bring.
Seëngroete, Vic