Sewendedag Adventsite

Sewendedag Adventiste Kerk, ‘n Skriftuurlike perspektief. Deel 3

Sewendedag Adventiste, net soos die Jehova Getuies, verkondig die dwaalleerstelling van sieleslaap en uiteindelike totale uitwissing van alle ongeredde mense. (annihilationiste/uitwissingsgesindes). Hulle glo nie dat ongelowiges vir ewig in ‘n bewustelike toestand van smart in die poel van vuur sal deurbring nie, maar eerder dat hulle heeltemal vernietig sal word. Hulle maak daarop aanspraak dat die betekenis van “siel” (Hebreeus “nephesh”) na die hele mens as ‘n onskeibare eenheid verwys en dat ‘n mens se siel nie bewustelik apart van sy fisiese liggaam kan bly voortbestaan nie. Sewendedag Adventiste glo dus dat God die mens nie met ‘n nie-stoflike faset (gees en siel) geskape het wat apart van sy stoflike liggaam voortbestaan nie. Volgens hulle is die hele persoon (sy stoflike, asook sy nie-stoflike fasette) ‘n lewende siel. Die persoon wat tot sterwe gekom het lê dus onbewustelik in die graf. Hulle gebruik byvoorbeeld Genesis 2:7 wat kontekstueel na die hele menslike wese, insluitende sy fisiese aspek verwys, om hulle leerstelling te regverdig, naamlik:
Gen.2:7 “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.”
In hierdie opsig wend hulle die term “siel” kontekstueel korrek aan, deurdat die term lewende “siel” in hierdie konteks die hele mens, naamlik sy stoflike, sowel as sy nie-stoflike aspekte insluit. Maar dan maak hulle hulleself aan bewustelike ongeoorloofde identiteitsoordrag skuldig, deurdat hulle hierdie spesifieke betekenis vir die term “siel” na alle gevalle waar die term “siel” in die Bybel voorkom oor te dra sonder om die spesifieke konteks waarin die term “siel” in voorkom in ag te neem.

Ons almal weet dat die meeste woorde in enige taal meer as net een betekenis het, en dat die betekenis van die gegewe woord vanuit die konteks waarin daardie woord gebruik is bepaal moet word. As voorbeeld kan mens die woord “tak” gebruik. Tak kan na ‘n boomtak verwys, asook ‘n spesifieke afdeling in ‘n instansie. Polisiemanne is gewoond daaraan om die volgende vraag aan hulle kollegas te vra, naamlik “In watse tak werk jy?” Dit is tog duidelik dat die konteks waarin die woord “tak” in voorkom die bepalende raamwerk is om die regte betekenis van die woord “tak” te bepaal. Die teoloë van die Sewendedag Adventisme weet hierdie feit, maar in hulle poging om hulle dwaalleerstelling van sieleslaap te verdedig wend hulle hierdie reël nie op ‘n konsekwente basis aan nie. Hulle wend hierdie reël dus selektief aan om hulle dwaalleer te verdedig en beperk die betekenis van die woord “siel” tot ‘n baie noue tegniese betekenis, en in hierdie wyse verander hulle die volle betekenis van die woord “siel” in iets wat die oorspronklike skrywers van die Bybel nie daarmee bedoel het nie. Die term “siel” is nie ‘n tegniese term nie, en het meer as net een betekenis. Die betekenis van die term “siel” word dus deur die spesifieke konteks bepaal en nie anders om nie.

Kom ons gaan kyk na ‘n een van die baie teksgedeeltes wat die leerstelling van sieleslaap weerlê, en waar die konteks waarin die woord “siel” gebruik word die betekenis van daardie woord bepaal. Hierdie voorbeeld sal bo enige twyfel demonstreer dat die woord “siel” na die hele mens sowel as na slegs die nie-stoflike aspek van die mens kan verwys.
Gen.35:6 “Daarna het hulle van Bet-el af weggetrek. En toe daar nog ‘n kort ent pad was om by Efrat te kom, moes Ragel baar; en sy het dit swaar gehad by die bevalling. 17 En terwyl sy dit swaar het by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: Wees nie bevrees nie, want dit is ook ‘n seun vir u. 18 En toe haar siel uitgaan — want sy het gesterwe — noem sy hom Ben-Oni. Maar sy vader het hom Benjamin genoem. 19 So het Ragel dan gesterwe; en sy is begrawe op die pad na Efrat, dit is Betlehem.”
Let mooi op die stelling “18 En toe haar siel uitgaan — want sy het gesterwe — noem sy hom Ben-Oni.” Hierdie teksgedeelte stel dit baie duidelik dat die mens se nie-stoflike deel van sy stoflike deel geskei kan word en dat die stoflike, asook nie-stoflike fasette van die mens nie net een onskeibare eenheid vorm soos wat die Sewendedag Adventiste beweer nie.

Nog ‘n verdere bewys dat ‘n persoon se siel apart van sy stoflike liggaam kan bestaan vind ons rondom die gebeure in 1Kon.17:21 toe die jong seuntjie, die enigste kind van die weduwee by wie Elia vertoef het, skielik gesterf het, naamlik:
1Kon.17:20 “en hy het die HERE aangeroep en gesê: HERE my God, het U selfs oor die weduwee by wie ek as vreemdeling vertoef, ‘n onheil gebring deur haar seun te laat sterwe? 21 Daarop het hy hom drie maal uitgestrek oor die kind en die HERE aangeroep en gesê: HERE my God, laat die siel (Hebreeus: nephesh) van hierdie kind tog in hom terugkeer. 22 En die HERE het Elía verhoor; en die siel van die kind het in hom teruggekeer, sodat hy weer lewendig geword het.”
Vanuit bostaande teksgedeelte blyk dit baie duidelik dat daar ‘n nie-stoflike faset van die mens is, wat na afloop van fisiese dood apart van sy stoflike liggaam bly voortbestaan en wat weer na die liggaam kan terugkeer as God dit so wil. Die Bybel verwys na hierdie spesifieke nie-stoflike faset as die siel (nephesh) van die mens wat apart van die stoflike liggaam bewustelik voortbestaan.

Sewendedag Adventiste sal nou beswaar maak en verklaar dat bogenoemde voorbeelde slegs bewys dat ‘n persoon se siel na afsterwe die persoon verlaat, maar dat dit nie as bewys dien dat die persoon se siel as ‘n aparte faset van die persoon bewustelik bly voortbestaan nie. (hulle leerstelling van sieleslaap) Openbaring 6:9-11 stel dit egter duidelik dat ‘n persoon wel bewustelik na afloop van fisiese dood bly voortbestaan.
Openb.6:9 “En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. 10 En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? 11 En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.”
Bostaande teksgedeelte stel dit baie duidelik dat hierdie persone se siele bewustelik na afloop van hulle afsterwe bly voortbestaan, en dat hulle boonop daarvan bewus is dat hulle die slagoffers van moord was. Hulle is ook van die feit bewus dat God nog nie hulle moordenaars vir die vergieting van hulle bloed vergeld het nie. Boonop kommunikeer hulle met God, ‘n feit wat die dwaalleer dat ‘n persoon na afsterwe heeltemal onbewus slaap heeltemal weerlê.

Nieteenstaande hierdie feit maak een van die Sewendedag Adventiste se bekendste leraars Mark Finley die volgende stelling, naamlik: “Though unbliblical, the belief that the dead go right to heaven at death has been around for so long and is so firmly entrenched that it’s very difficult for people to let go of it. People use a few texts that are taken out of context to try to justify the belief. But this false teaching leaves them with no protection against the deceptions Satan can foist on them, especially in the final crisis.”
Hy gee egter geen verwysing na die teksgedeeltes wat na bewering buite konteks aangehaal word nie, en sodoende maak hy ‘n bewering waarvoor hy geen skriftuurlike bewys lewer nie. So ontneem hy sy lesers die vermoë om self die teksgedeeltes te bestudeer om vir hulleself te bepaal of die teksgedeeltes buite die korrekte konteks aangehaal is of nie. Mark Finley beweer boonop dat die leerstelling dat gelowiges direk na afloop van hulle dood in die teenwoordigheid van God voort bestaan dwaalleer is. Maar wat sê die skrifte?

2Kor.5:6 “Daarom het ons altyd goeie moed en weet dat as ons in die liggaam inwoon, (fisies lewe) ons van die Here uitwoon. (want ons siel is nog in ons liggame en is nie by God in die hemel nie) 7 Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie. 8 Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon (te sterf) en by die Here in te woon. 9 Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon (in die stoflike liggaam te bly inwoon/lewe) of (buite die stoflike liggaam) uitwoon, (in hierdie opsig is die stoflike faset van die mens dood, maar sy siel en gees, naamlik die nie-stoflike faset, bly in God se teenwoordigheid voortbestaan omrede die siele en geeste van gelowiges na afsterwe onmiddellik hemel toe gaan) om Hom welbehaaglik te wees.”
En in hierdie opsig is dit altyd vir gelowiges ‘n wins wanneer hulle tot sterwe kom, naamlik:
Filip.1:21 “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins. 22 Maar as ek
(sy nie-stoflike faset, naamlik sy siel) in die vlees moet lewe, dan beteken dit vir my vrugbare arbeid; en wat ek sal kies, weet ek nie. 23 Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; 24 maar (vir my nie-stoflike siel) om in die vlees te bly, is nodiger om julle ontwil.”
Mark Finley wil egter hê ons moet glo dat hierdie leerstelling dwaalleer is. Wie moet ons glo, Mark Finley en die Sewendedag Adventiste of God en Sy woord die Bybel? Soos alreeds vanuit die skrifte gedemonstreer is, gaan die siele en geeste van gelowiges onmiddellik hemel toe waar hulle in ‘n bewustelike toestand in God se teenwoordigheid verkeer.

Daarbenewens gaan alle ongelowiges met hulle dood na die hel toe, waartydens hulle die Wit Troon Oordeel afwag en waar hulle siele en geeste bewustelike smart beleef. Die Here Jesus Christus het hierdie feit baie duidelik gestel, naamlik:
Luk.16:19 “En daar was ‘n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe. 20 En daar was ‘n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het. 21 En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek. 22 En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. 23 En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. 24 En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam. 25 Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. 26 En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.”
Onthou, toe die Here Jesus Christus bostaande stelling gemaak het, was Hy nog nie gekruisig nie en het dus nog nie vir ons sondes aan die kruis versoening gedoen nie. En daarom het gelowiges na die paradys gedeelte van die doderyk gegaan. Na afloop van Sy kruisiging gaan alle gelowiges se siele egter onmiddellik na God toe. Daarbenewens wag die siele van ongeredde mense in die hel se deel van die doderyk hulle oordeel by die Wit Troon oordeel af.) Die leser word aangeraai om die artikel. “Die Wit Troon Oordeel” te lees.

Wanneer die Here Jesus Christus die Kerk Dispensasie met die wegraping kom afsluit sal die eerste eerste fase van die eerste opstanding plaasvind waarin net gelowiges sal deelneem. Tydens hierdie gebeurtenis bring die Here Jesus Christus die siele van die alreeds afgestorwe gelowiges saam met Hom waar hulle siele met hulle verheerlikte opgestane liggame verenig sal word. Die Bybel stel hierdie feit baie duidelik, naamlik:
1Thess.4:13 “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. 14 Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die (siele)wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. 15 Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. 16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. (Hulle nie stoflike fasette sal weer met hulle opgestane verheerlikte liggame verenig word) 17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”
Let asseblief mooi op die stelling “14 Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.” Indien die mens se siel nie na sy dood bewustelik voortbestaan nie, maar in die graf is, wie is dan die afgestorwe gelowiges wie in Christus gesterf het en wat Hy met die eerste Wegraping met Hom saambring? Hierdie stelling verpletter die Sewendedag Adventiste se dwaallering van sieleslaap, maar omrede hulle die Bybel deur Ellen G. White se buite Bybelse openbarings filtreer, kan hulle nie anders as om die skrifte te verdraai nie anders sal hulle moet erken dat sy dwaalleer verkondig het. Boonop sou dit ook beteken dat sy ‘n valse profetes was, iets wat die leierskap van die Sewendedag Adventiste nie bereid is om te erken nie. En dit bring ons by hulle volgende dwaalleerstelling, wat verklaar dat die siele van ongeredde mense nie vir ewig in die poel van vuur gepynig sal word nie.

Ellen G White het na bewering die volgende buite Bybelse openbaring by God ontvang, naamlik:

“But I saw that God would not shut them (the unsaved) up in hell to endure endless misery, neither will He take them to heaven; for to bring them into the compony of the pure and holy would make them exceedingly miserable. But he will destroy them utterly and cause them to be as if they had not been; then His justice will be satisfied” (Ellen G White, Eearly Writings)
Let op die stelling “But I saw” is niks ander as ʼn bewering dat sy ʼn profetiese woord by God ontvang het nie. Hierdie valse profesie weerspreek egter die skrifte. Die profeet Daniël het dit soos volg gestel, naamlik:
Dan.12:2 “En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.”
Net soos die kultus van Jehova Getuies, gebruik die Sewendedag Adventiste die dwaalleer dat ongeredde mense heeltemal sal ophou om te bestaan in ‘n poging om die verskriklike gevolge van die ewige verderf af te water. Baie mense gebruik dan ook hierdie leerstelling om hulle ongeloof te regverdig, met die idee dat as hulle nie die ware evangelie geglo het nie, hulle nie vir ewig in die poel van vuur gepynig sal word nie maar dat hulle net sal ophou om te bestaan. Hierdie leerstelling is egter heeltemal in stryd met wat die skrifte duidelik verklaar het.

Wanneer die Sewendedag Adventiste met hierdie skriftuurlike bewys gekonfronteer word, is hulle verskoning dat die term “ewig” ook na ‘n beperkte tydperk kan verwys. Hulle is korrek in hulle stelling dat die term “ewig” ook na die beperkte tyd kan verwys, maar soos wat ons alreeds gesien het moet die konteks waarin ‘n woord gebruik word die betekenis van daardie spesifieke woord bepaal. Die konteks waarin die bogenoemde waarskuwing van Daniël gegee is, is die ewige smaad. Let egter op die term “ewig afgryslik”. Kontekstueel kan Daniël se waarskuwing geensins na ‘n beperkte tydsduur verwys nie, omrede die persoon bewustelik teenwoordig moet wees om die ewige smaad en afgryse te kan ervaar. Daar as absoluut geen sprake hier van enige mate van totale uitwissing soos wat die Sewendedag Adventiste beweer nie. Om hierdie dwaalleerstelling van hulle te regverdig, moet hulle Ellen G White se buite Bybelse profesie in hierdie teksgedeelte inlees, anders sou hulle geen grondslag vir hulle dwaalleerstelling kon hê nie.

Openbaring 19 gee aan ons ‘n beskrywing van die Here Jesus Christus se wederkoms waar die Antichris sowel as die valse profeet gevang en lewend in die poel van vuur gewerp word. (die leser word versoek om self die hele hoofstuk 19 en 20 van Openbaring te lees.)
Openb.19: 19 En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom (die Here Jesus Christus met Sy wederkoms) wat op die perd sit, en teen sy leër. 20 En die dier (Antichris) is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. 21 En die ander (ongelowiges) is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.” (hulle lewelose stoflike liggame sal van hulle gees en siel geskei word. Hul liggame sal opgevreet word, maar hulle siele en geeste sal in die Hel gewerp word waar hulle die Wit Troon Oordeel, wat na afloop van Christus se Duisendjarige Vrederyk op aarde plaas sal vind, afwag. Tussen hierdie twee gebeure verloop daar ‘n tydperk van ten minste ‘n duisend jaar.)
Openb.20:1 En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. 2 En hy het die draak (die duiwel)gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, 3 en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.

Na verloop van duisend jaar sal die Duiwel uit die bodemlose pit vrygelaat word om die nasies vir die laaste keer te verlei, naamlik:
“Openb.20:7 “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; 8 en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. 9 En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad
(Jerusalem in die Midde Ooste) omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. 10 En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”
Let op die stelling “ En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is”.
Dit is duidelik dat die Antichris, asook die valse profeet, wie altwee mense is, en wat lewendig in die poel van vuur gewerp is, nog steeds duisend jaar later lewend in die poel van vuur verkeer. Dit is opmerklik dat die poel van vuur hulle nie uitgewis het sodat hulle nie meer bestaan nie. Let nou asb op die volgende stelling “en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.” Die konteks laat geensins toe dat die straf wat die Duiwel se nagemaakte drie-eenheid sal ervaar tot ‘n sekere tyd beperk sal word waarna hulle totaal vernietig sal word nie. Om tot so ‘n gevolgtrekking te kom moet ‘n persoon sy eie idees in die teks inlees. In die geval van die Sewendedag Adventiste lees hulle Ellen G. White se buite Bybelse openbarings in die skrif in en verdraai so die betekenis van die skrifte.

‘n Ongelowige persoon wat weier om die evangelie te glo, of wat sy eie heil d.m.v. sy eie werke wil bewerkstellig (wat maar net nog ‘n vorm van ongeloof in die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis is) is alreeds geoordeel, naamlik:
Joh.3:18 “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”
In hierdie opsig is die Wit Troon Oordeel nie soseer om ‘n persoon se skuld voor God te bepaal nie (hy is immers alreeds skuldig), maar om die graad van sy straf in die poel van vuur te bepaal. In hierdie opsig sal dit vir sekere ongelowiges meer verdraaglik in die oordeelsdag wees as vir ander, maar die feit bly staan dat alle ongelowiges vir ewig in die poel van vuur gepynig sal word. Die mate van pyniging gaan in graad verskil, nie in die tydperk wat dit sal duur (naamlik die ewigheid) nie. Hierdie feit verduidelik die Here Jesus se volgende waarskuwing, naamlik:
Mark.6:11 “En almal wat julle nie ontvang of na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof onder julle voete af tot ‘n getuienis teen hulle. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom of Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad.” (en ons almal weet hoe goddeloos Sodom en Gomorra was)
En daarom het die Here die volgende uitspraak aangaande Judas gemaak, naamlik:
Matt.26:24 “Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is, maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie.”

Indien mens die bogenoemde feit in gedagte hou dan maak die onderstaande teksgedeelte duidelik sin, naamlik:
Openb.20:11 En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. 12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. (wat die mate van hulle straf in die poel van vuur sal bepaal) 13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. (wat die mate van hulle straf in die poel van vuur sal bepaal) 14 En die dood en die doderyk (Die Hel die plek waar die siele van al die ongelowiges van alle tye bewustelik bewaar word) is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”
Net soos wat gelowiges se deel in die nuwe hemel en aarde te vinde is (wat ‘n ewigdurende erflating is) so sal die ongelowiges wat nie die evangelie geglo het nie se deel/erflating vir ewig in die poel van vuur te vinde wees.
Openb.21:8 “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.”

Net soos die woord “siel” is die woord “dood” nie ‘n tegniese term wat slegs een betekenis het nie. Indien ek die stelling sou maak dat my foon se battery dood is, beteken dit nie dat my foon se battery glad nie bestaan of opgehou het om te bestaan nie. Indien ek my foon oopmaak sal ek merk dat die battery nog steeds daar is maar dit nie meer werk nie. Dit is dus geskei vir die doel waarvoor dit gemaak is. So ook in die geval van die woord “dood”, moet die konteks waarin daardie woord gebruik is toegelaat word om die betekenis van die term “dood” te bepaal anders gaan mens ernstige leerstellige foute begaan. (Die leser word ten sterkste aangeraai om te artikel “Sewe verskillende vorms van dood in die Bybel” sorgvuldig deur te lees, waarin die term “dood”, soos in die Bybel gebruik, uiteengesit word.) Ek gaan net kortliks drie voorbeelde hier weergee. Eerstens: Fisiese dood, waar ‘n persoon se liggaam (stoflike faset) van sy siel en gees (nie stoflike fase wat bewustelik bly voortbestaan) geskei word. Dit beteken nie dat die persoon uitgewis is nie, maar slegs dat sy gees en siel (wat nog steeds bewustelik voortbestaan) van sy liggaam wat in die graf lê geskei is. (Gen. 35:18) Tweedens: ‘n Ongelowige persoon is geestelik dood wat beteken dat sy gees en siel (wat nog steeds bewustelik bly voortbestaan) van God se Gees geskei is. (Gen.2:17) Dit beteken nie dat sy gees en siel opgehou het om bewustelik te bly voortbestaan nie. En derdens: Die tweede dood, wat beteken dat wanneer ‘n ongelowige persoon tot sterwe kom, dat hy vir ewig (bewustelik) onder God se oordeel sal wees, omrede hy buite Christus en in sy eie sondes gesterf het. (Openb. 20:12-15) God het die mens geskape om vir ewig te lewe en daarom sal ‘n persoon se gees en siel nooit kan ophou om te bestaan nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Wat is die ewige lewe” sorgvuldig deur te lees.

Ter afsluiting: Onthou, die Here self het verklaar dat Hy ‘n God van lewe is, naamlik:
Mark.12:26 “En wat die dode betref, dat hulle opstaan — het julle nie gelees in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, hoe God vir hom gesê het: Ek is
(huidiglik, teenswoordige tydsvorm) die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob nie? 27 “God is nie ‘n God van dooies nie, maar ‘n God van lewendes. Julle dwaal dus grootliks.”
Toe Jesus by die doringbos aan Moses verskyn het was Abraham, Isak en Jakob al lankal dood, maar die Here verklaar dat Hy (op daardie spesifieke tydstip. Teenswoordige tydsvorm) hulle God is en boonop die God van lewe is, nie ‘n God van dood (nie-lewe) nie. Dit beteken dat Abraham, Isak en Jakob nog in hulle nie-stoflike fasette bewustelik voorbestaan het en dat hulle hierdie feit geweet het.Die mens se lewe het dus twee aspekte, naamlik ‘n kwantitatiewe aspek, asook ‘n kwalitatiewe aspek. Met bevrugting begin ‘n persoon se lewe op ‘n skaal van tyd wat vir ewig voort sal duur (kwantitatiewe aspek). Die tweede faset van ‘n mens se bestaan handel oor die kwaliteit van sy bestaan (kwalitatiewe aspek). Wanneer ‘n ongeredde mens tot sterwe kom, dan bly sy siel nog steeds voortbestaan, maar die kwaliteit van sy bestaan versleg drasties omrede hy homself in die hel bevind. ( naamlik die ewige verderf, of te wel die tweede dood, wanneer die persoon permanent van God se genade en die seëninge wat daarmee gepaardgaan geskei word.) Die gelowige daarenteen se lewe verbeter drasties wanneer hy tot sterwe kom, omrede hy homself in God se teenwoordigheid bevind (met al die seëninge wat daarmee gepaardgaan). Omrede die leierskap van die Sewendedag Adventiste, Ellen G White se leerstellings as gesaghebbend beskou, is hulle daartoe verbind om die Bybel deur die raamwerk van haar verdraaide leerstellings te verklaar. Dit beteken dat hulle daartoe verbind is om te probeer om haar dwaalleer vanuit die Bybel te regverdig, al beteken dit dat hulle teksgedeeltes buite konteks moet aanhaal of self heeltemal moet verdraai.

Onthou, net God het lewe in Homself, maar God het lewe aan die mens gegee.
Gen.2:7 “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.”
Boonop verklaar die Bybel dat God se genadegawes onherroeplik is, naamlik:
Rom.11:29 “Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.”
Die mens se bestaan kom van God af. Sy bestaan begin op ‘n punt in tyd en duur vir ewig voort. Waar ‘n Persoon die ewigheid gaan deurbring beïnvloed sy belewenis/ervaring van sy bestaan, maar dit het absoluut geen invloed op die tydsbestek van sy bestaan nie.
In die laaste artikel in hierdie reeks sal ons die Sewendedag Adventiste se leerstelling van die Saterdag Sabbat in oënskou neem en die implikasies daarvan aan die leser verduidelik.

Seën Groete!

Vic.

Deel met ander asb.