Soekers van Ydele Eer

Soekers van Ydele Eer

Gal. 5:22-26 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie. Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.”
‘n Ware Christen is nie veronderstel om oor homself te spog nie, maar moet in die Here roem (1 Ko 1:26–31). Wettiese mense vergelyk hulleself dikwels met ander en spog dan met hul goeie werke, asof hierdie werke hulle meer aanvaarbaar voor God maak. Sulke mense vergeet egter dat al ons eie geregtighede soos besoedelde klere voor God is.
Jes. 64:6 “En ons het almal geword soos ’n onreine, en al ons geregtighede soos ’n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.”

Ons is slegs aanvaarbaar vir God omdat Jesus ons sondes op Homself geneem het en ten volle daarvoor aan die kruis betaal het. Al wat van ons verwag word, is om te glo; daarom is daar geen rede tot eie roem nie.
Rom. 5:8-9 “maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.”

Aan die ander kant is daar mense wat die vryheid in Jesus Christus as ’n lisensie gebruik om vrylik te sondig. Hierdie persone spog dikwels met hul sondige dade en wêreldgesindheid, asof dit iets is om op trots te wees.
Jud. 1:4 “Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.”
Ons word egter gewaarsku om heiligmaking in ons lewens na te jaag.
Heb. 12:14 “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;”

Na wedergeboorte (fase een van ons verlossing) verwag die Here van ons om die Heilige Gees toe te laat om heiligmaking in ons lewens te bewerkstellig (fase twee van ons verlossing). (Lees asseblief die artikels “Drie Fases van verlossing” asook “Heiligmaking op grond van genade deur geloof”).

Dit is juis tydens hierdie tweede fase waar die Heilige Gees ons verlos van die mag van sondes wat steeds na wedergeboorte ’n houvas op ons lewens probeer behou. Indien ’n gelowige nie heiligmaking toepas nie, sal hy nie die beeld van Jesus Christus aan sy medemens reflekteer nie; gevolglik sal ander mense Christus nie in sy optrede kan waarneem nie. So ’n gelowige sal ook nie ’n intieme gemeenskapsverhouding met die Here geniet nie, en in daardie sin sal hy die Here nie “sien” nie.

Ware Christenskap laat nie ruimte vir selfbeheptheid, eiewaan of hoogmoed nie. Dit voorkom ook dat gelowiges mekaar beny – iets wat uiters skadelik vir ’n mens se geestelike lewe is. Hoogmoed, eiewaan en alle vorme van selfverheerliking spruit uit die vlees en nie uit die Gees nie. Sowel ’n verdraaide begrip van vryheid as ’n wettiese mentaliteit stimuleer hierdie verbode vleeslike gedrag. Ons moet sensitief bly vir die oortuigende werk van die Heilige Gees om te verhoed dat ons in die strik van die duiwel val.
Gal. 5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;”
Onthou, die Heilige Gees sal ’n gelowige nooit weer onder die wet plaas vir die doel van heiligmaking nie. Hy sal ons altyd na Christus en die Skrif lei om ons sodoende tot heiligheid te bring. Net so sal die Heilige Gees ons nooit na vleeslikheid, wêreldgesindheid of enige vorm van sonde lei nie.

Gal. 3:2-3 “Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?”
In die bogenoemde teks verwys die “begin met die Gees” na fase een (wedergeboorte), terwyl die waarskuwing teen die “eindig met die vlees” op fase twee (heiligmaking) dui. Mens kan nie die wet gebruik om heiligmaking in ’n persoon se lewe te bewerkstellig nie!

Om die eer van mense te soek, is ’n subtiele aanduiding van ’n begeerte na selfverheerliking. Ons roeping is om God se eer te soek en Hom alleen te verheerlik, selfs al beteken dit dat ons die guns van die wêreld verloor. Ons kan dit slegs deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees vermag. Sodra ons opmerk dat vleeslike begeertes of hoogmoed in ons harte manifesteer, moet ons daardie sonde onmiddellik bely en ons weer volkome aan God onderwerp. Sodoende kan die Heilige Gees in en deur ons leef en die oorwinning oor die vlees behaal. Moet nooit die wet probeer gebruik om die vlees te oorwin nie; dit sal slegs tot frustrasie en mislukking lei.

Seëngroete, Vic

Deel met ander asb.