1Kor.15:1-58 kan as die opstandings-hoofstuk van Paulus se skrywes beskryf word. Omrede die Korinthiërs vanuit ‘n hoofsaaklike Griekse agtergrond afkomstig was, was hulle veral vatbaar vir valse leerstellings wat vanuit daardie bron afkomstig was. Meeste Grieke van daardie tydperk het wel in die siel se onsterflikheid na die dood geglo, maar nie in ‘n toekomstige fisiese/liggaamlike opstanding vanuit die dood nie. Om hierdie rede was die gedagte van Christus se kruisiging vir die Grieke dwaasheid.
1Kor.1:23 “maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke”
So ook was die idee van ‘n liggaamlike opstanding vir die Grieke ‘n uiters vreemde konsep om te verwerk, naamlik:
1Kor.1:32 “Maar toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor.”
Dit wil voorkom dat hierdie dwaalleerstelling, wat beweer dat daar geen fisiese opstanding vanuit die dood is nie, die gemeente in Korinthe binnegedring het en groot verwarring onder die gelowiges daar veroorsaak het. In 1Kor.15:1-58 spreek die apostel Paulus hierdie dwaalleerstelling aan en weerlê dit heeltemal. Met die skryf van hierdie artikel sal die hele hoofstuk van 1Kor.1-58 sorgvuldig bestudeer en bespreek word en in vier hoofafdelings van vier artikels opgedeel word.