Matteus 13:45–46: “Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.”
Opmerking: Die koopman verteenwoordig die Here Jesus Christus, en nie die kerk soos dikwels verkeerdelik verkondig word nie. Gelowiges gee niks prys en verkoop niks om Jesus as Verlosser te ontvang nie. Die ewige lewe is ‘n geskenk wat deur geloof ontvang word; ons betaal geensins daarvoor nie. God het deur Jesus Christus alles prysgegee om vir ons sondes te betaal. Dit is vir die mensdom onmoontlik om ‘n absolute heilige en regverdige God vir sonde te vergoed. Wat verlossing of wedergeboorte (fase een van ons verlossing) betref, kan ons niks by “geloof alleen in die Evangelie” voeg om wedergebore te word nie. Ons kan niks betaal nie, aangesien ons onsself nie kan red nie en oor niks beskik waarmee ons God kan vergoed nie. Dus is die lering dat die kerk die koopman verteenwoordig eksegeties foutief en vreemd aan die konteks van die Skrif. (Die leser word aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees).