Dit is ‘n logiese feit dat wanneer ‘n persoon iemand vir enige werk wat hy verrig het beloon, dan kan daardie betaling nie as ‘n genadegawe bestempel word nie. Hierdie feit geld veral wanneer dit by God se verlossingsplan vir die mens kom. Indien God die geringste verdienstelikheid in die persoon waarneem, dan sal Hy in geregtigheid daardie verdienstelikheid moet beloon en die beloning daarvan sal nie as ‘n genadegawe omskryf kan word nie.
Rom.4:4 “Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; 5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”
Genade moet genade bly. Jode, sowel as heidene, is almal onder die geregverdigde oordeel van God geplaas, en omrede alle mense afstammelinge van Adam is, en met ‘n sonde natuur gebore word, word hulle sonder uitsondering in Adam geoordeel. Die skrifte verklaar dat alle mense onder die mag van sonde is. (Die Here Jesus Christus is die enigste uitsondering) Om hierdie rede is die mens nie net sondaars omrede hulle sonde pleeg nie, maar hulle is ook van nature sondaars. Ons pleeg sonde, omrede alle mense alreeds oor ‘n sonde natuur beskik, en posisioneel in Adam is, en daarom het God die hele mensdom onder Sy geregverdigde oordeel van sonde geplaas.
Rom.3:9 “Wat dan? Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is, 10 soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. 11 Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. 12 Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.”