Sleutelwoord se argiewe: Lion of Fire Ministries

Heerskappy-redding Ontbloot: ‘n Weerlegging van Matt Mason. Deel 2

In die tweede deel van hierdie artikel ontleed ons Matt Mason  (Lion of Fire Ministries) se aanbieding, ‘“Free Grace” Theology EXPOSED… (The HERESY of The 21st Century??)’, op YouTube aan die hand van die Skrif, om sodoende sy dwaalleer asook sy slinkse metodiek te weerlê. In baie gevalle is dit juis die doelbewuste, oneerlike argumentasiemetodes wat dwaalleraars aanwend om mense te verwar, te mislei en — bowenal — met vrees te vervul. Sommige onderwerpe wat in deel een aangespreek is, sal weer kortliks hier aangeraak word. Dit is egter belangrik om hierdie artikel volledig te lees, aangesien daar ander teksgedeeltes is wat Mason as bewys aanhaal, waarvan die waninterpretasies nou vanuit die korrekte kontekstuele raamwerk weerlê word. Onthou, mense se siele is op die spel.

Die Genetiese Dwaling en die “Moderne Uitvinding”

Matt Mason begin sy aanval met die stelling: “This is a modern invention of the 19th century. It was popularized in the 1980s by Zane Hodges.” Hierdie is ‘n klassieke Genetiese Dwaling (Genetic Fallacy), waar ‘n argument verwerp word op grond van sy oorsprong of datum in plaas van sy waarheid. Die waarheid van ‘n leerstelling word bepaal deur: “Wat sê die Skrif?” (Romeine 4:3), nie “Wat sê die kerktradisie?” nie. Ek verdedig nie Zane Hodges nie; daar is trouens baie van wat hy geskryf het waarmee ek glad nie saamstem nie. Die Vrye Genade-boodskap is nie ‘n uitvinding van Zane Hodges nie, maar ‘n terugkeer na die konsekwente toepassing van die apostel Paulus se leerstelling van Sola Fide (geloof alleen). Die feit dat sekere waarhede deur die kerkgeskiedenis verduister is (soos ook met die Reformasie gebeur het), maak dit nie onwaar nie. Om genade “cheap” te noem, is ‘n Strooipop-argument; genade is vir ons verniet (gratis), maar dit was oneindig duur vir Christus. Matt Mason erken self dat hy vanuit ‘n Rooms-Katolieke agtergrond kom en gevolglik ‘n hervormde teologie aanhang. Met reg kan mens hom vra of sy teologie ook nie ‘n een-en-twintigste-eeuse dwaling is nie.”

Lees meer Heerskappy-redding Ontbloot: ‘n Weerlegging van Matt Mason. Deel 2

Heerskappy-redding Ontbloot: ‘n Weerlegging van Matt Mason. Deel 1

Inleiding: Die Historiese Stryd om die Suiwer Evangelie van Genade

Die leser word ten sterkste aangeraai om eerstens die video-aanbieding van Matt Mason op YouTube, getiteld “The Free Grace Gospel Exposed!! (It’s A Mockery Of God’s Grace), te kyk alvorens hierdie weerlegging oorweeg word. In sy aanbieding maak Mason die ongefundeerde en ernstige bewering dat diegene wat die Bybelse leer van Vrye Genade huldig, verkondig dat ‘n gelowige straffeloos in sonde kan voortleef sonder enige oortuiging of inspraak van die Heilige Gees. Dit is egter van kritieke belang om te let op die historiese en teologiese ironie van hierdie aanklag, aangesien Mason hiermee presies dieselfde beskuldiging opper as wat die wettiese kritici in die eerste eeu teen die Apostel Paulus se evangelie ingebring het. Paulus verwys spesifiek na hierdie lasterlike gerugte in Romeine 3:8 wanneer hy skryf:
“En moet ons nie liewer sê nie, soos ons gelaster word en soos sommige beweer dat ons sê: Laat ons die kwaad doen, sodat die goed daaruit kan voortkom? Hulle veroordeling is regverdig.”

Paulus was genoodsaak om die evangelie van genade teen hierdie spesifieke karikatuur te verdedig, soos duidelik blyk uit sy skrywe aan die Romeine. In Romeine 6:1 vra hy die retoriese vraag:
“Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?”
Die blote feit dat Matt Mason die Vrye Genade-boodskap van wetteloosheid beskuldig, dien paradoksaal as ‘n bevestiging dat ons dieselfde radikale genadeboodskap as Paulus verkondig, aangesien ‘n evangelie wat op menslike werke of prestasie gebaseer is (Galasiërs 5:11), nooit so ‘n beskuldiging sou uitlok nie. Dit bly ons Godgegewe plig om die evangelie van God se onverdiende genade jaloers te bewaak (Judas 1:3) teen enige lering wat die volbragte werk van Christus met menslike heiligmaking of werke wil vermeng (Romeine 11:6; Galasiërs 3:1-3). In hierdie eerste artikel sal ons Mason se spesifieke definisies en bewerings in die bogenoemde video in diepte analiseer, en dit stelselmatig toets aan die hand van die Skrif se lering oor regverdiging deur geloof alleen (Romeine 4:4-5; Titus 3:5).

Lees meer Heerskappy-redding Ontbloot: ‘n Weerlegging van Matt Mason. Deel 1