Vraag: Hallo Vic. Dankie vir die inligting. Kan u die volgende ook behandel. Heb.10:26. Hoe verskil dit van die sondes waarmee ons sukkel? Groete
Antwoord: Baie goeie vraag en dit is een van die teksgedeeltes wat mense wat glo dat ‘n gelowige die gawe van die ewige lewe kan verbeur (moderne Armenianisme) aanhaal om hierdie dwaalleer te regverdig. Ek gaan eers die teksgedeelte aanhaal en dit dan binne die korrekte konteks bespreek.
Heb.10:26 “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, 27 maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. 28 As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; 29 hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? 30 Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. 31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God. 31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God. 32 Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, ‘n groot lydensworsteling deurstaan het, 33 gedeeltelik omdat julle deur smaad en verdrukkinge ‘n skouspel geword het, gedeeltelik omdat julle deelgenote geword het van die wat in so ‘n toestand verkeer het. 34 Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ‘n beter en blywende besitting in die hemele het. 35 Werp dan julle vrymoedigheid, wat ‘n groot beloning het, nie weg nie. 36 Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. 37 Want nog ‘n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie. 38 Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie. 39 Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.”
Wanneer dit by die uitleg van die skrifte kom is dit van uiterste belang om eers die korrekte konteks te bepaal. Alle teksgedeeltes in die Bybel is binne die raamwerk van ‘n spesifieke konteks gemaak en dit geld ook vir die brief aan die Hebreërs. Hierdie is een van die kardinale reëls vir korrekte Bybel uitleg.