Sewendedag Adventiste, net soos die Jehova Getuies, verkondig die dwaalleerstelling van sieleslaap en uiteindelike totale uitwissing van alle ongeredde mense. (annihilationiste/uitwissingsgesindes). Hulle glo nie dat ongelowiges vir ewig in ‘n bewustelike toestand van smart in die poel van vuur sal deurbring nie, maar eerder dat hulle heeltemal vernietig sal word. Hulle maak daarop aanspraak dat die betekenis van “siel” (Hebreeus “nephesh”) na die hele mens as ‘n onskeibare eenheid verwys en dat ‘n mens se siel nie bewustelik apart van sy fisiese liggaam kan bly voortbestaan nie. Sewendedag Adventiste glo dus dat God die mens nie met ‘n nie-stoflike faset (gees en siel) geskape het wat apart van sy stoflike liggaam voortbestaan nie. Volgens hulle is die hele persoon (sy stoflike, asook sy nie-stoflike fasette) ‘n lewende siel. Die persoon wat tot sterwe gekom het lê dus onbewustelik in die graf. Hulle gebruik byvoorbeeld Genesis 2:7 wat kontekstueel na die hele menslike wese, insluitende sy fisiese aspek verwys, om hulle leerstelling te regverdig, naamlik:
Gen.2:7 “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.”
In hierdie opsig wend hulle die term “siel” kontekstueel korrek aan, deurdat die term lewende “siel” in hierdie konteks die hele mens, naamlik sy stoflike, sowel as sy nie-stoflike aspekte insluit. Maar dan maak hulle hulleself aan bewustelike ongeoorloofde identiteitsoordrag skuldig, deurdat hulle hierdie spesifieke betekenis vir die term “siel” na alle gevalle waar die term “siel” in die Bybel voorkom oor te dra sonder om die spesifieke konteks waarin die term “siel” in voorkom in ag te neem.