Dien Galásiërs 5:4 as bewys dat ‘n gelowige die gawe van die ewige lewe kan verbeur en gevolglik verlore kan gaan? In hierdie instansie is die beginsel van logiese konsekwentheid sover dit Bybel uitleg aanbetref van kardinale belang. Indien ons die skrifte korrek verklaar dan kan daar geen weersprekings daarin wees nie. Die Bybel is immers God se Woord, en aangesien dit die waarheid is, kan daar geen teenstrydighede daarin wees nie. Wanneer die Skrif korrek uitgelê word, leer dit nooit dat genade en werke albei voorwaardes vir verlossing is nie. Logiese konsekwentheid vrywaar ons van die fout om wet en genade te vermeng en verhinder dat ons regverdiging (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) met die roeping tot dissipelskap (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking) verwar. (Die leser word aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” te lees.) Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ons die Bybel op ‘n konsekwente, normaal letterlike, grammatiese, historiese en kontekstuele wyse interpreteer. Onthou, dit is God se wil dat ons die Bybel reg verstaan. Met hierdie feite in gedagte kan ons nou na die gegewe teksgedeelte gaan kyk. Ek gaan verse een tot vyf hier aanhaal en dan binne die korrekte konteks bespreek.
Gal.5:1 “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie. 2 Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. 3 En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou. 4 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.”