Wolwe in skaapklere

Vers-vir-vers-studie van Mattheus 7:15–23 en wolwe in skaapsklere

Met hierdie studie sal ons ‘n vers-vir-vers-studie van Mattheus 7:15–23 doen om te demonstreer hoe belangrik dit is om die Bybel binne die korrekte kontekstuele raamwerk te verklaar om sodoende ‘n korrekte gevolgtrekking te bereik. Dit is God se wil dat ons Sy woord korrek vertolk, en om hierdie rede moet ons altyd daarna streef om Hom in hierdie opsig te eerbiedig.
2Tim.2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Onthou, mense se siele is op die spel en daar is baie wolwe in die belydende Christendom.

Ek gaan eers die hele teksgedeelte hier aanhaal en dit dan vers vir vers bespreek.
Matt.7:15 “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. 16 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! 17 So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. 18 ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. 19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 20 So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken. 21 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. 22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

Die konteks van bostaande teksgedeelte handel oor valse profete wat van buite godvresend voorkom maar wat egter vernietigende leerstellings verkondig. Jesus waarsku gelowiges om op die uitkyk vir valse profete te wees. Hulle mag op die oog af vroom voorkom, maar hulle verkondig gevaarlike en misleidende leringe wat indien dit geglo word mense na die hel sal lei. Boonop verklaar die Here Jesus Christus dat nie almal wat Hom “Here, Here” noem noodwendig hemel toe sal gaan nie. Die Here voorspel immers dat die meeste mense (en dit sluit die belydende Christendom in) verlore sal gaan.
Matt.7:13 “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. 14 Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.”
Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Die Breë en die Smal Weg” te lees.)


‘n Vers-vir-vers uiteensetting:


Matt.7:15 “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.”

Kommentaar: Hierdie valse profete kom vroom en heilig voor, en mens sou nooit dink dat hulle heeltemal ongered is nie. Binne hierdie gegewe konteks verteenwoordig die term “skaapsklere” uiterlike skyn van vroomheid en godsdienstigheid. Die term “roofsugtige wolwe” verteenwoordig mense wat geestelike vernietigende dwaalleer verkondig. Die konteks van hierdie teksgedeelte handel dus nie oor gelowiges wat sonde pleeg nie, maar handel eerder oor mense wat die een of ander vorm van werke evangelie (dwaalleer) verkondig. Dit is belangrik om hierdie feit te verstaan, omrede baie predikers Mattheus 7:15–23 buite konteks aanwend om hulle gemeentelede te dreig, dat indien hulle nie genoeg vrug (goeie werke) voortbring nie hulle nie werklik gered is nie. Die konteks handel dus oor bedrieglike, ongeredde leraars en nie oor gelowiges wat sonde pleeg nie.


Matt.7:16 “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! 17 So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. 18 ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. 19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 20 So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.”

Kommentaar: Onthou, konteks, konteks en weereens konteks. Wat is die vrugte wat die Here hier van praat? In hierdie konteks die term “vrugte” leerstellings en nie morele gedrag nie. Matt.12:33-37 bevestig hierdie feit waar die Here met die Fariseërs wat uiterlik heilig en moreel voorgekom (hulle het dus nie openlik gesondig nie) in ‘n woordewisseling betrokke geraak het en die volgende stelling gemaak het, naamlik:
Matt.12:33 “Julle moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken. 34 Addergeslag, hoe kan julle (ongelowige, maar vroom Fariseërs) goeie dinge praat terwyl julle sleg (en wat by implikasie ongered) is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. 35 Die goeie mens ( wat by implikasie geredde mense insluit) bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. 36 Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. 37 Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.

In hierdie konteks word daar dus van die leerstellings wat ‘n persoon verkondig gepraat. Die morele gedrag van ‘n gelowige is geensins in hierdie konteks ter sprake nie. ‘n “Goeie boom” verkondig korrekte Bybelse leerstellings en ‘n “slegte boom” verkondig dwaalleer. ‘n Gelowige moet dus die leerstellings wat uit ‘n persoon se mond kom met die skrifte, binne die raamwerk van die korrekte konteks beoordeel en nie net op sy gedrag fokus nie, want uiterlike gedrag kan misleidend wees. Uiterlike gedrag is boonop subjektief soos byvoorbeeld hoeveel goeie werke moet ‘n persoon doen om goed genoeg te wees? Of teen watter standaard moet ‘n persoon sy goedheid meet? God se heiligheid is die standaard wat God gebruik, niks minder as dit nie. Kan enige persoon met eerlikheid verklaar dat sy gedrag in alle opsigte volkome aan God se standaard voldoen?


Matt.7:21 “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”

Kommentaar: Wat is die wil van die Vader wat die Here Jesus Christus binne hierdie konteks van praat? Die antwoord op hierdie vraag vind ons in Johannes 6:38-59 waarvan ek net verse 38-40 en 47 hier gaan aanhaal. Ek raai die leser aan om self die hele gedeelte sorgvuldig deur te gaan lees.
Joh.6:38 “Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39 En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. 40 En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”
En in vers 47 staan daardie volgende geskrywe:
Joh.6:47 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het
(as huidige en ewige besitting) die ewige lewe.”

Dit is binne hierdie konteks waar die Here Sy dissipels teen die valse profete waarsku. Dit is mense wat van buite af vroom voorkom maar wat menslike werke die bepalende faktor maak om te bepaal of ‘n persoon gered is of nie. Enige persoon wat enige vorm van werke evangelie verkondig kan as “slegte bome” of “wolwe wat in skaapsklere” na ons kom beskryf word. Dit sluit proponente van Werk Heiligheid (Heerskappy Verlossing) soos John MacArthur, asook mense wat verkondig dat gelowiges uit genade kan verval, soos byvoorbeeld John Bevere en Rooies Strauss in. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Gaan gelowiges hel toe as hulle vergeet om sonde te bely?” sorgvuldig deur te lees.


Matt.7:22 “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?”

Kommentaar: Die kernprobleem is dat hierdie wolwe in skaapsklere hul vertroue in hul eie werke plaas en nie in die Here Jesus Christus alleenlik plaas nie. Hierdie wolwe in skaapsklere verwar dus godsdienstige aktiwiteite en goeie werke met ware saligheid en in hierdie opsig het hulle nooit in werklikheid opreg in die evangelie geglo nie. Dit is die probleem met geloof wat op werke berus, of waar menslike werke met geloof in Christus en Sy voltooide werk aan die kruis vir die mens vermeng word.


Matt.7:23 “En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”

Kommentaar: Die Here se antwoord aan hierdie mense sal soos volg wees: “Ek het julle nooit geken nie.”Die here Jesus Christus se stelling is deurslaggewend omrede dit openbaar dat Hy nooit in die eerste plek ‘n persoonlike, reddende verhouding (Vader kind verhouding) met hulle gehad het nie. Hulle indrukwekkende dade beteken niks vir God sonder ‘n grondslag van reddende geloof nie. Onthou, reddende geloof is om in die Here Jesus Christus die Seun van God te glo, wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om die persoon se (volledige) persoonlike sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal (dit sluit al sy verlede, huidige, asook toekomstige sondes in), en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom en Hom alleen daarvoor vertrou. Vir die gelowige is die voorwerp van sy geloof die Here Jesus Christus (wat Sy voltooide werk aan die kruis insluit). Ons moet onthou dat ons verlossing geensins op ons eie werke gebaseer is nie. Ons moet dus ons vertroue slegs in Christus alleen plaas, en nie in wat ons self doen nie.

En wat bedoel die Here in hierdie konteks met die stelling “Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” Hierdie godsdienstige ongelowige mense doen nie die wil van die Vader om gered te word nie. In Johannes 6:27 merk ons wat die Vader van die mensdom verwag om gered te word, naamlik:
Joh.6:28 “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? 29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.”
Deur enigsins menslike werke as vereiste by slegs geloof in Christus vir redding by te voeg is om die evangelie van God se genade in ‘n werke evangelie te verander. Ongelukkig begaan by verre die oorgroot meerderheid van die belydende Christendom hierdie fout, en die gevolge daarvan is katastrofies. Dit is nie dat hierdie mense eers gered was en toe a.g.v. sonde verlore gegaan het nie. Die rede waarom hulle verlore gaan is dat die Here Jesus Christus nooit in die eerste plek ‘n reddende verhouding met hierdie godsdienstige ongelowiges geniet het nie, omrede hulle in hulle eie werke vertrou het om hulle te red of om hulle gered te hou nie. Hierdie mense wat soos ware gelowiges lyk, maar nie is nie, het in werklikheid nooit op die Here Jesus Christus alleen vertrou om hulle te red nie.

Ter Afsluiting: Anders as wat baie predikers verkondig handel Mattheus 7:15–23 nie oor die onderwerp of ‘n gelowige sy saligheid kan verloor nie, of dat hy goeie werke moet doen om te bewys dat hy gered is nie. Die Here Jesus Christus waarsku Sy dissipels om op die uitkyk vir valse profete te wees, wat van buite godvresend voorkom (soos skape lyk) maar vernietigende leerstellings verkondig (van binne roofsugtige wolwe is). Dit is dus ‘n oproep om geestelike onderskeiding en om hierdie rede is dit van uiterste belang om seker te maak dat enige prediker die woord van God reg verklaar. (2Tim.2:15) Dit is elke gelowige se plig om alles wat aan hom verkondig word binne die korrekte dispensasionele konteks met die skrifte te vergelyk. Dit sluit alles wat ek skryf ook in.
Hand.17:11 “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.”

Daarom is persoonlike Bybelstudie so belangrik. Baie mense verkeer verkeerdelik onder die indruk dat hulle gered is. Hierdie mense is in werklikheid godsdienstige ongelowiges wat op ‘n subtiele wyse op hulle eie werke vertrou in stede daarvan om te doen wat God verlang, naamlik om Sy Seun, Die Here Jesus, alleen om redding te vertrou. (Johannes 6:40). Ons geloof moet slegs in Christus alleenlik wees, en nie in ons werke of selfs in Christus plus ons werke nie. Redding kom slegs deur geloof, en daardie geloof moet in Christus alleen geplaas word.

En onthou:
Rom.3:23 “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. 25 Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God 26 om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. 27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. 28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.” (Sien ook Titus 3:5)
Wees op die uitkyk vir wolwe wat in skaapsklere na julle kom.
2Kor.11:14 “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.