Spreuke 3:5: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.”
Ag, hoeveel keer moes ek nie al op die harde manier leer om nie op my eie insig staat te maak nie, maar eerder op God se wysheid te vertrou. Kom ons kyk hoe koning Dawid op God se insig staat gemaak het en daarna geseëvier het (1 Samuel 17:4–54). Ons almal ken die geskiedenis van Dawid en hoe hy Goliat verslaan het. Ons moet egter dieper delf en vasstel hoe Dawid geredeneer het om ‘n volledige prentjie te kry van wat werklik gebeur het.
In 1 Samuel 16:1–13 lees ons hoe die Here die profeet Samuel opdrag gegee het om Dawid as koning te salf, wat Samuel toe gedoen het. Dawid was egter bewus daarvan dat koning Saul nog amptelik op die troon van Israel gesit het en dat die tyd vir sy eie koningskap nog nie aangebreek het nie. Dit is ná hierdie gebeure dat Goliat die laers van Israel uitgedaag het. Wat was dan Dawid se aansporing om Goliat die stryd aan te sê? Dawid het, net soos wat die Here van ons verwag, vanuit God se Woord geredeneer.
Dawid het geweet God het hom as koning gesalf, maar hy het ook besef dat hy nog nie amptelik op die troon sit nie. Sy redenasie moes as volg gewees het: Indien God hom as koning gesalf het (en Hy het), kon hy nie deur sy vyande gedood word sonder dat God se Woord verbreek word nie — iets wat onmoontlik is. Hy het immers God se belofte gehad dat hy eendag koning sou word. Hy was moontlik ook bevrees, maar hy het nie op sy eie insig, gevoelens of omstandighede staat gemaak nie; hy het op God en Sy Woord gerus.
Ek glo dat indien Dawid op sy eie insig staat gemaak het, hy — net soos enige redelike mens — sou redeneer dat die reus hom gaan oorwin. Dan sou die moontlikheid groot gewees het dat hy, net soos die Israeliete in die woestyn, in ongeloof sou optree toe die Here hulle beveel het om die land Kanaän in te neem (Numeri 13–14). Maar Dawid het vasgehou aan wat God aan hom belowe het. Ons ken die uitslag: Dawid het Goliat verslaan omdat hy op sy God vertrou het en nie toegelaat het dat sy omstandighede hom intimideer nie.
Maak jy op jou eie insig staat? Of gaan jy, soos Dawid, op God vertrou en reageer op die beloftes wat Hy in Sy Woord aan jou gemaak het? Net die tyd sal leer. Doen God se wil soos Hy dit in Sy Woord openbaar, en jy sal deur God self geprys word. Moenie die eer van mense soek nie. Onthou, die wêreld sal jou altyd beskuldig en belaster, juis om jou te kry om nie op God en Sy Woord alleen te vertrou nie. Die wêreld is immers in die mag van die bose (1 Johannes 5:19). Moenie na jou omstandighede, gevoelens of teëspoed kyk nie. Vertrou net op God en Sy beloftes. Jy mag dalk nou deur ‘n woestyn gaan, maar onthou: saam met God is daar altyd ‘n oase aan die anderkant.
Kyk wat Charles Studd alles prysgegee het om vir die Here te werk. Hy het ‘n belowende loopbaan, rykdom (hy het die meeste van sy geld weggegee) en die eer om vir sy nasionale span krieket te speel, prysgegee om die Here se plan as sendeling na te volg. Hy het God op Sy Woord geneem en nie ag geslaan op wat die wêreld sê nie. Dink net aan die loon wat op hom wag in die hemel. God sal altyd die persoon beloon wat sonder twyfel op Hom vertrou.
‘n Interessante parallel: Die geskiedenis van Dawid se salwing stem merkwaardig ooreen met dié van die Kerk. Op die oomblik dat ons die Evangelie glo en ons vertroue in Jesus Christus stel, word ons deur die Heilige Gees verseël en as’t ware as konings afgesonder, aangesien ons mede-erfgename saam met Christus word (Romeine 8:17). Maar net soos Dawid, moet ons wag totdat die tyd vir ons koningskap aanbreek. Dit sal eers plaasvind wanneer Jesus Christus terugkeer aarde toe om Sy Koninkryk fisies op te rig.
Openbaring 12:10: “Toe hoor ek ’n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.”
Openbaring 19:6: “En ek het iets gehoor soos die stem van ’n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.”
Ons moet nie nou reeds as konings wil regeer nie; ons is geroep om mekaar in liefde te dien. Sommige beweer dat ons nou reeds regeer (“Kingdom Now”), maar die Skrif leer anders:
1 Korinthiërs 4:8: “Alreeds is julle versadig, alreeds het julle ryk geword, sonder ons het julle geheers. Het julle tog maar geheers, sodat ons saam met julle kon heers!”
Jesus Christus regeer tans nog nie as die fisiese Koning op die troon van Dawid hier op aarde nie. Ons wag op Sy wederkoms. Tans tree Hy as Middelaar en Hoëpriester by die Vader vir ons op (Hebreërs 7:25).
2 Timótheüs 2:12: “As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.”
Openbaring 5:10: “…en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.”
1 Johannes 3:2: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.”
As jy dus die Evangelie geglo het, kan jy gerus op God en Sy beloftes vertrou. Met sekerheid kan jy weet dat God Sy belofte aan jou sal nakom. Net soos Dawid moet ons wag totdat God ons aanstelling bekragtig. Daarom is dit belangrik om die taak wat die Here ons op aarde gegee het, getrou uit te voer. Ongeag hoe moeilik jou omstandighede mag wees, jy kan weet dat jy saam met Hom sal regeer, en geen aardse mag kan dit verhoed nie. Vertrou op die Here!
Seën Groete