Vraag: Wat is jou siening oor die Voorspoedevangelie (Prosperity Gospel)? Kan dit uit die Bybel geregverdig word? Ek weet van mense wat swaarkry en daarin glo, maar dit klink of jy soms negatief is oor wat hulle verkondig.
Antwoord: Om mee te begin, glo ek dat die Voorspoedevangelie nie die Evangelie is wat die Here aan ons as gelowiges gegee het om te verkondig nie. Dit is ’n “ander evangelie” wat nie red nie en daartoe sal lei dat baie mense wat dink hulle is gered, uiteindelik verlore gaan. Ek vra dat u hierdie verduideliking biddend sal deurlees en self sal oordeel of dit die waarheid is. Vergelyk alles wat ek of enigiemand anders aan u meedeel met die Bybel, om te verseker dat dit die suiwer waarheid is!
Jesus het aarde toe gekom om sondaars te red, nie om mense ryk te maak nie.
Lukas 5:32 “Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.”
Nêrens in die Skrif word gemeld dat Christus gekom het vir ons materiële verryking nie. Hy het gekom om ons van ons sondes te verlos, nie om ons in ons vleeslike begeertes te versterk nie.
1 Timoteus 6:10-11 “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.”
Mens hoef nie weergebore te wees om ryk te wil wees nie; dit is ’n natuurlike vleeslike begeerte. Hierdie predikers verkondig ’n selfgesentreerde boodskap: “Maak ’n besluit vir Jesus en Hy sal jou gesond, geseënd en ryk maak, en jou ’n goeie selfbeeld gee.” Baie verkondig selfs dat kinders van die Here “klein godjies” is wat deur positiewe uitsprake kan skep wat hulle wil hê. Pastore hou dikwels hul eie rykdom voor as bewys van hierdie sogenaamde geloof. Mense stroom na hierdie kerke, maar besef nie dat hulle ’n valse evangelie aanvaar het nie. Hulle bevind hulleself op die breë weg (Lukas 13:24). (Lees asseblief die artikel “Krag in ons woorde” om meer oor hierdie okkultiese leerstelling te leer).
Baie mense “neem die Here aan”—nie om van hul sondes verlos te word nie, maar as ’n middel tot voorspoed en gesondheid. Hulle wil hier op aarde as konings heers en besef nie dat hulle verlore sondaars onder God se oordeel is nie. Gierigheid word misgekyk terwyl die fokus op vleeslike behoeftes val. Hulle soek hul “beste lewe nou”, en mis sodoende die hele doel van Christus se koms. Hulle begaan dieselfde fout as die skares in Jerusalem wat Jesus toegejuig het omdat hulle verlossing van die Romeinse juk gesoek het, maar Hom later laat kruisig het toe Hy nie aan hul materiële verwagtinge voldoen het nie.
Hierdie valse leraars bied aan mense presies wat hul sondige natuur begeer:
1 Johannes 2:16 “Want alles wat in die wêreld is—en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.”
Die “wêreld” waarvan hier gepraat word, is die stelsel wat in die mag van die duiwel lê (Matteus 4:8-9). Die “begeerlikheid van die oë” is daardie onversadigbare dors om meer te besit (gierigheid). Die “grootsheid van die lewe” is die drang na aansien, beroemdheid en selfvergoddeliking. Dit is presies wat die duiwel aan Adam en Eva in Eden aangebied het, en dit kom nie van die Vader nie.
In teenstelling hiermee verwag die Here dat ons onsself sal verloën, ons kruis sal opneem en Hom sal volg (Matteus 16:24). Ons kan nie God én Mammon (geld) dien nie.
Lukas 16:13 “Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”
1 Johannes 2:15 “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.”
Jesus waarsku ons uitdruklik teen die ingesteldheid wat die Voorspoedevangelie bevorder:
Lukas 12:15-21 “En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie… Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees? So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.”
Kolossense 3:5-6 “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom,”
Gierigheid is afgodediens. Waarop iemand sy tyd en geld spandeer, wys wie hy werklik aanbid. Ons word vermaan om tevrede (vergenoeg) te wees met wat ons het.
Hebreërs 13:5 “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”
1 Timoteus 6:6-8 “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.”
Voorspoedspredikers wil u anders wysmaak. Iemand wat rykdom opgaar, wys dikwels dat hy meer op sy bankrekening vertrou as op God se belofte om hom nooit te verlaat nie. Dit is hartseer dat hierdie leraars nie verkondig dat mense verlore sondaars is nie. Hulle gebruik Jesus as ’n middel tot rykdom, wat God se hart bedroef.
Openbaring 3:17-20 “Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie… Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.”
Hierdie is ’n beskrywing van kerke waar Jesus buite die deur staan; hulle is ryk in die wêreld se oë, maar geestelik naak. Valse leraars vermy hierdie tekste omdat hulle nie hul skenkers wil afsit nie.
Romeine 16:17-18 “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer (korrekte Bybelse leerstelling)wat julle geleer het, en vermy hulle. Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges.”
Die ware pad is die weg van die kruis, nie die weg van selfverryking nie. Elf van die twaalf apostels is as martelaars dood; hulle het nie in weelde geleef of gesterf nie. Dit is ’n belediging vir vervolgde Christene wêreldwyd om te beweer dat geloof altyd rykdom bring. (Kyk na die werk van Open Doors).
Filippense 3:18-19 “Want baie—van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê—wandel as vyande van die kruis van Christus. Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge.”
Ons burgerskap is in die hemele. Ons moet hemelse dinge bedink, nie aardse dinge nie.
Filippense 3:20-21 “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus…”
2 Korintiërs 11:13-15 “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.”
U sal die boom aan sy vrugte ken—en die leerstelling wat verkondig word, is die vrug van daardie leraar. Baie mense wil egter hê dat hul ore gestreel moet word.
2 Timoteus 4:3-4 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”
Hoewel die Here sommige mense wel met rykdom seën vir Sy doel, is dit dikwels die uitsondering. God kies dikwels die armes van hierdie wêreld om ryk in geloof te wees (Jakobus 2:5). Valse leraars teiken dikwels arm streke in Afrika en Indië om hulself te verryk ten koste van die armes.
Ten slotte: Dit is nie ’n sonde om ryk te wees nie, maar dit is ’n sonde om rykdom na te jaag en daarop te vertrou. Die ware Evangelie gaan oor Jesus se voltooide werk aan die kruis vir u sondes. Ons is mede-erfgename, maar ons sal ons volle erfporsie eers ontvang by die Regterstoel van Christus, nadat Hy ons met die wegraping kom haal het. Ons heers nie nou al as konings nie; ons is hier om te dien en die Evangelie te verkondig—al kos dit ons lewens. Dit is die weg van die kruis.
Seëngroete, Vic