Waarom lyk dit soms asof die goddelose floreer terwyl die onskuldiges aanhou bly ly? Dit is ‘n vraagstuk waarmee gelowiges alreeds van Job se tyd af worstel, en ja ons worstel ook in ons tyd met presies dieselfde vraag. Ons word immers daagliks met hierdie vraag gekonfronteer wanneer ons die korrupsie binne die ANC waarneem. Die feit dat hierdie mense meestal ongestraf bly, daag ons basiese sin vir geregtigheid voortdurend uit. Die antwoord op hierdie vraag is dus nie so eenvoudig nie; dit verg ‘n breër, ewige en skriftuurlike perspektief.
In ‘n gevalle wêreld is lyding ‘n onvermydelike deel van die lewe. Hierdie beginsel geld ook vir gelowiges. Die Here Jesus Christus het ons vooraf van hierdie feit ingelig, naamlik:
Joh.16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”
Alle mense sal op die een of ander wyse tribulasie in hierdie lewe ervaar, en dit sluit gelowiges in. Dit beteken nie dat God onregverdig is nie. Die mens het God se gawe van ‘n vrye wil misbruik deur te kies om te sondig. Dit was die oorsaak van die sondeval, en daarom vorm lyding nou deel van ons aardse bestaan.
Rom8:20 “Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het 21 in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. 22 Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. 23 En nie alleen dit nie, maar ons (gelowiges)self ook wat die eerstelinge van die Gees het (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte is dus alreeds afgehandel), ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam” (Fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking wanneer ons met ons onverganklike, verheerlikte liggame tydens die eerste opstanding/wegraping oorklee sal word. Lees gerus weer die artikel “Die Drie Fases van Verlossing”).
Onskuldige mense ly dus nie omrede God onregverdig is nie, maar omdat die skepping deur sonde besoedel is. Sover dit die gelowige aanbetref sal God uiteindelik alle lyding tot ‘n einde bring.
Openb.21:4 “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. 5 En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.
God laat soms lyding in die gelowige se lewe toe met die doel om sy geloof te versterk, die gelowige te leer om te volhard en om deursettingsvermoë te ontwikkel. In hierdie opsig gebruik God lyding in die gelowige se lewe om geestelike groei te ontwikkel wat weer tot genadeloon by die Regterstoel Oordeel van Christus aanleiding sal gee.
Jak.1:2 “Ag dit louter vreugde, my broeders (Fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel), wanneer julle in allerhande versoekinge val, 3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie” (fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking. Binne die raamwerk van God se ewige Raadsplan t.o.v. die gelowige is alle lyding tydelik. Omdat alle lyding van verbygaande aard is, word tyd in hierdie opsig die gelowige se bondgenoot.
2Kor.4:16 “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. 17 Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; 18 omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”
Ons almal sondig steeds na wedergeboorte, en dit bring God se vaderlike tugtiging oor ons. Soms is ons dus self verantwoordelik vir die lyding wat ons ervaar. Hierdie soort lyding kan vermy word indien ons sonde vermy.
Heb.12:6 “want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.” In hierdie opsig is God se Vaderlike tugtiging tot ons voordeel want dit help ons om geestelik te groei. Indien ons positief op God se tugtiging reageer en van ons sonde bekeer, dan sal ons geestelik ontwikkel wat sal verseker dat ons genadeloon by die Regterstoel Oordeel van Christus sal ontvang. ’n Gelowige kan nie die gawe van die ewige lewe verloor nie, maar hy kan genadeloon verbeur wat ewige implikasies vir hom sal inhou. Wanneer die Heilige Gees ons van enige sonde in ons lewe bewus maak, dan is dit tot ons eie voordeel om daardie sonde aan God te bely en dit te laat staan. Dit sal onnodige lyding voorkom.
Gelowiges kan verwag dat die goddelose (asook satan) hulle in hierdie lewe sal vervolg. A.g.v hierdie feit kan gelowiges soms lyding in hierdie lewe ervaar.
2Tim.3:12 “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.”
Indien gelowiges nie voor hierdie vervolging swik en aan die bose toegee nie, dan sal God hulle ryklik by die Regterstoel Oordeel van Christus beloon.
Luk.6:22 “Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. 23 Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen.”
Die skynbare voorspoed van die goddelose is ‘n illusie. Dit is vlugtig en beperk tot hierdie lewe. Die psalmis Asaf het aanvanklik die goddeloses beny wat “voorspoedig in die wêreld” is en “ryker word”.
Ps.73:12 “Kyk, so is die goddelose mense, en altyd onbesorg vermeerder hulle die rykdom!”
Hy het egter later besef dat God hulle op “gladde plekke” gestel het.
Ps.73:18 “Waarlik, U stel hulle op gladde plekke; U laat hulle in puin val. 19 Hoe word hulle in ‘n oomblik ‘n voorwerp van verbasing, vergaan hulle, raak hulle tot niet deur verskrikkinge! 20 Soos ‘n droom nadat ‘n mens wakker word, o Here, so verag U, as U opwaak, hulle beeld!”
Wat vanuit ‘n wêreldse oogpunt na ‘n seën lyk, is in werklikheid ‘n tydelike en onsekere toestand.
Ps.37:Wees nie toornig op die kwaaddoeners nie, beny hulle nie wat onreg doen nie; 2 want soos gras sal hulle gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog.”
Die voorspoed is slegs tot hierdie lewe beperk, en aan die einde daarvan wag die verderf. Net soos die mens bestem is om een keer te sterf en daarna die oordeel (Heb.9:27), so sal die goddelose se bose werke deur God geoordeel word. ‘n Mens mag homself dalk in hierdie lewe aan die loon van onreg verlekker, maar God sien alles raak en Hy het die finale sê. In hierdie opsig is die verloop van tyd die onvermydelike vyand van die goddelose, want dit bring die oordeel nader.
Ter Afsluiting: Indien ons nie die probleem met betrekking tot die voorspoed van die goddelose vanuit God se perspektief benader nie sal ons altyd met hierdie vraag worstel. Selfs die profete van ouds en die skrywers van die Psalms het met dieselfde vraag geworstel. Terwyl die goddeloses skynbaar lank lewe, voorspoedig is en in vrede sterf (Job 21:7–15), is God se geregverdige oordeel verseker, selfs al voel dit vir ons of dit te lank neem. Die regverdige persoon se sekuriteit lê nie in aardse voorspoed nie, maar in ‘n ewige, onwankelbare erfenis wat in die hemele vir ons bewaar word (1 Petrus 1:4). Al wil dit op die oog af vir ons voorkom asof die goddelose in hierdie lewe voorspoedig is en dat gelowiges nou ly, moet ons altyd onthou dat die gelowige vir ewig in God se onwankelbare genade vasstaan. Ons kan met absolute sekerheid weet dat ons wel eendag voor die Regterstoel Oordeel van Christus vir ons getrouheid aan God beloon sal word (1Kor.3:14).
Ons behoort eerder vir die goddelose te bid, want God wil nie hê dat een van hulle verlore moet gaan nie.
2Pet.3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
Dit is ‘n sonde om nie vir hierdie mense te bid nie, en ek moet erken dat ek myself ook aan hierdie sonde skuldig maak. Ek is geneig om my teen die ANC se goddeloosheid blind te staar en vergeet dan om vir hulle redding te bid. Maar een ding kan ons verseker weet, God sal nie die goddelose ongestraf laat bly indien hulle nie tot bekering kom nie. Moenie die goddelose beny nie, hulle einde is die ewige verderf.
Jes.57:20 “Maar die goddelose is soos ‘n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi slyk en modder op. 21 Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie!”
Seën groete!
Vic