Alle gelowiges, sonder uitsondering, worstel nog steeds na wedergeboorte met hulle ou sonde natuur, asook hulle geneigdheid om sonde te pleeg. Al te bewus van hulle verlede tekortkominge, voel dit vir baie gelowiges dat daar ‘n skeidsmuur tussen hulle en God bestaan, wat daartoe aanleiding gee dat hulle heeltemal onwaardig voel om God met vrymoedigheid te nader. Alle gelowiges ondervind die een of ander tyd hierdie gevoel, en baie voel selfs dat hulle heeltemal van God vervreemd geraak het. Die dwaalleerstellings van Heerskappy Verlossing en werkheiligheid, wat niks anders as wettisisme is nie, het grotendeels tot hierdie stand van sake bygedra. Indien die skrifte binne die regte dispensasionele konteks korrek vertolk word, word dit duidelik dat die teenoorgestelde egter die waarheid is. Die skrifte verklaar onomwonde, dat a.g.v. die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis, alle gelowiges sonder uitsondering, en met al hulle imperfeksies ter eniger tyd vrye toegang tot hulle hemelse Vader het. Die probleem is nie dat God Sy rug op ons draai wanneer ons struikel nie, maar eerder dat ons gewoonlik dan die rug op Hom draai, en net soos Adam en Eva van Hom wegvlug in ‘n poging om ons skaamte/onwaardigheid weg te steek. Hierdie gevoel van onwaardigheid word dan ‘n skeidsmuur wat veroorsaak dat ons vervreemd van God voel.
Gelowiges moet nie skroom om die Here te nader nie:
Ons moet egter onthou dat dit nie ons eie geregtigheid is wat ons vrye toegang tot God kon bewerkstellig het nie. Wanneer ‘n persoon die evangelie van God se genade glo, dan ontvang daardie persoon outomaties die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid, en dit is op grond van die toegerekende geregtigheid van Christus waardeur ons vrye toegang tot God verkry. Dit is op grond van hierdie feit dat die skrywer van die brief aan die Hebreërs ons juis uitnooi om enige tyd God met vrymoedigheid te nader, naamlik:
Heb.4:15 “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. 16 Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”
Vir die gelowige is die troon van God nie ‘n troon van veroordeling nie, maar eerder ‘n troon van genade. God die Vader het elke individuele gelowige net so lief soos wat Hy die Here Jesus Christus het. Dink mooi oor hierdie feit na!
Rom.8:32 “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”
Let op die stelling “hoe sal Hy (God die Vader)nie saam met Hom (die Here Jesus Christus) ons ook alles genadiglik skenk nie?”) Die oomblik wanneer die gelowige die evangelie verstaan en glo dan ontvang daardie persoon die Here Jesus Christus as deel van Sy ewige erflating. En op grond van hierdie feit is die weg na die Vader vir altyd oop en die persoon besit die ewige lewe as ewige besitting:
1Joh.5:12 “Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”
Liewe medegelowige as, en wanneer jy struikel moenie van God weghardloop nie, maar haas jouself eerder na Sy troon van genade om daar vergifnis en hulp te verkry.
Die weg is egter slegs deur die Here Jesus Christus:
Die Here het hierdie feit baie duidelik verklaar, naamlik:
Joh.14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Ons toegang na God die Vader is moontlik gemaak deur die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis en nie deur ons verdienste nie.
Rom.5:2 “deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.”
En omrede die Here Jesus Christus die weg na die Vader vir ons oopgemaak het, moet ons nie skroom om ons hemelse Vader ter eniger tyd in geloof te nader nie.
Ef.3:12 “in wie (die Here Jesus Christus) ons die vrymoedigheid en die toegang het met vertroue deur die geloof in Hom.”
Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Die mens se sondeskuld verhoed nie God se genade nie”, asook “God se genade word in gelyke maat aan alle mense aangebied”
Die Here is naby almal wat Hom aanroep:
Ons beperkinge beperk nie die Here nie en Hy is naby almal wat Hom in waarheid aanroep.
Ps.145:18 “Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid. 19 Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.”
Ons moet nooit God met die idee nader dat Hy nie alreeds bewus van ons tekortkominge is nie. Om hierdie rede moet ons Hom in geloof nader, en nie ons sondes van Hom probeer wegsteek of dit regverdig nie. Om hierdie rede moet ons die troon van God met vrymoedigheid nader wetende dat ons vrymoedigheid op die feit van ons geloof in die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis vir ons gebaseer is, en dat Hy ons vergifnis bewerkstellig het en dat deur die glo van die evangelie ons verhouding met God herstel is. Gegewe hierdie feite kan ons met absolute sekerheid weet dat ons nie meer van God vervreemd is nie, maar dat die Here Jesus Christus ons naby aan God deur Sy bloed gebring het.
Ef.2:13 “Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.”
Ons kan dus ons hemelse Vader met vrymoedigheid nader, wetende dat die weg na Hom deur die Here Jesus Christus bewerkstellig is, naamlik:
Heb.10:19 “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die (hemelse) heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus 20 op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, 21 en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, 22 laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.”
God se nabyheid aan Sy kinders is ‘n gawe wat ons met vrymoedigheid en sonder aarseling moet aanneem.
Ter afsluiting: Ons hemelse Vader is altyd gereed om ons te ontvang wanneer ons Hom nader. God wil graag hê dat Sy kinders Hom moet nader en ons keuse om Hom te nader word altyd met Sy liefdevolle teenwoordigheid beloon. Ons moet nooit op ons emosies gaan nie maar slegs wat God in Sy woord (die Bybel) aan ons sê. Die skrifte verklaar onomwonde dat indien ons God nader Hy ons sal nader. Dit is ‘n belofte wat ons in geloof moet aanvaar en dit maak nie saak hoe ons op daardie stadium voel nie. Onthou, emosies kan misleidend wees. Ons moenie God se teenwoordigheid met gevoel verwar nie.
Jak.4: 8a “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.”
In Christus het ons die absolute versekering dat God ons hoor as ons Hom aanroep.Ps.145: 19: “Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.”
Dit is van uiterste belang dat ten alle tye besef dat ons vrye toegang tot God het, nie op grond van ons verdienste nie maar a.g.v. die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis vir ons. Hierdie wete behoort ons verhouding met God te transformeer. Hierdie feit ondermyn die satan se leuens dat ons onwaardig is om ‘n verhouding met ons Hemelse Vader te geniet. In onsself is ons onwaardig, maar op grond van ons geloof in die evangelie, en die ontvangs van die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid is ons waardig om God te nader. Die voltooide werk van die Here Jesus Christus aan die kruis het God se troon van oordeel na die troon van God se genade verander. Hierdie feit geld egter slegs vir diegene wat die ware evangelie van God se genade versteen en geglo het.
Joh.5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.”
In die oomblikke wanneer die twyfel ons wil oorweldig, moet ons altyd onthou dat ons God se belofte het dat Hy altyd naby ons is en elke uitroep van ons harte aanhoor. Ons toegang tot God is vir ewig deur Christus bewerkstelling, en ons kan met absolute sekerheid weet dat God se deure altyd vir ons oopstaan en dat Sy arms altyd uitgestrek is om ons te ontvang. Moenie dat die duiwel jou van iets anders oortuig nie.
Seën groete!
Vic