Bekommernis is ‘n gesindheidsonde en kan as ‘n vorm van selfkastyding bestempel word. Bekommernis is ‘n gesindheidsonde in die sin dat die oorsprong daarvan in ons verstand, naamlik die nie-stoflike faset van die mens, of te wel die hart, te vinde is. In hierdie opsig is bekommernis die oorsaak van vrees in ‘n persoon se hart wat daartoe aanleiding kan gee dat ‘n persoon oor byna enigiets in die lewe angstig kan voel. In hierdie opsig kan ongeoorloofde vrees/bekommernis as ‘n vorm van selfkastyding bestempel word. Die gesindheidsonde van bekommernis, wanneer nie volgens skriftuurlike beginsels aangespreek word nie, het verontrustende gedagtes tot gevolg wat weer tot ‘n onstuimige gemoedstoestand aanleiding sal gee. Die gevolg hiervan is dat die persoon ‘n toestand van rusteloosheid en selfs agitasie sal ervaar wat weer ongemak, ‘n voorgevoel van doem, pynlike onsekerheid en selfs geestelike versteuring kan veroorsaak. Enige persoon wie se hart deur bekommernis gevul is verwag altyd net die slegste uitkomste, ervaar ‘n gevoel van gevaar, rampspoed of selfs die dood. In kort hulle ervaar ‘n soort van hel op aarde.
Omrede dit God se wil vir ‘n gelowige is om tot geestelike volwassenheid te ontwikkel, is dit belangrik om hier te noem dat geestelike gesindheidsondes een van die groot redes is waarom so min gelowiges werklik tot geestelike volwassenheid ontwikkel. In werklikheid kan gesindheidsondes in seker gevalle geestelike groei heeltemal ongedaan maak. Maak geen fout nie, gesindheidsondes is vernietigend vir die geestelike lewe. Geestelike gesindheidsondes is niks anders as ‘n kategorie van persoonlike gesindhede wat uitdrukking in hoogmoed, haat, bitterheid, wraaksug, onversetlikheid, jaloesie, afguns, angs, vrees, bekommernis, skuldgevoelens en selfbejammering vind. Vrees en bekommernis is ‘n gesindheidsonde omrede dit God se voorsienigheidsbeheer (voorsienigheid) in twyfel trek, en wat ‘n indirekte aanval op Sy woord/getrouheid is en daarom word ons in die woord gemaan om nie bevrees te wees nie, naamlik:
Jes.41:10 “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”
Indien gesindheidsonde nie aangespreek word nie sal dit vinnig tot ‘n kettingreaksie van meer sonde aanleiding gee.
Satan dra kennis van al hierdie dinge, en daarom is dit een van sy strategieë om korrekte leerstellings aan te val, of op die een of ander wyse die gelowige te mislei. Hy weet al te goed dat as die gelowige korrekte leerstellings inneem, metaboliseer en in sy lewe toepas, is die gelowige in ‘n posisie om oor gesindheidsonde te heers wat sal beteken dat bekommernis nie meer ‘n houvas op die gelowige kan hê nie. Vrees en bekommernis is ‘n groot wapen in Satan se gereedskapkis van metodes om die gelowige te laat struikel, en homself d.m.v. vrees en bekommernis self te kasty. Die duiwel weet al te goed dat wanneer die gelowige homself oor alles bekommer hy homself nie net self kasty nie, maar bevraagteken sodoende ook God se voorsienigheidsbeheer en doen God op hierdie wyse ‘n oneer aan. Onthou, dit is God se wil dat die gelowige Hom in alles moet verheerlik, veral indien ons in gedagte hou dat die engele ons almal dophou en kan sien wanneer ons God oneer aandoen en die satan rede gee om die gelowige by God aan te kla. (die leser word aangeraai om weereens die artikel “God se voorsienigheidsbeheer” te lees.)
Wanneer ‘n gelowige in hierdie opsig struikel, hou die satan hierdie feit aan God voor en verklaar dat die gelowige nie werklik in Sy voorsienigheid vertrou nie. Die duiwel sal so ver gaan as om te beweer dat die gelowige slegs God dien omrede God alles met hom laat goed gaan, en sodra die gelowige se lojaliteit deur toetsing op die proef gestel word, sal die gelowige God nie meer so getrou soos voorheen dien nie.
Job.1:6 “En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom. 7 Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het. 8 En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad. 9 En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Job God vrees? 10 Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. 11 Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het — waarlik, hy sal U in u aangesig seën!” (vloek)
Hierdie is een van die redes waarom baie mense nie met dit wat hulle besluit het om vir die Here te doen deurdruk as dinge begin skeefloop nie. In gevalle soos hierdie hou die duiwel hierdie feit aan die Here voor. Dit baie hartseer en ons almal sal van tyd tot tyd op hierdie wyse getoets word.
God het alreeds ‘n strategiese oorwinning oor die satan aan die kruis behaal (die finale oorwinning van die stryd is dus alreeds bepaal) en satan se lot in die poel van vuur is bo enige twyfel bewerkstellig. Alhoewel die duiwel alreeds skuldig bevind en oorwin is, het God nog nie sy vonnis volkome uitgevoer nie. Satan sal eers na afloop van die Duisendjarige Vrederyk van Christus (Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 1) vir ewig in die poel van vuur gewerp word en dan sal sy vonnis finaal afgehandel wees. In tussentyd verkeer hy nog steeds op vrye voet en loop rond om te kyk wie hy kan verskeur.
1Pet.5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”
Satan kan niks direk aan God doen nie, maar hy kan die gelowige kry om in God se woord en die beloftes, wat binne die korrekte konteks daarin gemaak is, te twyfel of dit heeltemal te ignoreer. Wanneer die gelowige die evangelie glo dan is fase een van daardie gelowige se verlossing, naamlik wedergeboorte, finaal afgehandel. Omrede die gelowige nou in Christus is, het hy in Christus ‘n strategiese oorwinning oor satan behaal en hy kan nooit verlore gaan nie.
I John 5:5 “Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?”
Na afloop van fase een van sy verlossing, naamlik wedergeboorte, bevind die gelowige homself outomaties in fase twee van sy verlossing, naamlik die heiligmaking fase. Tydens die heiligmaking fase verwag God van die gelowige om van die genademiddels, soos in Sy woord (die Bybel) opgeteken staan, gebruik te maak om heiligmaking deur geloof in die krag van die Heilige Gees te bewerkstellig. Indien die gelowige korrekte leerstelling inneem, en dit in sy lewe toepas behaal behaal die gelowige taktiese oorwinnings oor satan en sodoende sal die Here verheerlik word. Satan daarenteen poog om die gelowige in God se woord te laat twyfel en/of hom te mislei, sodat die gelowige nie heiligmaking in die Gees bewerkstellig nie, en sodoende behaal die duiwel taktiese oorwinnings oor die gelowige. In gevalle soos hierdie doen die gelowige God dan oneer aan. Daarom streef die duiwel altyd om die gelowige sover te kry dat hy in die genoegsaamheid van God se genade, en in die voortreflikheid van Sy plan vir die gelowige moet twyfel of selfs verwerp.
Om hierdie rede is die leerstelling van God se voorsienige (of te wel logistieke), genade so ‘n belangrik faset van Sy voorsienigheidsbeheer. God se logistieke genade behels alles wat die gelowige in hierdie wêreld nodig het om te oorleef. Dinge soos byvoorbeeld suurstof, kos en klere en dit sluit ‘n plek om in te woon ook in. God se voorsienige genade sluit ook die beskerming van die gelowige in die wêreld waar satan as god regeer in. Daarbenewens speel God se voorsienige genade ook ‘n uiters belangrike rol in die bevordering van geestelike groei in die gelowige. Onthou, die koninkryke van die wêreld is onder die beheer van satan en daarom verwys Paulus na satan as die god van hierdie wêreld.
2Kor.4:4 “naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”
Solank as wat die gelowige nog in hierdie wêreld leef, speel God se logistieke voorsiening ‘n uiters belangrike rol in die gelowige se oorlewing in hierdie wêreld en sal voortduur solank as wat die gelowige nog op aarde lewe. Indien dit die Here se wil is sal hierdie onderwerp in die volgende artikel in meer diepte behandel word.
Die gesindheidsonde van vrees en bekommernis het as grondslag die persoon se ongeloof t.o.v. God se woord (die Bybel) en daarom het die Here Jesus Christus Sy dissipels vermaan om nie besorg te wees nie, naamlik:
Mat.6:25 “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe — wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam — wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? 26 Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 27 Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? 28 En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; 29 en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. 30 As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges? 31 Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? 32 Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. 33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, (deur die glo van die evangelie en die ontvangs van die Here Jesus se toegerekende geregtigheid) en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. 34 Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.”
Die beginsel van God se logistieke genade is omvangryk en dek al die gelowige se behoeftes. Dit behels slegs ons behoeftes en sluit nie noodwendig al ons begeertes in nie. In baie gevalle strek ons begeertes buite die raamwerk van God se wil, omrede dit soms op die grondslag van materialisme en gierigheid gebaseer is. Onthou, God weet alles en Hy is bewus van ons diepste motiewe.
Heb.4:12 “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.”
Indien ons onsself dood bekommer, belaster ons in werklikheid die karakter van ons hemelse Vader, omrede ons optrede demonstreer dat ons nie werklik glo dat Hy in staat is om na ons om te sien nie. Bekommernis dra niks tot geestelike groei by nie en is inteendeel nadelig vir enige geestelike groei. ‘n Persoon wat die heeltyd oor alles bekommerd is sal nooit in werklikheid tot geestelike volwassenheid ontwikkel nie. Vir die gelowige is daar absoluut geen rede om angstig te wees nie en homself oor alles te bekommer nie. ‘n Gesindheid van vrees en bekommernis is ‘n gesindheidsonde wat gemeenskap met God binne die raamwerk van die Christelike lewe ( fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking) verbreek en veroorsaak dat die persoon buite die wil van God vir hom lewe.
2Tim.1:7 “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.”
God verwag van ons om soos ligte in ‘n donker wêreld te skyn, maar vrees en bekommernis veroorsaak dat ons nie in hierdie doel slaag nie. Inteendeel, vrees en bekommernis verlaag ‘n persoon tot ‘n smeulende hoop as, en maak die donker in die lewe nog donkerder en sodoende skyn ons nie soos ligte in ‘n donker wêreld nie. In kort, vrees en bekommernis is nie ‘n goeie getuienis aan ons medemens dat God in staat is om na ons om te sien nie.
Ter afsluiting: Dit is uiters belangrik dat alle gelowiges hulleself aan korrekte Bybelse leerstellings blootstel. Hulle moet dan daardie leerstellings wat aan hulle verkondig word in hulle gedagtes metaboliseer en deur geloof in hulle lewens toepas. Dit maak nie saak hoe die persoon op daardie stadium voel nie. Ons moenie op ons emosionele toestand fokus nie maar op wat God in Sy woord verklaar. God se woord is die waarheid nie ons emosies nie. Emosies kan misleidend wees. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat die gelowige seker maak, dat dit wat aan hom/haar verkondig word wel korrekte Bybelse leerstellings is, en dat dit binne die korrekte dispensasionele konteks verstaan en toegepas word. ‘n Wyse persoon sal sekermaak dat hy heilsame voedsel inneem om sodoende sy liggaamlike gesondheid te bevorder. Dieselfde beginsel geld ook vir ons geestelike gesondheid, en dit wat ‘n persoon inneem het ‘n uitwerking op sy geestelike gesondheid.
Die enigste ding waarop ons moet staatmaak is God, en dit wat Hy in Sy woord aan ons opgeteken het.
Jes.40:29 “Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. 30 Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; 31 maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”
Of ons nou daarvan hou of nie, hierdie lewe is een groot toets wat uit afsonderlike kleiner toetse bestaan. Die eksaminator is God Homself en daarom is dit van uiterste belang dat ons die hulpmiddele wat Hy is Sy woord aan ons geopenbaar het, deur geloof in die krag van die Heilige Gees toepas sodat ons die toets sal slaag en Hom sodoende verheerlik. ‘n Persoon wat op sy emosies funksioneer is soos ‘n atleet wat vir ‘n kort entjie voluit in sy eie krag hardloop en hope energie opgebruik. Sodra sy emosies afneem, dan neem die ongeloof weer toe, en die geestelike doelstellings wat hy so graag wou bereik het word nooit bereik nie. Hy druip dus die toets, omrede hy op sy eie krag staatgemaak het wat niks anders as hout, hooi en stopsels is nie.
1Kor.3:11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”
Hy sal egter nooit die gawe van die ewige lewe kan verbeur nie, maar hy sal wel genadeloon verbeur en sy Heer oneer aandoen. Daarenteen kom God se krag nie in stampe en stote nie, maar is konstant, en is ten alle tye deur geloof aan die gelowige beskikbaar. Hierdie beginsel geld net vir solank as wat die gelowige die genademiddels wat God in Sy woord opgeteken het deur geloof in sy lewe aanwend. Boonop is God se krag nie van emosionele opsweping, menslike rasionalisering of enige iets anders afhanklik nie. Die gelowige wat geleer het om geduldig op die Here te wag, in Sy woord (korrekte Bybelse leerstellings) vertrou, en deur geloof in sy lewe toepas, sal krag ontvang om die toets van die lewe te slaag en sodoende God verheerlik. In kort: “hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” En dit ten spyte van enige situasie waarin die gelowige homself in mag bevind.
Seën groete!
Vic