Kategorisering van die Mens

Die Kategorisering van die Mens, ‘n Skriftuurlike Perspektief

Ons moet die woord van God korrek verklaar, sodat ons God se goedkeuring kan wegdra en ons onsself nie hoef te skaam wanneer ons eendag voor Hom staan nie.
2Tim.2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Hierdie beginsel geld ook ten opsigte van die Bybelse kategorisering van die mensdom. Die Bybel verdeel die mensdom in twee hoofkategorieë, naamlik ongelowiges en gelowiges. Nieteenstaande hierdie feit onderskei die Apostel Paulus gelowiges—persone wat reeds wedergebore is—verder in drie duidelike klasse of tipes Christene, en bied so ‘n meer genuanseerde beskrywing. Hierdie indeling help ons om die geestelike volwassenheid en groei van gelowiges binne die korrekte kontekstuele Bybelse raamwerk te verstaan.

Die twee hoofkategorieë:

1. Die Natuurlike Mens (Ongelowiges/Ongereddes): Dit sluit in alle mense wat nooit tot geloof in Christus kom nie. Dit sluit ook die oorgrote meerderheid van die belydende Christendom in wat op die een of ander manier menslike werke as ‘n vereiste tot slegs geloof in die evangelie byvoeg. Dit sluit dus almal in wat in die een of ander werke evangelie glo en wat nooit werklik geloof in Christus alleenlik geplaas het nie. Hierdie kategorie verwys na diegene wat nie uit die Gees van God wedergebore is nie. Hulle word ‘natuurlik’ genoem omdat hulle volgens die vlees lewe en nie die Gees besit nie. Paulus stel dit duidelik dat ‘n persoon wat tydens die Kerkdispensasie leef en nie die Gees van God het nie, nie aan Hom behoort nie.
Rom.8:9 “julle (gelowiges) is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, die behoort nie aan Hom nie.”

Hulle word ‘natuurlik’ genoem, want hulle leef volgens die vlees en besit nie die Gees nie. Paulus beskryf die natuurlike mens as iemand wat die dinge van die Gees van God nie werklik kan verstaan of aanneem nie.
1Kor.2:14 “Maar die natuurlike mens
(ongeredde mens) neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.”
Hierdie mense is dus geestelik dood en van God geskei totdat hulle tot geloof in Christus kom.

2. Die Gelowiges: Dit is slegs die mense wat die evangelie van God se genade op ‘n spesifieke tyd in hul lewens geglo het. Die groep gelowiges kan in ‘n verdere drie groepe geklassifiseer word.

a. Die Vleeslike Christen (Die Vleesgesinde Gelowige):

Paulus wys op ‘n groep binne die kring van gelowiges (wedergeborenes) wat hy as ‘vleeslik’ of ‘vleesgesind’ klassifiseer. Hulle is gelowiges wat wel vir Christus as Verlosser aanvaar het, maar wie se daaglikse lewe nog deur die vlees gekenmerk word; hulle verval dikwels in sonde en toon geen vordering in hulle geestelike ontwikkeling nie. Hulle is dus geestelik onvolwasse en hul onvolwassenheid is duidelik sigbaar in hul geneigdheid tot jaloesie, twis en ongeregverdigde verdeeldheid. Paulus verwys na hulle as ‘vleeslik’ (sarx in Grieks), wat aandui dat hulle geneig is om volgens hulle sondige natuur eerder as deur die Gees te leef.
1Kor.3:1 “En ek, broeders, (en dus gelowiges) kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. 2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, 3 omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?”

b. Die Kindjie of Baba in Christus:

Hierdie groep bestaan uit nuwe gelowiges wat nog baie jonk in hul geloof is. Hulle is wel wedergebore, maar kort geestelike volwassenheid en insig. Hulle is vergelykbaar met suiglinge wat melk in plaas van vaste voedsel benodig, aangesien hulle nog onervare in die Woord van God is en nog nie dieper Bybelse leerstellings begryp nie.
1Kor.3:1 “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.

Net soos wat ‘n pasgeborene eers melk moet inneem voordat hy na vaste kos oorgaan, moet nuwe gelowiges die basiese beginsels van die geloof geleer word voordat hulle na die dieper leerstellings oorgaan. Hulle is in die vroeë stadiums van groei en benodig onderrig en dissipelskap; hierdie hele proses verg tyd en die inname van korrekte Bybelse leerstellings. Ongelukkig gebeur dit soms dat gelowiges by die babastadium stagneer en nie soos verwag tot geestelike volwassenheid ontwikkel nie. Die gemeente waarna in die Brief aan die Hebreërs verwys word, dien as ‘n sprekende voorbeeld hiervan.
Heb.5:12 “Want hoewel julle (gelowiges) vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie.13 Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. 14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.

c. Die Geestelike Mens (Die Volwasse Gelowige):

Die laaste kategorie is die “geestelike mens”: ‘n gelowige wat volwasse is in die geloof, en wat deur die krag van die Heilige Gees in geloof leef. Alhoewel hierdie gelowiges nie sondeloos is nie, neem hul sondes af soos hul kennis van Christus en hul gehoorsaamheid aan God se Woord toeneem. Hulle begryp geestelike waarhede en leef ‘n lewe wat die karakter van Christus toenemend weerspieël.
1Kor.3:1 “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense (volwasse gelowiges) nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.
1Kor.2:15 “Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. 16 Want wie het die sin (gedagtes) van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons (volwasse gelowiges wat Paulus insluit) het die sin van Christus.”

Hoe om Geestelike Volwassenheid te Bereik:

‘n Christen ontwikkel tot geestelike volwassenheid deur aktief staat te maak op die hulpbronne wat God deur Jesus Christus en die Heilige Gees voorsien het. Geestelike groei geskied nie vanself nie; dit vereis ‘n bewuste, oomblik-vir-oomblik besluit om God te gehoorsaam en onder die beheer van die Gees te staan, eerder as om die Christelike lewe deur menslike pogings of wettisisme te probeer uitleef.

Vervolgens die stappe wat gevolg moet word:

1. Bou ‘n Intieme Verhouding met die Here Jesus Christus — Dit beteken dat ‘n mens deur gebed en aanbidding ‘n persoonlike en deurlopende verhouding met Hom as die lewende Woord van God ontwikkel.
Joh.15:4 “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.”

2. Die Sistematiese Bestudering van God se Woord — Die gelowige moet diep en gereeld met God se Woord omgaan en dit gehoorsaam. Dit voed die gees en help hulle om verder as die basiese leer (“melk”) tot die dieper waarhede/leerstellings (“vaste spys”) te vorder.
1Pet.2:2 “en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei,”
2Pet.1:5 “En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, (wat korrekte Bybelse leerstellings vereis) 6 en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, 7 en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde. 8 Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie;”
‘n Gelowige moet egter verseker dat hy homself aan korrekte Bybelse leer blootstel. As ‘n gelowige doelbewus met valse leerstellings omgaan, sal dit lei tot geestelike stagnasie en agteruitgang eerder as groei. Elke gelowige is persoonlik verantwoordelik vir die leerstellings waaraan hy homself blootstel.

3. Vrywillige Onderwerping aan die Gees — Dit behels ‘n daaglikse besluit om aan die Heilige Gees se oortuiging en krag toe te gee, deur die begeertes van die vlees te verwerp en ja te sê vir die leiding van die Gees.
Gal.5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;”
Die Heilige Gees wend die Woord van God wat binne die korrekte dispensasionele kontekstuele verband verstaan word as sy primêre instrument in heiligmaking aan. Deur die onderrig en verligting van die Skrif, oortuig die Gees gelowiges van sonde, lei hulle in die waarheid, en moedig hulle tot gehoorsaamheid aan. Hierdie voortgesette werk van die Heilige Gees stel gelowiges in staat om in heiligheid te vorder en om met verloop van tyd minder te sondig. Wanneer iemand weergebore word, vestig die Heilige Gees Hom permanent in die gelowige, en daardeur word die gelowige se liggaam die tempel van God. Hierdie inwonende teenwoordigheid van die Heilige Gees is die basis vir die gelowige se nuwe identiteit en voortdurende transformasie. Gelowiges moet egter nie die Gees bedroef of uitblus deur sonde of ongehoorsaamheid nie, omdat dit die proses van heiligmaking belemmer. Heiligmaking ‘n samewerkingsproses. Terwyl die Heilige Gees die krag en hulpbronne voorsien, moet gelowiges hulle deur geloof aan Hom oorgee, Sy opdragte gehoorsaam, en daagliks van Sy hulp gebruik maak. Hierdie samewerking lei tot ‘n lewe wat toenemend deur gelykvormigheid aan Christus, heiligheid en geestelike volwassenheid gekenmerk word.

4. Die Aanvaarding van die Waarheid van jou nuwe Identiteit in Christus — Die gelowige moet homself doelbewus reken as dood vir die ou natuur en lewend vir die nuwe natuur, en hierdie waarheid elke dag deur geloof uitleef.
Rom.6:11 “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.”

5. Oomblik-vir-Oomblik Toeëiening Deur Geloof — Net soos geloof alleen red, is dit uitsluitlik geloof wat die geestelike groei onderhou en bemagtig. Dit vereis dat jy staatmaak op God se beloftes en krag, eerder as op jou eie menslike wilskrag.
Rom.1:17 Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof (fase een van verlossing, naamlik wedergeboorte afgehandel) tot geloof, (fase twee van verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap wat voortgesette dade van geloof vereis word) soos geskrywe is: Maar die regverdige (alreeds wedergebore persoon) sal uit die geloof lewe.
Gal.3:11 En dat
niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.”
Indien die leser dit nie alreeds gedoen het nie word hy ten sterkste aangeraai om die artikel “Die Drie Fases van Verlossing” te lees.

6. Gemeenskap met Gelowiges — Dit behels dat ‘n mens deel word van ‘n gemeenskap waar die Woord korrek geleer en beoefen word, en aktief deelneem aan gebed, samesyn en diens, waardeur geestelike groei bevorder word.
Heb.10:25 “en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”

Slotsom: Beide die geestelike Christen asook die vleeslike Christen is gelowiges wat gered is en die hemel as bestemming het (1 Kor. 3:15; Rom. 8:1). Hul volwassenheid en gedrag in die Christelike lewe verskil egter aansienlik. Die geestelike gelowige is ‘n volwasse Christen wie se lewe toenemend deur die beheer en krag van die Heilige Gees gekenmerk word (Rom. 8:4-5). Alhoewel hierdie gelowige nie sondeloos is nie, verminder hul sonde gaandeweg, aangesien hulle hulself dood verklaar ten opsigte van die sondenatuur (Rom. 6:11) en in hul nuwe, Gees-gegewe natuur wandel (Gal. 5:16, 25). Die volwasse gelowige verstaan en pas dieper geestelike waarhede toe (1 Kor. 2:15; Heb. 5:14), openbaar die vrug van die Gees (Gal. 5:22-23), en streef na heiligheid deur op die krag van die Gees staat te maak (2 Thess. 2:13; Rom. 8:13). Die vleeslike Christen, daarenteen, is ‘n gelowige wat onvolwasse bly en deur sy sondige natuur gedomineer word (1 Kor. 3:1-3). Hulle word beskryf as mense wat optree soos gewone (ongeredde) mense, en wat afguns, twis, verdeeldheid en ander werke van die vlees aan die dag lê (1 Kor. 3:3; Gal. 5:19-21). Vleeslike Christene het nog nie in hul geloof bo die babastadium (of “kinderskoene”) uitgestyg nie; hulle is dikwels onwillig of onbekwaam om dieper geestelike leerstellings (“vaste spys”) te verteer, en verkies bloot die “melk” van die Woord (1 Kor. 3:1-2; Heb. 5:12-13). Hul lewens dra die stempel van vleeslike ambisies en sondige gedrag, wat soms selfs die van ongelowiges kan oortref. Alhoewel hulle kinders van God is (Rom. 8:16), versuim hulle om die hoër morele vlak wat van gelowiges verwag word, uit te leef, en belemmer sodoende hul eie geestelike groei deur hulle nie aan die Gees se beheer te onderwerp nie. Samevattend behels die sleutelverskil in die geestelike mens (volwasse gelowige) se groei, sy onderwerping aan die Heilige Gees (Rom. 8:14), en die openbaring van die vrug van die Gees (Gal. 5:22), terwyl die vleeslike Christen gedomineer bly deur die vlees (Rom. 8:5-8), gekenmerk word deur verdeeldheid en sonde, en ‘n gebrek aan geestelike volwassenheid toon.

Die onderskeidings wat in hierdie studie uitgelig is, is van kardinale belang vir die begrip van die diversiteit van geestelike ontwikkeling binne die kerk, en terselfdertyd onderstreep dit die noodsaaklikheid van voortgesette dissipelskap en geestelike groei. Onthou: Die Gees van God gebruik die Woord van God, in die kind van God, om die wil van God te volbring. Dit gebeur alles deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees, met die heerlikheid van God as doel, sodat ons waarlik tot seën vir ander kan wees.

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.