Werkheiligheid vs Verlossing

Die tragedie Werke-Gebaseerde Verlossing


Hierdie artikel is aan alle gelowiges gerig wat die evangelie geglo het en wat geleer is om na hulle eie werke te kyk om te bepaal of hulle werklik gered is. Het ‘n hartseer brief van ‘n persoon wat 68 jaar oud is ontvang en wat voel dat God hom al vir die laaste drie jaar verlaat het omrede hy nog steeds met sonde sukkel. Ek gaan die brief nie hier plaas nie want dit is lank en bevat boonop baie persoonlike inligting wat ek nie met ander wil deel nie. Ek gaan net een klein gedeelte van sy brief hier weergee omrede ek glo dat daar baie mense is wat met dieselfde probleem worstel. Vervolgens die stelling wat hy gemaak het: “Intussen is dit nou al 3jr dat ek voel God is nie meer met my nie en hoor nie meer my gebede nie. Ek weet presies wat die gevolge daarvan is en lê nagte lank wakker en betreur my lot. Bid vir genade, maar voel geen deurbraak nie.” Hierdie artikel is op antwoord van sy boodskap geskryf en alle gelowiges wat met dieselfde probleem worstel kan hierdie brief lees en op hulleself toepas.

Antwoord: Dis tevergeefs om te probeer verdien wat God gratis gee. So ‘n poging sal jou net geestelik uitput en onseker laat. Jy sal altyd met die vraag worstel of jy werklik goed genoeg gedoen het. Die feit is dat jy nooit goed genoeg sal wees om jou eie verlossing voor God te bewerkstellig nie. Jy kon nooit en was ook nooit veronderstel om te kon nie. Jesus het nie gekom om verlossing ‘n onmoontlike taak te maak nie. Inteendeel, Hy het dit vryelik beskikbaar gestel aan elkeen wat glo
Joh.3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
Ef.2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”

Dit gaan nie oor jou werke nie, maar oor Sy onfeilbare beloftes aan jou. Hou op om die leer van werkeheiligheid te klim om sodoende in die hemel te wil kom. Wettisisme sal jou nie in die hemel bring nie. Vertrou eerder op Christus en Sy voltooide werk aan die kruis vir jou. Slegs indien jy dit doen sal jy ware rus vir jou siel vind.

Jou brief wys op die teologiese teenstrydigheid en emosionele druk/las wat ontstaan wanneer verlossing van jou prestasie/werke in plaas van God se genade afhang. Teologies gesproke ontken die Rooms Katolieke Kerk, die Oosterse Ortodokse Kerk, wat ook die Assiriese Ortodokse Kerk insluit, asook Arminianisme wat die Metodiste kerk, en alle Protestante Kerke wat verklaar dat ‘n gelowige uit genade kan verval, die volkomendheid van die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis. Evangeliese Kerke (wat Calvinisme insluit) wat “vrugte inspekteer” (geen vrugte beteken geen ware verlossing nie) om te bepaal of daar ware verlossing is, ondermyn ook die volmaakte werk van Christus aan die kruis.

Baie van die Bybelgedeeltes wat dikwels gebruik word om hierdie standpunte van hulle te ondersteun—soos Jakobus 2, Mattheus 7 en Johannes 15—handel eintlik oor dissipelskap, verhoudinge tussen gelowiges of die identifisering van vals leraars. Dit gaan nie oor die voorwaardes vir die ontvangs van die ewige lewe of die behoud daarvan nie. Boonop kan die vereistes wat in hierdie teksgedeeltes gevind word nie as toets aangewend word om te bewys dat ‘n persoon wat die evangelie geglo het werklik gered is nie. Om die dra van geestelike vrugte as ‘n toets vir die bewys van verlossing aan te wend, maak van heiligmaking ‘n toets vir redding, en dit is heeltemal in stryd met die evangelie van God genade.

Logies gesien, indien verlossing uit genade deur geloof is, maar jou plek in die hemel steeds deur jou werke/gedrag bepaal word, dan is sekerheid oor jou verlossing onmoontlik. En absolute sekerheid oor jou verlossing vorm ‘n onontbeerlike deel van reddende geloof. ‘n Persoon moet immers ten tye van die glo van die evangelie daarvan oortuig wees dat die Here vir al sy sondes (hede, huidige en alle toekomstige sondes) aan die kruis versoening gedoen het. En indien die Here vir al die persoon se sondes aan die kruis versoening gedoen het, hoe kan daar dan ‘n sonde oorbly wat sou veroorsaak dat die persoon verlore sou gaan? Mits ‘n persoon nie glo dat die Here vir al sy sondes aan die kruis versoening gedoen het nie, en dan kan dit nie gesê word dat die persoon reddende geloof uitgeoefen het nie. (Lees gerus die artikel Generiese Geloof vs Reddende Geloof”) Die Bybel leer duidelik dat die ewige lewe ‘n geskenk is wat deur geloof ontvang word (Efesiërs 2:8–9; Johannes 3:16), en nie iets is wat deur ons werke onderhou word nie (Galasiërs 3:3). Die gawe van die ewige lewe, en ons ewige sekuriteit word deur God se beloftes aan ons gewaarborg, nie deur ons eie gedrag of goeie werke nie (Johannes 10:28–29; Romeine 8:38–39). Die evangelie bied rus, nie vrees nie. Genade stel ons vry om met alle sekerheid te verklaar: “Christus het alles betaal – elkeen wat in Hom glo, het die ewige lewe.”

Vrye Genade is nie ‘n pleidooi vir wetteloosheid nie, dit is bloot Bybelse genade wat reg verstaan word. Om die feit dat gelowiges nie meer onder die Mosaïese Wet is nie (Romeine 6:14; 7:4; Galasiërs 3:24–25; 5:18) met wetteloosheid gelyk te stel is ‘n ernstige mistasting en beledig die Bybelse leerstelling van God se genade. Vrye Genade leer dat gelowiges onder die Wet van Christus (Gal. 6:2), die Koninklike Wet (Jakobus 2:8), en die Nuwe Gebod (Johannes 13:34) staan. Hierdie opdragte fokus op liefde, diens en godvresendheid. Dis nie ‘n manier om verlossing te bekom of te behou nie, maar is eerder ‘n natuurlike reaksie op die verlossing wat alreeds ontvang is. Trouens, Vrye Genade beklemtoon die groot verantwoordelikheid wat op God se kinders se skouers rus, met ernstige gevolge soos goddelike tugtiging (Hebreërs 12:6), die verlies van genadeloon (1 Korintiërs 3:15) en selfs die moontlikheid van vroeë dood (1 Korintiërs 11:30) indien ‘n gelowige moedswillig in voortgesette sonde sou voortgaan. Maar nêrens in die Skrifte dreig God Sy kinders dat hulle die gawe van die ewige lewe kan verloor nie. Die teendeel is egter waar:
Joh.10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand (dit sluit die gelowige ook in anders sou die Here nie hierdie stelling kon maak nie)sal hulle uit my hand ruk nie.”
Joh.5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het
(alreeds)oorgegaan uit die dood in die lewe.”

Net omrede ‘n gelowige nie die gawe van die ewige lewe kan verbeur nie, beken geensins dat hy wetteloos kan optree nie. Daar rus ‘n groot verantwoordelikheid op hom, en hoe hy sy lewe na aanvanklike wedergeboorte in hierdie lewe uitleef het ewige implikasies en sal bepaal watter posisie hy in die komende koninkryk sal beklee (Luk.19:17; Matt.19:28; 2Joh.1:8). Geestelike vrug en goeie werke behoort ‘n uitvloeisel van verlossing te wees, maar dit is nie outomaties gewaarborg nie. Dit kan ook nie as toets gebruik word om reddende geloof te bewys nie (1Kor.3:11-15; Lukas 8:13–14; 1 Korintiërs 3:1–3; ). Ware sekerheid van jou geloof rus op God se onveranderlike beloftes (Johannes 6:47), en nie op jou wisselvallige optredes/werke wat van dag tot dag verander nie. Fokus op die Here Jesus Christus en Sy beloftes aan jou, nie op jouself nie.

As elke ware gelowige outomaties sou vrugte dra soos wat Calvinisme beweer, hoekom het die apostels dan so aanhoudend gewaarsku, vermaan, gesmeek en berispe? Die Bybelse opdragte om in die Gees te wandel (Gal.5:6), in Christus te bly (Joh.15:5; 1Joh.1:5-7; 1Joh.2:28), die ou mens af te lê (Ef.4:22-24) en ons liggame as lewende offers te stel (Rom.12:1), is slegs nodig indien daar ‘n moontlikheid bestaan het dat gelowiges (alreeds wedergebore mense) nie outomaties goeie werke sou doen en heilige lewens lei nie. Dan praat ek nie eers van die Here Jesus se oproepe om bekering in boodskappe wat Hy aan die sewe gemeentes in Openbaring gerig het nie. Vervolgens maar een voorbeeld van baie, naamlik:
Openb.3:19 “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.”
Hierdie waarskuwings sou sinneloos wees indien die Heilige Gees outomaties goeie werke in ‘n gelowige se lewe sou voortbring. Die antwoord lê daarin dat mense wat alreeds die ewige lewe besit nog steeds na wedergeboorte sonde pleeg (1Joh.1:8) en kan afdwaal (Jak.5:19). Gehoorsaamheid is nie ‘n bewys van wedergeboorte nie, maar ‘n resultaat van geestelike groei. Geestelike groei vereis ‘n doelbewuste keuse van die gelowige se kant af. Genade red jou, genade leer jou, maar genade sal jou nie dwing of saamsleep om heiligmaking in jou lewe te bewerkstellig nie. Geestelike groei is egter nie ‘n vereiste om die gawe van die ewige lewe te ontvang nie, slegs geloof in die evangelie word vereis (Joh.3:18; Hand.16:31). ‘n Gelowige kan as ‘n geestelike baba sterf maar hy sal nog steeds gered bly (1Kor.3:1; 3:11-15). Lees gerus ook die artikel “Die Ewige Sekuriteit van die Gelowige vs die Volharding van die Heiliges

Net soos ‘n ouer hul kind waarsku om hulle teen seerkry te beskerm, waarsku God Sy kinders—nie om hulle te veroordeel nie, maar om hulle te beskerm. Wettiese predikers verklaar dat ‘n gelowige wat in sonde verval nooit in die eerste plek werklik wedergebore is nie. (Onder andere Calvinisme) Daarenteen maak moderne fariseïsme (mense wat beweer dat ‘n gelowige uit genade kan verval en verlore kan gaan) die godslasterlike bewering dat God sy kind wat in sonde val, sal verwerp en na die hel sal verban. (Iets wat die meeste mense, en selfs ongelowiges nie eers met hulle eie kinders wat afdwaal sal doen nie.) Maar God se boodskap is: “Jy behoort aan My, en Ek tugtig My eie kinders omdat Ek hulle liefhet” (Hebreërs 12:7-8; Openb.3:19). Hierdie waarskuwings is nie daar om twyfel oor jou saligheid te saai nie. Hulle is bedoel om jou geloof en verhouding met jou hemelse Vader na aanvanklike wedergeboorte in diepte te ontwikkel.

Die Bybel is vol waarskuwings aan gelowiges, maar dit is nie dreigemente van die hel vir gelowiges nie. Dit is eerder wekroepe van ‘n liefdevolle Vader. Die Waarskuwings is bedoel om ons geestelik te laat groei. Dit is nie dreigemente van verdoemenis nie. Boeke soos Hebreërs en Jakobus, asook Jesus se eie leringe, vermaan gelowiges gereeld om getrou te bly, sonde te vermy, gehoorsaam te wees en heilig te leef. Hierdie waarskuwings gaan nie daaroor dat jy jou saligheid kan verloor nie, maar eerder dat jy jou gemeenskap, vreugde en genadeloon kan verloor. Dit dien ook as ‘n waarskuwing dat jou Hemelse Vader jou sal tugtig indien jy nie tot inkeer kom nie
Heb.12:6 “want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.
Goddelike genade red jou vir altyd. Die ewige lewe is ‘n gratis geskenk wat ons ontvang slegs deur geloof in Jesus Christus alleen (Efesiërs 2:8-9, Johannes 5:24). Hierdie verlossing is onherroeplik: sodra jy gered is, is jy vir ewig gered. Dit is die Leerstelling van die Sekerheid van Verlossing of te wel Die Ewige Sekuriteit van die Gelowige.

Jou werke is nie ‘n vereiste vir redding nie. Jou gehoorsaamheid, diens en getrouheid beïnvloed nie jou saligheid nie, maar dit bepaal wel jou genadeloon, die lof wat jy van God ontvang en jou posisie in Sy toekomstige koninkryk (2 Korintiërs 5:10, 1 Korintiërs 3:13-15). Jou tuiste in die hemel is nie gebaseer op wat jy doen nie. As jy op Christus vertrou het, is jou plek daar verseker, ongeag jou werke. Jy verdien dus nie jou plek in die hemel nie, maar deur heiligmaking/dissipelskap bou jy eerder ‘n nalatenskap wat vir ewig in die hemel sal voortbestaan. (Matt.6:19-20)

Wanneer die Heilige Gees enige sonde in jou lewe vir jou uitlig, bely dit aan Hom en aanvaar in geloof die vergifnis wat Hy beloof.
1Joh.1:8 “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. 9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. 10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”
Onthou, sonde in ‘n gelowiges se lewe onderbreek die gemeenskap binne gesinsverband met God. Dit maak nie jou kindskap ongedaan nie. Indien jy slegs die evangelie geglo het dan is jy wedergebore en is vir altyd God se kind. Die enigste vereiste wat by God aanvaarbaar is om die gawe van die ewige lewe te ontvang is geloof in die evangelie. Daarom is dit verkeerd om te se dat jy jou lewe vir die Here gegee het want dan laat jy die ontvangs van die ewige lewe na ‘n transaksie tussen jou en God klink. Die gawe van die ewige lewe is kosteloos en word nie op grond van ‘n ruiltransaksie tussen jou en God bekom nie. God verwag van jou om die genadegawe van verlossing by Hom deur geloof in ontvangs (fase een van jou verlossing, naamlik wedergeboorte) te neem. Indien jy dit doen, dan besit jy die ewige lewe as onherroeplike gawe.
Rom.11:29 “Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.”
Nou dat jy vir ewige God se kind is verwag Hy van jou as jou Hemelse Vader dat jy leer om jou lewe aan die Here te gee. (fase twee van jou verlossing, naamlik heiligmaking waartydens jy leer om alle fasette van jou lewe aan die Here te gee. Dit is egter ‘n lewenslange proses maar is nie ‘n vereiste om die ewige lewe te ontvang of te behou nie. )

Ter afsluiting: My raad aan jou is om diegene wie jy benadeel het om vergifnis vir jou optrede te vra, en dan jou verlede te los waar dit hoort, naamlik in die verlede. Ons almal het ‘n verlede daarom het ons ‘n Verlosser nodig. Onthou, in Christus is jou verlede iets van die verlede en alles het nuut geword.
2Kor.5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”
Moet ook nie op jou gevoelens gaan nie. God het verklaar dat die geregtigde deur geloof sal lewe nie deur gevoelens nie.
Hebr.10:38 “Maar die regverdige (fase een van verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel en daarom verwys die skrywer na hom as regverdige) sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie.” Fase twee van verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap)
Bogenoemde teks praat geensins van die helse vuur nie maar voortgesette ongeloof na aanvanklike wedergeboorte kan veroorsaak dat God Sy kind tugtig, selfs tot so ‘n mate dat Hy sy fisiese lewe neem. Die gelowige gaan egter nie verlore nie. Lees gerus die artikels “Heb.10:26 en die opsetlike sonde”,en “Heb.6:6 “en afvallig geword het om dié weer tot bekering te vernuwe”” en “1Joh.5:16 Die sonde wat tot die dood lei” en laastens “Die Drie Fases van Verlossing

Jy moet God se beloftes dat Hy jou nooit sal verlaat nie (Hebr.13:5) in geloof aanneem al voel dit vir jou of Hy jou verlaat het. Jou gevoelens maak nie God se beloftes ongedaan nie. Gevoelens kan misleidend wees. Hou op om na jouself te kyk en vestig jou oë op God en Sy woord aan jou. Oordink Sy beloftes aan jou en fokus eerder oor hoe jy Hom as dissipel kan navolg, nie om die ewige lewe te bekom of te behou nie maar om Hom te verheerlik.
Rom.14:8 “Want as ons (gelowiges) lewe, leef ons (gelowiges) tot eer van die Here; en as ons (gelowiges fisies)sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”
Moenie ‘n teologiese kategorie-fout begaan deur om die vereistes vir wedergeboorte met die vereistes vir dissipelskap/heiligmaking te verwar nie. Ek is jammer vir die lang antwoord, maar ek sidder by die gedagte dat jy op jou ouderdom steeds oor jou eindbestemming twyfel. Dit is my bede dat hierdie antwoord jou rus vir jou siel sal gee. En onthou, die Here wil hê jy moet weet dat jy die ewige lewe as besitting het. 1Joh.2:25 “En dit is die belofte wat Hy ons beloof het, naamlik die ewige lewe.”
1Joh.5:13 Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe
(as huidige besitting) het (let op die tydsvorm. Fase een van jou verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel) en kan glo in die Naam van die Seun van God.” (fase twee van jou verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap waar God van jou verwag om deur voortgesette geloof heiligmaking toe te pas, en jou geloof op ‘n praktiese wyse d.m.v goeie werke uit te leef sodat jy nie onvrugbaar sal wees nie.)
Rus in die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis vir jou.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.