Drie Fases van verlossing illustrasie en die ewige lewe

Die wet van nie-teenstrydigheid en die ewige lewe

Vraag: Een van my kinders het op ‘n stadium die evangelie soos wat jy dit op jou webtuiste geplaas het geglo. Hy het daarna ook ‘n tydlank Jesus as ‘n dissipel gevolg, maar het in tussentyd net soos Demas in wie wêreld teruggeval. Hy lewe nie meer as ‘n dissipel van Christus nie maar jaag eerder rykdom en genot na. Ek is baie bekommerd oor hom en wil nie hê dat hy verlore gaan nie. Ons predikant het gesê dat my kind verlore sal gaan indien hy in daardie toestand tot sterwe kom. Hy het Joh.3:18 aangehaal om sy bewering te staaf. Ek het boonop ook op ‘n ander webtuiste gelees dat ‘n wedergebore persoon wel die ewige lewe kan verloor. Ek hoor graag jou opinie.

Antwoord: Ek het ‘n soortgelyke gesprek met ‘n vriend van my gehad en ek glo daar is baie mense wat met dieselfde vraagstuk as jy worstel. Hierdie vraag kom veral onder Gereformeerde Calvinisme voor, wie beweer dat indien ‘n persoon nie tot die einde van sy lewe bly glo nie, hy nooit in die eerste plek werklik geglo het nie. Die skrifte, asook die tweede wet van logika, naamlik die wet van nie-teenstrydigheid verklaar egter onomwonde dat indien jou kind die evangelie op ‘n punt in tyd geglo het, dan het hy die ewige lewe as ewige besitting en kan nooit verlore gaan nie. Hy het God se woord daarvoor. Mense wat glo dat ‘n gelowige wel verlore kan gaan (Armenianisme) weerspreek ook die skrifte en die wet van nie-teenstrydigheid.

Dit is ironies dat die teksgedeelte wat jou predikant aanhaal juis sy aanname weerspreek. Onthou, indien ons die woord van God korrek verklaar dan kan daar geen weersprekings in die Bybel wees nie. Die Bybel is God se woord aan die mens en Hy kan Homself nooit weerspreek nie. Wanneer ons dus ons teologiese stelsel opstel, dan moet ons altyd skrif met skrif vergelyk om seker te maak dat ons gevolgtrekkings nie met mekaar in botsing is nie. Dit sal uiters dwaas wees om enige teologiese leerstelling (of sisteem) te aanvaar sonder om eers self seker te maak dat dit wat daardie teologiese sisteem verklaar werklik vanuit die Bybel geregverdig kan word. Om hierdie rede moet ons skrif met skrif binne die korrekte dispensasionele konteks vergelyk alvorens ons enige teologiese stelsel aanvaar. Indien daar enigsins teenstrydighede te vinde is, dan lê die fout by ons uitleg van die Bybel (en dus by ons teologiese sisteem) en nie by die Bybel self nie. In gevalle waar daar wel teenstrydighede is, dan moet ons ons interpretasie daarvan hersien om by God se hele openbaring in die Bybel in te skakel. Onthou, indien ons die skrifte reg vertolk/verstaan dan kan daar geen weersprekings daarin wees nie.

Kom ons gaan kyk na Joh.3:18 en bespreek dit binne die korrekte skriftuurlike konteks.
Joh 3:18 “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo (verlede tydsvorm) het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”
Die konteks van bostaande teksgedeelte handel oor mense wat glo en mense wat nooit geglo het nie. Let op die stelling “nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.” Die Here Jesus Christus praat dus van mense wat nooit op enige gegewe tyd geglo het nie. Hy praat nie in hierdie konteks van mense wat op ‘n punt in tyd geglo het (en wat die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid ontvang en met die Heilige Gees verseël is. Rom.3:21-26; ) en dan later van die geloof afvallig geword het nie.

Paulus bevestig hierdie feit:
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, (verlede tydsvorm. Hierdie gelowiges het dus op ‘n spesifieke punt in tyd in die verlede geglo en het alreeds die ewige lewe ontvang) verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
En hierdie verseëling met die Heilige Gees strek tot en met fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking, wanneer ons tydens die eerste opstanding met ons verheerlikte liggame oorklee sal wees.
Ef.4:30 “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is
(teenswoordige tydsvorm. Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte is dus alreeds afgehandel) tot die dag van verlossing. (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking, waartydens alle gelowiges met hulle sondelose verheerlikte liggame oorklee sal wees.)
Die verseëling van die heilige Gees waarborg dus ons verlossing en daarom kan ‘n gelowige nooit verlore gaan nie.

Die skrifte verklaar onomwonde dat dit God is wat ons gered hou.
Joh.10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand
(dit sluit die gelowige self ook in) sal hulle uit my hand ruk nie. 29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.
30 Ek en die Vader is een.

Die ewige sekuriteit van die gelowige is nie iets waartoe die mens enige bydrae lewer nie maar dit is ‘n werk wat God alleen verrig. Moenie die Bybelse leerstelling van die “Ewige sekuriteit van die Gelowige” met die Calvinistiese dwaalleerstelling van “die volharding van die heiliges” verwar nie. Ek raai jou ten sterkste aan om die artikel “Drie Fases van Verlossing” asook die artikel “Heiligmaking in drie fases” te lees.

Indien ons Joh.3:18 in lig van Joh.5:24 lees dan merk ons dat die Here geloof op ‘n spesifieke punt in tyd in gedagte gehad het toe Hy die stelling in Joh.3:18 gemaak het naamlik:
Joh. 5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het (as huidige besitting. Let op die teenswoordige tydsvorm) die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het (let op die verlede tydsvorm) oorgegaan uit die dood in die (ewige) lewe.”

Die oomblik toe jou seun die evangelie geglo het, het hy die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid ontvang, (Hand.13:39; Rom.3:24,28;4:5) en God die Vader het op grond van hierdie feit jou seun regverdig verklaar. Met wedergeboorte skenk God aan die mens ‘n nuwe lewe, naamlik die ewige lewe, wat nooit tot ‘n einde kan kom nie (Tit.3:5). A.g.v. hierdie feite kan die gelowige nooit in die oordeel kom en verlore gaan nie. Die rede hiervoor is eenvoudig. Tydens die glo van die evangelie (op ‘n spesifieke punt in tyd) het die persoon onmiddelik oorgegaan uit die dood in die ewige lewe in. Onthou, niemand anders as die Here Jesus Christus, wie God is, het hierdie belofte gemaak.

Die webtuiste wat beweer dat ‘n gelowige die gawe van die ewige lewe kan verbeur, kan vanuit die skrifte en basiese logika weerlê word. Onthou, God is ‘n logiese wese en Hy het die skrifte aan ons gegee met die doel dat ons dit kan verstaan. Die tweede wet van logika, naamlik die wet van nie-teenstrydigheid, verklaar dat enige proposisie nie in die selfde sin, en op dieselfde tydstip waar en vals kan wees nie (A ≠ ¬A). Ons almal sal saamstem dat die proposisie 2 + 2 is gelyk aan 4 waar is, en dit is. Maar dan kan ons nie op dieselfde tydstip, en in dieselfde sin, verklaar dat die proposisie 2+2 = 4 vals is nie. Dit is net basiese logika.

Beide Armenianisme, wie glo dat die gelowige die gawe van die ewige lewe kan verbeur, asook Calvinisme, wat verklaar dat ‘n persoon wat in sy geloof struikel nadat hy die evangelie geglo het, en in daardie toestand doodgaan nooit in die eerste plek werklik wedergebore was nie, se teologiese sisteme kan nie die wet van nie-teenstrydigheid deurstaan nie. Albei hierdie teologiese sisteme weerspreek talle Bybelse waarhede en is dus logies onmoontlik. (ek praat hier van die Calvinistiese leerstelling van “die volharding van die heiliges” wat verklaar dat ‘n gelowige wat werklik wedergebore is tot en met sy dood gelowig/getrou aan God sal bly.) Ek moet weereens noem dat die leerstelling van die “ewige sekuriteit van die gelowige” nie dieselfde leerstelling as die Gereformeerde Calvinistiese leerstelling van “die volharding van die heiliges” is nie. Ek glo in die ewige sekuriteit van die gelowige en nie in die Gereformeerde Calvinistiese leerstelling van die volharding van die heiliges nie.

Geloof:

Generiese geloof kan as ‘n vaste oortuiging of vertroue in ‘n geïmpliseerde waarheid of stelling wat gemaak is omskryf word.(Ek sal jou ten sterkste aanraai om die artikel “Generiese geloof vs Reddende Geloof”, asook die artikel “Die proponente van werkheiligheid se herdefiniëring van geloof” sorgvuldig deur te lees. Reddende geloof vind plaas wanneer geloof in die regte voorwerp, naamlik die Evangelie, geplaas word. (Rom.1:16) Reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om jou persoonlike (volledige) sondeskuld (verlede, huidige en toekomstige sondes) voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom, en Hom alleen, daarvoor vertrou. Indien jou seun op enige gegewe tydstip hierdie evangelie geglo het, dan is hy die ontvanger van die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid en het die ewige lewe as huidige en ewige besitting.

Al sou hy dan later God verloën en ophou glo bly hy nog steeds gered, want die Here Jesus Christus het ook vir hierdie sonde van hom wat hy na afloop van aanvanklike wedergeboorte pleeg betaal. Die oomblik toe jou seun aanvanklik die evangelie geglo het, het Christus hom belowe dat hy nie in die oordeel kan kom om verlore te gaan nie. (Joh.10:28-29; 5:24 hierbo). Jou kind is immers ten tye van die glo van die evangelie met die Heilige Gees verseël (Ef.1:13) en dit tot en met die fase drie van sy verlossing, naamlik die eerste opstanding. (Ef.4:30) Die tweede wet van logika, naamlik die wet van nie-teenstrydigheid bevestig die feit dat jou seun nie kan verlore gaan nie. Hy kan immers nie God se belofte besit, dat hy nie in die oordeel kan kom nie, en dan a.g.v. sy latere sonde van ongeloof wel in die oordeel kom nie. Indien ‘n persoon die gawe van die ewige lewe kan verbeur deur nie in in die geloof te volhard nie, dan sou die ewige lewe “voorwaardelike lewe” genoem moes en nie die ewige lewe nie. Die selfde beginsel geld ook vir God se stelling dat niemand ‘n persoon wat op ‘n punt in tyd die evangelie geglo het, en met die Heilige Gees verseël is, uit God se hande kan ruk nie. (Joh.10:28-29) Niemand beteken niemand en dit sluit jou seun in, anders sou die term “niemand” betekenisloos wees. Onthou, dit is die Here Jesus Christus wat gesê het dat Hy niemand sal verloor wat die Vader Hom gegee het nie (Joh.6:39). Paulus stel dieselfde waarheid soos volg, naamlik:
Filip.1:6 “omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, (fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is op ‘n punt in tyd alreeds afgehandel) dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus;” (fase drie van hulle verlossing naamlik die wegraping/eerste opstanding)

Die wet van nie-teenstrydigheid en die term “Ewige lewe”:

Ek gaan duidelikheidshalwe weer Joh.5:24 en Joh.10:28-29 in lig van die die wet van nie-teenstrydigheid hier herhaal, naamlik:
Joh. 5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het (as huidige besitting. Let op die teenswoordige tydsvorm) die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het (alreeds, let op die verlede tydsvorm) oorgegaan uit die dood in die (ewige) lewe.”
Joh.10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand (dit sluit die gelowige self ook in) sal hulle uit my hand ruk nie. 29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.”
Indien ‘n persoon die ewige lewe besit, dan kan dit by definisie nooit tot ‘n einde kom nie, anders sou dit nie die ewige lewe genoem kon word nie. Indien ‘n persoon die ewige lewe kon verbeur, dat sou dit ‘n direkte weerspreking van die wet van nie-teenstrydigheid wees. Onthou, God kan Homself nie weerspreek nie.

Die sekerheid van God se beloftes en die wet van nie-teenstrydigheid:

Joh.6:37b “en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.
Heb.13:5 Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.
God verklaar dat Hy nooit ‘n gelowige sal uitwerp nie. Indien enige persoon verklaar dat die gawe van die ewige lewe a.g.v. sonde (wat ook die sonde van ongeloof na aanvanklike wedergeboorte insluit) verbeur kan word, dan beteken dit dat God se belofte waar en vals op dieselfde oomblik is. So ‘n konsep of stelling is ‘n logiese onmoontlikheid en weerspreek die wet van nie-teenstrydigheid.

Die finaliteit van verlossing/wedergeboorte en die wet van nie-teenstrydigheid:

Heb.10:14 “Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.”
(Ek sal jou ten sterkste aanraai om die artikel “Heiligmaking in drie fases”, asook die artikel “Drie fases van verlossing” sorgvuldig deur te lees indien jy dit nie alreeds gedoen het nie.)
Dit is ‘n logiese onmoontlikheid vir ‘n gelowige om vir altyd posisioneel in Christus volmaak te wees en op dieselfde tydstip nie vir ewig posisioneel in Christus volmaak te wees nie. So ‘n konsep is heeltemal in stryd met die wet van nie-teenstrydigheid en God se getrouheid.

Hier is nog ‘n verdere voorbeeld:
Ef.1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, (fase een van verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel) verseël is met die Heilige Gees van die belofte, 14 wat die onderpand (waarborg) is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.” (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking, wat ‘n God gewaarborgde feit is.)
Indien ‘n gelowige sy verlossing kan verbeur, dan is hy beide met die Heilige Gees verseël tot die dag van verlossing, en op die selfde tyd nie met die Heilige Gees verseël tot die dag van verlossing nie. So ‘n konsep is ‘n blatante weerspreking en kan nie vanuit die skrifte geregverdig word nie..

Die onherroeplikheid van regverdigmaking en die wet van nie-teenstrydigheid:

Rom.5:1 “Omdat ons dan (alreeds) uit die geloof geregverdig is, (deur die glo van die evangelie op ‘n punt in tyd is fase een van verlossing, naamlik wedergeboorte alreeds afgehandel) het ons (nou alreeds) vrede by God deur onse Here Jesus Christus; 2 deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons (alreeds) staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.
Rom.8:30b “en die wat Hy geregverdig het, (fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel) dié het Hy ook verheerlik.” (fase drie van hulle verlossing, naamlik die verheerliking/eerste opstanding.) Almal wat geregverdig verklaar is sal ook verheerlik word. Vanuit God (wie buite tyd bestaan) se perspektief is almal wat in Christus geregverdig verklaar is, ook alreeds verheerlik, en daarom word die verheerliking in hierdie teksgedeelte in die verledetydsvorm geskryf. Dit dien as verdere bewys dat niemand wat die evangelie op ‘n punt in tyd geglo het, en wat op grond van hierdie feit deur die Vader geregverdig verklaar is, ooit verlore sal kan gaan nie.

Regverdigmaking is ‘n wettige deklarasie van geregtigheid voor God. Dit is iets wat God die Vader t.o.v. die gelowige verrig die oomblik wanneer hy die evangelie glo. Indien die gelowige die gawe van die ewige lewe na afloop van die glo van die evangelie kan verloor, dan sou dit beteken dat hy beide geregverdig en nie geregverdig op dieselfde oomblik is. Of die Here Jesus Christus se eenmalige offer van Homself aan die kruis is voldoende en omkeerbaar, of dit was voorwaardelik en oneffektief. So ‘n situasie is ‘n logiese en skriftuurlike onmoontlikheid. Lees weer Rom.8:30b naamlik:
Rom.8:30b “en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (alles vanuit God se perspektief alreeds afgehandel)

Ter afsluiting:

Mense wat verkondig dat die gawe van die ewige lewe verloor kan word, of dat verlossing/wedergeboorte ‘n lewenslange proses is, weerspreek die wet van nie-teenstrydigheid en is ‘n logiese onmoontlikheid. So ‘n teologiese sisteem moet verwerp word want dit weerspreek God en Sy woord. Onthou, God is ook die God van logika. God is nie ‘n God verwarring nie. ‘n Persoon wat die evangelie geglo het besit die ewige lewe as huidige besitting. Die ewige lewe is ‘n onvoorwaardelike gawe wat deur geloof op ‘n spesifieke punt in tyd in ontvangs geneem word. Die ewige lewe is nie ‘n voorwaardelike gawe nie.

Indien jou seun die evangelie op ‘n punt in tyd geglo het, dan is hy vir ewig veilig in God se hande en niemand sal hom daaruit kan ruk nie. Dit beteken geensins dat daar nie gevolge vir sy sonde (van ongeloof na aanvanklike wedergeboorte) in hierdie lewe, sowel as die ewigheid sal wees nie. Maar hy sal nooit die gawe van die ewige lewe kan verbeur nie. Ek sal jou ten sterkste aanraai om die artikels
Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe”, en “Heb.10:26 en die opsetlike sonde”,asook “Heb.6:6 “en afvallig geword het om dié weer tot bekering te vernuwe” en laastens “1Joh.5:16 Die sonde wat tot die dood lei” te lees. En onthou, God werp nie Sy kinders weg nie. Dit is my bede dat hierdie artikel jou vraag beantwoord.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.