Jokobus en drie fases van verlossing

Jakobus 2:14-26, ‘n vers-by-vers Kommentaar


Jakobus 2:14 “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? 15 As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, 16 en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie — wat baat dit? 17 Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. 18 Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon. 19 Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder. 20 Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is? 21 Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie? 22 Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke? 23 En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ‘n vriend van God genoem. 24 Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie? 25 En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die boodskappers ontvang en met ‘n ander pad weggestuur het nie? 26 Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.”

Konteks en agtergrond: Die brief van Jakobus was aan gelowiges mense gerig wie alreeds die gawe van die ewige lewe by God deur slegs die glo van die evangelie in ontvangs geneem het. Om hierdie rede verwys hy na hulle as broeders. Fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is dus alreeds vir eens en altyd afgehandel en hulle was alreeds vir ewig veilig in God se hande. Hierdie gelowiges bevind hulleself nou in fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking waartydens God voortgesette dade van geloof verwag wat in praktiese goeie werke/dissipelskap uitdrukking behoort te vind. (Die leser word aangeraai om weereens die artikel “Drie Fases van verlossing” sorgvuldig deur te lees. Die konteks handel dus oor heiligmaking en nie wedergeboorte nie.

Tydens die skryf van hierdie brief was armoede ‘n algemene verskynsel en meeste gelowiges het van die hand na die mond geleef. Om te sê “Gaan heen in vrede, word warm, word versadig” sonder om werklike praktiese hulp te verleen was blote lippediens en is nie wat God van Sy kinders verwag nie. So ‘n gesindheid onder gelowiges was niks anders as ’n oppervlakkige vorm van Godsdiens nie en is nie by God aanvaarbaar nie. Werklike broederliefde vereis meer as blote woorde, dit vereis tasbare dade van liefde, lojaliteit en omgee. Wanneer ons die brief van Jakobus bestudeer, dan moet ons dit binne hierdie konteks verstaan, anders gaan ons die hele punt van die brief misloop. Dit is belangrik om te onthou dat die brief aan mense gerig is wie alreeds wedergebore was. Hierdie brief kan dus nie as toets aangewend word om vas te stel of iemand werklik wedergebore is nie of nie. Die rede hiervoor is eenvoudig, ons word op grond van slegs geloof gered en nie die doen van goeie werke nie.
Rom.3:28 “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”
Omrede ons slegs op grond van ons geloof gered is kan ons nie werke aanwend om te bepaal of ons waarlik gered (wedergebore) is nie. Om so iets te doen demonstreer die feit dat die persoon in ‘n werke evangelie glo. Die konteks van hierdie brief handel nie oor hoe om wedergebore te raak nie, maar eerder oor hoe ons, as alreeds wedergebore kinders van die Here, Hom as getroue dissipels behoort na te volg. Lees gerus weer die artikel “Moet nooit Wedergeboorte met Dissipelskap verwar nie” sorgvuldig deur.

Vers-vir-vers kommentaar van 2:14-26:


Teks: Jak.2:14 “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?

Kommentaar: Die stelling wat meeste kommentators laat struikel is die stelling “Dié geloof kan hom tog nie red nie?” Die vraag wat gevra en beantwoord moet word is wat die skrywer met die term “red” bedoel. Die gelowige kan duidelik nie in hierdie konteks van die ewige verderf gered word nie, want hy het alreeds die evangelie geglo en besit alreeds die ewige lewe as ewige besitting. Hy is dus alreeds van die hel gered. Fase een van sy verlossing, naamlik wedergeboorte is dus alreeds vir ewig afgehandel. Die konteks van hierdie teksgedeelte handel nie oor fase een van ‘n gelowige se verlossing, naamlik wedergeboorte nie, maar oor fase twee van sy verlossing, naamlik heiligmaking, waar dit van die gelowige verwag word om deur voortgesette dade van geloof goeie werke te verrig. Onthou, konteks, konteks, konteks. In Jakobus verwys die woord red (sōzō) dikwels na praktiese verlossing van ‘n lewe sonder vrug, die moontlike verlies van genadeloon en Vaderlike tugtiging (sien 1:21; 5:15, 20) en die hel is geensins hier ter sprake nie.
Tit.3:14 “Ons mense (gelowiges, wie alreeds wedergebore is) moet ook leer (iets wat hulle na aanvanklike wedergeboorte moet leer) om vir die noodsaaklike behoeftes goeie werke voor te staan, sodat hulle nie onvrugbaar mag wees nie.” (fase twee van ‘n gelowige se verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap) Die konteks handel dus nie oor hoe om wedergebore te raak of oor hoe om wedergebore te bly nie. Hierdie teksgedeelte is al baie keer verkeerdelik deur voorstanders van werke evangelies, soos byvoorbeeld Mar Mari Emmanuel misbruik om gelowiges met die helse vuur te dreig. Lees gerus weer die artikel “Vers-vir-vers-studie van Mattheus 7:15–23 en wolwe in skaapsklere” sorgvuldig deur

Teks: Jak.2:15 “As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het,”

Kommentaar: Die konteks handel oor arm gelowiges in die liggaam van Christus, naamlik die kerk/gemeente. Onthou, die ware kerk bestaan uit alle persone wat alreeds op grond van die feit dat hulle die evangelie van God se genade op ‘n spesifieke punt in tyd geglo het (en niks meer nie) en wat alreeds van die helse vuur gered is. Paulus bevestig hierdie feit, naamlik:
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Jakobus fokus op die materiële behoeftes binne die gemeenskap van gelowiges, en sy onderwerp handel oor meer as net blote lippediens waarby niemand werklik baatvind nie.


Teks: Jak.2:16 “en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie — wat baat dit?

Kommentaar: Vrome godsdienspraatjies sonder dade is absoluut waardeloos. Ware deernis vereis tasbare hulp; anders is dit waardeloos. ‘n Onaktiewe geloof bied geen oplossing vir krisisse nie en kan ook nie God se Vaderlike tugtiging en verlies van genadeloon voorkom nie. ‘n Gelowige wat homself op hierdie wyse mislei bly gered maar sy werke sal by die Regterstoel Oordeel van Christus verbrand word.
1Kor.3:15 “as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”


Teks: Jak.2:17 “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.

Kommentaar: Volgens die skrifte beteken die term “dood” nooit uitwissing van bestaan nie. Dit beteken altyd skeiding en die konteks moet die aard van die skeiding bepaal. Wanneer ‘n persoon byvoorbeeld doodgaan dan hou hy nie op om te bestaan nie. Sy liggaam en siel skei van mekaar en selfs die liggaam wat in die stof neergelê word sal eendag weer opgerig word. In die konteks van Jakobus 2:17 word daar van onaktiewe geloof gepraat wat van God se doel daarvoor geskei is. Let op die stelling “Net so is ook die geloof”. Daar is dus geloof teenwoordig maar dit is onaktief. In hierdie opsig is so ‘n persoon se geloof dood, of anders gestel “Dit is van God se doel daarvoor geskei”. ‘n Geloof sonder aksie is soos ‘n battery wat pap is en wat niks kan aandryf nie. Dit bestaan, maar in die sin van heiligmaking/dissipelskap is dit nutteloos en boonop baat dit ons medemens niks nie. Lees gerus ook die artikel “Sewe vorme van Dood in die Bybel” sorgvuldig deur.


Teks: Jak.2:18 “Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.”

Kommentaar: ‘n Uitdagingstema: Die enigste manier om jou geloof aan mense sigbaar te maak, is deur dade. Onthou, werke is nie die grondslag van die ewige lewe nie, maar slegs geloof in die evangelie is (fase een van verlossing, naamlik wedergeboorte). ‘n Aktiewe geloof is die manier waarop ‘n mens se geloof aan die wêreld getoon kan word (fase twee van verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap). Werke kan egter nooit as ‘n toets aangewend word om te bewys dat iemand werklik wedergebore is nie, omrede werke absoluut geen rol in ons verlossing speel nie, maar slegs geloof in die evangelie. Lees asb ook die artikel “Die proponente van werkheiligheid se herdefiniëring van geloof


Teks: Jak.2:19 “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.”

Kommentaar: Dit is moontlik dat ‘n persoon met korrekte leerstelling, in hierdie geval monoteïsme, kan saamstem sonder om baat daarby te vind. Onthou, daar is geen heilsplan vir demone nie en daarom sidder hulle al weet hulle dat God ‘n Drie-Eenheid is. In hierdie opsig glo demone ook in monoteïsme maar hulle kan nie geregverdig/gered word nie. Om slegs in monoteïsme te glo sal nie outomaties tot verlossing aanleiding gee nie, ‘n Persoon moet die evangelie glo om gered te word. Reddende geloof is om in die Here Jesus Christus die Seun van God te glo, wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om die persoon se (volledige) persoonlike sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal (dit sluit al sy verlede, huidige, asook toekomstige sondes in), en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom en Hom alleen daarvoor vertrou. Vir die gelowige is die voorwerp van sy geloof die Here Jesus Christus (wat Sy voltooide werk aan die kruis insluit). Ons moet onthou dat ons verlossing geensins op ons eie werke gebaseer is nie. Ons moet dus ons vertroue slegs in Christus alleen plaas, en nie in wat ons self doen nie. Daar is baie mense wat in God glo en wat Hom Here Here noem, maar wat op dieselfde tyd in een of ander werke evangelie glo en wat nooit werklik gered is nie. Lees gerus weer die artikel “Vers-vir-vers-studie van Mattheus 7:15–23 en wolwe in skaapsklere” sorgvuldig deur. Aan die anderkant is dit moontlik om iets te glo en dit nie openlik uit te leef nie. Baie mense glo dat rook gevaarlik is, maar rook nog steeds ten spyte van die feit dat hulle in die gevaar daaraan verbonde glo. In hierdie opsig besit hulle geloof maar leef dit nie uit nie. In dieselfde opsig kan ‘n persoon reddende geloof besit omrede hy die evangelie op ‘n punt in tyd geglo het en dus die ewige lewe besit, maar op dieselfde tyd versuim om sy geloof op ‘n praktiese wyse uit te leef. So ‘n gelowige bly gered, maar blote instemming met die waarheid is nutteloos as dit by fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap kom, waartydens voortgesette dade van geloof in goeie werke behoort uitdrukking te vind. ‘n Mooi voorbeeld hiervan vind ons in Johannes 12:42-43, naamlik:
Joh.12:42 “Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; (fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte was dus alreeds afgehandel. Sien ook Joh.3:15-16; 3:18; 3:36 ens.) maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. 43 Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God.” (Hulle het in fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap misluk, maar hulle het nog steeds die gawe van die ewige lewe besit, omrede geloof in Christus die bepalende faktor in ‘n persoon se verlossing is en nie werke nie. Die Here Jesus Christus bevestig hierdie feit, naamlik:
Joh.6:47 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het (let op die teenswoordige tydsvorm) die ewige lewe.”
Hierdie owerstes het in die Here geglo maar hulle het Hom in dissipelskap gevolg nie. Indien hulle egter op hierdie weg sou voortgaan dan sou hulle deur God getugtig word en genadeloon verbeur maar hulle sou nooit verlore kon gaan nie. Lees gerus weer die artikel “Verliese en Gevolge van Sonde in die Gelowige se Lewe“, asook die artikel “Die onderskeid tussen ‘n Dissipel en ‘n Gelowige“)


Teks: Jak.2:20 “Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?”

Kommentaar: Jakobus beklemtoon weereens die gedagte van passiewe geloof sover dit heiligmaking/dissipelskap aanbetref. Die woord “dood” beteken in hierdie konteks onaktief, vrugteloos of passief. Sover as wat dit goeie werke na aanvanklike wedergeboorte, naamlik heiligmaking/dissipelskap aanbetref, is ‘n onaktiewe geloof van God se doel vir geloof geskei. Ef.2:10 bevestig hierdie feit, naamlik:
Ef.2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds vir altyd afgehandel) tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap, waartydens God voortgesette dade van geloof wat in werke uitdrukking vind van ons verlang.)
Paulus se doel in hierdie konteks is dus om die traagheid in die praktiese uitleef in hierdie gelowiges se geloofslewe aan te spreek, en hy bevraagteken geensins die feit dat hulle wedergebore is nie. Hy poog dus om hulle tot aktiewe geloofswerke aan te spoor wat hulle medemens tot seën sal strek en wat die Here sal verheerlik. Lees gerus weer die artikel “Wedergeboorte en die rede vir goeie werke” sorgvuldig deur.


Teks:Jak.2:21 “Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie?”

Kommentaar: Om hierdie teksgedeelte reg te verstaan is dit uiters belangrik dat ons die konteks, asook die tydsverloop van Abraham se lewe in ag neem. Jakobus verwys hier na die feit dat Abraham bereid was om sy seun aan God te offer toe God hom getoets het. (Gen.22:1-19) Geregverdig (Grieks, dikaioō) in hierdie konteks beteken om voor mense en in die geskiedenis as regverdig ten toon gestel of verklaar te word. In hierdie opsig het hy sy geloof op ‘n praktiese wyse uitgeleef en hierdie hele gebeurtenis handel oor fase twee van Abraham se verlossing, naamlik heiligmaking nie oor hoe en wanneer hy die gawe van die ewige lewe ontvang het nie. Tot vandag toe dien Abraham se uitleef van sy geloof as voorbeeld vir ons en sal ook vir diegene in die toekoms as voorbeeld dien. Fase een van Abraham se verlossing, naamlik die ontvangs van Christus se toegerekende geregtigheid, en meegaande gawe van die ewige lewe, was omstreeks dertig jaar voor die gebeure wat Jakobus hier beskryf alreeds vir ewig afgehandel. Nog meer, Abraham was alreeds voor die geboorte van sy seun deur God geregverdig verklaar.
Gen.15:5 “Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. 6 En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” (fase een van Abraham se verlossing was toe afgehandel en hy het die gawe van die ewige lewe as ewige besitting by God ontvang)
Abraham het nie die ewige lewe ontvang omrede hy enige werke gedoen het, of bereid was om sy seun te offer nie, maar het dit slegs op grond van sy geloof in God ontvang. Paulus gaan uit sy weg uit om hierdie feit te beklemtoon, naamlik:
Rom.4:2 “Want as Abraham uit die werke geregverdig is, het hy iets om op te roem, maar nie teenoor God nie. 3 Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken. 4
Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste;”
Paulus het dus in bostaande teksgedeelte fase een van die gelowige se verlossing, naamlik wedergeboorte aangespreek en Jakobus spreek in sy brief fase twee van ‘n gelowige se verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap aan, waartydens ‘n gelowige goeie werke behoort voort te bring en waartydens hy voor sy medemens sy geloof op ‘n praktiese/aktiewe wyse behoort uitleef en God verheerlik.


Teks: Jak.2:23 “En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, (fase een van Abraham se verlossing soos in Gen.15:6 gevind is afgehandel en hy het die ewige lewe as ‘n genadegawe ontvang) en hy is ‘n vriend van God genoem.” (fase twee van Abraham se verlossing,naamlik heiligmaking/dissipelskap toe hy bereid was om in latere jare sy seun aan God te offer soos in Gen.22:1-19 gevind)

Kommentaar: Alhoewel Abraham jare lank ‘n gelowige was en nooit verlore sou kon gaan nie, was hy eers God se vriend genoem toe hy sy geloof op ‘n praktiese wyse uitgeleef het toe hy bereid was om sy kind aan God te offer (alle gelowiges kan verwag om op die een of ander wyse deur God getoets te word. Ons hele lewe is in werklikheid ‘n geloofstoets). ‘n Persoon kan wedergebore wees en nie noodwendig God se vriend genoem te word nie, net soos wat ‘n kind in ‘n menslike familie ingebore word maar nie ‘n vriend van sy ouers is nie. In so ‘n geval bestaan die ouer-kind verhouding deur geboorte maar die vriendskap verhouding mag a.g.v. verskeie redes nie bestaan nie. Abraham se gehoorsaamheid in sy daaglikse lewe het sy vroeëre regverdigmaking deur geloof sigbaar gemaak en hy is ‘n vriend van God genoem.


Teks: Jak.2:24 “Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?”

Kommentaar: Die frase “Sien julle” dui op ‘n menslike perspektief en nie ‘n Goddelike perspektief nie. Jakobus kom tot die gevolgtrekking dat aansprake van geloof deur dade voor mense geregverdig word. Paulus en Jakobus gebruik die woord “geregverdig” met verwysing na verskillende kontekste. Volgens Paulus verklaar God die goddelose as regverdig op grond van geloof, en nie deur werke nie.
Rom.3:28 “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.
Rom.4:5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”

Paulus fokus in hierdie konteks op fase een van ‘n persoon se verlossing, en verduidelik hoe ‘n persoon die gawe van die ewige lewe deur slegs geloof by God in ontvangs neem. Gal.2:16 bevestig hierdie feit, naamlik:
Gal.2:16 “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.”
In teenstelling hiermee, fokus Jakobus in sy brief op fase twee van ‘n persoon se verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap waartydens die volwassenheid van ‘n gelowige se geloof deur sigbare werke voor menslike waarnemers gedemonstreer behoort te word. Onthou, Jakobus het sy brief aan mense gerig wat alreeds wedergebore was en vir ewig veilig in God se hande is. (Jak.2:1; Joh.10:28)


Teks: Jak.2:25 “En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die boodskappers ontvang en met ‘n ander pad weggestuur het nie?

Kommentaar: Deur die risiko wat Ragab geneem het om Israel se spioene te help, het sy haar geloof in God voor haar medemens gedemonstreer en sodoende haar hele huishouding se fisiese lewens gered. Hier lê die klem weer op die sigbare wyse waarop sy haar geloof voor mense uitgeleef het, en hoe sy haar familie van die verwoesting van die stad gered het. Die konteks hier handel dus oor fase twee van verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap en sy moes alreeds teen hierdie tyd deur geloof in God die gawe van die ewige lewe by Hom ontvang het. Haar stelling aan die spioene bevestig hierdie feit, naamlik:
Jos.2:10 “want ons het gehoor dat die HERE die water van die Skelfsee voor julle by jul uittog uit Egipte laat opdroog het en wat julle die twee konings van die Amoriete, Sihon en Og, oorkant die Jordaan aangedoen het, dat julle hulle met die banvloek getref het. 11 Toe ons dit hoor, het ons hart gesmelt, sodat daar by niemand enige moed meer oorgebly het teenoor julle nie; want die HERE julle God, Hy is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder.”
Net vir interessantheid, en ‘n voorbeeld van God se genade. Ragab “die hoer” was in die Here Jesus Christus se menslike bloedlyn. (Matt.1:5)


Teks: Jak.2:26 “Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.”

Kommentaar: As ‘n finale analogie, dink aan ‘n liggaam wat wel bestaan, maar leweloos is—geen beweging en geen invloed nie. In hierdie opsig bestaan die liggaam nog maar is heeltemal geskei van die doel waarvoor die Here dit geskape het. ‘n Mens se geloof kan dus wel bestaan, maar dit sal onvrugbaar wees indien dit nie in aksie oorgesit word nie. In hierdie konteks dring Jakobus daarop aan, dat gelowiges hul geloof deur dade sigbaar maak en uitleef, sodat dit as ‘n “lewendige” en nuttige seën vir ander mense kan dien. Dit sal boonop die gelowige van die gevolge van God se Vaderlike tugtiging in hierdie lewe, en die verlies van genadeloon in die hiernamaals verlos.


Ter afsluiting: Baie mense het in die verlede beweer dat daar ‘n weerspreking bestaan tussen dit wat Paulus in Romeinse geskryf het en dit wat Jakobus in hierdie brief geskryf het. Ander het weer beweer dat Jakobus teksgedeeltes soos Johannes 3:16 en Handelinge 16:31 weerspreek. Ek gaan slegs Handelinge 16:30-31 hier weergee, naamlik:
Hand.16:30 “En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? 31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

Indien ons onthou dat die brief van Jakobus aan gelowiges gerig is wat alreeds die gawe van die ewige lewe besit het (fase een van hulle verlossing was dus alreeds afgehandel) sal die meeste misverstande uit die weg geruim word. Jakobus moedig sy lesers (wie alreeds wedergebore is en dus gelowiges is) aan om hul geloof aktief uit te leef, nie net om ander te seën nie, maar ook om hulself van God se Vaderlike tugtiging in hierdie lewe te verlos en om beloning in die hiernamaals te verseker. Hy spreek sy lesers oor hulle vrugtelose toeskouer-geloof aan en moedig hulle aan om hulle geloof op ‘n merkbare wyse as kinders van God uit te leef. (fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap). Hulle kan dit doen deur om in die behoeftes van medegelowiges te voorsien, genadig op te tree, en om hulle Christenskap op ‘n merkbare wyse uit te leef al kos dit hulle in hierdie lewe baie. Werke bewerkstellig of bewys nie redding in God se oë nie. Inteendeel, dit voltooi geloof se doel in die proses van dissipelskap, regverdig ons aansprake op geloof voor mense en verseker uiteindelik Christus se aanprysing en meegaande genadeloon. Alle gelowiges behoort daarna te streef om die Here Jesus Christus se aanprysing te hoor, naamlik:
Matt.25:23 “Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.”
Moenie fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte, met fase twee van ons verlossing, naamlik dissipelskap verwar nie. Lees gerus weer die artikel “Moet nooit Wedergeboorte met Dissipelskap Verwar nie” Indien jy die evangelie geglo het, dan is jy vir ewig God se kind en kan nie verlore gaan nie. Jy kan egter deur jou Hemelse Vader in hierdie lewe getugtig word, genadeloon verbeur en onvrugbaar wees. Dit sal raadsaam wees om ook die artikel “Heb.10:26 en die Opsetlike Sonde” saam met bogenoemde artikel te lees. ‘n Persoon wat die evangelie geglo het kan egter nooit verlore gaan nie en dit is belangrik dat alle gelowiges in hierdie feit rus.

Joh.5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe (as huidige besitting) en kom nie in die oordeel nie, (kan nooit veroordeel wordnie) maar het (alreeds) oorgegaan uit die dood in die lewe.
Joh10:28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand (en dit sluit die gelowige in, anders sou God nie hierdie stelling kon maak nie) sal hulle uit my hand ruk nie. 29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. 30 Ek en die Vader is een.”
Glo God!

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.