Wil ons werklik hoor wat die Here aan ons wil sê, of wil ons net hoor wat ons sondige natuur begeer? As daar ooit ‘n tyd was om Paulus se waarskuwing aan Timoteus ernstig op te neem, is dit nou, in hierdie dae waarin ons leef.
2Ti 4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4:4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”
Is dit nie wat tans in die grootste gedeelte van die belydende Christendom gebeur nie? Praat van leerstellings en mense kyk jou skeef aan. Ek het gehoor hoe ‘n gewilde televisieprediker verkondig dat doktrines die kerk verdeel. Dink net by jouself: as ‘n prediker nie leerstellings verkondig nie, wat verkondig hy dan? Waarom het ons dan nog die Bybel? Moet die Bybel nie ons leerstellings bepaal nie? As die Bybel nie die laaste woord in die bepaling van doktrines is nie, kan enigiets as die waarheid verkondig word. Dit sal chaos tot gevolg hê – en is dit nie miskien wat ons vandag in die belydende Christendom waarneem nie?
Moet my nie verkeerd verstaan nie; ek wil ook nie die Kerk verdeeld sien nie, maar ek smag na ‘n Kerk wat in eenstemmigheid die Woord van God eerbiedig en verkondig. Baie van wat ons vandag in kerke hoor, kan nie vanuit die Bybel geregverdig word nie. Dus word daar van buite-Bybelse onthullings (“Revelations”) gebruik gemaak wat soms direk met die Skrif in botsing is. Vir my om geloofsgemeenskap met iemand anders te hê, moet daar ‘n gemeenskaplike geloof wees. Hoe kan ek gemeenskap hê met iemand wat nie die Bybel as God se finale Woord aan die mens aanvaar nie? Ek kan ook nie gemeenskap hê met mense wat God se Woord verdraai en herskryf net soos hulle wil nie. As ware Christen kan ek slegs gemeenskap hê met mense wat God se Woord as die finale gesag in alle fasette van die lewe aanvaar en eerbiedig.
2Ti 4:1 “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: 4:2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;”
Indien leerstellings nie meer verkondig word nie, is bogenoemde teksgedeelte sinneloos. Hoe anders kan ek iemand weerlê of bestraf as ek nie ‘n leerstelling het waarop ek my bestraffing baseer nie? En hoe kan dit wat ek verkondig getoets word as die Bybel nie die finale gesag in doktrine is nie? Is dit nie miskien waarom die Christendom lyk soos dit vandag lyk nie?
Deesdae gaan dit net oor getalle en nie oor die waarheid nie. Jesus en die Apostels se metodes van evangelieverkondiging is blykbaar nie meer aanvaarbaar nie. Die hedendaagse mens wil nie meer doktrines hoor nie, maar wil onthaal en vermaak word. As mense net na die Here kom om vermaak te word, wat gaan gebeur indien hulle vervolg word vir hulle geloof? (‘n Moontlikheid wat by die dag meer werklik lyk!)
2Ti 3:12 “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word. Joh 15:20 “Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar.”
en verder:
Openbaring 13:7 “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges og hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie.”
Soos ek hierdie artikel skryf, is ek bewus van die verskriklike lyding wat Christene in Eritrea en in ander plekke in die wêreld beleef. Hier is ‘n skakel vir diegene wat meer wil weet oor ons broers en susters wat vervolg word: http://www.opendoors.org.za/afr/
Hoe vol gaan die kerkbanke wees indien mense slegs na die Here Jesus Christus toe kom om vermaak te word? Mense wil nie meer hoor hoe sondig hulle is nie; hulle wil ook nie meer hoor van ‘n heilige lewe nie. Nee, hulle wil vermaak word en wil net hoor hoe om self meer geld te bekom, sodat hulle ook soos die hedendaagse superapostels hierdie wêreld kan geniet. Hulle vergeet die Here se waarskuwing teen die opgaar van rykdom in hierdie wêreld.
Mat 6:19 “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; 6:20 maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; 6:21 want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. Jak 5:1 Kom nou, julle rykes, ween en huil oor die ellendes wat oor julle kom. 5:2 Julle rykdom is bedorwe, en julle klere is deur die motte verniel. 5:3 Julle goud en silwer is verroes, en hulle roes sal tot ‘n getuienis teen julle wees en sal soos ‘n vuur julle vlees verteer. Julle het skatte vergader in die laaste dae.”
Deesdae kry mens die gevoel dat hoe groter die prediker se vliegtuig is, hoe meer navolgers hy of sy moet hê. Dit gaan nie meer daaroor of wat hulle preek die waarheid is nie. Mense kyk nie meer in die Bybel om seker te maak dat dit wat aan hulle verkondig word die waarheid is nie. Hulle word verlei deur ‘n valse evangelie van geld en voorspoed. Min mense besef dat hierdie predikers nie op geloof staatgemaak het om ryk te word soos hulle aan hulle hoorders verkondig nie, maar op die suurverdiende geld van oningeligte en soms desperate mense wat hulle valse beloftes glo.Van die kruis opneem en uit die wêreld uitkom, word daar niks gesê nie.
Mat 10:38 “En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Jak 4:4 Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”
Daar is nie een geval in die Bybel waar ‘n orkes Jesus of een van Sy Apostels gevolg het om sodoende mense te kry om na hulle te luister nie. Waarom word daar vandag so ‘n sterk klem daarop gelê? Nie dat ‘n orkes op sigself verkeerd is nie, maar as dit die rede is waarom iemand na die Here kom, is ek bevrees dat die persoon nie die ware Evangelie verstaan nie.
Die eenvoudige waarheid is dat mense nie meer die waarheid wil hoor nie. Die meeste mense val van die Here af weg as hulle nie voorspoedig is nie, of nie voordeel uit hulle Christenskap kan trek nie. Dit is veral so in die Westerse Kerk waar die Voorspoed-evangelie sterk aanklank gevind het. Mense stroom by die duisende na persone toe wat groot beloftes van rykdom aan hulle maak. Nêrens egter word die Kerk rykdom op aarde belowe nie; ons word eerder teen die gevare van rykdom gewaarsku.
Luk 18:25 “Want dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.” 1Ti 6:9 “Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang.”
Rykdom op sigself is nie sonde nie, maar die najaag en opgaar daarvan is. Die Here seën sekere mense met rykdom sodat hulle die hulpbronne wat Hy aan hulle toevertrou het, kan gebruik vir die verkondiging en verspreiding van die Evangelie.
1Ti 6:17 “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; 6:18 dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, 6:19 en vir hulle ‘n skat weglê, ‘n goeie fondant vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.”
Die gemeente van die Laodicense was ryk en het gevolglik gedink dat alles met hulle geestelike lewe in orde was, maar presies die teenoorgestelde was waar.
Openbaring 3:16 “Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. 17 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.”
Is ons nie besig om onsself ernstig te mislei nie?
Om mee af te sluit gaan ek ‘n teksgedeelte aanhaal om ons daaraan te herinner dat ons in die laaste dae leef en dat die koms van Jesus nie meer ver kan wees nie. Dit moet ons aanmoedig om die skriftuurlike waarheid getrou te verkondig, soos wat God wil hê, al kos dit ons alles in hierdie lewe. Boonop is dit ons plig om onsself van ‘n wêreldse gesindheid te weerhou.
2Ti 3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag thereof verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
Wil ons die waarheid hoor, of wil ons hê ons ore moet gekielie word? Dink mooi daaroor na!
Seëngroete, Vic