Daar heers groot verwarring rondom Christus se stelling dat ‘n persoon wat teen die Heilige Gees sondig nooit vergewe kan word nie, naamlik:
Mat.12:31 “Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. 32 En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.”
Sommige gelowiges wonder soms of hulle dalk hulleself aan hierdie sonde skuldig gemaak het. Ander weer verkondig dat ‘n gelowige homself (na aanvanklike wedergeboorte) aan bogenoemde sonde kan skuldig maak, en verlore gaan wat dan kwansuis as bewys dien dat gelowiges uit geloof kan verval en verlore gaan. (moderne Arminianisme) En dit inteenstelling met die Skrifte wat dit duidelik stel dat ‘n persoon wat die Evangelie verstaan en geglo het nooit verlore sal kan gaan nie.
Joh.3:15 “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Joh,5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.”
Hoe verduidelik mens dan hierdie oënskynlike weerspreking in die Skrifte?
Die probleem is egter nie in die Skrifte self te vinde nie, maar eerder by die uitleg van gegewe teksgedeelte. Om hierdie rede is dit belangrik om ‘n gegewe teksgedeelte binne die korrekte historiese konteks te verklaar. (wat die dispensasie waarin die stelling gemaak is insluit) Enige sinvolle stelling word binne ‘n spesifieke konteks gemaak, en dit geld ook vir die Here Jesus Christus se stelling soos wat ons dit in Mat.12:31-32 vind.
Die histories-kontekstuele agtergrond: Ons moet onthou dat daar ‘n chronologiese kontekstuele verloop van gebeure plaasgevind het, wat tot Christus die stelling, soos in Mat.12:31-32 gevind, aanleiding gegee het. Ek gaan net kortliks hierna verwys en die leser word aangeraai om self die betrokke teksgedeeltes sorgvuldig deur te lees.
- Vroeg tydens die Here se bediening, het Hy Homself d.m.v. Sy leerstellings as Israel se lang verwagte Messias bekendgestel. Christus se stellings soos in die bergpredikasie (Hoofstukke 5-7) gevind kan slegs deur die Jode se Messias (Wie God in die vlees was) gemaak word.
- Daarbenewens het die Here Jesus Christus persoonlik wonderwerke in die midde van die volk verrig, wat as bewys gedien het dat Hy wel die Messias was, en boonop oor die mag beskik om die koninkryk waarna Hy in die Bergpredikasie verwys het, tot stand te kan bring. (Matthéüs hoofstukke 8-10) In hierdie opsig was die koninkryk in hulle midde.
- A.g.v. Christus se leerstellings, en die wonderwerke wat Hy verrig het, het daar self van die godsdiensleiers na die Here gekom om hierdie hele aangeleentheid persoonlik vir hulleself te ondersoek, naamlik:
Luk.5:12 “En terwyl Hy in een van die stede was, kom daar ‘n man vol van melaatsheid; en toe hy Jesus sien, val hy op sy aangesig en smeek Hom en sê: Here, as U wil, kan U my reinig. 13 Daarop steek Hy die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil, word gereinig! En dadelik het die melaatsheid hom verlaat. 14 Toe gee Hy hom bevel om dit aan niemand te vertel nie; maar, sê Hy, gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging, soos Moses voorgeskrywe het, vir hulle tot ‘n getuienis. (Hierdie wonderwerk moes aan die priesters as bewys gedien het dat die beloofde Messias nou op aarde teenwoordig was.) 15 Maar die gerug aangaande Hom is nog meer versprei, en groot menigtes het bymekaargekom om te luister (Sy leerstellings) en deur Hom van hulle siektes genees te word. (Wat as bewys sou dien dat Hy die Messias is en dat Sy boodskap van God die Vader afkomstig is.) 16 Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid. 17 En op een van dié dae was Hy besig om (weer) te leer; en Fariseërs en wetgeleerdes wat gekom het uit elke dorp van Galiléa en Judéa en uit Jerusalem, het daar gesit, (hulle wou self hoor wat Christus verkondig en die wonderwerke op die proef stel.) en daar was krag van die Here om hulle te genees.”
Die Fariseërs en wetgeleerdes het ondersoek kom instel, om persoonlik vas te stel wie hierdie persoon Jesus dan nou is, en of die wonderwerke waarvan hulle gehoor het, wel werklike wonderwerke was wat volgens die Skrifte as bewys sou dien dat Hy die beloofde Messias is. - Indien daar wel wonderwerke plaasgevind het, hoe kon hulle daardie wonderwerke aan iemand anders as God self toeskryf? Die Here vind egter niks daarmee verkeerd dat Sy wonderwerke ondersoek word om die werklike bestaan daarvan te bevestig nie. Hiermee bedoel ek werklike wonderwerke, en nie beweerde genesings waarvan almal van hoor, maar wat nooit aan enige objektiewe ondersoek daarvan blootgestel word nie. (soos wat huidiglik in ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom die geval is nie) Onthou die Fariseërs en wetgeleerdes was teenwoordig toe die Here van Sy wonderwerke in hulle midde gedoen het.
Matt.12:10 “En daar was ‘n man met ‘n verdorde hand, en hulle het Hom gevra en gesê: Is dit geoorloof om op die sabbat gesond te maak? — sodat hulle Hom sou kan aankla.11Maar Hy sê vir hulle: Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in ‘n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie? 12 Hoeveel meer is ‘n mens dan nie werd as ‘n skaap nie! So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen. 13 Toe sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en dit is herstel, gesond soos die ander een. 14 Daarop het die Fariseërs uitgegaan en saam raad gehou teen Hom, sodat hulle Hom sou kan ombring.”
Let wel: Mense met ernstige, asook opsigtelike siektes was onmiddellik daarvan genees en dit ten aanskoue van ongewillige/ongelowige getuies.*
Onthou, hierdie hele konteks stel dit duidelik dat die Here Jesus Christus fisies teenwoordig was. Christus was persoonlik/liggaamlik teenwoordig toe Hy die volk geleer het, en het ook Sy wonderwerke voor al die mense daar teenwoordig (wat onwillige/ongelowige getuies insluit) verrig. Dit is in hierdie histories-kontekstuele agtergrond waarop daar nou ‘n persoon met ‘n bose gees na Christus gebring word en wie die Here genees.
Matt.12:22 “Toe het hulle ‘n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien.”
Met alles wat in hulle teenwoordigheid plaasgevind het, vra die skare met regte of Christus nie dalk die Messias kan wees nie, naamlik:
Matt.12:23 “En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?”
Gegewe die getuienis van die Skrifte, Christus se persoonlike leëring, asook die doen van wonderwerke in hulle teenwoordigheid, maak die godsdiensleiers egter nog steeds die volgende stelling, naamlik:
Matt12:24 “Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie.”
Op grond van die godsdiensleiers se stelling dat Hy die bose geeste d.m.v. die Duiwel uitdryf, lewer Christus die volgende uitspraak, naamlik:
Matt.12:31 “Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. 32 En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.”
Die godsdiensleiers wat by hierdie geldeenheid teenwoordig was, en wat hierdie bewering teen Christus gemaak het, het hulle dus aan ‘n sonde teen die Heilige Gees skuldig gemaak, waarvoor daar geen vergifnis verkry kon word nie.
Bespreking: Dit is in terme van bogenoemde histories-kontekstuele agtergrond, waarin Christus se stelling aangaande die onvergeefbare sonde van lastering teen die Heilige Gees verder verklaar moet word.
- Soms fokus ons so op die sonde teen die Heilige Gees, dat ons die feit dat daar ook teen Christus gesondig is heeltemal vergeet. Die godsdiensleiers het dus nie slegs teen die Heilige Gees gesondig nie, maar ook teen die Here Jesus Christus en hierdie feit dien as grondslag vir die onvergeefbare sonde van laster teen die Heilige Gees. Onthou, die Here Jesus Christus was fisies/liggaamlik in die godsdiensleiers se teenwoordigheid gewees toe Hy Sy leerstellings aangaande die Messiaanse Koninkryk aan die volk gelewer het. (die bergpredikasie) Boonop het die Here Jesus Christus in hulle teenwoordigheid genesings en ander wonderwerke gedoen, wat as bewys dien dat Hy, asook Sy boodskap van God afkomstig is, en dat Hy indien hulle Hom as Messias sou aanvaar, oor die mag beskik om die Messiaanse Koninkryk op aarde te vestig. (aangesien Sy liggaamlike teenwoordigheid die oprigting van die Messiaanse Koninkryk nou moontlik maak.) Ten spyte van al hierdie bewyse verklaar die godsdiensleiers eerder dat Hy nie die Messias kan wees nie, maar dat Hy eerder kop in een mus met Satan is. Die verwerping van Christus as hulle Messias was ‘n sonde teen Christus se Persoon, en hierdie verwerping van hulle Messias het as grondslag gedien wat tot die sonde van lastering teen die Heilige Gees aanleiding gegee het. Indien hulle nie die Here Jesus Christus as Messias verwerp het nie, sou hulle nie die onvergeeflike sonde van lastering teen die Heilige Gees kon gepleeg het nie. Die fisiese verwerping van Christus as Messias was dan ‘n vereiste element waarsonder die onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees nie sou kon plaasvind nie. Onthou hierdie feit. (Dit is ook vanuit die Skrifte opmerklik dat Christus, slegs na afloop van hierdie gebeure in hoofstuk 12 van Mattheus, Sy dissipels aangaande Sy komende kruisiging en opstanding vanuit die dood begin leer het. Dit was toe alreeds duidelik dat die godsdiensleiers Hom as Messias verwerp het. Voor die gebeure, soos in Matt. 12 gevind, plaasgevind het, het die Here die Koninkryk as “naby gekom” aan Israel voorgehou.)
- Die godsdiensleiers het ook teen God die Vader gesondig. Dit is God die Vader wat met Christus se doop hoorbaar verklaar het dat Christus Sy Seun was, en die Heilige Gees het ook by daardie geleentheid op ‘n sigbare wyse op Christus neergedaal, naamlik:
Luk.3:21 “En toe die hele volk gedoop en Jesus ook gedoop is, en Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan; 22 en die Heilige Gees het in liggaamlike gedaante soos ‘n duif op Hom neergedaal; en ‘n stem het uit die hemel gekom wat sê: U is my geliefde Seun; in U het Ek ‘n welbehae.” Onthou, hierdie gebeurtenis was al in die Ou-Testamentiese profesieë deur die Vader voorspel, naamlik:
Jes.42:1 “Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring.”
As sogenaamde skrifgeleerdes, moes die godsdiensleiers van hierdie teksgedeelte kennis gedra het. Matt.12:18 bevestig hierdie feit, naamlik: Matt.12:17 “sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur Jesaja, die profeet: 18 Kyk, my Kneg (die Messias, naamlik die Here Jesus Christus) wat Ek (God die Vader) uitverkies het, my Geliefde in wie my siel ‘n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig.”
Toe die godsdiensleiers verklaar het dat Christus Sy wonderwerke in die krag van Satan doen, het hulle ook God die Vader se getuienis aangaande Sy Seun, wat die belofte van die Heilige Gees insluit, verwerp. Ook vir die pleeg van hierdie sonde, moes die Here Jesus Christus liggaamlik op aarde, as God se Kneg, teenwoordig gewees het.
- Die feit dat die godsdiensleiers volkome getuienis ontvang het, wat Christus se Persoon, Sy leerstellinge, asook Sy wonderwerke insluit, en dan nog steeds voorgaan en die wonderwerke wat Christus verrig het aan die duiwel toeskryf, pleeg hulle die onvergeefbare sonde. Om hierdie rede het die Here die volgende stelling gemaak, naamlik:
Matt 12:32a: “En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word;”
Indien die godsdiensleiers slegs die Here Jesus Christus verwerp het sou hulle vergifnis van daardie sonde kon ontvang. Die godsdiensleiers het egter verder gegaan en ook die Heilige Gees se getuienis, naamlik Sy oortuigingswerk, asook die wonderwerke wat in Sy krag verrig was (en wat Christus se leerstellings bevestig het) verwerp. Nadat hulle hierdie getuienis verwerp het, was daar geen verdere getuienis wat aan hulle gegee sou word nie. Onthou, hulle het direk, en willens en wetens, God die Vader se getuienis aangaande Sy Seun, die Seun se getuienis self, asook die getuienis van die Heilige Gees verwerp, en voorgegaan en Christus se wonderwerke aan Satan toegeskryf. Derhalwe het die Here Jesus Christus die volgende uitspraak gemaak:
Matt12:32ff : “maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie (die Kerk Dispensasie) en ook in die toekomende nie.” (Die Messiaanse Koninkryk waar dit weer moontlik sal wees om hierdie spesifieke sonde te pleeg, want dan sal die Here weer fisies op aarde teenwoordig wees en wonderwerke in die mensdom se midde doen.) - Al die bostaande elemente moet teenwoordig wees alvorens ‘n persoon die onvergeefbare sonde kan pleeg. Onthou, dit is die Vader wat deur die Heilige Gees se oortuigingswerk ‘n persoon na die Here Jesus trek.
Joh.6:44 “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”
Toe die godsdiensleiers al hierdie getuienis verwerp het, en boonop Christus se wonderwerke aan Satan toegeskryf het, het hulle hulle lot verseël. Die Vader sou nou nie weer d.m.v. die Heilige Gees die betrokke godsdiensleiers na die Here Jesus Christus trek nie.
Ter afsluiting: Kan ‘n persoon vandag die onvergeefbare sonde teen die Heilige Gees pleeg? Die antwoord moet ‘n onomwonde “nee” wees. Vir ‘n persoon om vandag hierdie sonde te kan pleeg, sou vereis dat die Here Jesus Christus liggaamlik/fisies in hulle midde teenwoordig moet wees, waarop Hy die mense vanuit die Skrifte leer, en wonderwerke in hulle midde doen wat Sy boodskap as van God afkomstig bevestig. Sonder die element van die Here Jesus Christus se liggaamlike teenwoordigheid kan die onvergeefbare sonde nie gepleeg word nie. Onthou, die sonde van laster teen die Heilige Gees is nie slegs ‘n kwessie van ongeloof nie. Daar is geen indikasie in die Bybel, dat ‘n persoon wat tydens die Kerk Dispensasie (waarin ons onsself nou bevind) al die Evangelie gehoor en verwerp het, nooit weer ‘n kans gegun sal word om die Evangelie te glo om gered te word nie. Solank as wat daardie persoon nog steeds fisies lewe, staan dit daardie persoon vry om die Evangelie te glo om gered te word. Indien ‘n persoon sou sterwe voordat hy die Evangelie geglo het, dan sal daardie persoon vir ewig verlore wees en so ‘n persoon sal nie weer ‘n geleentheid kry om tot geloof in Christus te kom nie. Hierdie lewe is ons enigste kans om die geskenk van ewige lewe deur geloof in ontvangs te neem.
Onthou, in die briewe wat aan gelowiges (mense wat alreeds wedergebore is) gerig is, word ons gemaan om nie die Heilige Gees in ons lewens te blus of te bedroef nie.
1Thess. 5:19 “Blus die Gees nie uit nie.
Ef. 4:30 : En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”
Die feit dat wedergebore gelowiges vermaan moet word om nie hierdie sonde te pleeg nie, beteken dat ons wel daardie sonde kan pleeg en gereeld pleeg. Ef. 4:30 stel dit egter ook baie duidelik dat ons nog steeds deur die Heilige Gees, tot en met fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking, deur die Heilige Gees verseël bly wat beteken dat ons nooit verlore sal kan gaan nie. Ons behoort nie te sondig nie, (en moet sonde baie ernstig opneem) maar ons almal sondig wel van tyd tot tyd. (en dit sluit die sonde van die Heilige Gees bedroef en blus in) God in Sy getrouheid is egter die een wat ons veilig in Sy hande hou, nie onsself en ons eie goeie werke nie. (dit sou ‘n werke evangelie wees)
Seën Groete!