Vraag: Baie dankie vir die werk wat jy doen. Ek worstel egter met een probleem, dissipelskap . Ek sukkel om gemoedsrus in Christus te vind, omrede dit soms vir my voel asof ek nie die Here altyd volkome as dissipel navolg en alles doen wat Hy my beveel om te doen nie. Ek het die evangelie geglo maar as ek soms na al my foute kyk dan is ek nie so seker dat ek gered is nie. Het jy enige raad vir my.
Antwoord: Wat ‘n goeie en eerlike vraag. Dit is ‘n worsteling wat baie Christene deel, so jy is beslis nie alleen nie. Die feit dat jy hierdie vrae vra, wys juis hoe ernstig jy jou geloof opneem, en dit is ‘n goeie ding. Dit is egter nooit ‘n goeie ding om in God se beloftes te twyfel nie. Jou probleem lê daarin dat jy nie die nodige onderskeid tussen redding (fase een van jou verlossing, naamlik wedergeboorte) en dissipelskap (fase twee van jou verlossing, naamlik heiligmaking) tref nie. Wedergeboorte en dissipelskap is albei noodsaaklike dele van die Christelike lewe, maar hulle funksioneer verskillend en het unieke doelstellings, vereistes en resultate. Onthou altyd dat jy nooit genade met werke/verdienste kan “balanseer” sonder om genade self te ondermyn nie. In hierdie studie sal ek wedergeboorte met dissipelskap vergelyk, asook die doel, vereistes en resultaat/uitkoms van elkeen uitlig. Dit sal jou help om nie die vereistes vir wedergeboorte met dissipelskap te verwar en dit te vermeng nie. Solank as wat jy nie hierdie onderskeid handhaaf nie sal jy onsekerheid met jou verlossing ondervind. Boonop sal jy in die strik van werkheiligheid (wettisisme) trap, wat niks anders as ‘n vorm van Moderne-Fariseïsme is nie. Indien jy dit nie alreeds gedoen het nie raai jou aan om asseblief eerstens die artikel “Die Drie Fases van Verlossing” sorgvuldig deur te lees.
Wedergeboorte/Redding
Doel: Redding/wedergeboorte is die begin van die Christelike lewe. Dit is die daad waardeur God ‘n persoon se sonde vergewe en hom ‘n nuwe lewe in Christus skenk (en daarom noem ons dit ‘n genadegawe). Die primêre doel is om ‘n persoon vir ewig van die hel te red en hom vir ewige met God te versoen (wedergeboorte is ‘n daad/genadegawe wat nooit weer ongedaan gemaak kan word nie).
Joh.3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
Tit.3:5 “nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees 6 wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; 7 sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe.”
Vereistes: Die vereiste vir wedergeboorte is geloof (en geloof alleen) in die Here Jesus Christus, wie se dood en opstanding die volle prys vir sonde betaal het. Die Bybel verklaar dat wedergeboorte ‘n genadegawe van God is en dit kan nie deur enige menslike werke verdien word nie. Sodra ‘n persoon enige verder vereiste behalwe geloof aan die voorkant of agterkant van die evangelie byvoeg, dan verander daardie persoon die evangelie van God se genade in ‘n werke evangelie wat niemand sal verlos nie. Reddende geloof behels om in Jesus Christus, die Seun van God te glo, wat gesterf en uit die dood opgestaan het om vir al jou sondes (verlede, hede en toekomstige sondes) versoening te doen (te betaal). Deur slegs op Hom en Hom alleen vir jou redding te vertrou, ontvang jy die gawe van die ewige lewe as geskenk en jy sal nooit verlore kan gaan nie.
Ef. 2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 2:9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”
Ons ontvang die gawe van die ewige lewe slegs op grond van God se genade deur geloof en op geen ander wyse nie. Indien redding verdien of deur goeie werke behou moet word, dan is dit nie meer genade nie maar eerder meriete wat in werklikheid beteken dat ons onsself red (iets wat ons nooit sal kan regkry nie).
Rom.11:66 “En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.”
Uitkoms/resultaat: Die uitkoms van verlossing is die ewige lewe, die vergifnis van sonde, en ‘n nuwe identiteit as ‘n kind van God. Jy is nou “in Christus” en nie meer “in Adam” nie. Die grondslag van jou identiteit is nie jou eie geregtigheid nie, maar die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid wat jy ten tye van die glo van die evangelie by God ontvang het.
2Kor.5:21 “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”
Bogenoemde teksgedeelte word dikwels die “groot ruiltransaksie” genoem, waar ons sonde ten tye van die glo van die evangelie vir Christus se toegerekende geregtigheid verruil word. Dit is op grond van hierdie feit dat God jou geregverdig kan verklaar, asook die ewige lewe aan jou kan skenk en nog steeds geregtig kan wees.
Rom.3:25 “Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God 26 om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. 27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. 28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”(sien ook Rom.4:5; Rom.3:21-22; Filip.3:9; Rom.5:19)
Mense wat beweer dat ‘n gelowige (‘n persoon wat die evangelie op ‘n punt in tyd geglo het) a.g.v. sonde of gebrek aan heiligmaking uit genade kan verval, of nooit werklik in die eerste plek gered was nie, verwerp in effek die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid en poog in werklikheid om deur goeie werke (wat die wet insluit) hulle eie geregtigheid voor God op te rig. Paulus stel dit soos volg:
Fillip.3:8 “Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry 9 en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie,maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof;”
Dit is van uiterste belang dat jy altyd moet onthou dat wedergeboorte ‘n eenmalige gebeurtenis is wat op ‘n spesifieke punt in tyd plaasvind en nooit weer herhaal of ongedaan gemaak kan word nie.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, (fase een van jou verlossing, naamlik wedergeboorte is dus vir altyd afgehandel) 14 wat die onderpand (waarborg) is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”
Die verseëling met die Heilige Gees waarborg die feit dat jy vir ewig God se eiendom/kind is en dat Hy jou sal verlos. God het Sy eer aan hierdie feit/belofte gekoppel.
Heb.10:14 “Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak (fase een van jou verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel en jy besit nou die ewige lewe as ewige geskenk) die wat geheilig word.” (fase twee van verlossing, naamlik heiligmaking wat dissipelskap insluit. Ons sal later die kwessie van dissipelskap bespreek)
Indien die gawe van die ewige lewe op enige wyse tot ‘n einde kan kom, dan het die Here Jesus Christus ‘n fout gemaak toe Hy die volgende stellings gemaak het, naamlik:
Joh.5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het (alreeds. Let op die verledetydsvorm) oorgegaan uit die dood in die lewe.”
Joh.10:28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”
Ons weet egter dat Christus God is en Hy kan nie lieg of foute maak nie. Daarom is dit van uiterste belang om Sy beloftes te glo, anders maak ons Hom tot leuenaar.
Dissipelskap/heiligmaking:
Doel: Werklike dissipelskap is die lewenslange reis waartydens ‘n gelowige streef om die Here Jesus Christus te volg en soos Hy te word. Dit is ‘n opleidingsproses wat onmiddellik na wedergeboorte begin en nooit ophou nie. Die doel van dissipelskap is om toenemend ‘n toegewyde volgeling van Christus te word. Dissipelskap gaan daaroor om toenemend na die beeld van Christus getransformeer te word en is nie ‘n poging om gered te word of om ons self gered te hou nie. Dissipelskap/heiligmaking is ‘n proses waartydens ons Christus se heerskappy toenemend op ‘n praktiese wyse leer uitleef. Dit beteken dat die houvas wat sonde in ons lewens het toenemend verbreek moet word.
Vereistes: Om hierdie doel te bereik moet die gelowige heiligmaking in die krag van die Heilige Gees in sy lewe bewerkstellig. Dit behels tyd, toewyding, opofferings en goeie werke wat deur geloof in die krag van die Heilige Gees bewerkstellig moet word. Heiligmaking sal slegs kan plaasvind solank as wat ons in die Here bly, en dit beteken dat ons as Sy kinders moet doen wat Hy ons beveel.
Joh.15:3 “Julle (die Here praat met Sy wedergebore dissipels. Judas het Hom alreeds verlaat en gaan verraai) is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het. (Fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is dus alreeds afgehandel) 4 Bly (Grieks, “Meno”) in My, (“Bly” beteken om te bly, te vertoef, of om in ‘n noue verbintenis voort te gaan en wat noue voortgesette gemeenskap impliseer ) soos Ek in julle. (wat gemeenskap impliseer) Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. 5 Ek is die wynstok, julle (gelowiges) die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. (fase twee van verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap wat ‘n lewenslange proses is en wat opofferings en werke vereis.) 6 As iemand (enige dissipel) in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, (‘n Loot wat ophou om in gemeenskap te bly, verloor vrugbaarheid, nie die gawe van die ewige lewe nie) en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. (simboliseer die verlies van diensbaarheid aan sy medemens, geleenthede en genadeloon. Sien 1Kor.3:11-15) 7 As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry. 8 Hierin is my Vader verheerlik, dat julle (gelowiges wat alreeds die ewige lewe besit) veel vrug dra; en julle (gelowiges wat alreeds die gawe van die ewige lewe besit) sal my dissipels wees.”
Anders as wat baie predikers verkondig, handel die konteks van hierdie teksgedeelte nie oor verlossing van die helse vuur nie, maar handel oor dissipelskap. Dissipelskap wat werke insluit is nie ‘n vereiste vir die ontvangs van die gawe van die ewige lewe nie, slegs geloof is. Die ewige lewe kan slegs op grond van geloof in Christus (wat by implikasie Sy voltooide werk aan die kruis vir ons insluit) bekom word en op geen ander manier nie. Die skrifte maak hierdie feit baie duidelik, naamlik:
Gal.2:16 “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.”
Moenie die fout maak om elke keer wanneer die woord “vuur” of “verbrand” in die Bybel voorkom outomaties aan te neem dat die Bybel van die helse vuur praat nie. Die konteks waarin enige stelling gebruik word moet die betekenis daarvan bepaal. Wanneer Johannes 15:6 oor die gevolge van ‘n gebroke verhouding met Jesus waarsku, praat dit van geestelike onvrugbaarheid, tugtiging deur God en die verlies van genadeloon, maar nooit van die verlies van die ewige lewe nie. ‘n Gelowige wat ophou om die Here as dissipel te volg, se nuttelose werke sal by die Regterstoel Oordeel van Christus verbrand word, maar hyself sal op grond van God se beloftes, en die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid gered bly, maar soos deur vuur heen.
1Kor.3:11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”
‘n Gelowige wat nie die Here as dissipel navolg nie is t.o.v. diensbaarheid nutteloos en sal nie werklik deur Hom gebruik kan word nie. So ‘n persoon sal dus genadeloon verbeur wat ewige implikasies vir hom in die hiernamaals sal inhou. Hy sal egter nooit hel toe kan gaan nie, want dit is die Here wat Hom gered hou (Joh.10:28-29; Joh.5:24), deurdat hy die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid ontvang het. (Lees asseblief die artikel “ Verliese en Gevolge van Sonde in die Gelowige se Lewe” sorgvuldig deur.) ‘n Mens kan gered wees sonder om ‘n getroue dissipel te wees, net soos wat ‘n kind in ‘n familie gebore kan word, maar nog steeds ongehoorsaam kan bly. Of ons almal dit nou wil erken of nie, die Here Jesus Christus is en bly God. Om Hom die Here van jou lewe te maak, is egter ‘n lewenslange proses van heiligmaking, nie ‘n voorwaarde vir redding (wedergeboorte) nie. Redding/wedergeboorte is die fondasie en heiligmaking, wat dissipelskap insluit, is die gebou wat op die fondasie gebou word. Die een word slegs deur geloof ontvang, die ander word nagestreef (dit vereis werke wat deur voortgesette geloof in die krag van die Heilige Gees verrig behoort te word).
Uitkoms: Die uitkoms van dissipelskap is geestelike groei, heiligmaking, en die vrug van die Heilige Gees wat in ‘n gelowige se lewe sigbaar word. Dit lei tot ‘n dieper verhouding met God, en ‘n effektiewe getuienis in die wêreld. Boonop sal getroue dissipels met genadeloon en krone (gesagsposisies in die komende koninkryk) beloon word.
2Kor.5:10 “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.
Openb.22:12 “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”
Onthou, verlossing fase een, naamlik wedergeboorte is ‘n gratis geskenk wat slegs deur geloof ontvang moet word. Dissipelskap is ‘n duur verbintenis wat baie verpligtinge insluit en wat baie opofferings vereis. Dit sluit en goeie werke in waarvoor die Here Jesus Christus ons met genadeloon sal beloon. (indien ons dit verdien)
Ter afsluiting: Wedergeboorte vereis slegs geloof in Christus alleen (Efesiërs 2:8–9; Johannes 6:47) en maak jou vir altyd deel van God se familie. Daar is dus geen koste (of werke) aan die kant van die ontvanger van die gawe van die ewige lewe verbonde nie. Die ewige lewe is ‘n genadegawe, nie loon vir goeie werke nie. Om enige addisionele stappe of werke by slegs geloof in die evangelie by te voeg, is om die evangelie van God se genade na ‘n werke evangelie te verander wat niemand sal red nie.
Dissipelskap vereis goeie werke, opofferings, gehoorsaamheid, volharding en bybelstudie om as kind van God in die kennis van God toe te neem. (Lukas 14:27–33). Dit is ook tydens fase twee van ons verlossing waartydens ons leer om Christus volkome beheer oor ons lewens te gee en Hom Heerser van ons lewens te maak. Dit is egter ‘n lewenslange proses omrede ons almal nog soms na wedergeboorte sonde pleeg.
1Joh.1:8 :As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.”
Sonde demonstreer die feit dat Christus nie volkome heerskappy oor ons lewens geniet nie, en ons almal sondig nog na wedergeboorte. Dissipelskap leer jou dus om d.m.v heiligmaking as kind van God geestelik te groei.
Om dissipelskap ‘n vereiste vir redding te maak, is om die evangelie van God se genade na ‘n ander evangelie te verander (Gal.1:6-9). Samevattend, terwyl verlossing die eenmalige reddingsdaad is wat die Christelike reis begin, is dissipelskap ‘n lewenslange proses waartydens die gelowige die Here Jesus Christus navolg. Moenie die fout maak om na jou gebrekkige werke en jou eie geregtigheid te kyk om geloofsekerheid te bekom nie. Kyk na Christus en herinner jouself aan dit wat Hy vir jou aan die kruis bewerkstellig het, assook die feit dat jy die evangelie op ‘n punt in tyd geglo het. As gelowige staan jy nie voor God op grond van jou eie geregtigheid nie, maar jy staan voor Hom as Sy kind op grond van die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid. In Christus is jou sondeprobleem vir ewig opgelos. Rus in Sy beloftes nie jou verdienstelikheid nie.
Joh.6:47 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het (as huidige besitting. Let op die teenswoordige tydsvorm) die ewige lewe.
Jy bevind jouself nie nou in ‘n proeftydperk om te bepaal of jy goed genoeg is nie. In Christus het jy alreeds die ewige lewe.
Rom.6:23 “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.
Joh.10:28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”
In die lig van hierdie wonderlike waarhede moedig ek jou aan om jouself aan die Here Jesus Christus as dissipel toe te wy.
Rom.6:13 “En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat (alreeds) uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.”
Jy doen nie goeie werke om jouself te red of om jouself gered te hou nie. Jy doen goeie werke uit liefde en dankbaarheid uit vir dit wat God in Christus alreeds vir jou gedoen het. Dit is my bede dat hierdie antwoord jou gemoedsrus in Christus en Sy beloftes sal gee.
Seën groete.
Vic
Dankie: Aan almal wat tot hierdie bediening bydra: baie dankie vir julle onbaatsugtige opofferings. Julle vennootskap en toewyding maak dit alles moontlik. Mag God julle ryklik vir julle bydraes seën en julle ryklik daarvoor beloon. Deur julle ondersteuning is julle ware medewerkers in die werk van die Here.