liefde en toewyding

Persoonlike liefde en toewyding aan Christus die grondslag vir Goeie Werke

Voordat ons met hierdie studie oor persoonlike liefde en toewyding (Eng, Fellowship) aan die Here gaan begin, is dit egter eerstens noodsaaklik om die belangrikheid van goeie werke in die lewe van die gelowige te beklemtoon. Dit is ook egter so dat die beklemtoning van goeie werke soms ten koste van persoonlike liefde en toewyding ten opsigte van Here Jesus Christus aan lidmate voorgehou word, wat tot gevolg het dat meeste van die goeie werke wat ons vandag in die belydende Christendom waarneem, niks anders as werke in die vlees gedoen is en wat nie deur Christus by die Regterstoel Oordeel beloon sal word nie. Dit word in meeste gevalle as vanselfsprekend aanvaar, dat goeie werke die primêre, en in sommige gevalle selfs as die enigste, doelstelling in die morele uitleef van die Christelike lewenswandel beskou word. Vir sover dit suiwer morele en humanitêre ideale aanbetref, is goeie werke wel die hoogste ideaal vir die sekulêre en selfs nie Christelike gelowe, maar hierdie stelling geld egter nie vir die uitleef van ‘n Skriftuurlike Geesvervulde Christelike lewenswandel van die gelowige nie.

Voor daar verder oor bostaande stelling uitgebrei gaan word, is dit van uiterste belang om vooraf te noem, dat goeie werke en toegewyde diens aan ons medemens, ‘n baie belangrike rol in die uitleef van die gelowige se Christelike lewe vorm, en om hierdie rede verwag God diesulke optrede van die gelowige wie onder die dispensasie van genade lewe.
Efs 2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
1Ko 15:58 Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”
Derhalwe moet ons as gelowiges dit ook ingedagte hou, dat God ons lewens in oënskou gaan neem en ons verantwoordelik gaan hou vir die tipe lewens wat ons na aanvanklike wedergeboorte op aarde gelei het. (Die leser word aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” ook te lees.)
Rom 14:12 “So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.
2Ko 5:9 Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees. 5:10 Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”
(Die leser word aangeraai om die artikels “Gelowiges se Werke gaan beoordeel word”, asook “Die Gelykenis van die Ponde” te lees om die belangrikheid van goeie werke in die gelowige se lewe te besef.) Derhalwe kan dit onomwonde gestel word, dat indien daar nie goeie werke in ‘n gelowige se lewe te voorskyn gebring word nie, daardie gelowige nie aan God se doel vir sodanige gelowige se lewe voldoen nie. So belangrik as wat goeie werke ook al in die gelowige se lewe mag wees, is daar egter ‘n belangriker vereiste wat deur die oorgroot meerderheid van die belydende Christendom van vandag mis gekyk word, en wat ook nie genoegsaam deur predikers aan hulle gemeentes voorgehou word nie.

Persoonlike liefde en toewyding aan Christus: Alhoewel God goeie werke in die gelowiges se lewe vereis, en die gelowige ook vir diesulke goeie werke ryklik gaan beloon, is daar iets wat die Here egter belangriker as goeie werke in die gelowige se lewe beskou. God is liefde, en derhalwe begeer en waardeer Hy persoonlike liefde en toewyding aan Hom self meer as goeie werke. In die oorgrote meerderheid van die belydende Christendom, het die fokus op dienslewering en goeie werke doen, ongelukkig persoonlike liefde en toewyding aan Christus, as hoofdoel en beweegrede, van die Christelike lewe vervang. Daar moet in gedagte gehou word dat goeie werke, wat by die Regterstoel Oordeel van Christus beloon sal word, as genadeloon bekend staan. Slegs werke wat op grond van God se genade, in en deur die gelowige, deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees bewerkstellig word, sal deur Christus beloon word. Om hierdie rede word die loon wat ons sal ontvang genadeloon genoem, en daarom is dit net logies dat die persoon wat by die Regterstoel Oordeel van Christus beloon wil word, die Persoon agter die goeie werke soek en Hom, deur die die bestudering van die Bybel, beter te leer ken. Dit is uiters belangrik, om eerstens op ‘n verhouding met Christus, wat op persoonlike liefde en toewyding aan Hom gebaseer is, te fokus. En onthou, God kan nie van Sy woord geskei word nie. Indien ‘n persoon nie die leerstellings, soos wat ons dit in die Bybel vind, eerbiedig en respekteer nie, kan so ‘n persoon ook nie beweer dat hy die Here persoonlik ken, liefhet en respekteer nie!

Ons lewe ongelukkig in ‘n tydperk waar goeie werke en naaste diens die slagspreuk in die oorgrote gedeelte van die belydende Christendom geword het, en dit ten koste van ‘n verhouding wat op persoonlike liefde en toewyding aan die Here Jesus, as Persoon, gebaseer is. Daar word bitter min, of selfs glad nie, oor die onderwerp van persoonlike liefde en toewyding aan die Here Jesus Christus as Persoon gepreek nie. Mens hoor min van mense wat hulle Bybels oopmaak met die uitsluitlike doel om die Here Jesus as Persoon, soos wat Hy Homself in Sy woord aan ons bekendstel, (en nie hoe ons Hom in ons eie verbeeldings opmaak nie) te mediteer (Oordink) met die uitsluitlike hartsbegeerte om Hom werklik beter te leer ken nie. (Ek praat nie hier van mistiese metodes en ervarings wat ons deesdae in ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom gepraktiseer word nie. Baie mense handhaaf ‘n konsep van die Here Jesus Christus wat nie die produk van sorgvuldige rasionele Bybelstudie is nie, maar eerder die produk van hulle eie verbeelding is en hoe hulle graag wil hê die Here moet wees en optree. So iets is egter niks anders as afgodery nie, en die Jesus wat hulle aanbid, is die produk van hulle eie verbeelding en nie die Jesus van die Bybel nie. Ek praat hier van die Bybel op ‘n rasionele wyse, deur die gebruikmaking van die konsekwente letterlike, grammatiese en historiese metode van Bybel interpretasie te bestudeer, en dan oor die feite soos wat God Homself in Sy woord aan ons bekendstel, na te dink en Hom loof en prys vir Wie Hy is en wat Hy alreeds vir ons gedoen het. Dit alles, slegs op grond van Wie Hy is [wat al Sy attribute insluit] en niks anders nie.) Min mense besef werklik, dat persoonlike liefde en toewyding aan die Here, deur Hom as die belangrikste grondslag vir aanvaarbare diens aan Hom beskou word!

Die Here het derhalwe vir ons ‘n gebeurtenis in Sy woord laat opteken, wat tydens Sy eerste koms, tussen Hom en twee van Sy intiemste vriende op aarde plaasgevind het. En tydens hierdie gebeurtenis het die Here Sy opinie in sake hierdie aangeleentheid duidelik uitgespreek.
Luk 10:38 “En op hulle reis het Hy in ‘n sekere dorp gekom, en ‘n vrou met die naam van Martha het Hom in haar huis ontvang. 10:39 En sy het ‘n suster gehad met die naam van Maria; dié het aan die voete van Jesus gesit en na sy woord geluister. 10:40 haar Martha was baie besig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help. 10:41 Maar Jesus antwoord en sê vir haar: Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; 10:42 maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.”

Dit is opmerklik dat altwee susters toegewyde gelowiges was, wat die Here intens lief gehad het, maar hulle het twee uiteenlopende gesindhede teenoor die Here gehandhaaf. Martha se gesindheid was om die een of ander goeie werk of diens vir die Here te doen. Sy was so besig, om besig te wees, dat sy selfs met haar suster ongeduldig geraak het. Martha was “baie besig” en derhalwe blyk dit baie duidelik dat sy goeie werke en dienslewering as die mees belangrikste grondslag vir haar verhouding met God beskou het. Dit is ook opmerklik dat Martha nie met wêreldse dinge (sonde) betrokke was nie maar met diens aan God.

Martha het egter vergeet dat hulle Eregas egter niemand anders as die Almagtige God en Skepper van die heelal is nie!
Joh 1:1 ”In die begin was die Woord, (die Here Jesus Christus) en die Woord was by God, en die Woord was God. 1:2 Hy was in die begin by God. 1:3 Alle dinge het deur Hom (Die Here Jesus Christus) ontstaan, en sonder Hom (die Here Jesus Christus) het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.”
Boonop was hulle Eregas die waarheid en die Een wat vol van genade is, en die Een uit wie se volheid ons, as mensdom, genade op genade ontvang het. (en dit terwyl ons sondaars is en niks behalwe die Hel verdien nie!)
Joh 1:14 “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
Joh 1:16 En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.”
Martha was so besig om die Een, wat alles uit die oorvloed van Sy genade vrylik aan ons skenk, met tydelike dinge te dien, dat sy skoon vergeet het dat die Here wederkerige persoonlike liefde en toewyding aan Hom belangriker ag as enige goeie werke wat ons vir Hom kan doen. Haar suster Maria het by Jesus se voete gesit, en het wederkerige persoonlike liefde en toewyding met haar Heer geniet en in die proses het sy geestelike skatte by Hom ontvang. Martha was egter so besig om die Here met tydelike aardse dinge te bedien, dat sy nie die tyd gekry het om die geestelike dinge, wat Jesus Christus graag aan haar wou gee, in ontvangs kon neem nie.

Vir doeleindes van beklemtoning gaan die Here Jesus Christus se antwoord aan Martha weer aangehaal en bespreek word.
Lukas 10:41 “Maar Jesus antwoord en sê vir haar: Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; 10:42 maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.”
Uit Jesus se antwoord aan Martha, kan mens duidelik Sy opinie ten opsigte van die susters se twee uiteenlopende gesindhede tenoor Hom waarneem. Die Here het in teerheid Martha vir haar gesindheid (om oor baie dinge besorgd en verontrus te wees) gemaan en genoem dat haar suster die goeie deel (persoonlike liefde en toewyding) gekies het, wat Hy nooit van haar sou wegneem nie. Jesus Christus se antwoord aan Martha demonstreer die feit dat die Here ‘n gesindheid van persoonlike liefde en toewyding aan Hom (wat die begeerte om geestelike waarhede van Hom te ontvang insluit) baie belangriker ag, as tydelike aardse diens vir Hom gedoen, hoe belangrik hierdie diens ook al mag wees.

Ons sien weereens hierdie beginsel in werking, toe die Here Jesus Christus op ‘n latere geleentheid die apostel Petrus, nadat hy die Here verloën het, in sy amp herbevestig het. Ook by hierdie geleentheid het die Here persoonlike liefde vir Hom, as grondslag vereis, voordat Hy Petrus opdrag gegee het om Sy skape te voed en op te pas.
Joh 21:15 “Toe hulle dan klaar was met die môre-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei. 21:16 Hy vra hom weer die tweede maal: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Pas my skape op. 21:17 Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. Jesus sê vir hom: Laat my skape wei.”
Dus, kan dit bo enige twyfel gestel word, dat die Here Jesus Christus persoonlike liefde vir Hom, as die primêre vereiste stel, voordat ‘n persoon geestelike waarhede aan ander gelowiges kan oordra. Hierdie waarheid sal duideliker word, soos wat ons met hierdie artikel voortgaan.

‘n Verdere teksgedeelte wat bo enige twyfel demonstreer dat die Here Jesus Christus ‘n persoon se gesindheid tenoor Hom, as van meer belang as goeie werke beskou, vind ons in Openb. 2:1-5, waar die Apostel Johannes opdrag gegee is om sewe briewe aan die sewe gemeentes in klein-Asië te rig. Vir die doel van hierdie artikel gaan slegs die brief aan die gemeente van Éfese aangehaal en bespreek word.
Opn 2:1 “ Skryf aan die engel van die gemeente in Éfese: Dít sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars: 2:2 Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het; 2:3 en dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie.”

Derhalwe, ‘n paar belangrike observasies oor die gemeente in Éfese: Hierdie gemeente word deur Christus vir hulle goeie werke, hulle arbeid in Sy diens, asook hulle lydsaamheid aangeprys.
Hulle het nie slegte mense in hulle gemeente verdra nie. Hierdie gemeente het dus Kerklike tug toegepas en hulleself van slegte mense afgeskei. (Die hedendaagse belydende Christendom kan by hierdie gemeente gaan kers opsteek! ) Hulle het die selfaangestelde valse apostels op die proef gestel en gevind dat hulle in werklikheid net leuenaars is. (Weereens kan belydende Christendom van vandag weer by die gemeente in Éfese gaan kers opsteek! Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Ware Apostels en Valse Apostels”; Ware Profete en Valse Profete; “Genees, Genesing tydens die Post- Apostoliese Tydperk”, asook “Is die Gawe van Profesie nog in Werking vandag”; vir verdere besonderhede rondom hierdie aangeleenthede te bekom.)

Hierdie gemeente het moeilike omstandighede verdra en lydsaamheid besit. Hulle het dus baie vir die Here se Naam verduur en het onder moeilike omstandighede getrou aan die Here gebly en nie moed opgegee nie. Hulle het boonop hard in diens van die Here gearbei en nie moeg geword nie. Indien mens al bogenoemde feite in ag neem, kan dit met sekerheid gestel word dat daar bitter min gemeentes in die hedendaagse belydende Christendom is, wat oor hierdie kwaliteite beskik en wat hierdie aanprysing by die Here sou ontvang.

Maar ons vind egter dat die gemeente in Éfese ‘n baie ernstige tekortkoming gehad het, naamlik:
Opn 2:4 “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. 2:5 Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie”
Die gemeente in Éfese het slegs een tekortkoming gehad, naamlik dat hulle, hulle eerste liefde verlaat het. Die Here verwag van ons om Hom bo alles lief te hê. ‘n Liefde vir Hom, bo enige iets anders, en dit sluit diens vir Hom gedoen in! En daarom rig die Here so ‘n ernstige waarskuwing aan hierdie gemeente, deur om hulle te waarsku dat indien hulle nie tot bekering kom nie, Hy die gemeente se kandelaar van sy plek sal verwyder. Wat die Here met hierdie stelling bedoel, is dat apart van persoonlike liefde en toewyding aan Hom, hulle dit nie moontlik sal vind om die die lig van die Evangelie van God se genade aan die wêreld voor te hou nie. Hierdie feit demonstreer bo enige twyfel, dat God liefde, wat persoonlike liefde en toewyding aan Hom, asook ‘n begeerte om geestelike waarhede by Hom te ontvang, baie belangriker ag as enige iets wat ons vir Hom kan doen. Sonder stap een is stap twee nie werklik moontlik nie. God se liefde teenoor ons, smag na ‘n wederkerige reaksie van ons kant af.
1Jo 4:19 “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”
God is immers liefde!
1Jo 4:8 “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.”

Ter Afsluiting: Baie keer raak ons so besig met goeie werke, dat ons nie eens agterkom dat ons weg van die Here afgedryf het en nie meer vreugdevolle gemeenskap met Hom geniet nie. Wanneer laas het ons ons fokus van alles behalwe die Here (insluitende goeie werke) af gehaal en weer ons Bybels oopgemaak en by Sy voete gesit om deur Hom geleer te word? Indien ons werke wil voortbring, wat werklik oor ewigheidswaarde beskik, sal ons die Persoon wat die werke in en deur ons moet verrig werklik leer ken, en Hom, en Hom alleen die sentrale fokuspunt in ons lewens maak. Dit baat ons egter niks indien ons beweer dat ons Hom goed ken en oor geen of weinig kennis oor Sy woord beskik nie. God stel Homself in Sy woord aan ons bekend, en indien ons Hom in persoonlike liefde en toewyding wil dien, sal ons seker maak dat ons in ‘n gemeente is waar die Bybel, vers vir vers, binne die korrekte konteks aan ons verkondig word en self met die Here tyd in gebed en persoonlike Bybelstudie spandeer.
2Ti 2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
En onthou die Here het gewaarsku dat ons in Hom moet bly, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap wat persoonlike liefde en toewyding aan Hom insluit.) want sonder Hom kan ons niks doen nie.
Joh 15:4 “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. 15:5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”

Wanneer laas het jy net by die Here gesit, Sy woord met Hom bespreek en Hom net geniet vir die Persoon Wie Hy is? Onthou ons horisontale uitleef van die Christelike lewe (Wat goeie werke insluit) is afhanklik van ons vertikale verhouding met die Bron van daardie goeie werke. En hoe bewerkstellig God goeie werke in ons lewens? Soos volg: “Die Gees van God; gebruik die Woord van God; in die kind van God; om die wil van God te doen; en dit alles deur die instaatstellende krag van God; tot die heerlikheid van God en die seën van ander mense om ons.”
Rom 11:36 “ Want uit Hom (die Bron) en deur Hom (die Middelaar/Agent) en tot Hom (die Doel) is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”
Spandeer tyd saam met jou hemelse Vader! Hy smag daarna! Uit so ‘n verhouding, wat op persoonlike liefde en toewyding aan God gebaseer is, sal goeie werke outomaties as ‘n byproduk van ‘n Geesvervulde lewe voortvloei.
Joh 15:4 “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. 15:5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.
Psa 34:8 “Smaak en sien dat die HERE goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil!”

Seën Groete

Vic

 

 

 

 

Deel met ander asb.