Lukas 18:15–16: “En hulle het ook die klein kindertjies na Hom gebring, sodat Hy hulle kon aanraak; en toe die dissipels dit sien, het hulle hul bestraf. Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.”
Hoe mooi illustreer Jesus Christus nie Sy liefde in die bostaande teksgedeelte nie. Dit is egter maklik om ons eie kinders lief te hê, maar toon ons dieselfde liefde aan die kinders op straat? Mens kan nie beweer dat jy kinders liefhet as jy nie ook vir straatkinders liefde kan bewys nie. Jesus Christus was lief vir almal en het niemand weggewys nie; daarom kan ons ook nie een van hulle ignoreer nie. Hoe moes ons, in ons sondes en hoogmoed, nie vir God gelyk het nie? Tog het Hy uit pure liefde aarde toe gekom om vir ons sondes aan die kruis te sterf—en dit terwyl ons nog sondaars was.
Romeine 5:8: “…maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
Jesus self het ons beveel om almal lief te hê, selfs ons vyande (Luk. 6:35). Om Jesus se voorbeeld en direkte opdrag te verontagsaam, is ’n daad van doelbewuste ongehoorsaamheid, ongeag hoe “Christelik” ons mag dink ons is. Is dit nie dalk ook ’n rede waarom ons gebede soms onbeantwoord bly nie?
Dit beteken nie dat ons straatkinders in hul verkeerde optrede moet sterk nie. Soms is dit ’n fout om bloot geld te gee, veral as dit gebruik word vir iets wat hulle benadeel. Dit kos egter niks om hierdie kinders met respek en vriendelikheid te behandel nie. ’n Vriendelike glimlag, ’n woord van bemoediging of selfs ’n liefdevolle vermaning kan dalk die eerste positiewe aanraking in daardie kind se lewe vir ’n lang tyd wees.
As God se verteenwoordigers op aarde is daar ’n groot moontlikheid dat die enigste indruk wat daardie kinders ooit van God se liefde sal kry, is dit is wat hulle in ons sien. Wat sien daardie kind? Ons moet waak om nie ’n struikelblok te wees nie. Om ’n kind soos ’n dier te behandel en steeds te verwag dat ons God se goedkeuring geniet, is selfmisleiding. Liefdelose optrede stoot ’n kind weg van die Here af. Daar is ’n duidelike verskil tussen ferm optrede en haatlike gedrag. Die Here ken die motiewe van ons harte.
Matteus 18:5–6: “En elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My; maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ’n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.”
Onthou die Here se woorde: “Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi” (Luk. 11:23). Versamel ons saam met die Here, of verstrooi ons deur ons liefdeloosheid? Net een van die twee van hierdie opsies kan waar wees.
Nêrens in die Bybel word ons geleer om onsself bo ander te ag nie; die teendeel is waar:
Filippense 2:3–5: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.”
Dit beteken nie dat ons sedelose of kriminele gedrag as moreel goed moet beskou nie, maar dat ons, soos Christus, onselfsugtig moet leef en ander se belange bo ons eie moet stel. Indien ons hul belange op die hart dra, sal ons hulle waarsku teen die gevare van hul huidige weg en die Evangelie aan hulle verkondig.
Dit is maklik om hieroor te lees, maar moeilik om dit prakties toe te pas. Om ander hoër as jouself te ag, is teenstrydig met ons sondige vlees. Ons kan hierdie opdrag slegs suksesvol uitvoer deur die krag van die Heilige Gees. Ons moet toelaat dat die Gees ons beheer (Ef. 5:18) deur van sonde afstand te doen en as Geesvervulde gelowiges Sy opdragte uit te voer.
Indien ons onsself verneder, soos Christus gedoen het toe Hy tussen sondaars kom woon het, sal God ons op die regte tyd verhoog. Bybelse Christenskap is om ander te dien, ongeag wie hulle is. Dit sluit straatkinders in! Hulle is ’n oop sendingveld reg voor ons. Ware liefde verbloem nie sonde nie, maar spreek dit aan in liefde, sodat die persoon uit ’n ydele lewenswandel gered kan word.
Matteus 20:26–28: “…maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees… net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.”
Jesus se kruisdood was die uitsonderlikste demonstrasie van onselfsugtige diens. Hy het ons beveel om dieselfde te doen:
Johannes 15:12, 14: “Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het… Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.”Baie mense maak vandag van “voetewas” ’n ritueel op sigself, maar mis die kernles. In Jesus se tyd was dit ’n praktiese, nederige diens wat gewoonlik deur ’n slaaf verrig is. Die Here het gedemonstreer dat ons mekaar moet dien.
Markus 9:35: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees.”
Johannes 13:17: “As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.”
Mag die Here ons help om te doen wat Hy beveel het. Wat sien die straatkind as hy na ons kyk? Ons mag dalk nooit die volle impak van ons optrede sien nie, maar ons word geroep om met liefde op te tree. Om die Evangelie met hulle te deel, is die grootste seëning wat ons kan bied.
Seëngroete, Vic