Wil ons werklik hoor wat die Here aan ons wil sê, of wil ons net hoor wat ons sondige natuur begeer? As daar ooit ‘n tyd was om Paulus se waarskuwing aan Timoteus ernstig op te neem, is dit nou, in hierdie dae waarin ons leef.
2Ti 4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4:4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”
Is dit nie wat tans in die grootste gedeelte van die belydende Christendom gebeur nie? Praat van leerstellings en mense kyk jou skeef aan. Ek het gehoor hoe ‘n gewilde televisieprediker verkondig dat doktrines die kerk verdeel. Dink net by jouself: as ‘n prediker nie leerstellings verkondig nie, wat verkondig hy dan? Waarom het ons dan nog die Bybel? Moet die Bybel nie ons leerstellings bepaal nie? As die Bybel nie die laaste woord in die bepaling van doktrines is nie, kan enigiets as die waarheid verkondig word. Dit sal chaos tot gevolg hê – en is dit nie miskien wat ons vandag in die belydende Christendom waarneem nie?