Teenspoed, tragedie en lyding is realiteite wat ons almal op een of ander tydstip beleef. As mense wil ons dikwels verstaan waarom juis ons getref word, maar die eenvoudige waarheid is dat ons in ‘n gevalle wêreld woon. Die Here het ons nêrens belowe dat ons lyding sal vryspring wanneer ons Hom as Verlosser aanneem nie. Tog bied die Woord van God waardevolle leidrade wat ons help om lyding te verstaan en te hanteer — hetsy in ons eie lewens of wanneer ons ‘n broeder in nood bystaan. Mense wat verkondig dat gelowiges slegs voorspoed sal ervaar, verkondig leuens wat dikwels tot gevolg het dat mense permanent van die Here af wegdraai wanneer dinge skeefloop. Hier volg ‘n paar redes waarom lyding in die lewe van ‘n gelowige toegelaat word.