Enige persoon wat al werklik gelewe het sal weet dat die lewe nie altyd maklik is nie, en indien daardie persoon lank genoeg lewe sal hy die een of ander tyd erge teëspoed, terugslae, rampe en hartseer beleef. Die graad van teëspoed wissel van persoon tot persoon, maar elke persoon sal op die een of ander tyd teëspoed belewe. Ongelukkig word hierdie onderwerp nie altyd genoeg deur predikers aangeraak nie, juis omrede dit so ‘n onaangename onderwerp is. Rampe, teëspoed, terugslae en hartseer, is deel van die gevalle wêreld waarin ons lewe, en dit sal so voortgaan tot en met ons dood of die wegraping. Hoeveel van ons het nie al die stelling gehoor dat ‘n persoon net na die Here moet kom en dan sal al sy probleme iets van die verlede wees nie? ‘n Prediker of evangelis wat so ‘n stelling maak verkondig nie slegs leuens nie, maar hy maak ook in die proses van die Here Jesus Christus ‘n leuenaar. Die Here Jesus Christus het ons vooraf gewaarsku dat ons in hierdie lewe teëspoed sal ervaar, naamlik:
1Joh.16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”
Ons hoef net rond te kyk om te sien hoeveel lyding en hartseer daar in die wêreld is.
God se voorsienigheidsbeheer (voorsienigheid) sluit ook as element God se voorsienige (of te wel logistieke) genade in. God se logistieke genade sluit alles wat die gelowige in hierdie wêreld nodig het om te oorleef in, soos byvoorbeeld suurstof, kos en klere ensovoorts . Sover dit die gelowige aangaan, is die grondslag van God se logistieke genade die ontvangs van die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid. ‘n persoon ontvang die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid die oomblik wanneer hy dood eenvoudig die evangelie glo en op geen ander wyse nie. Enige menslike werke is dus volkome uitgesluit. Indien mens die Here Jesus Christus se stelling wat Hy in Mattheus 6:24-34 gemaak het, en waarvan ek slegs Mattheus 6:31-34 hier gaan aanhaal, bestudeer dan word hierdie feit duidelik, naamlik:
Matt.6:31 “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? 32 Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. 33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. 34 Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.”
Al wil ons dit weet of nie, elkeen van ons sal tribulasie in hierdie lewe ervaar, en daarom verwys die Here na hierdie feit as “elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”