Vanuit die Skrifte blyk dit duidelik dat God die mensdom in hoofsaaklik twee groepe indeel, naamlik gelowiges en ongelowiges. Alle ongelowiges word as God se vyande geklassifiseer, en bevind hulleself nog onder God se oordeel vir hulle sondes en staan dus verdoem. Die ongelowige kan niks doen om God deur sy goeie werke te behaag nie. Al die ongelowige se beste werke is soos vuil lappe in God se heilige aangesig. (Jes.64:6) en om hierdie rede ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, naamlik:
Rom.3:23 “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,”
Die Skrifte beskryf die ongelowige as die “natuurlike man” omrede die persoon nog nie die Evangelie geglo het nie. Om hierdie rede het hy nog nie die Heilige Gees d.m.v. wedergeboorte ontvang nie en daarom het sy posisionele stand voor God nog nie verander nie. Die ongelowige is dus nog volkome onveranderd, en in sy sondige toestand, en die Skrifte verwys na so ‘n persoon as die oue mens. (Kol.3:9-10) Hy kan dus slegs vanuit sy gevalle natuur optree, en dit sluit al sy goeie dade in. Dit maak nie saak hoeveel goeie werke ‘n ongelowige persoon ook al mag verrig nie, daardie werke kan God nie behaag nie, omrede hy nog in sy ongelowige toestand is. Die enigste ding wat so ‘n persoon kan doen, om sy lot te verander, is om die Evangelie te glo. Niks anders nie.