Lukas 18:15–16: “En hulle het ook die klein kindertjies na Hom gebring, sodat Hy hulle kon aanraak; en toe die dissipels dit sien, het hulle hul bestraf. Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.”
Hoe mooi illustreer Jesus Christus nie Sy liefde in die bostaande teksgedeelte nie. Dit is egter maklik om ons eie kinders lief te hê, maar toon ons dieselfde liefde aan die kinders op straat? Mens kan nie beweer dat jy kinders liefhet as jy nie ook vir straatkinders liefde kan bewys nie. Jesus Christus was lief vir almal en het niemand weggewys nie; daarom kan ons ook nie een van hulle ignoreer nie. Hoe moes ons, in ons sondes en hoogmoed, nie vir God gelyk het nie? Tog het Hy uit pure liefde aarde toe gekom om vir ons sondes aan die kruis te sterf—en dit terwyl ons nog sondaars was.
Romeine 5:8: “…maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
Jesus self het ons beveel om almal lief te hê, selfs ons vyande (Luk. 6:35). Om Jesus se voorbeeld en direkte opdrag te verontagsaam, is ’n daad van doelbewuste ongehoorsaamheid, ongeag hoe “Christelik” ons mag dink ons is. Is dit nie dalk ook ’n rede waarom ons gebede soms onbeantwoord bly nie?