Bekommernis is ‘n gesindheidsonde en kan as ‘n vorm van selfkastyding bestempel word. Bekommernis is ‘n gesindheidsonde in die sin dat die oorsprong daarvan in ons verstand, naamlik die nie-stoflike faset van die mens, of te wel die hart, te vinde is. In hierdie opsig is bekommernis die oorsaak van vrees in ‘n persoon se hart wat daartoe aanleiding kan gee dat ‘n persoon oor byna enigiets in die lewe angstig kan voel. In hierdie opsig kan ongeoorloofde vrees/bekommernis as ‘n vorm van selfkastyding bestempel word. Die gesindheidsonde van bekommernis, wanneer nie volgens skriftuurlike beginsels aangespreek word nie, het verontrustende gedagtes tot gevolg wat weer tot ‘n onstuimige gemoedstoestand aanleiding sal gee. Die gevolg hiervan is dat die persoon ‘n toestand van rusteloosheid en selfs agitasie sal ervaar wat weer ongemak, ‘n voorgevoel van doem, pynlike onsekerheid en selfs geestelike versteuring kan veroorsaak. Enige persoon wie se hart deur bekommernis gevul is verwag altyd net die slegste uitkomste, ervaar ‘n gevoel van gevaar, rampspoed of selfs die dood. In kort hulle ervaar ‘n soort van hel op aarde.
Lees meer Die gesindheidsonde van Vrees en bekommernis