Ef 2:4 “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, 5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus — uit genade is julle gered — 6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, 7 sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. 8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”
Volgens bostaande teksgedeelte is daar twee baie belangrike aspekte wat God vir die mens onderneem het.
Die eerste hiervan is dit wat God in die mens bewerkstellig, naamlik wedergeboorte, waardeur die mens die gawe van die ewige lewe by God ontvang. (die Ewige lewe is by implikasie die ewige lewe en kan nie verloor word nie. So ook vind wedergeboorte slegs eenmaal op ‘n spesifieke punt in tyd plaas en kan dan nooit weer ongedaan gemaak word nie.)
Die tweede aspek van dit wat God vir die mens onderneem is dat Hy ons saam in Christus in die Hemele laat sit. Hierdie posisie in Christus wat die gelowige beklee is ‘n ewigdurende posisie. Indien ‘n persoon sy posisie in Christus kon verloor, dan sou God nie in die eeue wat kom die uitnemende rykdom van Sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus ten toon kon stel nie. God sou dus in Sy doelstelling gefaal het, iets wat nooit kan gebeur nie. Mense wat verkondig dat ware gelowiges die ewige lewe kan verloor, moet baie mooi oor bogenoemde stelling nadink en wat hulle dan by implikasie beweer!
Wedergeboorte is dus ‘n werk wat God in die mens bewerkstellig, en ons posisie in Christus is wat Hy vir ons bewerkstellig, naamlik om saam met Christus in die hemele te sit.
In die eeuse wat kom, die hiernamaals, naamlik die ewigheid:
In die eeue wat kom, sal God die die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus aan alle intelligente wesens in Sy skepping demonstreer. En om hierdie rede kan menslike werke of verdienste geen rol in God se plan vir die mens se verlossing speel nie, anders sou die verlossing van die mensdom nie op grond van Sy genade plaasgevind het nie, maar eerder op hulle verdienste/werke en dan sou die mens rede hê tot roem. “Want uit genade is ons gered, deur die geloof, en dit nie uit onsself nie: dit is die gawe van God; nie uit die doen van enige goeie werke nie, sodat niemand mag roem nie.”
Geen mens kan of sal voor God kan roem dat hy die ewige lewe verdien het nie.
Alle intelligente wesens, en dit sluit die engele (heilige sowel as gevalle engele) in, is bewus van die diepte van sonde en die meegaande gevolge daarvan, asook die algehele hulpeloosheid van die mens om enigiets daaraan te doen. Maar in die eeue wat kom sal hulle na die verloste mensdom in glorie, wie uit alle wedergebore gelowiges wat tydens die Kerk dispensasie tot geloof gekom het, kyk en die uitnemendheid van God se genade en Sy onbeperkte liefde in ons deur Christus kan waarneem. Alle lewende wesens sal waarneem hoe gevalle sondaars in die beeld van hulle Hoof, naamlik die Here Jesus Christus getransformeer is. Ons, die ware Kerk, wat ook as die liggaam van Christus bekend staan, sal ‘n lewende demonstrasie van God se oneindige liefde en genade wees en wanner God ons in Sy teenwoordigheid aanskou sal dit Hom ongekende vreugde verskaf, naamlik:
Jud.1:24 “Aan Hom nou wat magtig is om julle (alle mense wat tydens die Kerk Dispensasie tot geloof gekom het) van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, (Blydskap van alle partye teenwoordig wat God insluit) 25 aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen.”
Wat ‘n skouspel sal ons nie wees wanneer ons in heerlikheid aan die hele skepping voorgestel word nie!
Rom.8:19 “Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God.”
In ‘n sondelose skepping sou genade nie op ‘n tasbare wyse gedemonstreer kon word nie:
Omrede God wesens soek wat Hom uit eie keuse lief kon hê, moes Hy die moontlikheid daarstel, dat die wesens wie Hy geskape het oor ‘n wil beskik wat Hom kon verwerp en teen Hom rebelleer het. Satan het dus ook juis van hierdie geleentheid gebruik gemaak, en die mens in die tuin van Eden versoek om teen God te rebelleer en sodoende het sonde die wêreld binnegekom. God het egter vooraf in Sy alwetendheid geweet wat sou gebeur, en het die rebellie van die mens in Sy plan van die eeue ingewerk, wat aan Hom ‘n geleentheid sou gee om op ‘n waarneembare wyse Sy liefde vir die mensdom te demonstreer. Die rede hiervoor is eenvoudig. In ‘n sondelose skepping, waarin geen sonde ingedring het nie, is daar geen werklike plek vir genade nie. Die skepping reflekteer God se krag en wysheid, maar daar was geen geleentheid om Sy onverdienste genade vir wesens wat teen Hom gerebelleer het te demonstreer nie.
Die feit dat sonde wat die skepping binnegekom het aan God die geleentheid gegee het om Sy genade te demonstreer, beteken geensins dat dit aan ons die reg gee om sonde te pleeg sodat genade gedemonstreer kan word nie, naamlik:
Rom.6:1 “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? 2 Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? 3 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”
God se genade gee nie nou aan die mens ‘n lisensie om te sondig nie. Om so iets te verkondig is ‘n erge vorm van dwaalleer en maak ‘n bespotting van God se genade.
Jud.1:4 “Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.”
Maar die feit bly egter staan, dat genade nie gedemonstreer kan word waar daar geen vorm van onverdienstelikheid bestaan nie. Satan se plan om sonde in die skepping in te laat kom is deur God gebruik sodat Hy in die eeue wat kom Sy genade aan alle wesens kon demonstreer. God het geensins Satan of die mens versoek om sonde te doen nie. Hy kan nie, omrede Hy God is en heilig is!
Jak.1:13 “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.”
Calvinisme beweer dat God alles gepredestineer het, wat by implikasie beweer dat God ook Satan, asook die mens se sonde gepredestineer het. In hierdie opsig verkondig hulle dwaalleer en maak van God die oorsprong van sonde. Satan in sy slinksheid het sonde in die skepping ingebring, maar ook op hierdie vlak het God bewys dat die duiwel geensins Sy gelyke is nie, en Satan se bose plan gebruik om Sy genade en liefste ten toon te stel. God is die alleenwyse God en het geen gelyke nie!
Slegs vergewe sondaars kan werklik die vreugde van sondevergifnis ervaar:
Slegs wesens wat die vreugde van vergifnis vir hulle sondes ervaar het kan werklik die diepte van God se genade op ‘n tasbare wyse beleef. Die heilige engele het nog nooit die vreugde van God se vergifnis beleef nie, en het dus geen ondervinding van hierdie sy van ons bestaan nie. Boonop sal wesens wat nie die vreugde van vergifnis beleef het nie, nie die oorwinningslied van die verlostes kan sing nie, naamlik:
Openb.5:9 “Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, 10 en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.”
Ons sal hierdie lofsang na afloop van die wegraping, wanneer ons in God se teenwoordigheid is, sing. Om hierdie rede moet dit ook aan ons ongekende vreugde verskaf wanneer ons, ons medemens vir hulle oortredinge teenoor ons vergewe. God se perklose genade word daagliks gedemonstreer wanneer onverdienstelike sondaars deur slegs geloof in Christus se voltooide werk aan die kruis gered is. Dit is die skouspel waaroor die skares engele, asook verloste sondaars hulle sal verwonder, en waaroor hulle in die komende eeue heen sal sing en die Here sal prys!
Die apostels en Nuwe Testamentiese profete as deel van die fondasie van die Kerk:
Die apostels was ook vir hierdie rede deur God gestuur om hierdie goddelike geheim wat deur die eeue in God verberg was aan die lig te bring.
Ef.3:9 “en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God (Goddelike geheim) wat alles geskape het deur Jesus Christus,”
En wat was die verborgenheid waarvan Paulus hier praat? Dit is dat God in hierdie dispensasie (die Kerk Dispensasie) vir Homself ‘n groep mense uitroep wat uit Jode sowel as heidene saamgestel is en wat as die Kerk (ook die liggaam van Christus) bekendstaan. Voor Christus se eerste koms was die vorming van die kerk ‘n geheim wat slegs God geken het. Hierdie feit weerspreek die bewering wat baie denominasies maak dat die Kerk ook in die Ou Testament bestaan het. (Calvinisme, asook Hebreeuse wortel beweging maak hulle aan hierdie dwaalleer skuldig) Die Kerk is ‘n eiesoortige entiteit apart van die Jode, asook die Heidene, en bestaan uit gelowiges wat uit beide hierdie groepe in een liggaam saamgesnoer is. Die kerk het op Pinkster haar ontstaan gehad nie voor die tyd nie.
1Kor12:3 “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.
En God se doel met dit alles is:
Ef.3:10 “Sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word,” (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Het die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang?” te lees.)
Boonop is daar nie meer apostels en Nuwe Testamentiese profete nie, omrede hierdie twee groepe deel van die fondasie van die Kerk vorm en na afloop van die Apostoliese tydperk het ook hierdie twee ampte tot ‘n einde gekom.
1Kor.3:11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.”
Ef.2:20 “gebou op die fondament van die apostels en (Nuwe Testamentiese) profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,”
Noudat die fondasie gelê is bou ons op daardie fondasie en lê nie weer ‘n fondasie nie.
1Kor.3:11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels —“
Die Skrifte het baie duidelik verklaar dat profesie en sekere van die ander geestelike gawes net tydelik was en tot ‘n einde sou kom.
1Kor.13:8 “Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë — hulle sal tot niet gaan; of tale — hulle sal ophou; of kennis — dit sal tot niet gaan.”(die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Is die gawe van profesie nog in werking vandag?” te lees)
Was die mens in die tuin van Eden God se eerste en hoogste doel vir die mens?:
Gegewe al bogenoemde feite, kan daar met regte ‘n vraag gevra word, naamlik: “Was die oorspronklike sondelose mens in die tuin van Eden God se eerste en hoogste doel vir die mens?” Onthou, indien die mens nie gesondig het nie sou hy vir ewig in die tuin van Eden geleef het, maar sou tot die wêreld beperk wees en sou in ‘n klas wesens laer as die engele gestaan het, naamlik:
Heb.2:7 “U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel.”
Die antwoord op hierdie vraag moet nee wees, want God is alwetend, en Hy ken alle moontlike uitkomste (verlede, huidige asook toekomstige) nog voordat Hy enigsins iets geskape het. So God het geweet dat indien Hy wesens skape wat oor ‘n vrye wil beskik, om Hom lief te kan hê, of teen Hom te rebelleer, sou die meeste kies om te rebelleer. (alle gevalle engele, sowel as die mensdom, behalwe die heilige Engele het teen God gerebelleer.) Maar vir liefde om ware liefde te wees moes hierdie feit deel van God se raadsplan vir die skepping wees, anders sou die liefde wat Sy skepsels vir Hom gehad het nie ware liefde wees nie, maar sou die produk van God se vooraf programmering wees. Anders as wat Calvinisme beweer, het God ook nie sonde gepredestineer nie, anders sou God die oorsaak van sonde in die wêreld wees. (net soos wat hulle godslasterlik beweer. Dit sluit ons drie Afrikaanse Susterkerke in!)
Jak.1:13 “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.”
Ja, God het geweet dat Satan en sy engele, sowel as die hele mensdom teen Hom sou rebelleer. God het geensins hierdie rebellie gepredestineer of verordineer nie, maar Hy het geweet dit sou plaasvind, anders sou liefde nie ware liefde kon wees nie, en sou die lofsange van die wat Hom lief het niks anders as klinkende simbale wees nie. God het al hierdie feite in ag geneem toe Hy die raadsplan vir die skepping daargestel het. Ons moet ook besef dat hierdie plan van God nie oor ‘n lank tydperk uitgedink is nie, maar het in ‘n oogwink plaasgevind, omrede God se voorkennis ‘n subkategorie van Sy alwetendheid is. Dus het God nie ‘n plan B gehad nie, en sal ook nooit een nodig hê nie. Van die begin af het Sy raadsplan Sy skepsele se rebellie in ag geneem, omrede Hy vooraf geweet het dat hulle teen Hom sou rebelleer, en Hy het hierdie feite in Sy raadsplan ingewerk nog voordat enige iets geskape was.
Hierdie feite bring ons weer tot die oorspronklike vraag terug, en dit is of die mens in die tuin van Eden God se eerste en hoogste doel vir die mens was? En die antwoord moet ‘n onomwonde nee wees! Om Sy genade en liefde op ‘n tasbare wyse te demonstreer, was dit nog altyd God se plan om die mens tot die hoogste posisie in Christus te verhef, maar dit sou slegs vir die sondaar wees wat die evangelie verstaan en glo, sonder om daarvoor op enige wyse te werk.
Rom.8:29 “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking)sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; 30 en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking.)
1Pet.1:2 “uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word!”
En God se motief?
Joh.3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
Omrede God se voorkennis ‘n subkategorie van Sy alwetendheid is, het Hy altyd geweet die mens teen Hom sal rebelleer. Hy het egter verlossing in Christus in Sy raadsplan vir die mens ingewerk nog voordat enige wese geskape is. Hierdie verlossing sou egter net deur mense wat die evangelie glo (en nie daarvoor werk nie) ontvang word. Wanneer ‘n persoon die evangelie glo word hy deur die Heilige Gees in Christus gedoop, en word dan saam met Hom verhoog en beklee nou ‘n posisie hoër as die van die engele. Dit was nog altyd God se plan vir die mens!
Ef 2:4 “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, 5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus — uit genade is julle gered — 6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, 7 sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. 8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
Ter afsluiting: Hierdie feit behoort aan ons hoop en rustigheid in hierdie onvoorspelbare tye te gee. God het ook al hierdie feite in sy raadsplan ingewerk en Hy sal ‘n einde aan alle boosheid maak. Ja, ons mag dalk in hierdie lewe die gevolge van ons keuses dra, maar selfs dit word deur God gebruik om ons te bevoordeel, naamlik:
Rom.8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
God gaan ‘n einde aan alle sonde en meegaande lyding op aarde maak en boosheid volkome uit die skepping verwyder! Boonop gaan ons saam met Christus in die hemele sit. God se denke is baie hoër as die mens sin en daarom moet ons op Sy wysheid berus en weet dat alles wat gebeur nie vir Hom as ‘n verassing kom nie, maar dat Hy dit alreeds in Sy raadsplan ingereken het, en sal ons lyding in seën verander! Ons moet ook daarteen waak om God vir menslike keuses te blameer. Hou moed die beste kom nog!
Seën groete!