Goeie werke

Wedergeboorte en die rede vir goeie werke

Vraag: Ek dank God vir hierdie webwerf. Kan jy asb in meer diepte Efesiërs 2:8-10 aan my verduidelik, soos byvoorbeeld wat die doel van goeie werke is.
Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” (Ef.2:8-10)
Ek is van vroeg af met die werke evangelie gebombardeer, en het altyd geglo dat ek die ewige lewe kan verloor, of indien ek nie goeie werke doen nie ek nooit gered is nie. Ek stem nou saam met jou dat mens nie die ewige lewe kan verbeur nie, omrede bogenoemde vers dit duidelik stel dat die ewige lewe ‘n gawe is, maar ek sukkel nog met vers nege oor die werke wat God voorberei het om daarin te wandel. Kan jy my help asb.

Antwoord: Ons is gewoond aan die algemene beginsel wat in hierdie wêreld geld, en dit is dat ‘n persoon slegs iets ontvang indien daardie persoon ‘n paaiement voor, of nadat hy die goedere in ontvangs het, moet betaal. Sodoende betaal die persoon dus vir die goedere wat hy ontvang het, en daarom reken ons korrek dat huurkoop ook ‘n vorm van koop is, al betaal die koper die grootste gedeelte van die uitstaande bedrag nadat hy die goedere in ontvangs geneem het. (daar het dus ‘n transaksie plaasgevind.) So ook word ons arbeid as betaling gereken, omrede ons deur voortgesette arbeid die produk wat ons deur huurkoop ontvang het, kan afbetaal. Ons werk oor die algemeen met die idee dat ons vir ons arbeid deur ons werkgewer vergoed sal word.

Die genade van God werk egter nie so nie. Ons moet egter mooi begryp dat genade nie genade is indien daar enige betaling/werk/diens deur die mens aan God gemaak word nie. Dit sluit enige betaling (werke) voor die ontvangs van die ewige lewe, sowel as enige werke na afloop van die wedergeboorte in. Daar is baie predikers wat verkondig dat ons deur voortgesette menslik werke ons self gered hou en a.g.v ons sondes uit genade kan verval en verlore gaan. (Moderne Arminianisme) Dan is daar predikers wat verkondig dat ons goeie werke na afloop van aanvanklike wedergeboorte moet kan toon as bewys dat ons wel wedergebore is. (Calvinisme.) Beide Arminianisme sowel as Calvinisme vernietig die konsep van God se genade en verander dit in iets wat God nie sal aanvaar nie. Genade is nie genade as daar enige betaling deur die mens gemaak moet word voordat die voordele daarvan ontvang word nie. Genade is ook nie genade indien daar enige verpligting/werk na afloop van die ontvangs van sodanige voordele vereis word nie. Anders gestel: Buiten geloof alleenlik kan geen verpligting van enige aard, wat goeie werke insluit, as vereiste vir die ontvangs van God se genade by die evangelie bygevoeg word nie. Enige verpligting om betaling van enige aard sal die wese en karakter van God se genade onherroeplik verander en sal die betekenis en konsep van God se genade heeltemal vernietig.
Rom.3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.
Gal.2:16 “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.”

As die ontvangers van God se genade, word dit van ons (alle gelowiges) verwag om deur ‘n lewe van goeie werke, die ontvangs van God se genade uit te leef, en met ander te deel, as indikasie van ons liefde vir Hom en ons dankbaarheid omrede ons alreeds die ontvangers van Sy genade is. Onthou, God se genade het altyd ‘n bepaalde doel. Om hierdie rede is dit verkeerd om van ‘n persoon te verwag om sy lewe vir Christus te gee alvorens daardie persoon wedergebore kan raak. Om so iets te doen is om ‘n werke evangelie te verkondig, omrede daar ‘n wedersydse transaksie tussen God en die persoon plaasvind en sodoende word die konsep van God se genade vernietig. Soos reeds genoem, het God se genade egter ‘n doel vir diegene wat die ontvangers daarvan is. Baie ongeredde mense word verkeerdelik onder die indruk gebring dat hulle eers van al hulle sondes, soos byvoorbeeld rook, moet breek alvorens hulle gered kan word. Om so iets van ‘n ongelowige te verwag is om ‘n ander evangelie, naamlik ‘n werke evangelie te verkondig.
Gal.1:6 “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, 7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.8 Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!”

Een van die doelwitte van God se genade is dat diegene wat alreeds die ontvangers van sy genade is nou (na aanvanklike wedergeboorte) goeie werke moet doen sodat sy medemens ook voordeel uit God se genade kan geniet. God het dus die gelowige d.m.v. wedergeboorte geskep met die doel dat daardie gelowige goeie werke sal verrig. God se doel met Sy genade waarborg egter nie dat die gelowige nou outomaties goeie werke sal verrig nie, want goeie werke vorm nie deel van die evangelie nie (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) maar vorm deel van heiligmaking/dissipelskap (deel twee van ons verlossing) en die gelowige kan versuim om enige goeie werke voor te bring. (Ons almal het al geweet dat God ‘n sekere ding van ons verwag en dit nooit gedoen nie. Ons almal is hieraan skuldig, en in die proses het ons, onsself asook ons medemens benadeel, maar dit beteken nie dat ons nooit werklik gered was nie of dat ons nou kwansuis die ewige lewe verloor het nie.) Aanvanklike wedergeboorte (wat nie weer ongedaan gemaak kan word nie, en daarom noem ons dit die ewige lewe) waarborg dus nie outomaties enige goeie werke nie. Die Bybel stel hierdie feit baie duidelik, naamlik:
1Kor.3:11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte)12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — (fase twee van ons verlossing, naamlik dissipelskap/heiligmaking wat slegs persone wat alreeds wedergebore is kan verrig)13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; (‘n gelowige wat goeie werke verrig het)15 as iemand se werk verbrand word, (‘n gelowige wat nie goeie werke verrig het nie)sal hy skade ly; alhoewel hy (die gelowige sonder enige goeie werke)self gered sal word, maar soos deur vuur heen.” (omrede ons slegs die ewige lewe op grond van God se genade deur geloof ontvang en nie deur die doen van enige werke voor of na aanvanklike wedergeboorte nie) Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie Fases van verlossing” ,asook “Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe” te lees.

Dit is om hierdie rede dat Paulus die volgende stelling in Titus 3:8 gemaak, naamlik:
Tit.3:8 “Dit is ‘n betroubare woord, en ek wil hê dat jy hierdie dinge beslis bevestig, sodat die wat in God glo, (en dus alle gelowiges)sorg kan dra om goeie werke voor te staan; dít is wat goed en nuttig is vir die mense.”
Indien goeie werke outomaties na wedergeboorte volg, soos wat Calvinisme beweer, dan sou bostaande vermaning onnodig gewees het, want dan sou goeie werke outomaties na wedergeboorte gevolg het en sou dit mos nie nodig gewees het om ons tot goeie werke aan te spoor nie. Let wel: Werklike goeie werke in die Gees verrig kan slegs deur persone wat alreeds wedergebore is, verrig word, en die doel met goeie werke is dat dit tot voordeel van die mensdom as geheel strek. (Dit het niks met die wedergeboorte van die gelowige te doen nie. Slegs Geloof in Christus se voltooide werk aan die kruis, en Sy opstanding vanuit die dood vir die persoon verseker dat die persoon die ewige lewe sal ontvang. Niks anders en geen werke nie!)

Maar wat is die goeie werke waarna Paulus in Titus 3:8 verwys? Goeie werke is goddelike werke wat reeds voor die grondlegging van die wêreld deur God beplan is sodat die gelowige versigtig sal wees om dit getrou te verrig. Goeie werke is dus werke wat deur God vooraf beplan is, en waardeur Hy slegs die gelowige as instrument wil gebruik om die mensdom as geheel te seën. (Dit vorm deel van Sy algemene voorsienigheid. “Providence”) En om hierdie rede moet gelowiges versigtig wees om hierdie God beplande goeie werke getrou te verrig. Let asb mooi op Paulus se stelling, naamlik: “dit is wat goed en nuttig is vir die mense” Ons moet verstaan dat God volkome in Homself is en daarom kan Hy geen voordeel uit Sy skepsels se goeie werke baatvind nie. Ons God is ‘n Drieënige God, en as sulks is Hy binne die Drie-eenheid volkome in Homself volmaak, en van niemand vir enige iets afhanklik nie en dit sluit wederkerige liefde in. (die drie Persone in die Drie-Eenheid vervul hierdie rol.) Hierdie feit verduidelik Paulus die stelling in Tit.3:8. Net omrede God in Sy genade gekies om wesens te skep wat Hom uit eie wil kan liefhê, beteken geensins dat Hy enigsins van Sy skepsels se liefde afhanklik is nie. God is God, en Sy bestaan word geensins deur ons gehoorsaamheid, wat ons liefde insluit, of ons rebellie, wat ons gebrek aan liefde vir Hom insluit, geraak nie. Die wedersydse liefde soos tussen die Persone in die Drie-Eenheid gevind bevredig die behoefte van enige liefde wat God ook al mag hê, en daarom is dit belaglik vir mense wat in rebellie hulle vuiste vir God swaai, of dreig om Hom te verlaat indien Hy nie vir hulle gee wat hulle wil hê nie, asof Hy enigsins nadelig deur hulle optrede geraak sou word. (Ja, daar is baie sulke mense!) Hy gaan nie!

Dit verskaf aan God egter ongekende vreugde indien Sy kinders Hom uit vrye wil liefhet, en hierdie feit deur die nakoming van Sy gebooie, soos wat dit in die Nuwe Testament, en veral die briewe, wat direk aan die kerk gerig is, uiteengesit is. (naamlik die Wet van Christus.) Hierdie hele stelling vind uiting in Christus se stellings, naamlik:
Joh.13:34 “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.”
Die standaard van liefde, soos in die Wet van Christus gevind, is baie hoër as die vereiste vir liefde, soos in die Wet van Moses gevind. Die Wet van Moses verwag slegs dat ons om ons medemens so lief soos onsself moet hê. Die Wet van Christus, wat na afloop van die Wet van Moses gekom het, vereis nou dat ons, ons medemens so lief moet hê net soos wat Christus ons liefgehad het. (en by implikasie vir ons sondes aan die kruis gesterf het, en dit toe ons nog in rebellie teen Hom was!) Hierdie graad van liefde is onmoontlik vir enige mens om aan te voldoen, en dit is slegs die Heilige Gees wat tydens wedergeboorte in die gelowige verseël is wat dit moontlik maak om aan daardie hoë standaard te voldoen. En om hierdie rede is alle gelowige met die Heilige Gees verseël om hulle die krag te gee om dit te doen. (Ef.1:13; 4:30)

Die Here Jesus Christus het dit ook duidelik gestel dat ons liefde vir Hom meer as net woorde is, en dat ons ons liefde aan Hom bewys indien ons Sy Wet (die Wet van Christus) nakom.
Joh. 14:15 “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.
Joh 14:21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.
Joh 14:24 Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.”

Ons moenie die Wet van Moses, wat slegs aan die volk Israel gegee is, met die Wet van Christus, wat aan gelowiges wie tydens die Dispensasie van die Kerk leef gegee is, verwar nie. Alhoewel die goddelike beginsels agter elke wet dieselfde is, is daar egter ‘n baie hoër standaard van liefde wat van gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie leef verwag word, juis omrede slegs gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie lewe permanent deur die Heilige Gees bewoon word. Ou Testamentiese gelowiges het nie hierdie voorreg geniet nie, en die Heilige Gees kon hulle ter enige tyd verlaat het, soos wat met Koning Saul gebeur het en waarvoor Dawid in Ps.51 voor bang was.)

En as ons Christus werklik lief het, sal ons goeie dade pleeg waardeur ons medemens voordeel sal trek al kos dit ons baie. Dit is juis om hierdie rede waarom God vooraf goeie werke voorberei het sodat ons dit kan doen. Ons moet ook nie die fout begaan om te dink dat God deur ons goeie werke bevoordeel word nie. Hy word nie, want Hy het nie ons goeie werke nodig nie. Ons mag dalk die verkeerde idee kry wanneer ons die teksgedeelte lees, wat ons aanmaan om alles te doen asof ons dit vir die Here doen, en dan verkeerdelik die idee kry dat God van ons gehoorsaamheid afhanklik is, naamlik:
Kol.3:23 “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,”
As God se verteenwoordigers op aarde, verwag God egter van ons om goed vir ons medemens te doen, en om alles wat ons doen, te doen asof ons dit vir Hom doen, maar dit beteken nie noodwendig dat Hy by ons goeie dade baatvind nie. Hy doen nie, omrede Hy volledig in Homself is, maar God het die mensdom lief en gee vir die mensdom om, en daarom het Hy vooraf goeie werke geskep, sodat ons Sy wil kan bepaal, die geleenthede raaksien en dit uitvoer om sodoende ons medemens te bevoordeel. God het dus goeie werke geskep om die mens te bevoordeel en hulle te seën, want Hy is lief vir die mensdom. (let weer die stelling in Tit.3:8ff, naamlik: “dit is wat goed en nuttig is vir die mense”

Deur goeie werke te doen demonstreer ons, as God se verteenwoordigers, God se liefde op ‘n tasbare wyse aan die mensdom as geheel. En daarom is dit nie slegs medegelowiges wat by ‘n gelowige se goeie werke moet baatvind nie, maar ons goeie werke kan ongelowiges sowel as gelowiges tot voordeel strek. Onthou, God se doel met goeie werke is dat die mensdom as geheel deur ons goeie werke bevoordeel word. God het immers die hele mensdom lief en daarom het Hy Sy enigste Seun gestuur om vir ons sondes aan die kruis te sterwe, naamlik:
Joh. 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Ons moet ook onthou dat gelowiges wel genadeloon d.m.v. goeie werke kan verdien en hierdie genadeloon sal hulle eiendom vir ewig wees. ‘n Gelowige se goeie werke wat hy in geloof deur die inwerking van die Heilige Gees op aarde verrig het volg hom in die ewigheid in. Hierdie goeie werke red egter niemand nie. Slegs geloof in die evangelie kan dit doen. Ongelowiges se goeie werke dra glad nie tot hulle verlossing by nie, en hulle sal nog steeds in die hel opeindig indien hulle nie die evangelie hoor, verstaan en glo nie. Hierdie stelling geld ook vir mense wat op hulle goeie werke staatmaak om hulle in die hemel te kry. In hierdie opsig glo hulle in effek in ‘n evangelie waar hulle werke die bepalende beginsel is en dit is nie die ware evangelie wat Christus en die Apostels verkondig het nie!) Ons werke het niks met wedergeboorte (fase een van ons verlossing) te doen nie en ons moet waak om goeie werke/heiligmaking/dissipelskap deel van die evangelie te maak nie. Indien ons so ‘n fout begaan maak ons, onsself daarin skuldig dat ons ‘n ander evangelie, naamlik ‘n werke evangelie verkondig, wat niemand sal red nie en wat ander op ‘n dwaalweg kan plaas. (By verre die oorgroot meerderheid mense binne die belydende Christendom is die slagoffers van ‘n werke evangelie en is onbewustelik op pad hel toe.) Dit is dus ons plig, as mense wat alreeds die gawe van die ewige lewe, slegs deur geloof in die evangelie in ontvangs geneem het, (om dit nooit weer te kan verloor nie) om die goeie werke wat God vooraf geskape het te identifiseer en dit te doen, wat die verkondiging van die evangelie insluit! (hierdie werke red ons egter nie en hou ons ook nie gered nie. God is die een wat ons gered hou en nie ons werke nie!)

Om hierdie rede moet ons teen die versoeking waak om na ons goeie werke te verwys, as iets wat van onsself afkomstig is. Elke goeie daad wat ons as gelowiges verrig, is alreeds vooraf deur God beplan en moontlik gemaak. Al wat ons gedoen het, is om God se doel vir daardie spesifieke situasie te bepaal, en dan dit in gehoorsaamheid aan Hom, deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees, in liefde vir Hom na die beste van ons vermoë uit te voer. Indien God nie alreeds die goeie werke, asook die omstandighede en geleenthede vir ons daargestel het om Sy wil uit te voer nie, sou ons nooit in staat gewees het om daardie goeie werk te verrig nie. Hierdie goeie werke word as goed omskryf, omrede so ‘n werk vreugde in iemand se hart bring, en in baie gevalle los dit ‘n bepaalde probleem in ‘n persoon se lewe op en daarom is ons goeie werke vir ons medemens voordelig. Maar indien God nie alreeds alles in die agtergrond beplan en moontlik gemaak het nie, sou ons nie die goeie werke, soos deur Hom vooraf daargestel, kon verrig het nie.

Dit is dan ook so dat die Heilige Gees aan ons as gelowiges baie geleenthede om goeie werke te verrig uitwys het, maar ons het egter besluit om dit om die een of ander rede nie te verrig nie, en sodoende verhoed ons God om ons as Sy gekose instrumente te gebruik om ons medemens te seën.
Filip.2:13 “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”
En daarom noem ons dit God se voorsienigheid. (Engels “God’s providence”) Omrede daar ‘n God is kan daar nie ‘n ding soos toeval wees nie. Dit mag dalk vir ons as toeval lyk, maar dit is nie in werklikheid die geval nie. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat gelowiges God se wil vir elke situasie vasstel en daarop regeer. Indien ons versuim om goeie werke te doen, dan is dit ons medemens om ons wat deur ons optrede benadeel word, en dit toon weer ‘n gebrek aan liefde van ons kant af teenoor die Here, en so oortree ons dan weer die Wet van Christus. Dooie of passiewe geloof is nutteloos en ons medemens word nie daardeur bevoordeel soos wat dit God is wil is nie. Die gelowige gaan nie verlore nie, (omrede fase een van sy verlossing alreeds afgehandel is en nooit weer ongedaan gemaak kan word nie) maar sy geloof is onvrugbaar omrede sy medemens nie deur sy optrede bevoordeel word nie. (fase twee van sy verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap. Die hele brief van Jakobus handel oor hierdie onderwerp. (Die lewer word ten sterkste aangeraai om die artikel “ Geloof sonder werke is dood? Jak 2:14-26” te lees.)

Ter Afsluiting: Joh.13:34 “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” (Hierdie is ‘n nuwe gebod omrede hierdie gebod nooit aan Israel as volk onder die Wet van Moses gegee is nie)
Gelowiges word nog steeds deur vooraf God geskape goeie werke omring, en God en ons medemens wag nog steeds dat ons God se wil uitvoer. (waarvoor die Here ons ryklik voor die Regterstoel Oordeel van Christus sal vergoed). Hierdie werke kan wees oom die evangelie met ander te deel, hulle in dissipelskap/heiligmaking te ondersteun, om voedsel en klere aan die armes te skenk, om diegene wat in die verkondiging van die evangelie arbei finansieel te ondersteun, asook om die weduwees en siekes te besoek en hulle te bemoedig. Goeie werke mag dalk nie deel van die evangelie vorm nie, maar dit is onontbeerlik vir ons geestelike groei en die doel wat God met ons verlossing het.
Tit.3:8 “Dit is ‘n betroubare woord, en ek wil hê dat jy hierdie dinge beslis bevestig, sodat die wat in God glo, sorg kan dra om goeie werke voor te staan; dít is wat goed en nuttig is vir die mense.”
Ef.2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”

Dit is God wat goeie werke vir ons as gelowiges voorberei het, en Sy doel is dat ons daarin sal wandel. Wanneer ons dit doen vervul ons God se doel met ons lewens, en demonstreer ons liefde vir Hom en ons medemens op ‘n tasbare wyse. Goeie werke is dus uiters belangrik vir die gelowige, maar dit het niks met wedergeboorte te make nie! Ek hoop hierdie artikel help om jou vraag te beantwoord.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.