Alle bydraes deur Vic

Keuses

Keuses 1Keuses 2

Die Keuse tussen Lig en Duisternis

Dit is waarlik verblydend om ‘n outobiografie van ‘n sendeling of ‘n ander dienskneg van God te lees; om te sien hoe so ‘n persoon die goeie nuus van die Evangelie verkondig het en hoe hulle deur geloof selfs die onmoontlikste struikelblokke oorkom het. Dit is inspirerend om van hulle hoogte- sowel as laagtepunte te lees, en te sien hoe die Here hulle deur alle moeilike tye onderskraag het. Dit bemoedig mens en herinner ons dat daar wel mense is wat God werklik op Sy Woord neem en te midde van ‘n bose wêreld in Hom glo.

Ons lees ook van gelowiges wat hulle lewens opgeoffer het om die Evangelie aan ander te bring, sodat hulle hoorders nie verlore hoef te gaan nie. Wat ‘n voorbeeld van toewyding en geloof! Sulke verhale gee mens moed om voort te stry in diens van God – wat immers ons opdrag is. Ons het egter die keuse: gaan ons die Here glo en gehoorsaam wat Hy ons beveel, of gaan ons ongehoorsaam wees?

Ek wil spesifiek gesels oor wat gebeur wanneer ons die wêreld – en dus indirek die duiwel – kies en deur hom verlei word. Ons almal het keuses om te maak en ons sal persoonlik vir daardie keuses verantwoordelik gehou word. Beskou die eerste foto hierbo. ‘n Mens kan maklik dink dat hierdie vroue eenvoudige sendelinge is wat hulle lewens aan die Evangelie toegewy het. Dit is egter nie die geval nie. Hulle was almal wagte in die Stutthof-konsentrasiekamp tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die meeste is ter dood veroordeel nadat hulle skuldig bevind is aan misdade teen die mensdom. Daar word selfs beweer dat een van die dokters in die kamp seep van slagoffers se liggaamsvet gemaak het. Ek sal nie al die skokkende misdade hier opnoem nie, aangesien dit sensitiewe lesers mag ontstel en nie die hoofdoel van hierdie artikel is nie. Ek sal egter ‘n paar skakels onderaan plaas vir diegene wat meer hieroor wil lees.

Wat ek wil beklemtoon, is dat ons as wesens wat na die beeld van God geskape is (Imago Dei), morele keuses kan uitoefen en dus oor ‘n vrye wil beskik. Om te beweer dat die mens se verstand na die sondeval dermate verduister is dat hy nie meer tussen reg en verkeerd kan kies nie, is vals en sou God indirek die skepper van boosheid maak. Die Bybel stel dit duidelik dat God lig is en dat daar geen duisternis in Hom is nie. Dus kan God geen aandeel in boosheid hê nie!
1 Johannes 1:5: “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.”

God versoek ook niemand met die kwaad nie:
Jakobus 1:13-15: “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”

Wat is sonde en waar kom dit vandaan? Sonde is enige daad wat teen God se geopenbaarde wil gepleeg word. As Skepper het God die reg om reëls neer te lê en gehoorsaamheid van Sy skepsels te verwag. Hy doen dit uit liefde, want net Hy ken die mens ten volle en weet wat tot ons beswil is. Die gebooie is ‘n openbaring van God se karakter. Omdat ons na Sy gelykenis geskape is, verwag Hy dat ons Sy karaktereienskappe sal reflekteer. Ons het egter dikwels gekies om die duiwel te glo en hom te gehoorsaam – sekerlik die hartseerste keuse wat die mensdom nog gemaak het.

Baie mense verwyt die Here vir die lyding op aarde omdat Hy dit sou toelaat. Die antwoord is egter eenvoudig: Vir God om mense te skep wat Hom werklik kan liefhê, moes Hy hulle met ‘n vrye wil beklee. Sonder ‘n vrye wil sou ons bloot “robotte” gewees het wat geprogrammeer is om liefde te betoon. Ware liefde vereis die vryheid om te kies. Dus moes God die mens die opsie gee om Hom lief te hê of te verwerp. Wanneer ‘n persoon dus kies om boos op te tree, is dit nie God wat die boosheid bewerk nie, maar die mens se eie keuse. Die mensdom moet die skuld vir die boosheid op aarde voor eie deur lê.

Sou God die mens se wil wegneem bloot omdat hy boos handel, sou God onregverdig wees. Waarom sou Hy die geleentheid tot ewige seëninge ontneem aan diegene wat wel die Evangelie in geloof aanvaar, net omdat ander kies om dit te verwerp? Sonder vrye wil sou God die mens nooit moreel verantwoordelik kon hou nie. Dit is die mens se rebellie – gedryf deur gierigheid, liefdeloosheid en hoogmoed – wat veroorsaak dat mense mekaar verskeur. Sonde en swaarkry is die gevolg van die mens se opstand teen God.

Dink net hoe die wêreld sou lyk indien die mensdom God se Wil uitgevoer het! Ongelukkig is dit nie die geval nie, en dinge sal toenemend vererger namate die mens God verder verwerp. Dit het by Adam en Eva begin en duur vandag voort.
Jakobus 4:1-4: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie… Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”

Die Bybel waarsku dat sake sal versleg totdat die Here self ingryp:
2 Timoteus 3:13: “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.”
Markus 13:20: “En as die Here dié dae nie verkort het nie, sou geen vlees gered word nie…”

Voordat ons oordeel oor die kampwagte uitspreek, moet ons onsself ondersoek. Is ons nie ook dikwels skuldig aan sonde, dalk net in ‘n ander vorm nie? Dink aan ons gedagtewêreld.
Romeine 1:29-32: “…hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid… mense wat al ken hulle die verordening van God goed… dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.”
Beskryf hierdie gedeelte ons nie ook nie? Magsmisbruik kom voor op alle vlakke van die samelewing. Verdien ons nie ook die dood nie? As ek na my eie verlede kyk, verdien ek niks minder nie – alles weens keuses wat ek vrywillig gemaak het. Die Here oordeel die hart; Hy beskou ‘n bose begeerte net so ernstig as die daad self (Mattheus 5:28).

Ons moenie soos Barábbas wees nie. Hy het vrygegaan omdat Jesus in sy plek gesterf het, maar hy het waarskynlik voortgegaan in sy ou leefwyse. Christus het nie gesterf sodat ons in sonde kan voortgaan nie, maar sodat ons daarvan bevry kan word. (Lees asb. die artikels “Drie fases van verlossing”, asook “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” vir meer besonderhede.)
1 Petrus 2:16: “…as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ‘n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God.”
2 Petrus 2:19-22: “…want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword… Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel…”
Ons keuses moet meer as bloot lippetaal wees.
Lukas 6:46: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?”
Jakobus 2:14-17: “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? … Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.”

Hoe lyk die voetspore wat ons agterlaat? Is ons lewens besaai met “geestelike lyke” weens belastering en selfsug? Reflekteer ons die Here Jesus, of is ons lewens soos geestelike konsentrasiekampe vol doodsheid? (Lees asb. die artikel “Sewe verskillende vorms van dood in die Bybel”).
Galasiërs 6:7: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”

Ons moet ons in geloof vereenselwig met Jesus se dood. In tye van versoeking moet ons op Christus fokus en vertrou op die instaatstellende krag van die Heilige Gees.
Romeine 6:3-4: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? …sodat ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”
Kom ons wandel as kinders van die lig. Ons vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu (1 Petrus 5:8). Ons moet waak, bid en die volle wapenrusting van God aantrek (Efesiërs 6:11). Ons almal het keuses om te maak, en ons sal verantwoording doen.

Seën Groete.

Vic

Om hierdie artikel te skryf was vir my ‘n moeilike ondervinding, omrede ek baie oor die afskuwelikhede wat daar in die konsentrasiekampe van die tweede wêreldoorlog gepleeg was, moes oplees. Ek het ook tot die gevolgtrekking gekom, dat ek nie beter as enige van daardie mense is nie en dat ek maklik ook so sou optree. Ek kan net die Here dank dat Hy my verlos het en besig is met heiligmaking in my lewe en my sodoende verlos van die houvas wat sonde op my lewe na wedergeboorte het. ‘n Persoon waardeer net werklik wat vryheid is, indien daardie persoon eers bevry is van die sondes wat oor hom geheers het. Ek kan daarvan getuig en dank die Here daarvoor. Ek het egter nog ‘n ver pad om te loop.

Groete

Vic

Hier is ‘n paar skakels wat ek gelees het.
Herta Oberheuser
Female guards in Nazi concentration camps
Stutthof concentration camp
Soap made from human corpses
Rudolf Spanner
Gerda Steinhoff
Wanda Klaff
Jenny-Wanda Barkmann
Ewa Paradies
Elisabeth Becker

Vertrou op die Here

Spreuke 3:5: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.”
Ag, hoeveel keer moes ek nie al op die harde manier leer om nie op my eie insig staat te maak nie, maar eerder op God se wysheid te vertrou. Kom ons kyk hoe koning Dawid op God se insig staat gemaak het en daarna geseëvier het (1 Samuel 17:4–54). Ons almal ken die geskiedenis van Dawid en hoe hy Goliat verslaan het. Ons moet egter dieper delf en vasstel hoe Dawid geredeneer het om ‘n volledige prentjie te kry van wat werklik gebeur het.

Lees meer Vertrou op die Here

Straatkinders

Lukas 18:15–16: “En hulle het ook die klein kindertjies na Hom gebring, sodat Hy hulle kon aanraak; en toe die dissipels dit sien, het hulle hul bestraf. Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.”
Hoe mooi illustreer Jesus Christus nie Sy liefde in die bostaande teksgedeelte nie. Dit is egter maklik om ons eie kinders lief te hê, maar toon ons dieselfde liefde aan die kinders op straat? Mens kan nie beweer dat jy kinders liefhet as jy nie ook vir straatkinders liefde kan bewys nie. Jesus Christus was lief vir almal en het niemand weggewys nie; daarom kan ons ook nie een van hulle ignoreer nie. Hoe moes ons, in ons sondes en hoogmoed, nie vir God gelyk het nie? Tog het Hy uit pure liefde aarde toe gekom om vir ons sondes aan die kruis te sterf—en dit terwyl ons nog sondaars was.
Romeine 5:8: “…maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”

Jesus self het ons beveel om almal lief te hê, selfs ons vyande (Luk. 6:35). Om Jesus se voorbeeld en direkte opdrag te verontagsaam, is ’n daad van doelbewuste ongehoorsaamheid, ongeag hoe “Christelik” ons mag dink ons is. Is dit nie dalk ook ’n rede waarom ons gebede soms onbeantwoord bly nie?

Lees meer Straatkinders

Die Gelykenis van die Suurdeeg

Mat 13:33 “‘n Ander gelykenis het Hy hulle vertel: Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is. 13:34 Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie;”
Opmerking: Hierdie is seker een van die gelykenisse wat in die meeste gevalle verkeerd geïnterpreteer word, omrede die kardinale reëls van Bybel uitleg nie hier nagekom word nie. Die eerste reël is dat mens moet toelaat dat Skrif, Skrif uitlê. ‘n Ander reël is dat waar ‘n woord simbolies as iets beskrywend van iets anders in die Bybel gebruik word, dieselfde woord regdeur die Bybel as simbolies van dieselfde onderwerp of voorwerp geïnterpreteer moet word. Laat ek verduidelik. Lees meer Die Gelykenis van die Suurdeeg

Die Here roep almal

Vraag:  Wat het die Here met die volgende stelling bedoel?
Johannes 6:44 “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”
Beteken dit dat die Vader sekere mense nie na Jesus sal trek om gered te word nie? Hoekom roep ek die Here dan aan as Hy klaar oor my lot besluit het?

Antwoord: Hierdie stelling wat Jesus gemaak kan nogal baie angstigheid by mense skep. Hoe kan mens dan seker wees dat die Vader iemand in die eerste plek getrek het? Dit wil ook dan voorkom asof net seker mense getrek word om dan gered te word. Die probleem kom wanneer die mens sy teologie op die Bybel afdwing en nie toelaat dat die Bybel die persoon se teologie vorm nie. Kom ek verduidelik. Lees meer Die Here roep almal

Gelykenis van Die Mosterdsaad

Mat 13:31 ‘n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n mosterdsaad wat ‘n man neem en in sy land saai; wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en ‘n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke.
Opmerking: Onthou ons het weer hier met ‘n gelykenis te doen waar die Here aan Sy dissipels wil verduidelik hoe die tydperk tussen Sy hemelvaart en wederkoms gaan verloop. Let op, dat dit die tydperk tussen Sy eerste en wederkoms is, en nie net die dispensasie van genade nie (Kerk Dispensasie). Dus, sluit dit die tydperk vanaf Sy hemelvaart tot en met Sy wederkoms, na afloop van die Groot Verdrukking, in wanneer Jesus Sy voete op die aarde (die Olyfberg) sal neersit. Mosterdsaad is ‘n baie klein saad tipe, maar wanneer dit gesaai word en opgroei, word dit ‘n groot bos. Dit is egter opvallend dat daar ‘n onnatuurlike mate van groei plaasvind, aangesien die Here sê dat dit ‘n boom word.  dus is daar ‘n onnatuurlike groot groeiproses. Omrede die Here Sy punt duidelik wou oordra, lê Hy klem op die onnatuurlike groei van die boom, wat eintlik net ‘n bos moes wees. Lees meer Gelykenis van Die Mosterdsaad

Om God se Wil te ken

Die belangrikste element in die bepaling van God se Wil is ons huidige Geestelike toestand. Hoe naby leef ons aan die Here Jesus Christus? Is ek bewus dat Hy elke oomblik by my is en maak ek net op Hom alleen staat vir alle beslissings in my lewe. Daar moet ‘n vertrouensvriendskap met die Here wees. Ons moet op die punt kom waar ons net soos Petrus in Johannes 6:68 sal vra.
Joh 6:68 “En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.
Ons ons geval sal ek dit soos volg stel: “Na wie sou ons gaan? U is die antwoord op al ons vrae en bekommernisse!” (lees gerus die artikel “God is genoegsaam soos in die brief van 2 Korinthiers weergegee“) Boonop vermaan die Here Jesus ons ook verder:
Joh 15:7 “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.” 
En verder:
Spr 3:5-6 “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.
Rom 12:1-2 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
Uit bogenoemde skrifgedeeltes is dit duidelik dat indien ons God se Wil wil weet, ons in ‘n noue vertrouensverhouding met Hom moet leef. Hy moet nommer een wees en alle ander dinge tweede. Onthou Hy is God en weet as Hy nie werklik nommer een in ons lewens is nie. Dit is aan die mense wat intiem saam met God wandel, (op ‘n oomblik vir oomblik basis) aan wie Hy sy Wil bekend maak. Ons Vader het vir elkeen van Sy kinders ‘n plan vir sy lewe, en wil dit graag met ons deel. Ons hoef nie alleen deur hierdie moeilike lewe te gaan, en verward ronddwaal, soos verlore skape wat geen Herder het nie. Ons het mos ‘n Herder! Die onderstaande punte behoort as riglyn te dien vir die bepaling van God se wil. Lees meer Om God se Wil te ken

Is iets te wonderbaar vir die Here

Mat 22:29 “Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.”
Indien die Here Jesus nou hier was, sou Hy nie dieselfde stelling aan ons, in hierdie generasie, kon maak nie? Hoeveel van ons ken werklik die Skrifte tot so ‘n mate dat ons dit akkuraat kan aanwend as die Lig vir ons pad? Kyk maar net om jou rond en jy sal opmerk, dat dit ‘n geval van vreet of word gevreet is. Ek praat nie hier van ongelowiges nie, maar van gelowiges. Deesdae sien mens nie meer ‘n verskil tussen die Kerk en die wêreld nie. Hoe dikwels hoor mens nie van gevalle waar die een gelowige ‘n ander besteel, of op die een of ander manier ‘n ander mede gelowige benadeel het, nie? Ek het al baie nagedink daaroor en tot ‘n slotsom gekom dat sekere mense steel en oneerlik is, omdat hulle ongelowig is, en dus onseker raak en nie werklik glo dat God mense meer help nie. Ek beweer nie hier dat dit in alle gevalle so is nie, want baie mense steel net uit blote gierigheid uit. Lees meer Is iets te wonderbaar vir die Here

Versekering in Teëspoed

As kinders van die Here spring ons nie teëspoed en lyding in hierdie wêreld vry nie. (Lees ook asb die artikel “Die gelowige en lyding“) Net wanneer die Here ons kom haal, of indien ons tot sterwe kom voor dat Hy gekom het, sal ons nog steeds van tyd tot tyd teleurstellings en teëspoed in hierdie wêreld beleef. Maar ons moet net besef dat teëspoed, pyn en teleurstellings alle mense in hierdie wêreld tref , nie net die gelowige nie. Ons het egter ‘n troos wat die ongelowige nie het nie, en dit is die feit dat God alles raaksien en weet van al ons teëspoed. Ons bly nog steeds Sy kinders en God bly nog steeds lief vir ons.
Romeine 8:35 “Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? 8:39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.
Daar is absoluut niks wat ons van Sy liefde kan skei nie. Ons kan maar gerus die Ou-Testamentiese helde se geskiedenis gaan bestudeer. Daar sien ons, dat hulle met tye maar swaar gekry het , maar dat die Here altyd saam met hulle was en hulle op die ou einde geseëvier het. Hulle het ook as beter mense uit die stryd getree en teëspoed het soms as ‘n baie goeie leermeester gedien. In tye van teëspoed moet ons leer dat ons die saak in die Here se hande moet oorgee. Dit is Sy werk om ons deur die dal van doodskaduwee te neem. Hy is immers die Herder. Ons is maar net die skape. Lees meer Versekering in Teëspoed

Vergifnis Tussen Gelowiges

Daar is deesdae in tendens in die Kerk wat sê dat alle gelowiges net moet vergewe. As ‘n gelowige deur ‘n ander gelowige benadeel word, dan word dit aan die benadeelde gesê hy moet vergewe. As hy nie vergewe nie, dan word die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser voor die benadeelde broeder gegooi om hom so ver te kry om te vergewe. Is hierdie optrede werklik geregverdig. Om die antwoord te kry moet ons na die Woord self gaan. Wat sê die Woord werklik oor vergifnis tussen gelowiges? Onthou ons praat hier van mense wat gelowig is, nie van ongeredde mense nie. Ons praat hier van ernstige geskille waar vergifnis ‘n vereiste vir versoening sal wees. Lees meer Vergifnis Tussen Gelowiges