Kategorie se argiewe: Gelykenisse

Gelykenis van die Pêrel

Matteus 13:45–46: “Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.”
Opmerking: Die koopman verteenwoordig die Here Jesus Christus, en nie die kerk soos dikwels verkeerdelik verkondig word nie. Gelowiges gee niks prys en verkoop niks om Jesus as Verlosser te ontvang nie. Die ewige lewe is ‘n geskenk wat deur geloof ontvang word; ons betaal geensins daarvoor nie. God het deur Jesus Christus alles prysgegee om vir ons sondes te betaal. Dit is vir die mensdom onmoontlik om ‘n absolute heilige en regverdige God vir sonde te vergoed. Wat verlossing of wedergeboorte (fase een van ons verlossing) betref, kan ons niks by “geloof alleen in die Evangelie” voeg om wedergebore te word nie. Ons kan niks betaal nie, aangesien ons onsself nie kan red nie en oor niks beskik waarmee ons God kan vergoed nie. Dus is die lering dat die kerk die koopman verteenwoordig eksegeties foutief en vreemd aan die konteks van die Skrif. (Die leser word aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees).

Lees meer Gelykenis van die Pêrel

Gelykenis van die Skat

Mat 13:44: “Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.”

Teologiese Konteks en Interpretasie

Hierdie gelykenis, saam met die gelykenisse van die pêrel en die visnet, word vanuit ‘n hemelse perspektief aangebied. Dit fokus op die bestaan van ‘n gelowige oorblyfsel uit die Joodse volk gedurende twee spesifieke tydperke: die tyd toe Jesus fisies op aarde was, en die toekomstige tydperk net na die kerk-dispensasie (die Groot Verdrukking).

Die Identifikasie van die Simbole:

  • Die Man: Soos reeds gesien in die gelykenis van die onkruid, is die man Jesus Christus.
  • Die Saailand: Dit verteenwoordig die wêreld (Mat. 13:38).
  • Die Skat: Dit is die nageslag van Jakob (Israel). Die Skrif bevestig dit in Psalm 135:4: “Want die HERE het Jakob vir Hom uitverkies, Israel as sy eiendom.” (Sien ook Eksodus 19:5).

Israel versus die Kerk

Dit is krities om te verstaan dat die skat na die volk Israel verwys en nie na die Kerk nie. Om Israel met die Kerk te vervang, is vervangingsteologie, wat ‘n onbybelse leerstelling is. Die Kerk en Israel is twee afsonderlike entiteite met verskillende funksies in God se raadsplan. Terwyl die skat op Israel dui, handel die gelykenis van die pêrel hoofsaaklik oor die Kerk.

(Lees asb. die artikel: Het die Kerk die volk Israel, as God se verbondsvolk, vervang?)

Die Verborge Skat en die Versoening

Die skat is in die saailand “verborge”. Dit dui op die gelowige oorblyfsel van Israel wat onder die nasies verstrooi is — veral na die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. — maar wat steeds deur God geken word. Jesus is die Man wat die skat vind en “alles verkoop” om die saailand te koop. Dit beteken dat Hy aan die kruis met Sy lewe betaal het om die hele wêreld vry te koop, sodat Hy Sy eiendom (die skat) kan opeis.
2 Kor 5:19: “naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie…”
1 Joh 2:2: “En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”

Die Toekomstige Openbaring

Die gelowige Jode bly tans “versteek” in die wêreld, maar die Here sal hulle versamel en aan die nasies bekend maak wanneer Hy Sy koninkryk op aarde vestig na die Verdrukking. Intussen is Hy besig om Sy Bruid (die Kerk) te versamel, wat Hy voor die oordeel met die Wegraping sal wegneem.

Alles uit Genade

‘n Belangrike soteriologiese punt is dat die skat (die gelowige Jode) niks betaal nie. Dit het Christus alles gekos, maar vir die sondaar is dit ‘n vrye geskenk. Dit beklemtoon die leer van Vrye Genade: die mens kan nie sy eie heil uitwerk nie, maar ontvang dit slegs deur geloof. Wedergeboorte vind plaas wanneer ‘n persoon die Evangelie verstaan en glo.

Mag ons altyd dankbaar bly vir die prys wat aan die kruis betaal is. Christus het duidelik onderskei tussen die skat (Israel) en die pêrel (die Kerk) sodat ons Sy plan vir die eeue reg kan verstaan.

(Lees asb. die artikel: Het die Kerk die volk Israel, as God se verbondsvolk, vervang?)

Seëngroete

Vic

Die Gelykenis van die Suurdeeg

Mat 13:33 “‘n Ander gelykenis het Hy hulle vertel: Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is. 13:34 Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie;”
Opmerking: Hierdie is seker een van die gelykenisse wat in die meeste gevalle verkeerd geïnterpreteer word, omrede die kardinale reëls van Bybel uitleg nie hier nagekom word nie. Die eerste reël is dat mens moet toelaat dat Skrif, Skrif uitlê. ‘n Ander reël is dat waar ‘n woord simbolies as iets beskrywend van iets anders in die Bybel gebruik word, dieselfde woord regdeur die Bybel as simbolies van dieselfde onderwerp of voorwerp geïnterpreteer moet word. Laat ek verduidelik. Lees meer Die Gelykenis van die Suurdeeg

Gelykenis van Die Mosterdsaad

Mat 13:31 ‘n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n mosterdsaad wat ‘n man neem en in sy land saai; wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en ‘n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke.
Opmerking: Onthou ons het weer hier met ‘n gelykenis te doen waar die Here aan Sy dissipels wil verduidelik hoe die tydperk tussen Sy hemelvaart en wederkoms gaan verloop. Let op, dat dit die tydperk tussen Sy eerste en wederkoms is, en nie net die dispensasie van genade nie (Kerk Dispensasie). Dus, sluit dit die tydperk vanaf Sy hemelvaart tot en met Sy wederkoms, na afloop van die Groot Verdrukking, in wanneer Jesus Sy voete op die aarde (die Olyfberg) sal neersit. Mosterdsaad is ‘n baie klein saad tipe, maar wanneer dit gesaai word en opgroei, word dit ‘n groot bos. Dit is egter opvallend dat daar ‘n onnatuurlike mate van groei plaasvind, aangesien die Here sê dat dit ‘n boom word.  dus is daar ‘n onnatuurlike groot groeiproses. Omrede die Here Sy punt duidelik wou oordra, lê Hy klem op die onnatuurlike groei van die boom, wat eintlik net ‘n bos moes wees. Lees meer Gelykenis van Die Mosterdsaad

Die Gelykenis van die Onkruid

Mat 13:24 “‘n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n man wat goeie saad in sy land gesaai het; 13:25 maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. 13:26 En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook. 13:27 En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan? 13:28 En hy antwoord hulle: ‘n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak? 13:29 Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. 13:30 Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.
Opmerking: Dit is baie belangrik om te onthou. Net soos met die gelykenis van die saaier, het ons hier te doen met mense wat dalk uiterlik mag voorkom as kinders van die koninkryk, maar dit nie in werklikheid is nie. Ander is egter gered soos die gelykenis van die saaier verduidelik. Maar vir die normale mens sal dit nie altyd opsigtelik wees nie, omrede net God mense se harte ken en weet wie werklik Sy kinders is, en soos ons in die gelykenis van die Saaier gesien het, dra nie al die kinders van God vrugte soos wat Hy van hulle verwag nie. In Israel is daar ‘n grassoort wat soms saam met die koring opkom wat ‘n draer van ‘n fungus is wat die grassoort giftig maak vir mens en dier. Dit was ook moeilik om die twee plantsoorte van mekaar te onderskei as hulle jonk was, maar as hulle gereed was vir die oes, kon mens hulle redelik maklik van mekaar skei. Lees meer Die Gelykenis van die Onkruid

Die Gelykenis van die Saaier

Die gelykenis van die Saaier kom in Mattheus 13:1-23 , Markus 4:1-20 en Lukas 8:4-15 voor. Vir ons studie sal ons die gedeelte in Lukas gebruik en aanvullende besonderhede by die ander twee Evangelies verkry.
Lukas 8:4 “En toe daar ‘n groot menigte vergader, en die wat uit die verskillende stede by Hom aangesluit het, sê Hy aan hulle deur ‘n gelykenis: 8:5 ‘n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; en toe hy saai, val ‘n deel langs die pad en is vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet. 8:6 En ‘n ander deel het op die rots geval; en nadat dit opgeskiet het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie. 8:7 En ‘n ander deel het tussen die dorings in geval; en die dorings het daarmee saamgegroei en dit verstik. 8:8 En ‘n ander deel het in die goeie grond geval en gegroei en honderdvoudige vrug opgelewer. Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor! 8:9 En sy dissipels het Hom gevra en gesê: Wat beteken hierdie gelykenis tog?” Lees meer Die Gelykenis van die Saaier