liefde

God se liefde vs die wêreld se liefde

Die wêreld se liefde sê ek vind jou aantreklik en om hierdie rede is ek lief vir jou. Die wêreld se liefde sê ek is lief vir jou omrede ek voordeel uit ‘n verhouding met jou kan trek. Die wêreld se liefde sê ek is lief vir jou omrede jy mooi goedjies aan my gee, en daarom is ek lief vir jou. Die wêreld se liefde sê ek is lief vir jou omrede jy jou lewe vir my sal aflê. Die wêreld se liefde sê jy het my lief en daarom het ek jou lief. Die wêreld se liefde sê ek is lief vir jou, maar al sal ek dit nie noodwendig erken nie, is ek lief vir jou omrede ek glo dat ‘n verhouding (vriendskap, besigheid of liefdesverhouding) my op die een of ander wyse tot voordeel sal strek. Die wêreld se liefde skroom nie om sonde as goed te aanvaar nie, en verander boonop goed in sleg en prys dit dan aan. Ons moet nooit God se liefde met die wêreld se liefde verwar nie.

Indien ons baie mooi oor ons motiewe nadink, dan is dit duidelik dat ons nie werklik goed doen (veral wanneer dit ons iets kos nie) indien ons nie op die een of ander wyse voordeel daaruit kan trek nie. Al doen ons goeie dade slegs met die hoop dat dit in die toekoms met ons ook sal gebeur. Al is ons nie altyd bewus van hierdie feit nie, bly dit egter ‘n feit dat ons motiewe nooit absoluut suiwer is nie. Die rede hiervoor is eenvoudig. Vandat die sondeval plaasgevind het, word alle mense met ‘n sonde natuur gebore en dit is juis hierdie sonde natuur wat tot ‘n baie groot mate ons optredes beïnvloed. Hierdie feit geld ook vir ons liefde vir God, naamlik:
1Joh.4:19 “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”
In teenstelling met hierdie feit is God se liefde vir die mens vry van enige motief anders as Sy suiwer liefde vir ons. (Hy het ons lief ten spyte van die feit dat ons sondaars is, wat herhaaldelik teen Hom sondig.) Die mens beskik oor geen manier om die Here vir Sy genade en liefde aan ons te vergoed nie.
Job.41:2 “Wie het eerste aan My gegee, dat Ek hom moet vergelde? Wat onder die ganse hemel is, is myne.”
God se liefde en motiewe is absoluut suiwer, en om hierdie rede kan ons niks tot God se liefde vir ons bydra nie.

Boonop bestaan daar geen moontlikheid dat God deur enige persoon op enige wyse vir Sy liefde vir ons beloon kan word nie. Om Sy liefde aan die mensdom te demonstreer het God alles gekos, naamlik die dood van Sy enigste Seun. God is ook nie afhanklik van ons liefde vir Hom nie, omrede Hy as die Drie-enige God volkome in Homself is, en is om hierdie rede van niks buiten Homself afhanklik nie. Dit sluit alles in die skepping in. Om die mensdom se verlossing te bewerkstellig moes God opofferings maak en daarbenewens kan ons Hom ook nooit daarvoor vergoed nie. Die Bybel stel hierdie feit baie duidelik, naamlik:
Matt.16:26ff “Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?”
Al wat ons kan doen is om God se verlossing en die gawe van die ewige lewe deur geloof in ontvangs te neem. Mense wat in ‘n werke evangelie of werkheiligheid glo begryp hierdie feit nie mooi nie. Ons kan wel ons liefde vir God demonstreer deur Sy opdragte aan ons te gehoorsaam, maar dit kan nooit as vergoeding vir God se opofferings vir ons bestempel word nie. Ons kan Hom net liefhê omrede Hy ons eerste lief gehad het.

Ongelukkig maak die meeste van ons die fout om God se liefde in terme van die wêreld se liefde te omskryf, en dit gee daartoe aanleiding dat gelowiges soms God se liefde met ‘n prestasie gebaseerde liefde van die wêreld verwar. Onthou die wêreld se liefde sê : “Niks is werklik verniet nie” Een nadeel van hierdie siening is dat dit tot ‘n werke evangelie en prestasie gebaseerde verhouding met God aanleiding gee. Wanneer ‘n persoon onder die indruk gebring word dat hy eers aan ‘n sekere standaard moet voldoen (soos byvoorbeeld elke sonde te bely of met al sy sonde te breek) alvorens hy die Here Jesus Christus om verlossing kan nader, dan is die deur van God se genade in daardie persoon gesig toegeklap. Een gevolg hiervan is dat baie mense wat die Here se aanbod van die gawe van die ewige lewe sou aanvaar dit nooit doen nie, omrede hulle eerlik is en weet dat hulle nie werklik kan ophou sonde pleeg nie, en ook nie instaat is om elke afsonderlike sonde wat hulle gepleeg het te kan onthou nie. Met hierdie wete draai hulle van God af weg, omrede hulle weet dat hulle nooit aan daardie vereistes sal kan voldoen nie en dus nader hulle die Here Jesus Christus nooit om verlossing nie.

Dit is ironies dat veral predikers wat die leerstelling van Heerskappy Verlossing voorstaan die vereiste aan ‘n ongeredde persoon oplê wat vereis dat die persoon van alle bewuste sondes in sy lewe moet bekeer. (wat beteken dat die persoon die sondes laat staan, en heeltemal daarvan af wegdraai) Indien dit die geval sou wees, dan sou nie een van die proponente van die Heerskappy Verlossing vir die ewige lewe kwalifiseer nie. Die rede hiervoor is eenvoudig. Selfs hierdie mense pleeg nog gereeld dieselfde sondes waarvan hulle “bekeer” het, want hulle almal sondig nog steeds na aanvanklike wedergeboorte. Hoe kan hulle dan beweer dat hulle van al hulle sondes bekeer het? Die waarheid is dat hulle nie werklik van al hulle sondes bekeer het nie, anders sou hulle nie weer dieselfde sondes herhaaldelik pleeg nie. Hierdie leerstelling is niks anders as ‘n werke evangelie nie, want dit maak die ontvangs van die gawe van die ewige lewe van ons werke afhanklik wat vir die mens ‘n onmoontlike taak is. Ons moet seker maak dat ons nie aan die mensdom ‘n verkeerde konsep van God se liefde voorhou nie.

Alle mense beskik oor ‘n sonde natuur, en dit is hierdie sonde natuur wat daartoe aanleiding gee dat ons herhaaldelik teen God sondig. (Dit sluit ware gelowiges in.) Ons pleeg sonde omrede dit ons aard is om sonde te pleeg. En hierdie feit dra ook daartoe by dat al ons beste werke ook op die een of ander wyse deur ons sonde natuur beïnvloed word. Dit is om hierdie rede dat God dit duidelik in sy woord aan ons stel dat selfs ons goeie werke soos vuil lappe voor Sy aangesig is.
Jes.64:6 “En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.”
Selfs gelowiges se goeie werke wat nie in Christus en deur die Heilige Gees bewerkstellig is, is by God aanvaarbaar nie. Dit sluit ook alle goeie werke in die vlees verrig in. Sleg die feit dat ons deur geloof in die Here Jesus Christus (deur die Heilige Gees) ingedoop is maak dat ons by God aanvaarbaar is.

Liefde is een van God se attribute, en dus is God liefde en daarom het Hy jou lief. Dit is dus God se aard om volkome lief te hê, en dit is hierdie liefde van Hom wat Hom genoop het om Sy Seun te stuur om in ons plek aan die kruis vir ons sondes te sterwe.
1Joh.8 “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. 9 Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. 10 Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.”

God se liefde: Toe God Sy Seun gegee het om in ons plek aan die kruis te sterwe, het Hy in die attribuut van Sy liefde opgetree. Wanneer ‘n persoon die Evangelie glo dan tree God in Sy attribuut van geregtigheid (nie liefde) op, deurdat Hy die gelowige sondaar as geregverdig verklaar omrede Hy nie anders sou kon doen sonder om self ongeregtig te wees nie. Die rede hiervoor is eenvoudig. Die Here Jesus Christus het al die mens se sondes op Homself geneem en is deur God die Vader daarvoor gestraf. Nou kan God nie anders as om alle mense wat die Evangelie glo regverdig te verklaar nie, omrede hierdie mense Christus se toegerekende geregtigheid ontvang het. (hulle ontvang dus die toegerekende geregtigheid van God self en word dus as sodanig geregverdig verklaar)
Rom.3:21 “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, 22 die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; 23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. 25 Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God 26 om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. 27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. 28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”

God se attribuut van geregtigheid/heiligheid: God is heilig en haat sonde. Boonop is Hy geregtig en kan nie sonde oorsien of sonde goedsmoeds vergewe sonder om inbraak op Sy geregtigheid te maak nie. Indien God ‘n sondaar sou vergewe sonder dat daardie sonde gestraf is, dan sou God in stryd met Sy attribuut van geregtigheid optree en kan Hy nie God wees nie. Indien God in stryd met enige van Sy attribute kon optree sou Hy nie God kon wees nie, want dit is God se attribute wat Hom God maak. Daarbenewens is daar geen geskape wese wat as sondeoffer sou kon kwalifiseer nie omrede alle geskape wesens beperk in hulle attribute is. Slegs God beskik oor attribute wat geen perke het nie. Om hierdie rede kan slegs God as ‘n geskikte sondeoffer kwalifiseer, want slegs Hy kan vir alle sondes van alle tye, vir alle mense van alle tye, deur Sy dood aan die kruis versoening doen, juis omrede Hy onbeperk in al Sy attribute is. Dit is a.g.v. hierdie feit dat die Vader (in Sy liefde) die tweede Persoon van die Drie-eenheid, naamlik die Seun (wie God self is) na die aarde gestuur het om daar deur God die Vader (in Sy geregtigheid) vir al die mens se sondes te straf. Naas die Here Jesus Christus kwalifiseer niemand anders dus as sondeoffer nie en om hierdie rede is die Here Jesus Christus die enigste weg na die Vader.
Joh.14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie”
Wanneer ‘n persoon die Evangelie glo dan tree God in Sy attribuut van geregtigheid op deurdat Hy die gelowige regverdig te verklaar asof hy nooit sonde gepleeg het, omrede die Here Jesus Christus in Sy liefde al die sondes van die sondaar op Homself geneem het en daarvoor gestraf is.

Opsommend: Onthou, God tree nooit in stryd met Sy attribute op nie. Dus het God in Christus die probleem van die mensdom se sonde eens en vir altyd met Christus se kruisdood opgelos. Dit is nou nie soseer oor wat ons met ons sondes doen nie maar wat ons met Christus doen. Indien ‘n persoon volkome op Christus (sonder die doen van enige werke) vertrou dan kan God nie anders as om daardie persoon geregverdig te verklaar asof daardie persoon nog nooit gesondig het nie. In hierdie opsig tree God in die attribuut van Sy geregtigheid op. Indien Hy ‘n persoon wie die Evangelie van God se genade glo nie geregverdig sou verklaar nie, dan sou God in stryd met een van Sy attribute optree wat sou beteken dat Hy nie God is nie. So iets kan nie gebeur nie, en om hierdie rede kan enige persoon wat die Evangelie verstaan en geglo het met absolute sekerheid weet dat hy gered is en nooit verlore sal kan gaan nie. (die leerstelling van geloofsekerheid, wat ‘n onontbeerlike deel van reddende geloof vorm.)

Wanneer ‘n persoon enige vorm van werke by die Evangelie om verlossing voeg, dan gebruik daardie persoon sy goeie werke om God te oorreed om hom te verlos, iets wat God alreeds in Sy liefde deur Sy Seun bewerkstellig het. So ‘n persoon verwerp dan in effek God se oplossing en wil self die probleem van sy sondes oplos. Sodanige persoon sal verlore gaan, want so ‘n persoon trek God se voltooide werk aan die kruis af en verlaag dit tot die vlak van menslike werke. Sodanige persoon sal nie gered word solank as wat hy op die een of ander wyse sy werke wil gebruik om God te oorreed om hom te verlos nie. (of om hom gered te hou nie) Dit is dan niks anders as om God se genade tot die vlak van ‘n besigheidstransaksie af te trek nie. So ‘n persoon verwerp in effek God se genade wat ernstige implikasies vir daardie persoon gaan inhou. Dit is nie Christus plus enige iets nie, maar Christus deur geloof punt! Niks minder (of meer) as slegs die Here Jesus Christus alleenlik (wat by implikasie Sy voltooide werk aan die kruis insluit) is by God aanvaarbaar nie. Dink mooi oor hierdie feit na!

God se liefde sê ek het jou lief ten spyte van die feit dat jy herhaaldelik teen my gesondig het en nog steeds sondig. Boonop is daar geen moontlikheid dat God enigsins in die toekoms enige voordeel/vergoeding uit Sy liefde vir jou kan ontvang nie.) En met hierdie wete het God nog steeds aarde toe gekom en aan die kruis vir ons sondes kom versoening doen. Om van mense te verwag om op die een of ander wyse God te oorreed om hulle te verlos, verlaag God se liefde tot die standaard van die wêreld se liefde. God het uit Sy eie inisiatief, sonder enige goedheid aan die mensdom se kant, besluit om die rebelse mens te verlos deur Sy geliefde Seun aarde toe te stuur om vir hulle sondes aan die kruis te sterwe.
Rom.5:8 “maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”

Die probleem van die mensdom se sondes is vir eens en altyd deur Christus se voltooide werk aan die kruis uit die weg geruim. Al wat ‘n persoon moet doen is om die gawe van die ewige lewe deur geloof by God in ontvangs te neem. Om enige ander vereiste aan die voorkant of aan die agter kant van die Evangelie by te voeg, dien as indikasie dat die persoon beweer dat God se oplossing vir die mens se sonde nie voldoende was nie, en dat die mens deur die een of ander werk of ritueel ‘n bydrae tot sy verlossing moet lewer. (dit sluit die leerstelling van doopsaligheid in) Sodanige konsep toon ‘n ernstige wanopvatting van God se liefde, en verlaag dit tot die plan wat net Satan aan die gevalle mensdom sal voorhou. Die Here Jesus het nie verniet gewaarsku dat daar in werklikheid min mense gered sal word nie. (Luk.13:23) Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Die breë en die smal weg” te lees.

Dit verbaas my nog steeds wanneer mense vir my skryf en my berispe omrede ek “goedkoop genade” verkondig. Hulle beweer dan gewoonlik dat indien mens slegs geloof in die Evangelie (sonder die doen van enige werke, of bekering van alle sondes) aan mense verkondig dit daartoe aanleiding sal gee dat mense goedsmoeds kan voortgaan en sonde pleeg. Hierdie mense toon ‘n ernstige gebrek aan die kennis van God se liefde, asook Sy volledige verlossingsplan.

Gebrek aan kennis aangaande God se volledige verlossingsplan: Die rede hiervoor is eenvoudig. Hierdie einste mense wat die beskuldiging maak dat mense wat in God se vrye genade glo, sonde in mense se lewens aanmoedig pleeg dan nog steeds ook sondes waarvoor hulle ander mense as ongered wil veroordeel. (Daar is boonop geen verifiseerbare bewys dat mense wie die leerstelling van vrye genade aanhang enigsins meer sondig as mense wat in werkheiligheid glo nie. Die teendeel is egter in my lewe waar! In my persoonlike lewe het die leerstelling van God se vrye genade daartoe aanleiding gegee dat ek minder sonde pleeg. Maar toe ek in werkheiligheid geglo het, en gepoog het om dit in my lewe toe te pas, het dit eerder daartoe aanleiding gegee dat sonde oor my geheers het, omrede ek my fokus van Christus afgehaal het en eerder op myself en my eie pogings gefokus het. Op hierdie wyse kon ek nie met my sondes breek nie en het frustreerd geraak. Ek moes leer om heiligmaking op God se wyse in my lewe toe te pas en ek raai die leser ten sterkste aan om die reeks artikels “Heiligmaking op grond van God se genade deur geloof alleenlik” sorgvuldig deur te lees. Almal sondig nog steeds na aanvanklike wedergeboorte, en dit sluit die mense wat my van daarvan beskuldig dat ek goedkoop genade verkondig in. Ek moet dit duidelik stel dat ek nie goedkoop genade verkondig nie maar vrye genade.

Die stelling “goedkoop genade” impliseer dat daar ‘n koste aan genade verbonde moet wees, maar dan sou genade nie meer genade (wat by implikasie vry moet wees) wees nie. (dit is net basiese logika)
Rom.11:6 “En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.
Ons verlossing het God in Christus alles gekos, en dit kos ons niks! Om te beweer dat ons verlossing op enige wyse iets van ons kant af moet kos is ‘n verwerping van God se voltooide werk aan die kruis en dus ‘n verwerping van Sy genade. Hierdie mense, net soos die Fariseërs van ouds, struikel oor die Rots, naamlik die Here Jesus Christus en kom onder Christus se oordeel, naamlik:
Matt.23:13 “Maar wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie 15 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ‘n kind van die hel, twee maal erger as julle self.”
In hierdie opsig toon die proponente van Heerskappy Verlossing (werkheiligheid) hulle onkunde aangaande God se verlossingsplan en die vereistes vir die ontvangs van die ewige lewe.

Hulle gebrek aan kennis aangaande God se liefde:God het die mens so lief dat Hy selfs die mens in sy sonde sal red. (net soos wat ons ‘n persoon wat besig is om in water te verdrink, in die water sal red en hom dan uit die water sal haal. Indien die persoon nie meer in die water is nie sou enige poging om hom van verdrinking te red sinneloosheid wees.) God het egter ook die verloste persoon so lief dat Hy hom nie net slegs in sy sonde verlos nie, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) maar Hy verlos die persoon na aanvanklike wedergeboorte d.m.v. heiligmaking van die houvas wat sondes nog in die gelowige se lewe mag hê. (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking.) Inteenstelling met aanvanklike wedergeboorte, wat ‘n eenmalige gebeurtenis op ‘n spesifieke punt in tyd is, is heiligmaking ‘n proses wat die res van die gelowige se lewe sal voortduur en wat eers met die gelowige se dood of die wegraping volkome afgehandel sal wees. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” te lees.)

Ook in die geval van heiligmaking speel God se liefde ‘n kardinale rol. In hierdie fase van ons verlossing maak God van die verkondiging van korrekte leerstellings gebruik om gelowiges aan te moedig om heiligmaking in hulle lewens toe te laat. Waar ‘n gelowige weier om heiligmaking d.m.v. die Heilige Gees in sy lewe deur geloof toe te laat, maak die Vader van tugtiging gebruik om Sy kind tot geestelike volwassenheid aan te moedig.
Hebr.12:5 “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.”

Waar ‘n gelowige in voortgesette vleeslikheid/sonde voorgaan, sonder om die sondes in sy lewe self te veroordeel, kan dit daartoe aanleiding gee dat die Vader die gelowige siek of selfs ‘n vroeë dood laat sterf.
1Kor.11:30 “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. 31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”
God is alwetend en almagtig en beskik oor genoeg metodes om Sy kinders te tugtig met die doel om hulle tot hulle sinne te bring. Dit moet ook onthou word dat daar in hierdie lewe baie erger lyding as die dood self is. (indien sommige omstandighede in hierdie lewe nie soms erger as die dood self is nie, sou geen mens selfmoord gepleeg het nie) Dink maar aan die verskriklike pyn van kanker, die smarte wat met finansiële bankrotskap ensovoorts gepaardgaan. Dit sou dwaas van ‘n gelowige wees om sonde in sy lewe ligtelik op te neem. (Onthou, nie alle siekte en bankrotskappe is noodwendig straf vir sonde nie. Daar kan ander redes ook wees, waarvan een die doring in die vlees is. 2Kor. 12:7-10)

Al mag God soms toelaat dat Sy kind die gevolge van sy sonde in hierdie lewe moet ervaar bly die gelowige nog God se kind. Ten spyte van God se tugtiging verwerp Hy nooit, maar nooit, sy kinders nie! Diegene wat verkondig dat ‘n gelowige uit genade kan verval, en verlore gaan, toon weer hulle gebrek aan kennis aangaande God se liefde en verlaag dit tot ‘n menslike vlak of selfs nog laer tot Satan se vlak. (net omrede sommige ouers hulle kinders weggooi beteken nie dat God dit ooit sal doen nie. Hy sal nie! Om so ‘n bewering te maak is om God te beledig!) Die Skrifte stel dit egter baie duidelik dat daar absoluut niks is wat die kind van God van Sy Vader se liefde kan skei nie.
Rom.8:38 “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe (die twee uiterstes punte in ‘n mens se bestaan, waarin ‘n persoon sy aardse bestaan uitleef, wat al sy sondes en goeie werke insluit) of engele of owerhede of magte (alle groepe engele goed of sleg) of teenwoordige of toekomende dinge (alles wat in tyd bestaan of sal bestaan) 39 of hoogte of diepte (die uiterstes van die heelal) of enige ander skepsel (enige geskape wese, wat die gelowige en sy tekortkominge insluit) ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, (alle gelowiges is in Christus) onse Here, is nie.”
Openb.3:19 “ Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.”
(Die Here Jesus Christus praat hier met gelowiges wat alreeds wedergebore is en wat hulleself in fase twee van hulle verlossing bevind, naamlik heiligmaking. Dit is tydens heiligmaking waar die gelowige voortdurend van sy sondes moet bekeer. Hy word egter nooit verwerp nie anders sou hy van God se liefde geskei kon word.)

Benewens tugtiging gebruik God ook die vooruitsig van genadeloon wat in en deur die gelowige d.m.v. die Heilige Gees bewerkstellig word. Hierdie genadeloon sal na afloop van die wegraping by die Regterstoel Oordeel van Christus individueel uitgedeel word en sal op goeie werke na aanvanklike wedergeboorte gebaseer word. Maar nooit, maar nooit word die gelowige ooit met die gevaar van die hel of die ewige verwerping deur God in die skrifte gedreig nie. Hierdie konsep is nie van God afkomstig nie maar is satanies van aard! Maar wat dan van die teksgedeeltes wat gebruik word om te bewys dat ‘n gelowige in sonde kan verval en verlore sal gaan? Indien mens hierdie teksgedeeltes binne die korrekte konteks, en met die korrekte uitleg metode benader, en Skrif met Skrif vergelyk, word dit duidelik dat hierdie teksgedeeltes nie bewys dat ‘n gelowige uit genade kan verval nie. In baie gevalle toon hierdie moeilike teksgedeeltes juis dat die gelowige nooit verlore sal kan gaan nie.

God se liefde neem sonde ernstig op, en skroom nie om sonde sonde te noem nie of om dit direk aan te spreek nie. Die wêreld daarenteen noem goed sleg en sleg goed. (dit sluit sogenaamde Bybelse leerstellings in.)
Jes.5:20 “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.”
Goddelike liefde korrigeer en vee nie alles onder die dekmantel van liefde in, of verklaar dit in die naam van liefde of menseregte goed nie. Boonop is God se liefde nie polities korrek nie. Hy noem sonde, sonde en praat dit nooit goed nie. God neem sonde so ernstig op, dat Hy selfs nie Sy enigste Seun gespaar het nie, toe Hy al ons sondes op Homself geneem het. (Met hierdie kennis aangaande die onberekenbare groot prys waarmee God ons van ons sondeskuld vrygekoop het behoort geen gelowige sonde ligtelik op te neem nie.) Boonop verwag hy van ouers om hulle kinders in liefde groot te maak en dit sluit die konsep van reg en verkeerd in.
Spr.13:24 “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.”

Ter Afsluiting: Die tragedie van die leerstelling dat ‘n persoon eers van al sy sondes moet bekeer alvorens hy God om verlossing kan nader is dat baie homoseksuele, dwelmverslaafdes en ander “groot” sondaars nie van daardie sonde in hulle eie krag verlos kan word nie, en omrede hulle as ongelowiges nog nie die Heilige Gees ontvang het nie, beskik hulle nie oor die krag om met hulle sondes te breek nie. (Homoseksualiteit net soos enige ander sonde vind sy oorsprong in die mens se sonde natuur.) Alle sondes, self die “klein sondetjies” verdoem die mens tot die Hel as daar nie daarvoor versoening deur Christus gedoen is nie. Indien mens hierdie feit ingedagte hou dan word dit duidelik dat nie een mens kan beweer dat hy van al sy sondes bekeer het nie. Dit sluit die proponente van werkheiligheid in! Ons almal pleeg dalk nie gereeld die sogenaamde “groot sondes” nie maar ons almal pleeg daagliks die “kleiner sondetjies” en vergeet soms dat enige sonde klein of groot die helse vuur verdien, omrede alle sonde op die ou einde van die dag teen God gepleeg word. (sondes soos byvoorbeeld selfsug, skinder, vloek, eiewilligheid, hebsug, liefdeloosheid, eiewaan, luiheid, die begeerte tot selfverheerliking ensovoorts.)

‘n Persoon ontvang slegs die Heilige Gees die oomblik wanneer daardie persoon die evangelie verstaan en glo, nie voor die tyd nie! Ons moet nie die ossewa voor die osse inspan nie!
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Maar omrede erkende “groot sondaars” eerlik met hulleself is, en erken dat hulle nooit in eie krag van hulle sondes kan bekeer nie, kom hulle nooit so ver om die eenvoudige evangelie te glo nie, om sodoende die Heilige Gees deelagtig te word, wie dan weer op Sy beurt aan hulle die krag en wil sal gee om heiligmaking in hulle lewens te bewerkstellig. Hierdie feit sal daartoe aanleiding gee dat hierdie mense, na aanvanklike wedergeboorte, hulle toenemend van hulle sondes sal bekeer. Predikers van verkondig dat hulle met alle bewuste sondes moet breek (soos byvoorbeeld dwelmverslaafdes) plaas ‘n hindernis tussen die persoon en die evangelie wat sal veroorsaak dat daar baie is wat onnodiglik verlore sal gaan. Hierdie is ‘n tragedie van ongekende proporsies en is ‘n ernstige mistasting aangaande God se woord en Sy liefde vir die mens.

Al wat die Here van ‘n ongelowige persoon vereis, om die gawe van die ewige lewe in ontvangs te neem, is om vanuit ‘n posisie van ongeloof na ‘n posisie van geloof in die Here Jesus Christus (wat by implikasie Sy voltooide werk aan die kruis en opstanding vanuit die dood insluit) te bekeer. Hierdie is die enigste bekering wat ‘n ongelowige persoon kan doen om die ewige lewe te ontvang. Nadat ‘n persoon die evangelie geglo het bevind die persoon homself in fase twee van sy verlossing, naamlik heiligmaking, waar hy toenemend van sondes moet bekeer soos wat die Heilige Gees dit aan hom uitlig. Waar verlossing /wedergeboorte op enige wyse van menslike werke, van enige aard ook al, afhanklik gemaak word, dan word daar ‘n werke evangelie verkondig wat nie die ware evangelie is nie. Menslike werke het absoluut geen rol in die ontvangs of die behoud van die ewige lewe te make nie. Alles wat gedoen moes word is deur Christus aan die kruis gedoen. Slegs geloof in die Here Jesus Christus en Sy voltooide werk aan die kruis is by God aanvaarbaar. Enige ander menslike poging om sy eie verlossing te bewerkstellig sal deur God verwerp word. Dit sluit die leerstelling wat verkondig dat ware geloof noodwendig tot goeie werke aanleiding sal gee in. Al sal die proponente van Heerskappy Verlossing dit ontken, maak hierdie leerstelling nog steeds die mens se verlossing van menslike werke afhanklik en val buite die raamwerk van die evangelie van God se genade. (ek sal in die volgende artikel meer oor hierdie onderwerp uitbrei.)

Dit is belangrik dat ons leerstellings van God se liefde op die Skrifte gebaseer is en nie op menslike opinies nie. Boonop moet ons daarteen waak om nie ons vooropgestelde idees in die Bybel in te lees nie. My bede met die skryf van hierdie artikel, is dat die leser ‘n duidelike beeld van God se liefde vir die mensdom sal bekom. Mag ons in Sy liefde bly en sodoende lewens lei wat Hom herhaaldelik sal verheerlik. Onthou die Here het gekom om sondaars te red!
1Tim.1:15 “Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.”
Moenie wedergeboorte met heiligmaking verwar nie. Dit is twee afsonderlike fases van God se verlossingsplan wat uit drie fases bestaan. Ongelukkig is daar baie mense wat met ‘n wanpersepsie van God se liefde vir die mens rondloop.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.