Gedurende my skooldae moes ons daagliks, voor aanvang van klasse, die Onse Vader opsê. Vir die meeste van ons het dit egter bloot nog ’n alledaagse ritueel geword. Omdat ek soms te lui was om te bid, het ek die Onse Vader opgesê om my eie gewete te kalmeer. Vir my was dit slegs ’n modelgebed, en baie mense gebruik dit steeds as sulks. Ek het nooit besef hoe belangrik die gebed werklik is en wat dit behels nie. Baie mense glo verkeerdelik dat die Here Jesus Christus met Sy eerste koms die koninkryk in ’n geestelike sin op aarde gevestig het, en dat die koninkryk tans in ’n versteekte vorm op aarde teenwoordig is. Soos duidelik aangetoon sal word, weerlê die “Onse Vader” egter hierdie bewering. Hierdie feit maak die “Onse Vader” ’n uiters belangrike gebed wat elke gelowige gereeld met dieper insig behoort te bid, veral in die tye waarin ons nou leef!