Die Gelowige en die Dood: ‘n Oorgang van Lig tot Lig
Hierdie is nie juis een van die mees aangenaamste onderwerpe om oor te skryf nie, maar die feit bly staan dat ons almal die een of ander tyd gaan sterf (indien ons gelukkig is, sal ons deel van die groep gelowiges wees wat die dood d.m.v. die wegraping sal vryspring). Vir baie mense is die gedagte van die dood iets vreesliks, maar vir die gelowige hoef dit nie die geval te wees nie.
Onthou dat die Bybel nooit die dood as uitwissing van bestaan omskryf nie, maar wel as skeiding. Indien iemand sterf, dan sterf net sy fisiese liggaam, maar sy gees en siel bly bewustelik voortbestaan. Die verhaal van Lasarus en die ryk man demonstreer hierdie waarheid baie mooi (Luk 16:19–31).
Openb.6:9 “En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. 10 En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? 11 En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.”
Soos wat duidelik uit bostaande teksgedeeltes waargeneem kan word, bestaan mense wat alreeds afgesterf het, bewustelik voort al sou ons hulle as afgesterf aan hierdie kant van die graf beskryf. Daar is dus geen sprake van ‘n sieleslaap soos wat sekere mense beweer nie. Wanneer ‘n gelowige tot sterwe kom, vind daar ‘n skeiding tussen sy liggaam en sy siel en gees plaas. Sy siel en gees is egter onmiddellik in die teenwoordigheid van God.
2Kor.5:8 “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.”
Nog ‘n baie belangrike feit om te onthou, is dat die Bybel dit baie duidelik stel dat die Heilige Gees, ten tye van wedergeboorte, in die gelowige inwoon en die gelowige permanent deur die Heilige Gees verseël word.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, 4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”
Met die gelowige se afsterwe is hy glad nie alleen nie en word die verbintenis met die Heilige Gees op geen stadium verbreek nie. God is te alle tye by Sy kind.
God is Lig en die Oorwinning oor Duisernis
Die Bybel stel dit baie duidelik dat God lig is en daar geen duisternis in Hom is nie.
1Joh.1:5 “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.”
1Tim. 6:16 “wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.”
Ps. 104:1 “Loof die HERE, o my siel! HERE my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed— 104:2 wat Uself omhul met die lig soos met ‘n kleed, wat die hemel uitspan soos ‘n tentdoek;”
Dit is dus logies dat wanneer ‘n gelowige tot sterwe kom, hy geensins enige duisternis of donkerte gaan beleef nie. Die persoon gaan homself of haarself onmiddellik in God se teenwoordigheid bevind in ‘n onbeskryflike helder lig.
Voor die kruisiging is siele na “Abraham se boesem” geneem omdat Jesus nog nie vir al die sondes versoening gedoen het nie. Na die kruisiging is die gelowige egter permanent in Christus en verseël deur die Heilige Gees. Die res van die mensdom is nog steeds geestelik dood en van God geskei, en daarom is dit so belangrik om die Evangelie te verkondig!
Die Gemoedstoestand en die Hoop op die Verheerlikte Liggaam
Die gelowige sal onmiddellik na afsterwe onbeskryflike vreugde, vrede en liefde ervaar, sonder enige vrees, pyn of siekte.
Rom. 8:38 “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 8:39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”
Alhoewel die siel en gees onmiddellik by die Here is, is ons verlossing eers volkome wanneer ons ons nuwe, verheerlikte liggame ontvang.
1Kor.15:52 “in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. 53 Want hierdie verderflike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.”
Hierdie verandering vind plaas tydens die Wegraping. Die wat in Christus gesterf het, sal opgewek word en ons wat lewe sal verander word om altyd by die Here te wees.
1Thess.4:16 “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met die geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.”
Filip.3:21 “wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam…”
Ter Afsluiting: Die dood vir die gelowige is nie ‘n einde nie, maar ‘n glorieryke oorgang en inwerklkiheid ‘n seën (al voel dit nie nou vir ons so nie, maar die oomblik wanneer ons gesterf het sal ons hierdie waarheid in sy volle omgang verstaan. Om in God se teenwoordigheid te wees is ‘n onbeskryflike ervaring wat nooit aan hierdie kant van die graf volkome beskryf of verstaan kan word nie. Die oomblik wanneer die gelowige sterf word hy meer bewus van die Here want hy kan Hom dan sien). Ons kan mekaar met hierdie woorde vertroos:
1Kor.2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”
Ps. 23:4 “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.”
(Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Wat is die Ewige Lewe” te lees.)
Seën Groete, Vic