Ons almal kom op een of ander tyd in ons lewens by ‘n punt waar ons voel ons kan nie meer nie. Dit gebeur veral wanneer iemand werklik vir die Here wil leef en Hom wil dien. Ek glo vas dat almal wat die Here opreg dien, en nie hulleself nie, soms moedeloos sal voel omdat dinge nie uitwerk soos beplan nie. Die rede hiervoor is dat die satan en sy werkers ons op alle vlakke sal teëstaan. Dit is juis hier waar ons moet ophou om in eie krag voort te beur; ons moet onsself volkome aan God oorgee en na Hom alleen kyk vir ‘n suksesvolle uitkoms.
Anthony Norris Groves wou vir die Here werk en het dit ook gedoen, maar na jare se arbeid en vele terugslae het hy gesterf met die gevoel dat sy lewe ‘n mislukking was. Die Here het sy lewe egter nie as ‘n mislukking gesien nie. Sy werk het na sy dood in Mei 1853 ryke vrug gedra, tot so ‘n mate dat hy vandag as die “vader van geloofsending” beskou word. Watter geweldige eer is dit nie! Hy het nooit die volle vrug van sy arbeid hier op aarde waargeneem nie, maar dink net watter loon hy by die Here sal ontvang.
Dit is nie noodwendig die persoon wat hier op aarde vir homself ‘n naam maak wat in God se oë groot is nie. Nee, dit is die persoon wat stil en sonder enige begeerte na selfverheerliking sy taak voltooi — die taak wat die Here hom gegee het om te doen. Dit is die persoon wie se gesig “bloedbelope” is van die val en weer opstaan. God meet nie jou prestasie aan die motor waarin jy ry of die hoë posisie wat jy beklee nie. Anders as die vals apostels, wat hulleself met hulleself vergelyk het, het Paulus dit nooit gedoen nie. Moenie met wêreldse oë na jouself kyk of jouself met wêreldse maatstawwe meet nie. Doen bloot wat die Here jou beveel het en laat die oordeel aan Hom oor.
Indien ons met vandag se materialistiese sienswyse na Paulus se lewe kyk, sou ons maklik kon dink dat hy ‘n mislukking was. Hy het nie met die nuutste perdekar rondgery nie en die wêreld het nie sy lof besing nie. Inteendeel, hy was vol littekens omdat hy in ‘n hewige stryd gewikkel was. Kom ons lees wat hy self hieroor te sê het:
2 Korintiërs 11:16-33 “Weer sê ek dat niemand moet dink dat ek dwaas is nie; of anders, neem my maar aan as ‘n dwaas, sodat ek ook ‘n bietjie kan roem. Wat ek spreek, sê ek nie vanweë die Here nie, maar as in dwaasheid, in hierdie vertroue dat ek mag roem. Terwyl baie na die vlees roem, sal ek ook roem. Want julle verdra graag die dwase, omdat julle so verstandig is! Julle verdra dit mos as iemand knegte van julle maak, as iemand julle opeet, as iemand julle beetneem, as iemand hom aanstel, as iemand julle in die gesig slaan. Tot my skande moet ek erken dat ons daarvoor te swak was; maar as iemand dit aandurf—ek spreek in dwaasheid—ek durf ook. Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle die nakomelinge van Abraham? Ek ook. Is hulle dienaars van Christus? —ek praat in uitsinnigheid—ek nog meer: in arbeid oorvloediger, in slae bo die maat, in gevangenskappe baie meer, in doodsgevare dikwels. Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek op die diepwater deurgebring— dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid. Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes. Wie is swak en ek is nie swak nie? Aan wie word ‘n struikelblok in die weg gelê en ek is nie aan die brand nie? As daar geroem moet word, sal ek in my swakhede roem. Die God en Vader van onse Here Jesus Christus, geseënd tot in ewigheid, weet dat ek nie lieg nie. In Damaskus het die goewerneur van koning Arétas die stad van die Damaskéners laat bewaak om my te vang; en ek is in ‘n mandjie deur ‘n venster in die muur neergelaat en het aan sy hande ontkom.”
Sjoe! In ons tyd sou Paulus sleg afgesteek het teen die spoggerige predikers van vandag, maar nie in die Here se oë nie. Ons moenie ons omstandighede as maatstaf gebruik om die waarde van ons arbeid te bepaal nie. As ons God se opdragte getrou uitvoer, kan ons verseker weet dat ons loon groot sal wees. Ons moet ons oë op Jesus Christus gevestig hou.
Dikwels beskou ons genade slegs as die aangename dinge wat ons ontvang. Ware genade is egter ook die krag wat ons ontvang wanneer ons eie krag op is, sodat ons deur onmoontlike omstandighede kan voortbeur. God se genade word dikwels die duidelikste waargeneem in die donkerste tye van ons lewens — die tye waar ons slegs deur Sy krag staande bly. Hierdie genade verwyder alle hoogmoed en gee aan die Here die eer wat Hom toekom. Kyk na Paulus en mense soos Corrie ten Boom; hulle is getuies van hierdie instaatstellende krag.
Wanneer dinge voel asof dit nie uitwerk nie, onthou dat die Here dit nie noodwendig so sien nie. Sy maatstaf verskil radikaal van die wêreld s’n. Volgens die wêreld was Jesus se kruisdood Sy grootste neerlaag, maar in werklikheid was dit Sy grootste oorwinning.
Ek sluit af met die boodskap aan die gemeente in Smirna om te illustreer dat ons gevoelens nie as barometer dien vir hoe God oor ons voel nie:
Openbaring 2:8-11 “En skryf aan die engel van die gemeente in Smirna: Dít sê die eerste en die laaste, wat dood was en lewend geword het: Ek ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge van die Satan. Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee. Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.”
Onthou, ons is pelgrims en ons ware woning is in die hemele. Laat ons vasbyt en die taak voltooi wat die Here ons gegee het. Die Kerk se mandaat is die verkondiging van die Evangelie en die onderrig van jong gelowiges in dissipelskap:
Markus 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”
Matteus 28:19 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
Kom, Here Jesus, kom gou! Mag Hy ons getrou vind aan Sy werk en nie verstrengel in wêreldse dinge nie. Moenie moedeloos raak nie!
Seëngroete, Vic