Soos wat ek die eposse lees wat ek ontvang wil dit nog steeds voorkom dat baie mense nie die verskil tussen aanvanklike verlossing, naamlik wedergeboorte (fase een van ons verlossing) en ware godsdiensbeoefening wat deel van die heiligmaking proses, naamlik, fase twee van ons verlossing, onderskei nie. Dit gee daartoe aanleiding dat baie mense nog steeds glo dat hulle werke (godsdiensbeoefening) nog steeds ‘n aandeel in hulle verlossing het. Indien ons die skrifte sorgvuldig bestudeer, dan merk ons dat godsdiensoefening nie noodwendig verlossing beteken nie. ‘n Persoon kan godsdienstig wees en nog steeds nie die ewige lewe besit nie. Hierdie stelling geld ook vir die oorgroot meerderheid van die belydende christendom. Indien ‘n persoon nie alreeds die ewige lewe besit nie dan is daardie persoon se godsdiensbeoefening waardeloos en die persoon sal nog steeds hel toe gaan. (die leser word weereens ten sterkste aangeraai om die artikel “ Die Drie Fases van Verlossing” te lees asook die illustrasie “Die Drie fases van verlossing” sorgvuldig te bestudeer.)
Handelinge 4:12 maak die volgende stelling, naamlik:
Hand.4:12 “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.”
Die naam van ‘n persoon is van uiterste belang want die naam van die persoon sluit ‘n spesifieke stel proposisionele feite aangaande daardie persoon in. Die proposisionele feite aangaande die Here Jesus Christus sluit die feit in dat Hy die Seun van God is (en dus self God is), en dat Hy op ‘n spesifieke punt in tyd vir die hele mensdom se sondes (verlede, hede en toekomstige sondes) aan die kruis met Sy bloed/lewe versoening gedoen het en dat Hy op die derde dag vanuit die dood uit opgestaan het. Of jy glo dat die Here Jesus Christus en Hy alleen, (nie die Here Jesus Christus plus enige ander menslike werke nie), is jou persoonlike Verlosser of jy is nie nie gered nie, maak nie saak hoe godsdienstig jy ook al mag wees nie. Mens kan nie hierdie feit genoegsaam beklemtoon nie. Verlossing kan slegs in die naam van die Here Jesus Christus en Hom alleen bekom word en op geen ander wyse nie.
Godsdiens beoefening, so uiters belangrik soos wat dit is, kan nie ‘n persoon se verlossing, naamlik wedergeboorte, bewerkstellig nie. Daar is nie verlossing in predikers, kerkbywoning, die waterdoop, profete, boetedoening, goeie werke, sondebelydenis of selfs gebede nie. Reformasie in eie krag verrig sal ook nie verlossing bewerkstellig nie, maak nie saak hoe hard die persoon probeer nie. (die leser word aangeraai om die artikel “Bekeer, of bekering, is nie reformasie in eie krag nie” sorgvuldig deur te lees.)
Die rede hiervoor is dat nie enige van die dinge soos hierbo genoem, of enige iets anders behalwe persoonlike geloof in die Here Jesus Christus (wat Sy voltooide werk aan die kruis insluit) ‘n persoon se verlossing kan bewerkstellig nie. God stel hierdie feit baie duidelik in Sy woord, naamlik:
Joh.3:14 “En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, 15 sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. 18 Hy wat in Hom glo, (geen ander vereistes nie)word nie veroordeel nie; (en indien ‘n persoon nie veroordeel kan word nie dan kan daardie persoon nie verlore gaan nie) maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel (en dus verlore solank as wat hy in sy ongeloof voortgaan)omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”
Die skrifte stel dit herhaaldelik dat ‘n persoon die ewige lewe ontvang die oomblik wanneer hy die evangelie verstaan en glo. Geen ander vereistes kan by slegs geloof in die evangelie bygevoeg word om verlossing/wedergeboorte te bewerkstellig nie.
1Kor.15:1 “Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;
Ef.1:1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Die oomblik wanneer ‘n persoon die evangelie verstaan en glo dan ontvang daardie persoon die Here Jesus Christus, en daardie persoon word deur die Heilige Gees in die Here Jesus Christus ingedoop en verseël wat beteken dat daardie persoon nou in Christus is en nooit verlore sal kan gaan nie. Om hierdie rede maak die apostel Johannes die volgende stelling, naamlik:
1Joh.5:10 “Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie. 11 En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. 12 Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”
Die oomblik wanneer ‘n persoon die evangelie glo kan hy met absolute sekerheid weet dat hy die ewige lewe by God ontvang het en dat hy nooit verlore sal kan gaan nie, naamlik:
1Joh.5:13 “Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.”
(Lees gerus ook die artikel “Generiese geloof vs Reddende geloof)
Godsdiensoefening is uiters belangrik, maar vir godsdiensoefening om enigsins waarde te hê moet dit op die korrekte fondasie, naamlik die Here Jesus Christus en Hom alleen gebou word.
1Kor.3:10 “Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. 11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.”
Die Rooms-Katolieke beweer dat hulle ook die Here Jesus Christus aanbid, maar die probleem vir hulle lê in die feit dat hulle menslike werke en kerk sakramente as vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe, asook die behoud daarvan, by slegs geloof in die evangelie byvoeg. Sodoende word hulle hele godsdiensstelsel op ‘n verkeerde fondasie gebou, omrede verlossing slegs deur geloof in Christus (wat Sy voltooide werk aan die kruis insluit) bekom word en op geen ander wyse nie. Omrede hulle menslike werke, en kerk sakramente as vereiste by die evangelie gevoeg het, het hulle die evangelie van God se genade in ‘n werke evangelie verander en sodoende baseer hulle, hulle hele godsdiensstelsel op die sand van menslike werke. Hulle poog dus om hulle verlossing op hulle eie terme te bewerkstellig en nie op dit wat God bepaal het nie. In hierdie opsig verwerp hulle die evangelie en God se genade en indien hulle in hierdie toestand tot sterwe kom sal hulle vir ewig in die poel van vuur gepynig word.
Onderskeid tussen godsdiensbeoefening: en die ontvangs van verlossing/ewige lewe:
a.) Godsdiensbeoefening: Is ‘n poging om die ou sonde natuur te reformeer/verbeter.
Verlossing/redding: Tydens verlossing/wedergeboorte ontvang die gelowige ‘n nuwe natuur die oomblik wanneer daardie persoon die evangelie glo.
1Joh.1:12 “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;
1Pet.1:23 “want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.”
Na wedergeboorte is die ou sonde natuur ook nog steeds teenwoordig en sal eers met fase drie van die gelowige se verlossing, naamlik die verheerliking, vir ewig verwyder word. In hierdie opsig kan ‘n gelowige of vanuit sy nuwe sondelose natuur optree of vanuit sy sonde natuur funksioneer en sonde pleeg. Om hierdie rede vermaan die skrifte ons om onsself met die nuwe mens (sondelose natuur) se beklee, naamlik:
Ef.4:21 “as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus: 22 dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens (met die sonde natuur) moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, 23 en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed 24 en julle met die nuwe mens (sondelose natuur wat tydens wedergeboorte ontvang word)moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.”
Wanneer ‘n gelowige vanuit sy sondelose natuur (of te wel die nuwe mens) funksioneer dan sal hy nie sonde pleeg nie. Indien hy egter weer in die vlees terugval en vanuit sy vlees (die ou sonde natuur) funksioneer, dan sal hy die werke van die vlees verrig wat niks anders as sonde is nie. (sien Gal.5:19-21) Bekeer, of bekering, is nie reformasie in eie krag nie.
b) Godsdiensbeoefening: Is wat die mens vir God verrig.
Verlossing: Is wat God vir die mens doen en daar is absoluut niks wat die gelowige tot sy verlossing kan bydra behalwe die glo van die evangelie nie.
Jes.53:6 “Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.
Rom.4:5 “aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”
c) Godsdiensbeoefening:Beklee ons met die kleed van ons eie geregtigheid. Die skrifte verklaar dat ons eie geregtigheid (wat ons goeie werke soos byvoorbeeld godsdiensbeoefening insluit) soos ‘n besoedelde kleed in God se oë is.
Jes.64:6a “En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed;”
Lees gerus die artikel “Gaan gelowiges hel toe as hulle vergeet om sonde te bely?”)
Verlossing: Beklee ons in die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid en sodoende word ons volkome deur God op grond van hierdie feit aanvaar.
Rom.3:21 “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, 22 die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; 23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. 25 Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God 26 om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. 27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof.”
d) Godsdiensbeoefening: Kom die mens met iets in sy hande na God toe.
Verlossing: Kom die erkende sondaar met niks in sy hande na God toe nie. Boonop is dit onvanpas om verlossing deur werke te wil verdien. Die rede hiervoor is dat ons nooit ons verlossing deur die doen van werke of wetnakoming kan verdien nie. Ons werke sal nooit goed genoeg kan wees nie.
Rom.3:19 “Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; 20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.”
God skenk die gawe van verlossing kosteloos aan die mens en dit word van die mens verwag om slegs die geskenk van die ewige lewe deur geloof by God in ontvangs te neem. Niks meer nie! Alles op grond van God se genade deur geloof alleen.
Ef.2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”
Enige ander werke wat die mens aan die voor of agterkant van die evangelie byvoeg in ‘n poging om die ewige lewe te ontvang is onnodig, beledigend vir God en kan selfs verdoemend wees! Maar hoekom kan dit verdoemend wees, want dit is dan goed bedoel? Die rede daarvoor is omdat God alreeds in Sy woord duidelik beveel het wat die mens moet doen om die ewige lewe te ontvang en Hy het dit duidelik gestel dat slegs geloof in die evangelie deur Hom vereis word en niks anders nie! ‘n Persoon wat enige ander vereiste by die evangelie voeg demonstreer deur sy optrede dat hy nie glo dat geloof in die evangelie alleenlik genoegsaam is nie en sodanige optrede is niks anders as ‘n vorm van ongeloof nie. Deur sy optrede maak hy ook van God ‘n leuenaar, omrede hy indirek verklaar dat geloof alleenlik nie genoegsaam is soos wat God verklaar nie, en daarom word verdere vereistes soos sondebelydenis, ‘n persoon se lewe vir die Here gee, doop, beloftes om heilig te leef ensovoorts by die evangelie bygevoeg om verlossing te bewerkstellig! In hierdie opsig maak hulle van God ‘n leuenaar en demonstreer hulle ongeloof.
e) Godsdiensbeoefening:Is afhangend van ons goeie gedrag.
Verlossing: Is afhangende van slegs ons geloof en niks meer as dit nie.
Hand.16:30 “En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? 31a Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word,”
f) Godsdiensbeoefening: Vertrou die persoon in die godsdienstige werke wat hy doen.
Verlossing: Vertrou die persoon in die werke wat die Here Jesus Christus alreeds gedoen het.
Heb.10:10 “Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.”
Die leser word aangeraai om die artikel “Heiligmaking in drie fases” sorgvuldig deur te lees.)
g) Godsdiensbeoefening: Vereis dat ons op ons beste moet optree.
Verlossing/wedergeboorte: Vereis dat ons God se beste, naamlik die Here Jesus Christus (wat Sy voltooide werk aan die kruis vir ons insluit) deur geloof moet aanvaar.
Rom.6:23 “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”
h) Godsdiensbeoefening: Maak staat op diegenoegsaamheid van ‘n persoon se karakter en optrede.
Verlossing: Maak volkome op die voltooide werk van die Here Jesus Christus aan die kruis staat.
1Kor.1:18 “Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;”
i) Godsdiensbeoefening: Streef ‘n persoon om volmaaktheid te bereik.
Verlossing: Word deur die volmaakte soenoffer van die Here Jesus Christus deur geloof ontvang.
1Pet.1:18 “omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, 19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,”
j) Godsdiensbeoefening: Poog om ‘n offer te voorsien.
Verlossing: Vertrou op die offer wat God alreeds voorsien het.
Joh.9:30 “En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.
Heb.7:25 “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. 26 Want so ‘n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; 27 wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het. 28 Want die wet stel as hoëpriesters aan mense met swakhede, maar die woord van die eedswering wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan, wat vir ewig volmaak is.”
k) Godsdiensbeoefening: Vereis dat ons in ‘n kerkgebou gevind moet word.
Verlossing: Vereis dat ons in Christus gevind moet word.
Filip.3:9 “en in Hom (die Here Jesus Christus) gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof;”
Indien ‘n persoon nie die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid, wat slegs deur geloof in die evangelie bekom kan word, geklee is nie, dan sal daardie persoon verlore gaan maak nie saak hoe heilig, of hoe baie goeie werke hy doen of hoe gereeld hy kerk bywoon nie.
Lees gerus die artikel “Ons kan nie God vir Sy genade beloon nie”), asook “Die mens se sondeskuld verhoed nie God se genade nie”
l) Godsdiensbeoefening: Poog om die mens d.m.v. goeie werke vanuit die duisternis na die lig te bring.
Verlossing: Bring die mens vanuit die dood na die lewe oor.
Joh.5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.”
Ter Afsluiting: Ons moenie godsdiensbeoefening met verlossing/wedergeboorte verwar nie. ‘n Persoon kan heeltemal ongered wees en nog steeds godsdiensbeoefening verrig. Sodanige godsdiensbeoefening het absoluut geen ewigheidswaarde nie. Die ongelowige/ongeredde persoon (dit sluit ook alle mense wat op die een of ander wyse in ‘n werke evangelie glo in) se dringendste en dringende behoefte is om dood eenvoudig die Evangelie van God se genade te glo. Hy moet vanuit ‘n posisie van ongeloof (en eiegeregtigheid) na ‘n posisie van geloof in die Here Jesus Christus se volmaakte plaasvervangende werk aan die kruis oorgaan/bekeer. Dit is al wat God van op hierdie stadium van die ongelowige persoon verwag. Lees gerus die artikel “Bekering, Geloof en die Ewige Lewe”
Sodra die persoon die evangelie geglo het, en wedergebore geraak het (die ewige lewe as geskenk by God deur geloof ontvang het) kan hy in werklikheid ware godsdiensbeoefening, soos byvoorbeeld kerkbywoning waar moontlik, verrig wat enigsins oor enige ewigheid waarde beskik. Sodra ‘n persoon wedergebore geraak het verander sy belangrikste behoefte, en verwag God nou van sy kind om voortdurend geestelik te ontwikkel/groei wat d.m.v. voortgesette heiligmaking (wat goeie werke deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees verrig insluit) moet plaasvind. Met ander woorde, die gelowige moet ‘n diep intieme verhouding met God sy Hemelse Vader kweek, wat deur konsekwente geestelike groei, gehoorsaamheid aan Sy Woord, en ‘n passievolle strewe na heiligheid, gekenmerk moet wees. Die doel van heiligmaking is altyd om meer soos Christus te word, sodat die gelowige sy Godgegewe doel op aarde kan vervul. Die gelowige moet toenemend in sy geloof groei en leer om volkome op God se beloftes te vertrou en op Sy krag staatmaak wanneer hy voor moeilikhede of beproewings te staan kom. In hierdie opsig moet ons nie godsdiensbeoefening met aanvanklike wedergeboorte (fase een van ons verlossing) verwar nie.
Ware godsdiensbeoefening kan slegs na afloop van wedergeboorte plaasvind en dit vorm deel van die heiligmakingsproses. (fase twee van ons verlossing.) Wanneer fase drie, naamlik die verheerliking met die eerste opstanding plaasvind, dan sal God ons by die Regterstoel Oordeel van Christus ons vir ons getrouheid en arbeid in Sy Naam verrig met genadeloon beloon. Broeders en suster moet asseblief nie die twee konsepte met mekaar vermeng of verwar nie. ‘n Gelowige verrig ware godsdiensbeoefening omrede hy die Here lief het vir dit wat die Here alreeds vir hom gedoen het en nie om homself te red of gered te hou nie.
Seën Groete!
Wat ook al die komende jaar vir jou mag inhou, mag die genade van onse Hemelse Vader jou kragbron wees; Vir alles wat binne jou beheer sal val, mag die genade van die Here Jesus Christus jou onderskraag om beheer daaroor te vat; Wat ook al buite jou beheer sal val, kyk op na God want Hy sal dit vir die doel waarvoor Hy dit toegelaat het beheer. Alles het ‘n doel!
My bede is dat ons almal God in die komende jaar sal verheerlik en mag Hy jou ryklik seën!
Voorspoedige 2025