Daar is deesdae ‘n siening onder ‘n baie groot gedeelte van die belydende Christendom wat verklaar dat ons, as gelowiges, die Duiwel en demone kan bind. (Neem asb kennis dat hierdie studie nogal lank is en die leser word aangeraai om eerder die artikel uit te druk en dan rustig te lees.) Sommige mense gaan ook so ver en beweer dat self siektes en armoede ontbind kan word, wat daartoe aanleiding sal gee dat die betrokke persoon welvaart sal beleef en selfs volkome van siektes bevry kan wees. ‘n Verdere uitvloeisel wat uit hierdie leerstelling voortkom, is die leer dat ons as gelowiges die gesag, en mandaat, het om bose geeste wat oor spesifieke dorpe, stede, lande en self kontinente heers te bind wat daartoe sal lei dat hierdie plekke uit die mag van hierdie demone bevry sal raak en op hierdie wyse sal die wêreld weer vir Christus terug gewen kan word. Daarbenewens word dan seminare en lesings aangebied waar ywerige gelowiges geleer word hoe om hierdie bose geeste te bind, en word daar gereeld op televisie, op radio, boeke, asook op konferensies verkondig dat gelowiges die offensief teen Satan en ander bose geeste moet neem, waardeur bose geeste deur die toepassing van strategiese geestelike oorlogvoering gebind en sodoende sal die bose geeste se houvas oor hierdie gebiede verbreek word. Daar word ook verkondig, dat daar individuele geeste of demone is wat in beheer van sekere dorpe, stede geografiese streke asook individuele geboue (territoriale geeste of demone) is, en indien gelowiges hierdie geeste wat oor daardie plekke gesag uitoefen bind, dit daartoe sal lei dat daardie plekke geëvangeliseer sal word. Hierdie leerstelling word ook op individuele toegepas en daar word soms so ver gegaan as om te beweer dat bindings van armoede gebreek, of ontbind kan word, wat daartoe sal lei dat die betrokke persoon rykdom en voorspoed sal beleef. Lees meer Bind en Ontbind van Bose Geeste!
Geloof sonder werke is dood? Jak 2:14-26
Jakobus 2:14-26 is seker een van die teksgedeeltes wat die meeste verwarring vir gelowiges veroorsaak en dit is ook ‘n teksgedeelte waarmee baie teoloë in die verlede geworstel het. Daarom is dit ook nie vreemd om te verneem dat die Rooms-katolieke Kerk hierdie teksgedeelte as bewys gebruik, dat hulle leerstellings van geloof plus werke (werke evangelie) korrek is en dat die protestante reformasie verkeerd is as hulle verkondig dat die mens alleen deur geloof in Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis geregverdig word. (Ware Evangelie)
Ander teoloë veral in die gereformeerde tradisie beweer dat reddende geloof altyd werke te voorskyn sal bring, en indien daar geen werke by ‘n persoon bespeur word nie, dit as bewys dien dat die persoon nie werklik reddende geloof gehad het nie en dus nooit wedergebore geraak het nie. Ook hierdie siening het probleme en veroorsaak onnodige vrees by gelowiges, veral as hulle nog nuut in die geloof is en as hulle geloof nog nie verder ontwikkel het nie. Lees meer Geloof sonder werke is dood? Jak 2:14-26
Bloedlyn vloeke
Deesdae is die leerstelling van bloedlyn vloeke baie gewild onder sekere gemeentes en dit is te verstane, omrede gewilde tel-evangeliste en skrywers soos Joyce Meyer, Marilyn Hickey, Benny Hinn, Neil Anderson, Healing Streams en vele ander hierdie gewilde maar onskriftuurlike leerstelling verkondig. As mens gaan kyk na al die boeke wat oor hierdie onderwerp geskryf is, sal mens gou agterkom, dat dit ‘n gewilde onderwerp is, en dat baie geld uit die verkoop van hierdie boeke gemaak is. ‘n Ander rede waarom hierdie leerstelling so gewild is is dat die mens oor ‘n sonde natuur beskik en dit dus moeilik vind om verantwoordelikheid vir sy eie foute te neem. Sielkundige teorieë het baie mense daarvan oortuig dat hulle nie werklik sondaars is nie, maar dat hulle die slagoffers van die samelewing in die algemeen, en veral die slagoffers van hulle ouers is. Baie mense, soos die tel-evangeliste soos hierbo genoem beweer dat ons bloedlyn vloeke van ons voorgeslagte ontvang het en dat hierdie bloedlyn vloeke eers gebreek moet word alvorens ‘n persoon werklik vry kan wees. Lees meer Bloedlyn vloeke
Spreek in vreemde tale
As dit kom by die bespreking van Geestelike gawes kom, is dit van uiterste belang, dat ons slegs na die woord van God vir ons antwoorde gaan en moet daar nie op ons ondervindings en belewenisse staatgemaak word nie. Die Skrifte bly altyd die standaard waarteen ons enige doktrines of ervaring moet toets. Indien ‘n persoon sy teologie op buite Bybelse ervarings bou, ontstaan daar twee baie ernstige gevare wat rampspoedige gevolge kan hê. Eerstens kan die ervaring self, in sy inhoud en en die oorsprong daarvan, heeltemal misverstaan word. Tweedens kan daar ‘n foutiewe gevolgtrekking omtrent die leerstellige betekenis van die ervaring gemaak word. Dus kan ‘n ervaring of belewenis wat blykbaar ‘n goddelike oorsprong het, slegs ‘n sielkundige oorsprong hê en glad nie van God afkomstig wees nie. Wat die saak nog verder vererger, is die feit dat Satan die ervaring, as middel tot verdere verleiding kan gebruik. Aan die ander kant, kan ‘n ware ervaring van die vulling met die Heilige Gees met die doop van die Heilige Gees verwar word. Doop in die Heilige Gees is nie dieselfde as om gevul met die Heilige Gees te wees nie. Dus is dit van uiterste belang, dat die persoon wat werklik die waarheid soek, in alle nederigheid en vertroue, op die inwerking en verligting van die Heilige Gees, slegs na die Bybel vir die antwoorde gaan, en alleenlik op die inhoud van die Bybel, sy leerstellige sienswyse baseer. Die soeker na waarheid, moet ook seker maak, dat hy nie sy vooraf opgestelde idees op die Bybel afdwing en die woorde in die Bybel verdraai om sy leerstellige posisie te staaf, of om sy eie gedagtes in die teks in te lees nie. Lees meer Spreek in vreemde tale
Rentmeesterskap volgens die Bybel
Meet die oorspronklike bestudering van hierdie onderwerp, was dit nie my bedoeling om ‘n artikel daaroor te skryf nie. My doel was gewees om met behulp van die Heilige Gees vas te stel, tot watter mate ek die rentmeesterskap, wat Jesus Christus alle gelowiges opgelê het, getrou volgens die Skrifte uitvoer. Met die Here se genade en insig het ek baie geleer en het besluit om my bevinding in ‘n artikel om te sit, sodat ander gelowiges ook daarby kan baat vind. Ek hoop van harte dat die leser van hierdie artikel ook meer duidelikheid oor hierdie aangeleentheid sal verkry en dat dit ons almal sal aanmoedig om die Here volkome te dien. Daardeur sal Sy Naam verheerlik word. Ek bid, dat met die toepassing van hierdie feite, ons geloof in Hom sal toeneem, en dat ons aan die wêreld sal kan demonstreer dat God ‘n God is wat gebede verhoor, en graag Sy kinders van dag tot dag wil lei en dat Hy hulle nooit in die steek sal laat nie. Lees meer Rentmeesterskap volgens die Bybel
Die Wit Troon Oordeel
In Op 20:11-15 lees ons van die visioen wat Johannes (Nie Johannes die Doper nie) by God ontvang het en word daarin die laaste oordeel beskryf, wat ook as die Wit Troon Oordeel bekend staan. Hierdie oordeel moet nie met die ander oordele van God verwar word nie. Die Wit Troon Oordeel sal eers na afloop van Jesus Christus se duisendjarige vrederyk op aarde plaasvind. Satan, wat omtrent duisend jaar voor hierdie gebeure, net na afloop van die Groot Verdrukking vir duisend jaar gebind was, sal vir ‘n kort tydperk vrygelaat word en sal die wêreld dan vir die laaste keer verlei en oorreed om saam met hom teen Jesus se heerskappy op aarde te rebelleer. Na afloop van hierdie rebellie sal God alle ongelowige mense van alle tye saam met Satan veroordeel en in die poel van vuur werp.
Op 20:11 “En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.”
Opmerking: Hierdie troon is nie soos ander trone wat in die Bybel beskryf word nie en moet dus ook nie met ander beskrywings van ander trone wat in die Bybel beskryf word verwar word nie. Die groot Wit Troon verskyn in die hemelruim en kan dus nie die ander trone, wat of in die Hemel of op aarde geleë is, wees nie. Die persoon op die troon, is nie die Vader nie, maar Jesus Christus self aan wie God die Vader alle oordeel oorgegee het.
Joh 5:22 “Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee,
5:23 sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.” Lees meer Die Wit Troon Oordeel
Psa 11. Hoop in ‘n onstuimige wêreld!
As mens na die nuus op televisie kyk en die koerante lees, dan besef mens al te goed dat hierdie wêreld van ons baie vinnig besig is om agteruit te gaan. Verby is die dae toe die goeie nuus baie meer as die slegte nuus was en dat misdaad en die morele verval ons nog geskok het. Ons hoor daagliks van oorloë, gerugte van oorloë, geweld, verkragtings, kinders-molestering, plaasaanvalle, korrupsie, pornografie en rassisme (Insluitende omgekeerde rassisme) en om nie eers te praat van politieke onrus nie. Omrede die gelowige as deur-reisigers in hierdie wêreld woon, spring ons ook nie hierdie gebeure vry nie en raak ons ook soms bekommerd oor wat om ons aan die gebeur is, alhoewel die Bybel ons oor hierdie gebeure waarsku en daarom behoort ons te weet dat die Here hierdie tyd voorspel het en ons vermaan het om nie te vrees nie.
Mar 13:7 “Maar wanneer julle hoor van oorloë en gerugte van oorloë, moet julle nie verskrik word nie, want dit moet kom. Maar dit is nog nie die einde nie. 13:8 Want die een nasie sal teen die ander opstaan, en die een koninkryk teen die ander; en daar sal aardbewings wees op verskillende plekke, en daar sal hongersnode wees en beroeringe. Hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.
Luk 21:25 En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, 21:26 en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. 21:27 En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid. 21:28 En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”
Vir interessantheid wil ek net noem dat die woord wat as “nasie” in Markus 13: 8 vertaal word vanaf die Griekse woord “ethnos” vertaal is en waar ons woord “etnies” in Afrikaans afgelei is. Dus kan ons verwag dat daar nie net tussen verskillende nasies opstande sal plaasvind nie , maar sal daar ook toenemend wrywing en opstande tussen etniese groepe plaasvind en mens sien dit orals in die wêreld gebeur. Dit is maar net een indikasie dat Jesus se koms vir Sy bruid nie meer ver in die toekoms kan wees nie. Lees meer Psa 11. Hoop in ‘n onstuimige wêreld!
Ek is bekommerd! Gee God nie om nie?
Mar 4:35 “En toe dit aand geword het op daardie dag, het Hy vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die ander kant. 4:36 En hulle het die skare verlaat en Hom, net soos Hy was, saamgeneem in die skuit; en daar was ook ander skuitjies by Hom. 4:37 En ‘n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word. 4:38 Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?”
Opmerking: Ons lewe in ‘n tydperk waarin baie dinge skeefloop en dan raak ons bekommerd en voel asof God nie ons gebede verhoor nie. Ander van ons beleef soms ook tydperke van erge probleme en teenspoed en worstel dan met God in gebed daaroor, maar dit wil voorkom asof God nie werklik omgee nie. In sulke gevalle voel dit ook vir hulle asof God in die skuit lê en slaap! Lees meer Ek is bekommerd! Gee God nie om nie?
Is die Kerk nog relevant?
Is die Kerk nog relevant? Om hierdie vraag te beantwoord is dit belangrik dat ons vasstel wat die Kerk volgens die Bybel is, omrede die Bybel die maatstaf is waarteen ons alle feite moet meet. Volgens die Bybel is slegs wedergebore persone, wat die Evangelie geglo het, deel van die ware Kerk. Met wedergeboorte doop die Heilige Gees die gelowige in Christus in. (Gal 3:27) Verder doop die Heilige Gees ook die gelowige in die liggaam van Christus in. (Die Kerk) (1Ko 12:12-13) Die ware Kerk bestaan dus nie uit ‘n denominasie, gebou of organisasie nie. Die ware Kerk is ‘n lewende organisme wat uit alle wedergebore kinders van God uit bestaan en wat direk onder die gesag van Jesus Christus moet funksioneer en wat deur die Heilige Gees gelei moet word.
Efs 2:19 “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God,
2:20 gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,
2:21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here,
2:22 in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.”
4:15 “maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus,” Lees meer Is die Kerk nog relevant?
Slegs geloof as basis vir wedergeboorte
Rom 4:5 “aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”
Geen mens sal ooit gered word deur sy eie goeie werke nie. Die sondaar word slegs op grond van God se genade en geloof in Jesus Christus gered en nooit op grond van die persoon se eie goeie werke nie. (Efesiërs 2:8-9; Titus 3:5) Nie een van ons sal ooit genoeg goeie werke kan doen om by God geregverdig te word nie, omrede ons goeie werke nooit by God aanvaarbaar sal wees as grond vir regverdiging nie.
Jes 64:6 “En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.”
Op grond van hierdie feite, moet ons ophou werk om gered te word en in geloof, in die voltooide werk van Jesus Christus aan die kruis, te rus.
Joh 19:30 “En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.”
Met die woorde: “Dit is volbring” het Jesus dit duidelik gestel dat Sy verlossingswerk voltooi is. Daarom is dit van kardinale belang, dat ons as gelowiges besef, dat Jesus vir al ons sondes aan die kruis betaal het en dat dit Hy was wat al die werk gedoen het. Al wat Hy van ons verwag is om Sy Evangelie in geloof toe te eien en te rus van ons eie werke en slegs op Hom te vertrou. Lees meer Slegs geloof as basis vir wedergeboorte